Zambië (Engels: Zambia), amptelik die Republiek Zambië (Engels: Republic of Zambia), is 'n republiek in die noorde van Suider-Afrika wat geheel en al deur ander lande omring word (landingeslote land). Volgens sy oppervlakte die 38ste grootste land ter wêreld, maar sy geskatte bevolking van 17,3 miljoen, is slegs die 65ste grootste ter wêreld. Dit word deur die Demokratiese Republiek die Kongo, Tanzanië, Malawi, Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Namibië en Angola begrens. Die hoofstad en grootste stad is Lusaka met 1,7 miljoen inwoners, drie keer meer as Ndola en Kitwe, onderskeidelik die tweede en derde grootste stede, albei in die Koperstreek. Die meeste inwoners woon in 'n strook weerskante van die hoofpad en -spoorlyn, wat strek van Livingstone in die suide, oor Lusaka tot in die Koperstreek.
duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Zambië Zambië word reeds duisende jare lank bewoon deur jagter-versamelaars en nomadiese stamme. Ná sporadiese besoeke deur Europese verkenners van die begin van die 18de eeu af het die Britte Zambië geleidelik opgeëis en laat in die 19de eeu beset as die protektoraat Noord-Rhodesië, wat aanvanklik geadministreer is deur British South Africa Company.
Die protektoraat het op 24 Oktober 1964 onafhanklik geword as Zambië, wat afgelei is van die Zambezirivier, wat die land se suidelike grens uitmaak.
President Kenneth Kaunda het die republiek 27 jaar lank as eenpartystaat met 'n sterk sosialistiese inslag geregeer. Hy het uiteindelik toegegee aan die opposisie se eise vir 'n veelpartyverkiesing en in 1991 sy mag prysgegee. Sedertdien is Zambië 'n veelpartydemokrasie. Die land staar reuse-uitdagings in die gesig weens armoede en MIV/vigs. 'n BBP per persoon van VS$1 700 (2012-skatting) plaas Zambië 200ste op die wêreldranglys, oftewel die 29ste armste. Zambia in die CIA se World Fact Book.
Etimologie Die huidige Zambië was vanaf 1911 as Noord-Rhodesië bekend. Ná onafhanklikheid in 1964 is die land hernoem na Zambië, afgelei van die Zambezirivier (Zambezi beteken dalk "groot rivier").
Geskiedenis duimnael|links|upright|Cecil Rhodes Die gebied is vanaf 1891 geadministreer deur die British South Africa Company totdat die Verenigde Koninkryk dit in 1923 oorgeneem en dit die protektoraat Noord-Rhodesië geword het. Tydens die jare twintig en dertig van die twintigste eeu het die ontginning van die kolonie se ryk koperbronne ontwikkeling en immigrasie aangewakker. Die protektoraat was 'n dekade lank (Oktober 1953 tot Desember 1963) deel van die Sentraal-Afrikaanse Federasie, wat ook uit Njassaland en Suid-Rhodesië bestaan het. Met onafhanklikwording op 24 Oktober 1964 is die land se naam na Zambië verander. Tydens die jare tagtig en negentig het 'n lang droogte en 'n insinking in die koperprys die land se ekonomie geknou. Die eenpartybewind van Kenneth Kaunda, wat sedert onafhanklikwording 27 jaar lank president was, is tydens die veelpartyverkiesing van 1991 beëindig, maar tydens die daaropvolgende verkiesing in 1996 is opposisiepartye verhoed om vrylik steun te werf.
Vyf jaar later, kort ná die 2001-verkiesing, het drie opposisiepartye hulle tot die hof gewend om die verkiesing van Levy Mwanawasa as president ongeldig te verklaar weens beweerde probleme met die administrasie van die verkiesing. Hulle aansoek het misluk.
Mwanawasa het in 2002 'n ondersoek na korrupsie op hoë vlak tydens die vorige bewind van stapel laat loop. Eers in 2006 en 2007 het die taakspan vier sake suksesvol vervolg, onder meer 'n baanbreker-geding in die Verenigde Koninkryk waarin president Frederick Chiluba en talle ander voormalige regeringslui aanspreeklik bevind is vir die verkwisting van VS$41 miljoen se staatsfondse. Mwanawasa is herverkies tot president in 2006 tydens 'n verkiesing wat allerweë as vry en regverdig bestempel is. Ná sy skielike dood in Augustus 2008 het sy adjunk, Rupiah Banda, hom opgevolg en twee maande later 'n spesiale presidensiële verkiesing gewen. Hy is in 2011 opgevolg deur Michael Sata, wat op 28 Oktober 2014 in Londen oorlede is ná 'n operasie vir 'n onbekende siekte.
Regering duimnael|links|upright|Hakainde Hichilema, die huidige president van Zambië Die president is die staats- sowel as regeringshoof. Hy wys die kabinet aan uit lede van die Nasionale Vergadering en besluit ook wie as adjunk moet dien. Lede van die Nasionale Vergadering word vir 'n termyn van vyf jaar verkies, soos ook die geval met die president is, maar hy of sy mag net vir twee termyne dien. Die laaste verkiesing was die presidensiële verkiesing op 12 Augustus 2021, en die volgende presidensiële en algemene verkiesing moet in 2026 gehou word.
Michael Sata was vanaf 23 September 2011 tot sy dood einde Oktober 2014 die president van Zambië. Hy het Rupiah Banda opgevolg. Banda het dié amp waargeneem tydens die siekte en uiteindelike dood van sy voorganger, Levy Mwanawasa, op 18 Augustus 2008. Tydens 'n spesiale presidensiële verkiesing op 30 Oktober daardie jaar is Banda naelskraaps as president verkies om die res van Mwanawasa se ampstermyn (tot 2011) te voltooi. Banda het adjunkpresident George Kunda op 14 November 2008 in dié amp aangestel. Voor die presidensiële verkiesing van 2021 kon Zambië nie sy skuldafbetalings nakom nie, en inflasie het skerp gestyg. Tydens die verkiesing van 2021 het Hakainde Hichilema 59,02% van die stemme op hom verenig en Edgar Lungu 38,71%. Hichilema het hom vir die vyfde keer as president verkiesbaar gestel, nadat hy as opposisieleier 15 keer aangehou is. Alhoewel uit 'n arm agtergrond, kon hy homself vestig as ryk sakeman en politieke buitestander. Na sy verkiesing het inflasie tot enkelsyfers gedaal, en die kwacha-geldeenheid is gestabiliseer. Hichilema se ooreenkoms met die Internasionale Monetêre Fonds behels 'n afskaling in brandstof- en landbousubsidies, wat verdere druk op die arm bevolking plaas.
Parlement duimnael|Zambië se Nasionale Vergadering in Lusaka Die Nasionale Vergadering bestaan uit 'n enkele huis met 166 setels, waarvan 156 tydens 'n algemene verkiesing elke vyf jaar gekies word en die president nege aanstel. Lede dien vyf jaar. Die mees onlangse algemene verkiesing is op 11 Augustus 2016 gehou en die volgende word in 2021 beplan. Tydens die laaste verkiesing kon die regerende Patriotic Front 80 van die 156 setels verower, maar danksy die nege LP's wat die president aanstel, het die party 'n skraal meerderheid van ses setels. Die grootste opposisieparty, met 44 setels, is die United Party for National Development van Hakainde Hichilema, wat ook naaswenner tydens die presidensiële verkiesing was.
Provinsies en stede duimnael|'n Kaart van Zambië duimnael|Provinsies van Zambië duimnael|Lusaka is die hoofstad en grootste stad van Zambië Die stedelike bevolking was in 2009 sowat 35% van die totaal, met verstedeliking wat tussen 2005 en 2010 jaarliks teen 'n verwagte 2,3% per jaar plaasvind. Net soos in sy aangrensende lande Angola, Namibië, Mosambiek en die Demokratiese Republiek die Kongo, is die hoofstad, Lusaka, verreweg die grootste en belangrikste stad. Sy bevolking is sowat drie keer meer as die naasgrootste stede. Die agt grootste stede het almal ontwikkel aan die spoorlyn en hoofpad wat Livingstone met die Koperstreek verbind. Zambië se tien grootste stede, in dalende volgorde, met hulle bevolking volgens die 2010-sensus: Lusaka – 1 747 152 Kitwe – 501 360 Ndola – 451 246 Kabwe – 202 360 (voorheen Broken Hill) Chingola – 185 246 Mufulira – 151 309 Livingstone – 134 349 Luanshya – 130 076 Kasama – 101 845 Chipata – 116 627 (voorheen Fort Jameson) Van die top-tien stede is vyf (almal buiten Lusaka, Kabwe, Livingstone, Kasama en Chipata) in die Koperstreek geleë. Laasgenoemde provinsie se stede en Kabwe het almal danksy die mynbou ontwikkel.
Van die groot dorpe en stede met Britse of Europese name, is almal ná onafhanklikheid inheems gemaak, buiten Livingstone, omdat die voorgestelde Maramba nie inslag gevind het nie. Die veranderings is onder meer: Abercorn → Mbala (1964) Bancroft → Chililabombwe Broken Hill → Kabwe (1966) Feira → Luangwa (1964) Fort Jameson → Chipata Fort Rosebery → Mansa
Sedert 2011 bestaan Zambië uit tien provinsies, hieronder gelys, met geskatte bevolking in 2009 en hoofstad: Sentraal (Kabwe) – 1 221 188 Koperstreek (Ndola) – 1 782 098 Oostelike (Chipata) – 1 604 257 Luapula (Mansa) – 929 310 Lusaka (Lusaka) – 1 639 574 Muchinga (Chinsali) – N/A Noordelike (Kasama) – 1 482 916 Noordwestelike (Solwezi) – 704 993 Suidelike (Livingstone) – 1 449 674 Westelike (Mongu) – 881 974
Ekonomie duimnael|'n K100-noot van 2006. Dit was op 8 Maart 2020 10 Suid-Afrikaanse sent werd www.xe.com: Valuta-omrekening duimnael|Markstalletjies in Mansa, hoofstad van die Luapula-provinsie duimnael|Die groot Nkana-oopgroefmyn, Kitwe. Kopermyne maak staat op spoor- en padverbindings deur buurlande om by uitvoerhawens uit te kom. Voor die wêreldwye ekonomiese afswaai van 2009 het Zambië se ekonomie 'n sterk oplewing belewe met 'n jaarlikse groeikoers tussen 2005 en 2008 van gemiddeld 6% per jaar. Die privatisering van die land se kopermyne in die jare negentig het die staat van die las verlig om die reuse-verlies van dié bedryf te moes dra en grootliks daartoe bygedra dat dié sektor weer lewensvatbaar kon word en sodoende ekonomiese groei kon aanblaas. Koperproduksie het sedert 2004 bestendig toegeneem weens hoër pryse en buitelandse belegging. In 2005 het Zambië in aanmerking gekom vir skuldverligting ingevolge die inisiatief vir die verligting van arm lande wat diep in die skuld is. Dié hulp het sowat VS$6 miljard beloop. In 2007 het Zambië 'n rekord-oes beleef, wat die BBP 'n hupstoot gegee en inflasie help bedwing het. Hoewel armoede 'n groot probleem bly, het die ekonomie die afgelope dekade versterk en het die land 'n inflasiekoers van om en by 10%, 'n redelik stabiele wisselkoers, dalende rentekoerse en toenemende handel. Die afname in kommoditeitspryse en -aanvraag wêreldwyd sou die BBP na verwagting in 2009 knou en die verkiesing en gepaardgaande beloftes sou waarskynlik die land se fiskale toestand benadeel.
Zambië het volgens sy bruto binnelandse produk (BBP) teen koopkragpariteit (die waarde van alle produkte en dienste wat in 'n gegewe jaar in 'n land gelewer word teen heersende pryse in die VSA) die 129ste grootste ekonomie ter wêreld. Die geskatte BBP in 2020 was VS$78 miljard, VS$5 miljard meer as twee jaar vantevore. Die 6%-toename vergeleke met 2007 se skatting is die 60ste hoogste ter wêreld. Nietemin is die BBP per persoon (2020-skatting) slegs VS$1 236 per jaar, wat aan die land die 154ste plek op die wêreldranglys besorg. Dit was weliswaar 32 plekke hoër as die armste land, Suid-Soedan, met VS$275 per persoon.
Die beraamde arbeidsmag in 2017 was 6,898 miljoen, wat die werkloosheidsyfer op 15% te staan gebring het. Volgens die jongste beskikbare syfer lewe 54,4% van die bevolking onder die broodlyn (2015-skatting). Sowat 54,8% van die werkers is by die landbou betrokke, 9,9% by die nywerheid en 35,3% by dienste. Daar is steeds 'n reuse-inkomstegaping, met die armste 10% van die bevolking wat met slegs 1,2% van die gesamentlike huishoudelike inkomste tevrede moet wees en die rykste 10% wat amper 40% daarvan verdien. Zambië beklee dus die 20ste plek op die wêreldranglys wat inkomste-ongelykhede meet. Dit vergelyk nietemin gunstig met ander Suider-Afrikaanse state: Namibië is in die eerste plek (die 10% rykstes verdien 64,5% van die inkomste), Suid-Afrika in die tweede plek (44% vir die 10% rykste inwoners), Lesotho in die derde plek en Botswana in die vierde plek.