Oudtshoorn is met sowat 61 500 inwoners (2011-sensus) die grootste dorp in die Klein-Karoo, 'n streek in die provinsie Wes-Kaap (Suid-Afrika). Die dorp is geleë tussen die majestueuse Outeniekwa- en Swartberge, 506 kilometer oos van Kaapstad. Oudtshoorn staan onder meer bekend as die sentrum van die volstruisteel en die gasheerstad van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die belangrikste kulturele fees van die Afrikaanse taalgemeenskap in Suid-Afrika.
Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|links|'n Historiese gebou in Oudtshoorn Die omgewing van Oudtshoorn is oorspronklik deur Boesmans bewoon, en 'n groot aantal van hulle rotstekeninge is in die grotte van die nabygeleë Swartberge bewaar.
Die eerste Europese ontdekkers in die gebied was 'n Nederlandse handelsekspedisie onder die bevel van ene veldkornet Schrijver, wat in Januarie 1689 deur 'n Griekwa-gids oor die ou olifante-trekpad na die streek gelei is. Die ekspedisie het tot by die huidige dorp Aberdeen gekom en het die Klein Karoo op 16 Maart oor die Attakwaskloof weer verlaat. Die eerste setlaars het hulle egter eers sowat honderd jaar later in die gebied gevestig.
Die dorp Oudtshoorn het ontstaan op twee plase wat aan Cornelis Petrus Rademeyer behoort het. Die eerste permanente gebou in die Klein Karoo, 'n Nederduits-Gereformeerde kerk, is in 1839 naby die oewer van die Grobbelaarsrivier opgerig. Die dorp Oudtshoorn het rondom hierdie kerkgebou begin groei en is vernoem na baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn, wat in 1772 as goewerneur van die Kaapkolonie benoem is, maar tydens die seereis op pad na die Kaap oorlede is.
'n Klein skool met een klaskamer is in 1858 gebou, en 'n rukkie later is 'n munisipaliteit en in 1859 ook 'n Landboukundige Genootskap gestig. In dieselfde jaar is met die bou van 'n groter kerkgebou begin, wat die kleiner godshuis sou vervang.
Die jaar 1859 was ongelukkig ook die beginpunt van 'n langdurige droogte, wat die plaaslike ekonomie in mekaar laat stort het. Baie boere het hulle plase verloor en moes as bywoners op plase bly. In 1865 is die dorp reeds deur armoede geteister. Met die stortreëns van die jaar 1869 is die droogte finaal gebreek, en die depressie het tot 'n einde gekom. Oudtshoorn het 'n welvarende gemeenskap geword.
Die eerste Goue Era van die volstruisbedryf duimnael|'n Volstruisplaas naby Oudtshoorn Oudtshoorn het sy welvaart in daardie tydperk veral aan die volstruisteelt te danke gehad, wat veral in die Europese modebedryf gewild geraak het en veral as versiering van hoede gebruik is. In die tydperk tussen 1875 en 1880 het die prys vir 'n paar volstruise tot by 1 000 pond sterling gestyg.
Die boere in die omgewing van Oudtshoorn het besef dat volstruisteelt winsgewender sou wees as enige ander landbouproduk. Hulle het die verbouing van hulle tradisionele graangewasse laat vaar en in plaas daarvan lusern geplant, wat as volstruisvoer benodig is. Danksy die ekonomiese welvaart is ook die nuwe NG kerk eindelik ná 'n jare lange vertraging voltooi en op 7 Junie 1879 ingewy.
Ongelukkig het die volstruisbedryf weens oorproduksie in 1885 'n krisis beleef. Daarbenewens het 'n oorstroming in Mei dieselfde groot skade aangerig. Die nabygeleë Victoriabrug oor die Olifantsrivier is een jaar ná sy voltooiing deur die vloedwaters weggespoel.
Die tweede Goue Era van die volstruisbedryf Die volstruisbedryf het maar stadig herstel, en eers na die einde van die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) was daar 'n groot oplewing. Die bedryf het rekordverkope van volstruisvere gehad, en baie volstruistelers het nou as "veerbaronne" bekend gestaan en vir hulle statige villas, die sogenaamde volstruisveerpaleise, laat oprig. Die volstruisbedryf het sy hoogtepunt in 1913 bereik, maar met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het verkope sterk gedaal. Die plaaslike ekonomie het opnuut in duie gestort, en die meeste boere het weer begin om hulle tradisionele graangewasse te verbou.
Volstruisteelt in die 20ste eeu duimnael|'n Volstruismannetjie en -wyfie Die volstruisteelt, wat in 1859 met slegs 2 159 voëls in die Oudtshoorngebied begin het, was in die eerste helfte van die 20ste eeu op die drumpel van uitsterwing. In 1918 is met die slagting van Suid-Afrika se meer as 300 000 geteelde volstruise begin – die aantal voëls het tot slegs 30 000 in 1932 en 'n skrale 2 000 in 1940 gekrimp. Nogtans het die gebied sy ekonomiese opswaai ná die Tweede Wêreldoorlog nog eens aan volstruise te danke gehad – hierdie keer was die toerismesektor die dryfveer agter die herlewing in die volstruisbedryf. Toeriste, wat 'n besoek aan die nabygeleë Kangogrotte afgelê het, het ook in ander besienswaardighede begin belangstel, en skouplase met volstruise het vinnig tot 'n trekpleister ontwikkel. Die eerste volstruis-skouplaas is reeds in 1930 geopen.
Die volstruisbedryf vandag Toeriste het met hul vraag na volstruisleer en ander produkte tot die bedryf se groei bygedra. In die 1980's was daar weer sowat 100 000 voëls in die Oudtshoorngebied – 'n getal wat ook in die volgende dekades stabiel sou bly.
Vandag is professionele volstruisskouplase 'n gewilde trekpleister in Oudtshoorn. Daarnaas speel ook die vleisproduksie 'n belangrike rol. Volstruisvleis word net op die Suid-Afrikaanse mark aangebied, aangesien dit sedert 2010 weens voëlgriep nie na oorsese bestemmings uitgevoer mag word nie.
Poolse weeskinders duimnael|Die kerkgebou van die NG moedergemeente se hoeksteen is op 15 Januarie 1861 gelê, maar weens geldelike probleme is dit eers vroeg in 1879 voltooi nadat die argitek Carl Otto Hager gekontrakteer is om probleme met die bouplan reg te stel duimnael|Die Gereformeerde kerk Oudtshoorn, in 1969 in gebruik geneem In 1944 het die Suid-Afrikaanse regering 500 Poolse weeskinders (299 seuns en 201 meisies), wat hul ouers en gesinne tydens hul ballingskap in die Sowjetunie verloor het, om humanitêre redes vanuit Iran na Oudtshoorn laat bring waar 'n Poolse skool vir hulle georganiseer is.Jerzy Zubrzycki: Polish Emigration to Commonwealth Countries: A Demographic Survey. In: International Migration Review (IMR), jaargang 13, nommer 4, bl. 649. Aanlyn beskikbaar: jstor.org Volgens 'n geallieerde ooreenkoms het Iran in 1942 meer as 116 000 Poolse vlugtelinge uit die Sowjetunie ontvang waarvan later sowat 10 000 in Suid-Afrika of Britse kolonies in Afrika hervestig is.Poland remembers and thanks Iran
Wapens Munisipaliteit (1) — Oudtshoorn het in 1863 'n munisipaliteit geword. In 1908 het die dorpsraad baron Van Reede van Oudtshoorn se familiewapen as dorpswapen in gebruik geneem : In silwer, twee hoekige dwarsbalke van swart. 'n Goue muurkroon is bo die skild geplaas. Die skildhouers is twee goue griffioene, en die wapenspreuk is "Malo mori quam foedari".Wes-Kaapse Argief : Oudtshoorn Munisipale Notules (7 Februarie 1908).Die wapen kom voor op 'n tabakkaart wat in 1931 uitgereik is.
Munisipaliteit (2) — Die wapen is in 1959 heraldies verbeter en in 1960 deur die College of Arms (in Londen) aan die munisipaliteit verleen. Dit is daarna by die Kaapse Provinsiale Administrasie (in 1961)Kaap die Goeie Hoop Amptelike koerant 3087 (23 Junie 1961). en die Buro vir Heraldiek (in 1970) geregistreer: In silwer, twee hoekige swart versmalde dwarsbalke elk met drie noeke en 'n skildhoof van rooi belaai met 'n muurkroon van goud. Die helmteken was twee swart vlerke binne 'n goue ring; die skildhouers was twee goue griffioene wat elk 'n regopstaande silwer volstruisveer vashou; en die wapenspreuk het "Malo mori quam foedari" gebly.National Archives of South Africa : Data of the Bureau of Heraldry. Ivan Mitford-Barberton en H. Ellis Tomlinson het die wapen herontwerp. Om die een of ander rede het die munisipaliteit later die kleure verander: alles wat goud was het rooi geword en die rooi skildhoof het goud geword.
Afdelingsraad (1) — Oudtshoorn se afdelingsraad (d.w.s die plaaslike owerheid vir die landelike gebiede buite die dorpsgrense) het ook 'n wapen by die provinsiale administrasie (in 1963) Kaap die Goeie Hoop Amptelike koerant 3214 (29 November 1963). en die Buro vir Heraldiek (in 1965) geregistreer: In silwer, 'n hoekige swart dwarsbalk vergesel in die skildhoof van drie regopstaande swart volstruisvere en in die skildvoet van 'n regopstaande tabakblaar van natuurlike kleur. Die helmteken was 'n uitkomende goue griffioen wat 'n swart volstruisveer vashou, en die wapenspreuk was "Per ducendum ad progressionem". Schalk Pienaar het die wapen ontwerp.
Afdelingsraad (2) — Die afdelingsraad se opvolger, die Klein Karoo/Langkloof-afdelingsraad, het in 1978 'n nuwe wapen by die Buro geregistreer: In goud, 'n regopstaande swaard van natuurlike kleur in die skildhoof vergesel van twee appels van rooi, geblaar en gestingel van groen; oor alles heen 'n versmalde hoekige dwarsbalk van swart. Die helmteken was 'n volstruisveer tussen twee rooi vlerke, en die wapenspreuk was "Voorspoed deur leierskap".
Afrikaans Die skrywer C.J. Langenhoven, die bekendste boorling van Oudtshoorn en skrywer van Die Stem van Suid-Afrika, het in die tydperk ná die ekonomiese krisis van 1914 bekendheid verwerf. Hy het die Stem van Suid-Afrika in sy huis Arbeidsgenot geskryf. Die huis staan vandag as die Langenhoven huismuseum bekend. Langenhoven, wat as een van die vaders van die Afrikaanse taal beskou word, was 'n eersterangse skrywer, wat 'n groot deel van die belangrike literêre werke van die vroeë Afrikaanse literatuurgeskiedenis opgelewer het.
Oudtshoorn is vandag 'n moderne dorp, wat veral op toerisme, landbou en volstruisteelt steun. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die grootste Afrikaanse taalfees in die land, vind elke jaar hier plaas.
Die Joodse gemeenskap Immigrasie Die hoofdorp van die Klein-Karoo, Oudtshoorn, het eens op 'n tyd so n lewenskragtige Joodse gemeenskap gehad dat die dorp, ietwat oordrewe, "Klein Jerusalem" of "Yerushalayim beDerom Afrika" (Jerusalem van Suid-Afrika) genoem is. Die gemeenskap het vinnig opgeskiet vanweë die oplewing in die volstruisbedryf wat Jode hierheen laat stroom het op soek na rykdom. Twee golwe immigrante het hierheen gekom: die eerste in die middel 19de eeu en die tweede vroeg in die 20ste eeu. Die eerste groep was deel van sir George Grey se immigrasieskema van 1858–'61, toe groot groepe mense van Duitse herkoms hulle aan die Kaap kom vestig het tesame met vaklui van die Britse Eilande. Die tweede golf was Jode uit veral Litaue en Letland wat wou ontsnap aan die oproep vir militêre diens van jong Jode in die Russiese leër tussen 1881 en 1910 en die Jodehaat in die Russiese ryk wat hul vermoë beperk het om ’n produktiewe lewe te lei. Die meeste is na Brittanje, van waar hulle na die VSA en die kolonies van die Britse ryk verhuis het. Van dié wat die Kaap bereik het, het te hore gekom van die rykdom wat verdien kon word uit die volstruisbedryf van die Klein-Karoo en het daarheen verhuis en handel in volstruisvere begin dryf.
Aanbiddingsplekke duimnael|Die komitee van die Queenstraat-sinagoge, laat 1880's