Fanie Olivier (* 23 Junie 1949– ) is 'n Afrikaanse digter bekend vir sy liefdesgedigte en samestellings.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Olivier,_Fanie_(Stephanus_Petrus)

Lewe en werk

Herkoms en vroeë lewe Stephanus Petrus Olivier is op 23 Junie 1949 in Pretoria gebore. Hy is die seun van professor S.P. Olivier, die eerste rektor van die Universiteit van Durban-Westville, en hy ontvang dus hoofsaaklik sy skoolopleiding in Durban. Hy matrikuleer in 1966 aan die Hoërskool Port Natal.

Verdere studie en loopbaan Daarna studeer hy vanaf 1967 aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die B.A.-graad in Regte, die B.A. Honneurs-graad in Afrikaans en in 1972 die M.A.-graad (cum laude) behaal met ’n verhandeling oor Aspekte van ballingskap en vaderland in die poësie van Breyten Breytenbach. Hy is lid van die Letterkundige Laboratorium onder die leierskap van D.J. Opperman. Verder is hy onder meer kunsredakteur van Die Matie en Die Stellenbosse Student en loods ’n nuwe literêre blad, Penseel, vir die studente. Hy keer terug na Natal en verwerf bekendheid as kunsredakteur van Die Nataller en fliek- en teaterresensent van Tempo en word ook in 1973 tydelik aangestel as dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Natal, ’n posisie wat hy vir vyftien maande beklee.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/olivierf.html

In 1974 ontvang hy die studiebeurs van die Studiefonds voor Zuid-Afrikaansche Studenten en hy spandeer sowat twee jaar aan die Rijksuniversiteit in Utrecht in Nederland vir verdere studie. Hier skryf hy die doktorale eksamen (Drs.Litt.) in Literêre Teorie. Terug in Suid-Afrika word hy dosent aan die Universiteit van Durban-Westville. Vanaf 1982 neem hy ’n pos aan as onderwyser by Union High School op Graaff-Reinet, werk ’n rukkie as kunsredakteur by Rapport, gee onderwys aan Ridgeway College op Louis Trichardt en maak ook ’n draai as dosent by die ou Skiereilandse Technikon. Na ’n ruk word hy aangestel as professor en hoof van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Venda en later word hy dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. In 1985 verwerf hy die D.Litt.-graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys onder promotorskap van T.T. Cloete met ’n studie oor Die mistiek in die Afrikaanse poësie. Hy is in 1989 deel van die groep Afrikaanse skrywers wat die toe nog verbode ANC by die Victoriawatervalberaad ontmoet. In 1990 word hy verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde, ’n posisie wat hy tot 1992 beklee. Deur die Universiteit van Suid-Afrika voltooi hy ook ’n LL.B.-graad en in 2002 word hy toegelaat as advokaat in die Hooggeregshof van Suid-Afrika.LitNet ATKV-Skrywersalbum 05.02.2009: www.litnet.co.zaNB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/3348

Polemiek Sy loopbaan by die Universiteit van Venda verloop stormagtig.De Vries, Izak Oulitnet: http://www.oulitnet.co.za/mond/fanie.asp In 1992 word hy deur die studente van die kampus verjaag omdat hy die studenteraad in ’n brief kritiseer vir hulle eis dat meer studente op die kampus toegelaat moet word as waarvoor daar geriewe is. Hy word as “rassis” bestempel en die raad van die universiteit staan drie maande verlof aan hom toe om hom sodoende van die kampus te kry en die bui te laat bedaar. Hy is egter verplig om hooggeregshof toe te gaan om ’n hofbevel te kry om weer op die kampus toegelaat te word. In 1995 kom hy te hore dat ’n kredietkaart op onbehoorlike wyse aan die visekanselier van die universiteit toegestaan is. Hy skryf aan die betrokke bank vir nadere besonderhede, maar word dan onderwerp aan ’n dissiplinêre ondersoek omdat hy “onregmatig” namens die raad opgetree het. Hy word van die raad en senaat geskrap en wend hom weer tot die Hooggeregshof, waarna hy weer in sy amp herstel word, slegs om weer aangekla te word. Intussen verwys hy die uitgawes op die kredietkaart na die spesiale ondersoekeenheid van oudregter William Heath wat op daardie tydstip aan die gang is. Die visekanselier word uiteindelik verplig om R200 000 se kostes terug te betaal. Terwyl hierdie saak voortslepend is, skryf hy ’n interne e-pos waarin hy beweer dat die universiteit se nuwe dissiplinêre kode aan die regering voorgelê is sonder dat die raad dit ooit gesien het. Hy word aangekla dat hy die universiteit in diskrediet gebring het, word skuldig bevind en in Desember 1999 afgedank. In Maart 2000 beslis die hooggeregshof in sy guns, maar die universiteit weier om hom in sy amp te herstel en neem die saak appèlhof toe, waar die saak verval.Botha, Eddie. Probe into vice-chancellor’s spending. Dispatch, 15 April 2000. Terwyl hierdie geding aan die gang is, word hy genoodsaak om as advokaat te praktiseer om sy inkomste aan te vul. Uiteindelik bereik die partye in 2004 ’n skikking buite die hof, nadat die saak selfs ’n draai in die parlement maak. In Junie 2004 tree hy dus uit die personeel van hierdie universiteit.

Latere loopbaan Hy gaan in September 2004 na Poznan in Pole as professor in Afrikaans en South African Studies in die Departement Engels van die Adam Mickiewicz Universiteit.

In 2006 keer hy na Suid-Afrika terug ter wille van sy vrou se gesondheid. Na haar dood sluit hy aan die einde van 2007 weer by die personeel van die Universiteit van KwaZulu-Natal aan.

In 2010 keer hy na sy vorige pos as professor aan die Adam Mickiewicz Universiteit in Poznan in Pole terug.

Persoonlike lewe Hy trou in 1976 met die digteres Marlise Joubert en die egpaar het ’n dogter, Marcelle, maar skei later.

Na sy egskeiding trou Fanie met Rike Antonissen, dogter van die literator Rob Antonissen. Sy is self ’n akademikus by verskeie universiteite in Suid-Afrika en die buiteland en is ook skrywer. Die egpaar het ’n seun en Rike het ook ’n dogter uit ’n vorige huwelik. In Pole kom hulle agter dat iets met haar gesondheid skort en die siekte word later gediagnoseer as primêre progressiewe afasie, ’n breinaandoening waardeur sy geleidelik die vermoë om te praat, verstaan en lees verloor. Weens Rike se siekte keer hulle in Februarie 2006 terug na Suid-Afrika en vestig hulle op Pennington in KwaZulu-Natal, waar hy as prokureur ’n bestaan maak. Rike is in Julie 2007 oorlede.

Hy is weer getroud, hierdie keer met Antoinette Klein.

Skryfwerk

Digkuns Van sy gedigte verskyn reeds in standerd ses in sy skool se jaarblad en daarna publiseer hy ook in tydskrifte soos Standpunte. In sy studentejare verower hy twee kere die Nasionale Boekhandel-prys van die Afrikaanse Studiekring vir sy poësie.Versindaba: http://versindaba.co.za/gedigte/fanie-olivier/

Sy debuutbundel Gom uit die sipres verower in manuskripvorm in 1971 die Reina Prinsen Geerligsprys. Die titel van die bundel dui aan dat die digter die gom uit die sipres, of te wel die essensie of kern uit die lewe en werklikheid kan haal. Die gedigte se sterk ritme gee ’n liriese eenvoud daaraan. Die bundel bestaan uit vyf ongetitelde afdelings. Die eerste afdeling bevat gedigte oor verskillende fasette van die mens se bestaan op aarde, maar veral die dood. Vroeë mis gee met surrealistiese beelde ’n aweregse toespeling op Totius se gedig Die wêreld is ons woning nie. Aand in Jamestown bereik met sy perspektiefwisseling tussen die jeugwêreld en die hede ’n mooi effek. Liefdeservaringe in die jeug is in afdeling twee. Kyk die wêreld vou sy lou hand vir jou oop tref met sy atmosfeerskepping en beelde wat inmekaar vloei, terwyl Afskeid aan Droogfontein mooi gebruik maak van die water verwante beelde in elke strofe (“windpomp”, “damwal;”, “trane”) in kontras met die titel se droogte. In Eerste aand is die jongman per fiets op pad na sy nooi met onpraktiese geskenke van ’n karba wyn, ’n blaar en ’n duifie, waaruit die jeugdige verliefdheid blyk wat alles met die geliefde wil deel. Afdeling drie bevat haikoes oor die natuur en afdeling vier is meer ernstig met gedigte oor wrede werklikhede soos uitbuiting, aardbewings en verwoesting. Die laaste afdeling lewer siniese kommentaar op politieke gebeure en politieke bannelinge soos Breyten Breytenbach (Patriot in Parys en Oproep tot hoër digterlike spesialisasie). Hoogtepunte in hierdie afdeling is Trekvoëls, waarin die voëls se hunkering na ’n tuiste en nuwe begin in die lente uitgebeeld word, en Winter, wat ’n benadeelde kind se sosiale tragiek as tema het.Coetzee, A.J. Standpunte. Nuwe reeks 102, Augustus 1972.

Die gedigte in Om alleen te reis het die liefde en godsdiens as temas en bevat ook mooi stemmingsverse. Die titelgedig is ’n proloog waarin om alleen te reis as gevaarlik bestempel word en om te dig is per definisie ’n alleenreis. Die bundel word in vier afdelings verdeel. Die eerste afdeling bevat liefdesverse oor verlange en herinneringe. In verskeie gedigte probeer die spreker hom sonder veel sukses in sy alleenheid teen die wêreld verskans. Weer op die Stormberge het steeds iets van die jeugdige varsheid van sy eerste bundel en gee in die eerste strofe die landelike omgewing in sy bekoring weer, gekontrasteer met die tweede strofe se verval wat onvermydelik intree. Die tweede afdeling word gewy aan die reis na die oase van fisieke en erotiese bevrediging en die verband wat dit het met die religieuse. Die soeke na die dieper sin oorheers in die derde afdeling, waar verskeie insidente of verskynsels ontleed word op soek na die onderliggende betekenis. Oujaarsaand beskryf die verkragting van ’n jong meisie wat vreemd is in die omgewing en beeld op onsentimentele wyse die onnadenkende wreedheid uit. Insident op ’n Donderdag gee blyke van Olivier se fyn waarnemingsvermoë. Die laaste afdeling word gewy aan politieke verse waarin veral die apartheidsbestel getakel word.Brink, André P. Voorlopige Rapport. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 1976.Coetzee, Ampie. Rapport, 16 Desember 1973.

Paradysrigting van die wind is ’n getuigskrif oor ’n liefdesgeskiedenis vanaf verlange na vervulling en heerlikheid, met die huwelikslied as hoogtepunt. Die titel van die bundel kry sy beslag in die gedig Die weerstasie en sensitiewe meter wys soontoe, waar die kerk se toring die paradysrigting van die wind bevestig. Die gedigte word aanvanklik geskryf vanuit die grys en troostelose Hollandse landskap met die geliefde wat afwesig is. Hieruit vloei die treurigheid en onsekerheid, wat later besweer word deur die terugreis en die slotgedig, die Huwelikslied. Marie the dawn is breaking bereik mooi effekte rondom die woorde van ’n popliedjie, waar die aanhalings en teks mekaar telkens relativeer.Brink, André P. Rapport, 19 September 1976.Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 17 no.2, Junie 1977.Van Tonder, Niel. Beeld, 25 Julie 1977.Brink, André P. Tweede Voorlopige Rapport. Human & Rousseau. Kaapstad, Pretoria en Johannesburg. Eerste uitgawe, 1980.