Ingrid Jonker (19 September 1933 – 19 Julie 1965) was 'n Afrikaanse skrywer en digter. Belangstelling in Jonker se werke, en veral ook in haar kort en tragiese lewe, was ná haar dood veel groter as toe sy geleef het. Net drie digbundels van haar is ooit gepubliseer: Ontvlugting (1956), Rook en oker (1963), en Kantelson (postuum in 1966). Dit is veral die kort en suiwer liriese gedigte van verlange en verlatenheid in Rook en oker wat aan haar roem besorg het.SA History: http://www.sahistory.org.za/people/ingrid-jonker In haar nadoodse Kantelson was dit 'n doodsverlange wat tot lesers gespreek het en daartoe gelei het dat bekende musici haar gedigte getoonset en opgeneem het. Sy het op 19 Julie 1965 selfmoord gepleeg deur in Drieankerbaai in Kaapstad in die see te loop.
Lewe en werk duimnael|regs|300px|Uys Krige aan die woord op 25 Julie 1965 tydens 'n byeenkoms van skrywers en ander vriende van Ingrid Jonker in die Woltemade-begraafplaas, Maitland, Kaapstad. Krige het 'n waardering van haar werk gelewer en Jan Rabie, links met sy rug na die kamera, het van haar gedigte voorgedra. Die begrafnis was drie dae vantevore, op 22 Julie.
Vroeë lewe en herkoms Ingrid Jonker, dogter van die skrywer en Nasionale Party-politikus Abraham Jonker en Beatrice Cilliers, is op 19 September 1933 op ’n plaas naby Douglas, 'n dorp naby die hoofstad van die Noord-Kaapprovinsie, in die huis van haar oupa en ouma aan moederskant, Swart Fanie (Stephanus) Cilliers en Annie (Anna) Retief, gebore. Haar oupa is in hierdie tyd reeds geruime tyd verlam in sy bed. Ingrid het ’n ouer suster, Anna.
Nog voordat Ingrid gebore word, verbrokkel die huwelik tussen haar ouers wanneer haar vader sy ouerskap van die ongebore baba bevraagteken en haar ma dan verlaat. Haar suster en sy en haar ma woon in Douglas tot 1937, waarna hulle saam met die grootouers na Durbanville naby Kaapstad verhuis. In 1938 het Ingrid ’n noue ontkoming wanneer sy amper in die Bergrivier verdrink. Haar oupa is in hierdie jaar oorlede. Ouma Cilliers, Beatrice, Anna en Ingrid verhuis dan in 1940 na die Strand, waar Ingrid vanaf Julie in die kindertuinklas van die Laerskool Die Strand begin skoolgaan en haar eerste kinderverse skryf. Hulle verander dikwels van blyplek op soek na ’n meer bekostigbare woning en trek van huis na woonstel na kamer na losieshuis in die Strand, daarna na Gordonsbaai en in 1941 weer na die Strand.
Opleiding Jonker begin haar laerskoolopleiding aan die Laerskool Die Strand. Haar ma is ’n senulyer en word verskeie kere in inrigtings opgeneem, onder andere ’n hospitaal in Somerset-Wes en die Valkenburg-kliniek en is slegs in die Gordonsbaai-periode voltyds by die huis. Daarna word sy gehospitaliseer en bring twee jaar in verskillende verpleeginrigtings deur, waaronder die Somerset-Wes, Groote Schuur- en Conradiehospitale.
Op 6 Augustus 1944 is sy aan kanker oorlede. In die Strand woon die ouma en kinders in armoede in ’n losieshuis, onderhou slegs deur die ouma se ouderdomspensioen, bydraes van ouma se twee seuns (onder wie professor A.C. Cilliers van Stellenbosch) en ’n karige toelaag van haar vader. Na die dood van haar ma kom haar pa vir Ingrid en Anna teen die einde van 1944 haal. Hy is in 1941 weer getroud, hierdie keer met die skryfster Lulu Brewis.
Omdat die huis wat Abraham in Rondebosch gehad het, te klein was vir die hele familie, loseer Ingrid en Anna aanvanklik privaat in Oranjezicht in Kaapstad. Ingrid is vanaf Januarie 1945 ’n leerling aan die Laerskool Jan van Riebeeck in Tuine in Kaapstad. In Julie 1945 trek die gesin na Plumstead en Ingrid sit haar skoolopleiding in Engels voort aan die Wynberg Girls High School. Sy slaag standerd vyf aan die einde van 1946.
Nadat sy aan die einde van 1951 matrikuleer (met 'n onderskeiding in Afrikaans), verlaat sy haar vader se huis om in ’n woonstel in Kaapstad se middestad te bly en ’n jaarlange handelskursus in tik en snelskrif te volg.
Begin van loopbaan Sy werk vanaf ongeveer Oktober 1952 by die uitgewery Kennis in Kaapstad. In die volgende vier en ’n half jaar is sy proefleser, redigeerder en sekretaresse van die hoofbestuurder van Citadel Press (die Heilsleër se drukkery) en vul sy betrekkings by HAUM, die Uitgewery Culemborg en Nasionale Boekhandel. Sy wen in Augustus 1953 ’n tweede prys vir voordrag in die afdeling Poësie Ope op die Afrikaanse Eisteddfod in Kaapstad. In 1956 trek sy na ’n woonstel in Vredehoek en aanvaar ’n betrekking by die Uitgewery Culemborg van Aat Kaptein, waar haar debuutbundel, Ontvlugting, in Junie verskyn. Sy besoek Johannesburg vir die eerste keer in Oktober 1955 op ’n reis saam met Pieter Venter (digter van die digbundel Die blomblaar is requiem). Op 15 Desember 1956 trou sy en Pieter en die egpaar trek in April 1957 na ’n woonstel in Seepunt (Chamonix 2 in Friareweg). Haar dogter, Simone, word op 1 Desember 1957 gebore.
Vriendskap met ander Sestigers In hierdie tyd raak sy bevriend met Kaapse kunstenaars en skrywers soos Jan Rabie, Marjorie Wallace, die skilder Eric Laubscher, Uys Krige, Jack Cope, Breyten Breytenbach, Richard Rive, Peter Clarke en P.J. Philander. Onder invloed van hierdie groep begin sy wyer lees en raak bekend met die werk van kontemporêre digters uit Frankryk, Spanje, Suid-Amerika, Nederland, Engeland en die Verenigde State, waardeur haar eie digkuns verryk en verdiep word. In 1958 werk sy by HAUM.
In Mei 1959 word Pieter Venter na Johannesburg verplaas en die egpaar vestig hulle eers in ’n rondawel in Illovo en vanaf Julie 1959 in ’n gemeubileerde huis in Emmarentia. Hier woon Breyten Breytenbach ’n ruk by hulle in voordat hy na die buiteland vertrek. In Johannesburg ontmoet sy vir Bartho Smit (wat later haar digbundel Rook en oker sou uitgee) en sy vrou Kita Redelinghuys. Sy vertrek teen die einde van Julie 1959 sonder Simone per trein terug na Kaapstad, maar word weer deur Pieter Venter gehaal en terug geneem na Johannesburg. In Desember 1959 trek hulle na ’n woonstel in Hillbrow.
Stormagtige jare In Januarie 1960 verlaat Ingrid vir Pieter Venter en keer sy met Simone terug na Kaapstad, waar sy ’n betrekking by Nasionale Boekhandel in Elsiesrivier aanvaar en later vir Nasionale Pers werk en ook vryskutwerk doen. By Nasionale Pers is sy vir ’n kort rukkie Louis Hiemstra se assistente terwyl hy hersiening doen aan die Tweetalige Woordeboek. Haar en Pieter Venter se huwelik is op die rotse en hulle is op 30 Januarie 1962 formeel geskei.
Sy het hierna verskeie ernstige verhoudings, onder andere met die Engelse skrywer Jack Cope en André P. Brink, maar nie een van hulle is bereid om met haar te trou nie. Reeds vanaf April 1961 is sy in ’n ernstige verhouding met Jack Cope. Wanneer sy later hierdie jaar Cope se kind verwag, ondergaan sy ’n aborsie. In Julie 1961 word sy vir die eerste keer opgeneem in ’n psigiatriese hospitaal in Kaapstad, een van vele sodanige opnames in die daaropvolgende jare. Sy ontmoet vir André P. Brink in April 1963, wanneer hulle verhouding begin.
Met die prysgeld van die A.P.B.-prys wat sy in 1964 vir Rook en oker verower en ’n toelaag van die Anglo American Corporation vertrek sy op 27 Maart 1964 met die skip Windsor Castle na Engeland. Sy ontmoet die skrywer Laurens van der Post aan boord die skip en hulle het daarna gereelde kontak. April en Mei van daardie jaar bring sy om die beurt in Engeland en Nederland deur, waar sy veral in Londen en Amsterdam vertoef. Sy besoek ook Duitsland en Switserland. Op 20 Junie 1964 sluit André P. Brink in Amsterdam by haar aan en hulle vertrek saam na Parys, waar hulle gereelde kontak het met Breyten Breytenbach en sy vrou. Later dieselfde maand gaan hulle ook na Barcelona in Spanje. Hierdie besoek eindig rampspoedig wanneer haar en Brink se verhouding vertroebel en sy weens depressie in ’n Paryse hospitaal, die Saint-Anne, opgeneem word.
By haar terugkeer na Suid-Afrika in Julie 1964 is sy eers werksaam by die Kaapse Afdelingsraad en vanaf Maart 1965 by die uitgewer John Malherbe. Sy doen ook vryskutwerk. In Desember 1964 hervat sy en Brink weer hulle verhouding, maar is kort daarna weer uitmekaar, wat ’n soort patroon word. Op 28 April 1965 beëindig Brink finaal die verhouding met haar.
Sy het in hierdie tyd tot met haar dood verskeie minnaars. Sy ontmoet die jong Vlaamse skilder, Herman van Nazareth, op 7 Februarie 1965 en hy is een van die laastes. In die maande voor haar dood verswak haar gesondheid en geestestoestand en leef sy onder mediese toesig. Sy is ook in ’n motorongeluk betrokke waarin sy haar voet breek en dit is in gips tot ’n week voor haar dood. Sy sou op 1 Julie 1965 by Die Burger begin werk, maar stel as gevolg van die ongeluk die datum uit tot 19 Julie 1965. In hierdie tyd het sy ook ernstige finansiële probleme. Sy het nie meer ’n telefoon nie en kan ook nie haar woonstelhuur betaal nie. In ’n brief gedateer 16 Julie 1965 vra sy Bartho Smit of hy nie die kopiereg van Rook en oker by haar wil koop nie, omdat sy die geld nodig het. Op hierdie dag verneem sy ook die nuus van André P. Brink se verlowing aan Salomi Louw.
Verhouding met haar pa Haar verhouding met haar pa en die verwerping wat sy hier ervaar word allerweë beskou as een van die sterkste faktore in haar sielkundige ontwikkeling. Reeds voor haar geboorte is sy ongegronde aantyging dat hy nie seker is of Ingrid sy kind is nie een van die vernaamste faktore in die verbrokkeling van sy huwelik met haar ma. Wanneer hy haar en haar suster terugneem in die huis, is dit sonder om die liefde en sekuriteit te gee wat sy op daardie stadium van haar ontwikkeling nodig het.
Die feit dat hy intussen getroud is met ’n vrou wat nie vir Ingrid en haar suster Anna werklik aanvaar nie, dra baie tot hierdie negatiewe atmosfeer by. Ingrid dra haar eerste digbundel aan haar pa op, maar sy reaksie is om te sê dat hy later sal lees “om te kyk hoe jy my in die skande gesteek het”.Metelerkamp, Petrovna (samesteller) Ingrid Jonker – Beeld van ’n digterslewe.Hemel en See-Uitgewers Vermont Eerste uitgawe Eerste druk 2003 Vroeg reeds is sy gekant teen die Regering se apartheidsbeleid en haar politieke uitlatings (en gedigte soos Die kind) dryf ’n verdere wig tussen haar en haar vader, wat Volksraadslid vir die Nasionale Party is. Hy verwerp haar uitsprake in die openbaar in die Parlement.
Abraham is ook Voorsitter van die Parlementêre Komitee wat die instelling van Sensuur moet ondersoek en verantwoordelik vir die eerste Sensuurwetgewing, waarteen Ingrid en baie ander skrywers ’n versetskrif onderteken. Wanneer sy die APB-prys vir Rook en oker wen, bied sy aan om Abraham se reiskoste te betaal sodat hy die plegtigheid saam met haar kan bywoon, maar hy wys die aanbod van die hand.
Selfdood Op Maandagoggend 19 Julie 1965 word haar lyk in die see by Drieankerbaai in Kaapstad gevind, nadat sy vermoedelik in die loop van die nag selfdood is deur doelbewus te verdrink. Sy was slegs 32 jaar oud.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Jonker,_Ingrid Sy word op Donderdag 22 Julie 1965 in Maitland se begraafplaas begrawe onder reëlings van haar pa, met veiligheidspolisiemanne wat die kis dra en ’n predikant wat die diens hou wat haar glad nie geken het nie en nie eens bewus was dat sy ’n digter was nie.
Haar skrywersvriende hou dan die Sondag na haar dood (25 Julie 1965) ’n tweede begrafnisdiens, waar hulle van haar gedigte voorlees, Uys Krige ’n huldeblyk lewer en Jan Rabie die daarstelling van die Ingrid Jonker-prys bekend maak.Metelerkamp, Petrovna. Op die ou end is Ingrid twee keer begrawe. Insig, Julie 1994 ’n Geregtelike ondersoek na haar dood word op 21 Oktober 1965 gehou, met die regter wat beslis dat die beskikbare feite daarop dui dat sy selfdood is. Skaars ses maande na haar dood is haar vader, Abraham H. Jonker, op 10 Januarie 1966 oorlede. Hy het in die maande na haar dood oormatig begin drink.
Skryfwerk
Poësie