Die Amasonereënwoud (Brasiliaanse Portugees: Floresta Amazônica; Spaans: Selva Amazónica) is ’n tropiese en subtropiese, klam breëblaarwoud in die Amasonebioom wat die grootste deel van die Amasonebekken van Suid-Amerika bedek. Die bekken is 7 000 000 km2 groot, waarvan 5 500 000 km2 deur die reënwoud beslaan word. Die streek sluit gebiede in nege lande in. Die grootste deel is in Brasilië (60%), Peru (13%) en Colombia (10%), met kleiner dele in Venezuela, Ecuador, Bolivia, Guyana, Suriname en Frans-Guiana.

Die Amasone bevat meer as die helfte van die planeet se oorblywende reënwoude, met die mees uiteenlopende boomspesies – daar is ’n geraamde 390 miljard individuele bome, wat in 16 000 spesies verdeel word.

Etimologie Die naam "Amasone" kom glo van ’n oorlog wat die Spaanse ontdekkingsreisiger Francisco de Orellana teen die Tapuyas en ander stamme gevoer het. Die stam se vroue het saam met die mans geveg, soos hul gebruik was. Orellana het die naam Amasone geskep na aanleiding van die Amasones uit die Griekse mitologie waarvan Herodotos en Diodorus vertel het.

Geskiedenis Die reënwoud het waarskynlik in die Eoseen-epog ontstaan ná ’n wêreldwye afname in tropiese temperature toe die Atlantiese Oseaan wyd genoeg geword het om ’n warm, klam klimaat in die Amasonebekken te skep. Die woud bestaan al minstens 55 miljoen jaar. Die grootste deel van die streek was vry van savanne-tipe biome tot minstens die huidige ystydperk, toe die klimaat droër en die savanne wyer verspreid was.

duimnael|300px|links|Die Amasonereënwoud naby Manaus, Brasilië. Ná die Kryt-Paleogeen-uitwissing het die verdwyning van die dinosourusse en die natter klimaat dalk daartoe gelei dat die tropiese reënwoud oor die vasteland versprei het. Van 66 miljoen tot 34 miljoen jaar gelede het dit tot so ver suid as 45° gestrek. Klimaatswisselings in die laaste 34 miljoen jaar het savannestreke tot in die trope laat uitbrei. Tydens die Oligoseen het die reënwoud byvoorbeeld ’n relatief smal strook beslaan. Dit het weer tydens die Middel-Mioseen versprei en toe tydens die laaste glasiale maksimum teruggetrek tot ’n hoofsaaklik binnelandse gebied. Die reënwoud het egter in hierdie ystye steeds floreer en dit het gelei tot die oorlewing en evolusie van ’n groot verskeidenheid spesies.

Tydens die Middel-Eoseen is die Amasonerivier se opvangsgebied vermoedelik in die middel van die vasteland deur die Purusrif verdeel. Water aan die oostekant het na die Atlantiese Oseaan gevloei en die westelike water oor die Amasone-opvangsgebied na die Stille Oseaan. Toe die Andesgebergte styg, is ’n groot bekken gevorm wat ’n meer omsluit het; dit is nou bekend as die Solimõesbekken. Tydens die laaste 5 miljoen tot 10 miljoen jaar het hierdie opgedamde water deur die Purusrif gebreek en by die oostelike vloei na die Atlantiese Oseaan aangesluit.

Daar is bewyse van groot veranderings in die Amasonereënwoud se plantegroei die afgelope 21 000 jaar deur die laaste glasiale maksimum en daaropvolgende ontvriesing. ’n Ontleding van sedimentneerslae dui daarop dat die reënval in die gebied in dié tyd laer was as vandag, en dat dit feitlik vir seker verband hou met ’n minder vogtige plantbedekking.Colinvaux, P.A., De Oliveira, P.E. 2000. Palaeoecology and climate of the Amazon basin during the last glacial cycle. Wiley InterScience. (abstract) Daar word egter gedebatteer oor hoe omvangryk hierdie afname was. Sommige wetenskaplikes meen die reënwoud het afgeneem tot klein, geïsoleerde gebiede wat deur oop woude en grasvelde geskei is;Van der Hammen, T., Hooghiemstra, H.. 2002. Neogene and Quaternary history of vegetation, climate, and plant diversity in Amazonia. Elsevier Science Ltd. (abstract) ander glo die reënwoud het grootliks ongeskonde gebly, maar het nie so ver noord, suid en oos gestrek as vandag nie.

Menslike bedrywighede duimnael|Hutte van ’n geïsoleerde volk wat in 2009 in die Brasiliaanse deelstaat Acre ontdek is.

Argeologiese bewyse bestaan dat die eerste mense die Amasonestreek minstens 11 200 jaar gelede bewoon het. Daaropvolgende ontwikkelings het gelei tot laat prehistoriese nedersettings aan die rand van die woud teen 1250 n.C., wat veranderings in die grootte van die woud veroorsaak het.

duimnael|links|180px|Geogliewe op ontboste grond in Acre in die Amasonereënwoud. Daar is lank geglo die woud was nog altyd net yl bevolk en dat dit onmoontlik is om groot bevolkings met landbou te onderhou weens die swak grondgehalte. Die argeoloog Betty Meggers was ’n belangrike voorstander van dié idee, soos beskryf in haar boek Amazonia: Man and Culture in a Counterfeit Paradise. Sy beweer ’n bevolkingsdigtheid van 0,2/km2 is die maksimum wat kan leef van jag, en dat landbou nodig is om groter bevolkings te onderhou. Onlangs antropologiese vondste dui egter daarop dat die gebied in werklikheid dig bevolk was. Sowat 5 miljoen mense kon in 1500 n.C. in die Amasonestreek gewoon het – dit sluit in digte kusnedersettings, soos dié by Marajó, en binnelandse inwoners. Teen 1900 het die bevolking gedaal tot 1 miljoen en teen die vroeë 1980's tot minder as 200 000.

Die eerste Europeër wat met die hele Amasonerivier langs gereis het, was Francisco de Orellana in 1542. Die BBC se TV-reeks Unnatural Histories het bewyse verskaf dat Orellana nie oordryf het, soos voorheen geglo is, nie toe hy gesê het ’n ingewikkelde beskawing het in die 1540's aan die Amasone floreer. Daar word geglo dié beskawing is later uitgewis deur siektes wat van Europa af versprei het, soos pokkies.

Sedert die 1970's is talle geogliewe op ontboste grond ontdek wat dateer van 1-1250 n.C., en dit versterk bewerings van beskawings van voor die tyd van Christopher Columbus. Die geogliewe is in 1977 ontdek en later met vlugte oor Acre bevestig.

In die BBC se Unnatural Histories is bewyse gelewer dat die reënwoud nie ’n ongerepte wildernis is nie, maar minstens die afgelope 11 000 jaar deur die mens beïnvloed word met praktyke soos voedselaanplantings en houtskooloorblyfsels in die grond ("Terra preta"). Laasgenoemde word oor groot dele van die Amasonewoud aangetref; daar word nou geglo dit is die produk van inheemse grondbestuur. Die ontwikkeling van dié vrugbare grond het landbou in die voorheen vyandelike omgewing moontlik gemaak. Dit dui daarop dat ’n groot deel van die woud se grond eeue lank deur die mens bestuur is; voorheen is vermoed dit kom natuurlik in die streek voor.Die mens se invloed is tot dusver ver onderskat, meen Darna L. Dufour in "Use of Tropical Rainforests by Native Amazonians," BioScience 40, no. 9 (Oktober 1990):658. In die omgewing van die Xingu-volk is oorblyfsels van sommige van hierdie groot nedersettings in 2003 in die middel van die woud ontdek deur Michael Heckenberger en kollegas van die Universiteit van Florida. Hieronder tel bewyse van paaie, brûe en groot plazas.

Biodiversiteit duimnael|links|180px|Ontbossing bedreig baie spesies sensitiewe boompaddas, soos hierdie Phyllomedusa bicolor. duimnael|160px|Die ara is inheems aan die Amerikaanse trope.

Nat tropiese woude is die bioom met die grootste verskeidenheid spesies, en die tropiese woude van die Amerikas spog met aansienlik meer spesies as die nat woude van Afrika en Asië.Turner, I.M. 2001. The ecology of trees in the tropical rain forest. Cambridge University Press, Cambridge. As die grootste gebied van tropiese reënwoude in die Amerikas is die Amasonereënwoud se biodiversiteit ongeëwenaar. Een uit elke tien bekende spesies ter wêreld kom hier voor. Dit het die grootste versameling dier- en plantspesies op aarde.

Die streek is die tuiste van sowat 2,5 miljoen insekspesies, tienduisende plante en sowat 2 000 voëls en soogdiere. Tot op datum is minstens 40 000 plantspesies, 2 200 visspesies en 378 reptielspesies ook geklassifiseer. Een uit elke vyf voël- en visspesies kom hier voor. Wetenskaplikes het net in Brasilië al tussen 96 660 en 128 843 ongewerwelde spesies beskryf.

Daar is verskeie spesies in die woud wat gevaarlik kan wees. Onder die grootste roofdiere is die swartkaaiman, jaguar, poema en anakonda. In die rivier kan die sidder-aal elektriese skokke toedien wat ’n mens kan katswink slaan of doodmaak, terwyl die piranha mense byt en beseer. Verskeie spesies gifpylpaddas gee gif deur hul vlees af. Daar is ook talle parasiete en siekteoordraers. Bloedsuiervlermuise kom in die reënwoud voor en kan hondsdolheid oordra. Malaria, geel- en knokkelkoors kan ook opgedoen word.

Ontbossing duimnael|240px|Ontbossing van Bolivia, 2016.

Ontbossing is die afkap of afbrand van plante en bome. Dit is hoofsaaklik om grond te kry vir landbou en woonplek. Voor die vroeë 1960's was toegang tot die binneste deel van die reënwoud streng beperk en die woud het redelik ongeskonde gebly. Plase is in die 1960's aangelê om gewasse te plant. Die koloniste kon egter nie hul landerye en gewasse beheer nie weens die verlies aan grondvrugbaarheid en die groei van onkruid.Watkins and Griffiths, J. (2000). Forest Destruction and Sustainable Agriculture in the Brazilian Amazon: a Literature Review (Doctoral dissertation, The University of Reading, 2000). Dissertation Abstracts International, 15–17 Die grond in die Amasonegebied is net vir ’n kort tyd vrugbaar en boere moes gedurig na nuwe gebiede trek en nog bome afkap. Dit het gelei tot ontbossing en groot skade aan die omgewing aangerig. Ontbossing in die reënwoud is aansienlik, en dele waar bome verwyder is, kan met die blote oog uit die ruimte gesien word.

In die 1970's is begin met die bou van die Transamasonesnelweg. Dit het ’n groot bedreiging vir die woud ingehou. Die snelweg is steeds nie voltooi nie, en dit beperk die omgewingskade.

Tussen 1991 en 2000 het die totale oppervlakte van die woud wat verlore gegaan het, gestyg van 415 000 to 587 000 km2. Die grootste deel daarvan het weiveld geword.Centre for International Forestry Research (CIFOR) (2004) Altesaam 70% van voorheen ontboste grond en 91% van die grond wat sedert 1970 ontbos is, word vir weiveld gebruik. Brasilië is tans die tweede grootste vervaardiger van sojabone ter wêreld, naas Amerika. Navorsing deur Leydimere Oliveira et al. het egter getoon hoe meer van die Amasone se bome afgekap word, hoe minder reën bereik die gebied en hoe kleiner is die oes per hektaar. Anders as wat gewoonlik geglo word, hou dit dus geen ekonomiese voordeel vir Brasilië in om bome af te kap en dit in landerye te omskep nie.

Klimaatsverandering Omgewingsbewustes is bekommerd oor die verlies aan biodiversiteit wat veroorsaak kan word deur die vernietiging van die woud, asook oor die vrystelling van die koolstof wat in die plante opgesluit is, wat globale verwarming kan aanhelp.

Een rekenaarmodel van toekomstige klimaatsveranderings wat deur kweekhuisgasse veroorsaak word, toon die Amasonereënwoud kan onvolhoubaar word weens ’n groot afname in reënval en stygende temperature. Dit kan teen 2100 lei tot ’n feitlik algehele verlies van die woud.Cox, Betts, Jones, Spall and Totterdell. 2000. "Acceleration of global warming due to carbon-cycle feedbacks in a coupled climate model". Nature, 9 November 2000. (intekening nodig)Radford, T. 2002. "World may be warming up even faster". The Guardian. Verskillende simulasies van klimaatsveranderings in die Amasone oor verskeie modelle stem nie ooreen wat die raming van toekomstige reënval in die gebied betref nie; hulle wissel van klein toenames tot groot afnames.Houghton, J.T. et al. 2001. "Climate Change 2001: The Scientific Basis" . Intergovernmental Panel on Climate Change. Die resultaat dui daarop dat die reënwoud deur die 21ste eeu bedreig kan word deur klimaatsveranderings en ontbossing.

In ’n studie van 2009 is bevind ’n styging van 4 °C in wêreldwye temperature teen 2100 kan 85% van die Amasonereënwoud uitwis, terwyl ’n temperatuurstyging van 3 °C sowat 75% van die woud kan vernietig.

Uitwerking van 21ste-eeuse droogtes