Pieter Pieterse (* 9 Junie 1936, Pietersburg – † Maart 2002, Marlothpark) was ’n Afrikaanse skrywer, storieverteller en TV-persoonlikheid. Pieterse het tientalle boeke en draaiboeke geskryf en verskeie literêre toekennings daarvoor ontvang. Hy het onder andere bekroonde jeugverhale geskryf, asook etlike werke vir volwassenes, waarin hy hoofsaaklik steun op sy ervarings tydens sy nomadiese bestaan put. Daarbenewens was hy vanaf 1991 tot met sy dood die aanbieder van verskeie TV-reekse soos Swerwerskos, Boude en blaaie, Van die Kaap tot die Kunene en Maak ’n las.
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Pieterse is op 9 Junie 1936 in Pietersburg gebore as die oudste van vier kinders. Sy ma was die skrywer Emily Pieterse en sy pa ’n boer Ferdinand Petrus Arend Pieterse. Hy het aan die Laerskool Soekmekaar en die Laerskool Daviesville skoolgegaan. Die gesin verhuis in 1949 na ’n plaas naby Messina, agter die Soutpansberg. Toe hy dertien jaar oud is, verhuis die gesin na die plaas Oporto agter die Soutpansberg, langs die Sandrivier in Noord-Transvaal. In 1954 matrikuleer hy aan die Hoërskool Pietersburg. Ná matriek bly hy ongeveer vier jaar in die bos, lewe van die veld en skryf. Hierna werk hy vir ’n ruk as winkelassistent in Waterpoort, as poskantoorklerk en by die spoorweë. As polisieman word hy na vier jaar sersant, waarna hy tot 1974 bemarking doen vir Sanlam in die Kaap. Hy het veral uitgeblink in gimnastiek en rugby. (Die Hoërskool Pietersburg het in Pieter se matriekjaar die Administrateursbeker vir rugby gewen.)
Swerwersdrang Sy kenmerkende selfvoorsienende leefwyse begin toe hy na matriek vir vier jaar in die bos gaan bly, van die veld geleef en sy eerste kortverhale in 1956 gepubliseer het.
Daarna het hy ’n polisieman en later ’n versekeringsverteenwoordiger geword. Hy het egter nooit opgehou skryf nie – sy eerste boek, Smokkelaars in die Nag, verskyn in hierdie tydperk. Na ’n verdere sewe boeke besluit hy in 1974 om sy werk as bemarkingsbestuurder van Sanlam in Bellville op te gee sodat hy voltyds kan skryf. Hy verhuis na ’n plaas, Kom tot Rus, in die Noord-Transvaal. In 1979 kry sy swerwersdrang weer die oorhand en hy maak sy woonwa, Die Spookhuis, sy nuwe basis en werkplek. Hy het die manier gehad om vir ’n jaar of twee met Die Spookhuis op ’n (meestal ongerepte) plek te gaan staan, die natuur en die mense van die plek intiem te leer ken, en dan daaroor te skryf. Van sy staanplekke was die Laeveld, Dasseneiland, Mosambiek, die Kavango, die Skedelkus, die Weskus en die Caprivi. Uit ’n jeugverhouding het hy ’n dogter, Shirley, en hy trou dan in die vroeë sestigerjare met die onderwyseres Annetjie Lategan. Uit hierdie huwelik word vyf kinders gebore, naamlik Shirley, Madie, Emsie, Ferdie (wat in Mei 1997 in ’n motorongeluk oorlede is) en Annatjie. In 1974 begin hy voltyds skryf en boer op sy plaas Kom tot Rus in die Soekmekaardistrik in die Noord-Transvaal. Hy verkoop die plaas en alles wat hy besit in 1982 en gaan bly in ’n karavaan langs die Kaapse Weskus, waar hy voltyds skryf en uit die oorvloed van die see leef.
In 1984 skei hy van sy vrou en trou dan op 11 Desember 1985 op Tietiesbaai naby Paternoster aan die Weskus met die tuinboukundige en skrywer Jenny Winter. Die digter en predikant Patrick Petersen bevestig die huwelik sommer in die woonwa waarin hy woon. Vir lang tye voer hulle ’n swerwerbestaan en bly in die woonwa, wat hy Die Spookhuis noem. Nadat hulle geruime tyd naby Tietiesbaai bly, dwing dorpsontwikkeling hulle later om te trek. Hulle gaan dan na Torrabaai by die mond van die Uniabrivier aan die Skedelkus, waar hulle vir sowat agtien maande woon. Vandaar is dit verder noord, na die Mahango-wildtuin in die Kavango, bo teen die Botswana-grens, waarna hulle weer in 1989 terugkeer na Tietiesbaai. Hulle spandeer dan ’n paar maande op Dasseneiland. In 1991 besluit hulle om na Namibië te verhuis en koop vir hulle ’n huis in Hentiesbaai. Hierdie lewe staan hulle egter nie aan nie en nadat hulle uitvind dat hulle steeds meer tyd in die woonwa spandeer as in die huis, trek hulle terug na die Weskus en gaan bly in Stompneusbaai in ’n woonwa. In 1994 is hulle terug na die binneland, waar hulle in Venda op die oewer van die Mutalerivier vertoef. Hiervandaan reis hulle deur Mosambiek en maak onder andere ook ’n draai in Zambië. Dan trek hulle na die Kwandorivier in Namibië se verre Oos-Caprivi, 140 kilometer oos van Katima Mulilo, waar hy lid word van die Mafwe-stam. Hy en sy vrou kom hier tot bekering en begin met ’n sendingstasie, terwyl hulle ook baie betrokke raak by hulpverlening aan die mense van die gebied, onder andere deur kritieke siek pasiënte na die naaste hospitaal te vervoer. Beide hy en sy vrou doen hier in 1996 malaria op, wat sy gehoor aantas, en hulle draai by die dood om. Hierna moet hy permanent 'n gehoorapparaat dra. Die behoefte om nader aan ’n dokter te wees veroorsaak dat hulle weer in April 1997 terug verhuis na Stompneusbaai, waar hulle die woonwalewe vaarwel toeroep en ’n geboude huis betrek. Eindelik verhuis hulle in Oktober 2001 na Marlothpark naby Komatipoort.
Sterfte Pieter is in Maart 2002 op 65 jarige ouderdom wreed by sy huis in Marlothpark in Mpumalanga vermoor. Sy vrou, Jenny het op sy erg ontbinde lyk afgekom nadat hy die vorige Sondag laas in die kerk gesien is. Hy is 28 keer met ’n skerp voorwerp in die hart, longe en kop gesteek.
Enkele dae voor sy dood het hy die volgende gedig op ’n stukkie papier geskryf: Hierdie bloed wat in die aar langs my elmboog klop, sal eendag gaan staan. Die aar sal nie weer klop nie; die dinge wat ek dink, sal ophou, soos die groen boomslang wat ek geskiet het toe hy in die voëltjiesaadbak gaan lê en wag het.
Skryfwerk
Jeugverhale Sy eerste tydskrifverhaal, Jong speurders, verskyn in 1959 in Die Jongspan. Hierna skryf hy nog verskeie ander jeugverhale. Smokkelaars in die nag (vertaal as Smugglers’ trail), Slagters van die Limpopo (vertaal as Trail of a villain) en Berg van geheime is ’n reeks verhale waarin dieselfde drie hoofkarakters (Bennie, Werner en Ollie) telkens hulle speurvernuf moet inspan om rampokkers vas te vang. Smokkelaars in die nag se boewe smokkel dagga wat hulle in piesangskille versteek en in piesangkratte vervoer. In Slagters van die Limpopo kom hulle op die spoor van beesdiewe in die bosveld, wat hulle na die bosse toe vat. Hier word hulle deur ’n olifant bestorm en moet uit die pad van die krokodille in die Limpoporivier bly, maar hulle slaag tog daarin om die diewe aan die pen te laat ry.
Anderkant die groot rivierWiehahn, Rialette. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 15 no. 1, April 1975. (vertaal as Roar of the lion) is ’n avontuurverhaal wat op sy eie jeugervarings gegrond is toe hy oral in die land en naburige lande saam met sy pa gaan jag het. Tydens ’n wintervakansie op die bosveldplaas tussen die Soutpansberg en die Limpopo hou Janneman nagwake langs die aartappelland, op soek na die swart leeu wat van Botswana se kant oor die grens gekom het. Wanneer hy voor Lettie van die buurplaas verneder word, verander hy van wagter na jagter en sny die spoor van die leeu.Wiehahn, Rialette. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 16 no. 3, September 1976.
Nag van die tarentale (vertaal as Shadow of the eagle) was voor publikasie ’n gewilde radiovervolgverhaal en word ook op skool voorgeskryf. Die hoërskoolkinders Kobus Meyer en Lindie se bergklim-uitstappie tydens ’n skoolvakansie verander in ’n nagmerrie. Hulle word gedwing om saam met ’n misdadiger en moordenaar, Willem Steyn, en ’n dwelmverslaafde meisie sonder heenkome, Nora, ’n tog van honderde kilometer aan te pak, op so ’n manier dat hulle deurentyd die polisie ontwyk. Hulle word agtervolg deur Karel Meyer, Kobus se pa, en ou sersant Bernard van Graan, ’n alkoholis. Die tog word ’n soeke na die self en helderheid oor persoonlike bestaansdoel.
Stormsee oor Skoonbergbaai (vertaal as Stormy seas at Clearwater Bay) vertel van die alleenkind Kleinskip se liefde vir Mart en sy stryd teen die bevoorregte Roelf, waar Kleinskip se persoonlike groei en insig in waarin werklike waarde te vind is, die vernaamste tema is. Kommentaar word ook gelewer op groot vistreilers wat klein vissersgemeenskappe se voortbestaan bedreig. Hierdie boek wen Tafelberg Uitgewers se jeugverhaalwedstryd in 1981. Roep van die visarend is die boek van die televisiereeks, waar Kleinloek Bester by sy pa, Viervoet Loek, in die bosse van Oos-Transvaal kom bly. Hier ontmoet hy die legendariese jagter Modzumi Albassini en sy dogter Toeks. Die pragtige Estelle krap egter sy lewe ook om en daar is boewe onder leiding van Boel Bredenkamp, wat sorg dat avontuur en spanning dwarsdeur die boek hoogty vier.
In Die lang pad (vertaal as Track of the dark dog) probeer Soon sy geld by oom Jors afvat, waarna oom Jors snaaks stil op die bank bly lê. Soon weet dis tyd om te gaan en hy, sy honde en die meisie met die mank been, Kleintjie, pak die lang pad vanaf Johannesburg na Mosambiek se kus toe aan, op soek na Soon se ma. Dit is winter en bitter koud en dan is die polisie ook nog op hulle spoor. Op hierdie reis leer hulle mekaar en die veld en natuurlewe ken, maar boweal leer hulle hulleself ken en aanvaar.Buys, Junita. Kakkerlak. Uitgawe 7, 2007.
Geheim van die reënwoudSnyman, Lydia. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 26 no. 2, Junie 1986. (vertaal as The misty mountain) is die aangrypende verhaal van die ou man Sagarias Venter (Sagrys), wie se skoonseun sy sesjarige kleinseun, Kleinsagie, na hom toe bring om op te pas waar hy alleen in die bos bly. Die oupa wil hom eers nie hê nie, want dit help nie om iets te hê nie, jy verloor dit net weer. In sy armoede en opregtheid raak hy egter baie lief vir Kleinsagie en doen sy opperste bes om goed na hom te kyk en hom ordentlik op te voed. Hier raak Kleinsagie vertroud met die bos en die diere en kom ook in aanraking met die werklikheid van lewe en dood wanneer sy troeteldier doodgemaak word. Eindelik verloor Sagrys alles, maar het hy die geheim van die reënwoud ervaar, naamlik dat dit beter is om iets te hê en dit te verloor as om nooit iets te gehad het nie. Hierdie boek wen in 1984 die HAUM-prys vir Jeuglektuur en die Engelse vertaling word in 1985 ingesluit in Jay Heale se lys van Best Books.
Dag van die reuseSteenberg, Elsabe. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 24 no. 1, Februarie 1986. (in Engels Day of the giants en ook in Frans vertaal) vertel van ’n kruppel seun en ’n meisie wat saam met ’n olifantbul deur die oorlog geteisterde Mosambiek trek. Albei kinders is wees gelaat deur omstandighede. Marié-Elena ontsnap uit ’n bus wat deur ’n landmyn verwoes is en kom op soek na kos by ’n huisie uit waar die twaalfjarige Jaoa d’Almeida op sy vermoorde pa wag. Hulle moet vir hulleself sorg en steeds wegkruip vir rebellesoldate. Die olifantbul Nghwazi spring ook nie die verwoesting van die landmyne vry nie en Jaoa moet vir hom ook sorg. Op Kersdag word hulle deur die leier van die rebellemagte toegelaat om deur die poort na vryheid te gaan, waardeur hy sy respek vir hulle dapperheid toon. Hulle verkry dus deur hulle dapperheid die status van geestelike reuse. Die sinlose wreedheid en vernietiging van oorlog word hier baie oortuigend geteken. Die Engelse vertaling word in 1988 ingesluit in Jay Heale se lys van Recommended Books.
Die pad na die see (vertaal as The way to the sea) het die trek van Louis Trichardt uit die Kaap na Noord-Transvaal as agtergrond, en die hoofkarakter is Trichardt se seun Pieta. Die verhaal dek hulle verblyf in die Soutpansberg en die trek daarna na Delagoabaai. Hierdie boek word in 1988 met die Sanlam-prys (Goud) vir Jeuglektuur bekroon.