duimnael|300px|Generaal Koos de la Rey by sy perd duimnael|160px|Koos de la Rey duimnael|160px|De la Rey se vrou, Jacoba Elizabeth Greeff, hier afgeneem toe sy omstreeks 1916 voorsitster van Lichtenburg se Vroue-Helpmekaar was. Haar vader, H.G. Greeff, was in 1866 die stigter van die dorp Lichtenburg en het grond nagelaat aan die NG gemeente Lichtenburg vir 'n kerkplein en die bou van die gemeente se eerste pastorie.
Generaal Koos de la Rey (Jacobus Herculaas de la Rey) (22 Oktober 1847, Winburg – 15 September 1914, Langlaagte) was 'n Boeregeneraal gedurende die Tweede Vryheidsoorlog en word geag as een van die grootste militêre leiers tydens daardie konflik. De la Rey was 'n diep gelowige mens en 'n sakbybel was selde nie in sy hande nie. Hy het 'n formidabele voorkoms gehad - 'n lang, netjies gesnyde bruin baard met 'n hoë voorhoof met gesonke oë wat hom 'n patriargale voorkoms gegee het.
Hy word algemeen beskou as die sterkste en mins inskiklike Boeregeneraal tydens die Tweede Vryheidsoorlog en as een van die leiersfigure van Afrikanernasionalisme. As guerilla het hy besonderse sukses met sy taktieke behaal. De la Rey was gekant teen die oorlog tot die laaste, maar toe hy as lafaard beskuldig is tydens 'n Volksraadvergadering, het hy gesê dat as die tyd vir oorlog sou kom, hy sou veg lank nadat die wat koukus oor die oorlog al opgegee het. Die woorde sou later bewaarheid word.
De la Rey was beroemd vir sy rare gedrag teenoor sy vyande. 'n Voorbeeld hiervan is die voorval by Tweebosch op 7 Maart 1902 waar hy luitenant-generaal Lord Methuen saam met 'n paar honderd van sy troepe gevange geneem het. Die troepe is teruggestuur na hulle onderskeie oorlogslinies omdat De la Rey nie die bronne gehad het om hulle te onderhou nie, en Methuen is vrygelaat omdat hy erg gewond was en De la Rey gemeen het dat hy sou doodgaan sonder die mediese dienste wat slegs die Britte in daardie stadium kon verskaf.
Vroeë lewe Hy is gebore naby Winburg, Oranje-Vrystaat, Suid-Afrika, en was die sesde kind van Adrianus Johannes de la Rey en Adriana van Rooyen. De la Rey was van Franse Hugenote, Spaanse en Nederlandse afkoms. Daar word geglo dat hy die kleinseun is van immigrante vanuit Nederland. Ná die Slag van Boomplaats in 1848 is hul familieplaas, Doornfontein, deur die Britte geannekseer en het die gesin na die Transvaal getrek en hulle naby Lichtenburg gevestig. As jong man het De la Rey gewerk as transportryer wat die diamantroetes bedien het by Kimberley. Hy het met Jacoba Elizabeth (Nonnie) Greeff getrou (wat op die plaas Manana grootgeword het, die huis staan nog net oos van Lichtenburg) en op die plaas Elandsfontein gebly. Die egpaar het tien kinders gehad.
Hy het as transportryer en landmeter waardevolle kennis van die Wes-Transvaal opgedoen. Dit is wat hy later baie goed tydens veldslae benut het as aanvoerder in die Anglo-Boereoorlog. So is hy met die erenaam: die Leeu van Wes-Transvaal, gedoop.
De la Rey het in die Basotho-oorlog van 1865 geveg en in Sekhukhune se oorlog van 1876. Hy was nie 'n aktiewe deelnemer in die Eerste Vryheidsoorlog nie, maar was 'n Veldkornet in die Wes-Transvaal en het genl. Piet Cronjé se Potchefstroom Beleg oorgeneem toe Cronjé siek geword het. Hy is verkies tot kommandant van die Lichtenburg distrik en het in 1883 lid geword van die Transvaalse Volksraad. As voorstander van die vooruitstrewende beleid van genl. Piet Joubert, het hy Paul Kruger se beleid teenoor die uitlanders (buitelanders wat na die goudvelde van Transvaal geswerm het) teëgestaan en gewaarsku dat dit sou lei tot oorlog met Groot-Brittanje.
Veldslae
Kraaipan, 12 Oktober 1899. Tydens die uitbreek van die oorlog is De la Rey aangewys as een van Piet Cronjé se veldgeneraals. Die eerste skote wat gevuur is in die oorlog was op 'n Britse trein op pad na Mafeking by Kraaipan, gelei deur De la Rey. Die trein is ontspoor en na 'n vyf ure lange geveg het die Britse magte oorgegee. Die Slag van Kraaipan het De la Rey beroemd gemaak, maar dit het konflik tussen hom en Cronjé verhoog, wat hom gestuur het om die Britte te verhoed om die beleg op Kimberley te beëindig.
Graspan, 25 November 1899. Luitenant-generaal Lord Methuen, bevelvoerder van die 1ste Divisie, was in beheer van die vernietiging van die Boere se belegging van Kimberley en het sy magte per spoor na Belmont stasie in die noordelike Kaapprovinsie vervoer. Met hulle aankoms is daar deur 'n klein Boere mag onder leiding van Kommandant J. Prinsloo op Belmont koppie op hulle gevuur. Teen die volgende oggend was die Britte in die posisie om te heuwel te bestorm, ongeag die verliese. Die Boere het teruggeval na hul perde agter die koppe en teruggekeer na Graspan, waar hulle by die groter mag van Vrystaters en Transvalers onder leiding van Prinsloo en De la Rey onderskeidelik aangesluit het. Die Boere het daar baie koppies beset, maar is ook weggedryf. Die weg het oopgelê vir Methuen se magte na die Modderrivier-oorgang, waar die Boere die treinbrug gesaboteer het.
Modderrivier, 28 November 1899. De la Rey het besef dat die tradisionele Boeretaktiek van gevegvoering van die hoër gronde hulle blootgestel het aan die Britse artillerie. Dit het daartoe gelei dat hy daarop aangedring het dat sy manskappe, sowel as Prinsloo se Vrystaters, op die oewers van die Modder- en Rietrivier se oewers slote grawe. Dit was die begin van loopgraafoorlogvoering in hierdie oorlog. Die plan was om nie te skiet totdat die Britte naby genoeg was om die Boere se voordeel met gewere te kon benut nie, terwyl dit terselfdertyd dit moeilik sou maak vir die Britte om van hulle volle artillerie gebruik te maak. Tydens die vroeë oggendure het die Britse troepe ongesteurd oor die vlakte beweeg, maar Prinsloo se manskappe het reeds van ver af begin vuur, waarna die Britte skuiling gesoek het en die Boere loopgrawe met die artillerievuur bestook het. 'n Reeks aanvalle deur die Britte het die Vrystaters laat terugval, terwyl die teenaanval van De la Rey die Boere weer in staat gestel om die Britte tot sononder teë te staan. Die Britte het toe teruggeval. De la Rey is gewond en sy seun Adriaan is dood in hierdie slag; hy het Cronjé blameer omdat dié nie ondersteunende magte gestuur het nie.
Magersfontein, 11 Desember 1899. Nadat die Boere teruggedwing is van die Modderrivier af, het die Britte 'n tydjie geneem om die Modderfonteinbrug te herstel, terwyl De la Rey sy manskappe weer loopgrawe laat grawe het by voet van Magersfontein heuwel. Sy omstrede taktiek is effektief bewys op 10 Desember toe die heuwel gebombardeer is sonder enige effek. Voor sonsopkoms die volgende oggend is die Hooglandse regimente beveel om naby mekaar te loop. Hulle het oor drade gestruikel waaraan blikkies gehang is wat die Boere gewaarsku het van die indringers se teenwoordigheid en hulle is vinnig afgemaai. Na nege ure van lewensverliese, insluitend die brigade-kommandeur Generaal-majoor Wauchope, en geen vordering nie, het die Britse linies opgebreek en in wanorde teruggeval. Die slag het tot openbare rou in Skotland gelei. Methuen is verplaas en die bevryding van Kimberley is aan Lord Roberts toevertrou.
Nietemin, Magersfontein en die gebeure by die Tugelarivier was die keerpunt van die Britse veldtog. Daarna, met massiewe versterkings van regoor die Britse Ryk, het hulle stadigaan begin terugveg en veld gewen. By die Paardeberg (1900-02-08), terwyl De la Rey besig was om manskappe bymekaar te kry vir 'n weerstand teen Majoor-generaal French se tog na die Colesberg-area van die Kaap, is die hopelose Cronjé in 'n lokval deur Roberts gevang en is die hele bataljon omsingel. Bloemfontein is op 13 Maart 1900 oorgeneem en Pretoria op die 5de Junie. Kruger het na Portugese Oos-Afrika gevlug en in Europa in bannelingskap gaan woon.
Slegs 'n geharde kerngroep Boere was gewillig om steeds aan te hou veg. De la Rey, Louis Botha en ander bevelvoerders het naby Kroonstad ontmoet en 'n nuwe guerilla-oorlogvoering strategie neergelê. Die Wes-Transvaal is toegedeel aan De la Rey en vir die daaropvolgende twee jaar het hy die mobiele veldtog gevoer, met oorwinnings by Moedwil, Nooitgedacht, Driefontein, Donkerhoek en ander plekke. Hy het groot skade aan goedere en Britse manskappe by Ysterspruit berokken (25 Februarie 1902), waar genoeg ammunisie en voorraad op beslag gelê is om weer lewe in die Boeremagte te blaas. By Tweebosch (7 Maart 1902) is Methuen en 'n groot deel van sy agterwag gevange geneem. Alhoewel De la Rey se manskappe baie keer honger en verslete was, het hulle oor die vlaktes gery en tienduisende Britte uitoorlê. De la Rey het 'n ongekende talent gehad om lokvalle te vermy en baie het geglo dit was omdat hy raad gekry het by 'n eksentrieke profeet, Siener van Rensburg, wat saam met hom was.
Vrede Die Britte het op verskeie geleenthede tydens die oorlog vredesvoorstelle gemaak, vernaamlik in Maart 1901. Dit is egter deur Botha verwerp. Op Kitchener se versoek vergader De la Rey op 11 Maart 1902 met hom Klerksdorp met die oog op vredesonderhandelinge. Die twee vyande het 'n vriendskapsband gevorm wat by De la Rey vertroue geskep het in die Britte se erns met die vredesvoorstelle. Diplomatieke pogings om 'n uitweg te vind het voortgeduur en het uiteindelik gelei tot 'n ooreenkoms om vredesamesprekinge by Vereeniging te hou. In die samesprekinge het De la Rey hom vir vrede beywer. Die Vrede van Vereeniging is op 31 Mei 1902 geteken. Die Boere is belowe dat hulle uiteindelik selfregering sou bekom (in onderskeidelik 1906 en 1907 aan die Transvaal en Oranje Vrystaat toegeken) en is £3 000 000 in skadevergoeding toegeken. Die boere moes die soewereiniteit van Koning Edward VII erken.
Na die oorlog het De la Rey saam met Louis Botha en Christiaan de Wet na Europa gereis om fondse in te samel vir die verarmde Boere wie se plase in die verskroeide aarde beleid van die Britte vernietig is. Die Boeregeneraals se hoofoogmerk was om in Londen met die Britse regering samesprekinge te voer oor verhoging van die skadevergoeding. Hulle maak van die geleentheid gebruik om andere lande in Wes-Europa te besoek. In Vlaams-België word hulle met geweldige entoesiasme verwelkom. Hulle besoek Antwerpen (19-20 September 1902), Brussel (6-7 Oktober 1902) en Gent (8 Oktober 1902). Die grootste bydrae word gemaak deur die saldo van die ambulancecomité (ambulanskomitee) van Pol de Mont.Afrikaans.be Vlaanderen en de Anglo-Boerenoorlog, 1899-1902 , Besoek op 23 Februarie 2007
In 1903 het hy na Indië en Ceylon gereis om krygsgevangenes te oorreed om die eed van trou te onderneem en na Suid-Afrika terug te keer. Eindelik het hy met sy vrou, Jacoba, en oorlewende kinders na sy eie plaas teruggekeer. Jacoba de la Rey het vir die grootste gedeelte van die oorlog in die veld met haar kinders en 'n paar bediendes rondgetrek. Die gebeure word in die boek Myne Omzwervingen en Beproevingen Gedurende den Oorlog (1903) beskryf.
Politieke loopbaan duimnael|links|320px|Die reëlingskomitee vir die begrafnis van pres. Paul Kruger op 16 Desember 1904, hier afgeneem die dag vantevore, 15 Desember. Voor (van links): A.D.W. Wolmarans, S.W. Burger, Louis Botha (voorsitter), J.H. de la Rey, J.C. Smuts en C.F. Beyers. Middel: S. Meintjes, H. Visser, J. Joubert, I.N. van Alphen, G.W.S. Lingbeek, T.W. Beckett, F.V. Engelenburg en L.L. Steen (sekretaris). Agter: P.L.A. Goldman, N.J. de Wet, P. van der Byl, Watermeyer, P.G.W. Grobler, D. Liebenberg, I.S. Ferreira en Hans Minnaar.
In 1907 is De la Rey verkies tot die nuwe Transvaal Parlement, en was hy een van die afgevaardigdes na die Nasionale Konvensie wat gelei het tot die daarstel van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Hy het 'n senator geword en Louis Botha, die eerste Eerste Minister ondersteun in sy pogings om Boer en Brit te verenig. 'n Teen-faksie gelei deur Hertzog wou so gou as moontlik 'n republikeinse regering vestig en het weerstand gebied teen samewerking met die Britte, en nasionalisme aangemoedig wat later in die Apartheidstelsel voltrek sou word.