Louis Trichardt is 'n dorp in die Limpopoprovinsie van Suid-Afrika. Dit lê aan die voet van die Soutpansberg wat 'n vrugbare gebied is vir die verbouing van lietsjies, piesangs, veselperskes en neute. Dit is in Februarie 1899 gestig.
Louis Trichardt is vernoem na die Voortrekkerleier Louis Tregardt. Die amptelike naam is op 20 Junie 2003 verander na Makhado, maar dié verandering is in 2007 deur die appèlhof omgekeer toe beslis is dat daar nie voldoende konsultasie met die gemeenskap was nie. Die aanvanklike naamsverandering was nie net ongewild by Afrikaners nie, maar ook by die BaPedi en Shangaan, wat die eertydse Vendaleier, Makhado, as 'n onderdrukker beskou.
Ligging en uitleg Louis Trichardt is geleë op die N1 nasionale pad vanaf Gauteng na Zimbabwe, en die R524 roete wat uit die weste en ooste by onderskeidelik Rissik- en Songwozistrate aansluit. Die dorp is 100 km noord van Polokwane (Pietersburg) en 100 km suid van Musina (voorheen Messina), en reg suid van Hanglip, oftewel Songwezi, 'n prominente kop in die bergreeks. Verskeie strate dra die name van Boereleiers. Dit is opmerklik dat etlike daarvan vrymesselaars soos Piet Retief gedenk, en vrymesselary het in die ontstaansdae van die dorp inderdaad 'n sterk teenwoordigheid gehandhaaf.
Gerard Moerdijk, argitek van onder meer die Voortrekkermonument, het die kerkgebou van die NG gemeente Louis Trichardt ontwerp. Dié gebou in die dorpsmidde is feitlik identies aan die ontwerp wat vir die kerkgebou van die NG gemeente Harare gebruik is. Ook in die dorpsmidde is die boomryke Voortrekkerplein en Fort Hendrina, 'n beweegbare yster-opslaanfort. Dit dateer uit die tyd van die Eerste Vryheidsoorlog, en is in die Tweede Vryheidsoorlog deur die Britte oorgeneem, toe dit deur onder meer Breaker Morant as Fort Edward benut is. 'n Inheemse boomreservaat lê aan die N1. Forestryweg aan die dorp se noordekant lei na die bosboustasie en Hanglipbos.
Demografie In 2011 het die dorp en omliggende dele 'n bevolking van 25 360 gehad, waarvan 5 077 (20,0%) Blank was.2011-sensus
Sien ook Gereformeerde kerk Louis Trichardt Lys van dorpe in Suid-Afrika NG gemeente Louis Trichardt Albasinidam
Eksterne skakels Makhado nou weer Louis Trichardt, sê appèlhof Beeld, 29 Maart 2007
Bronnelys Beeld, 15 September 2005 Duur standbeeld loop deur onder vandale se verf.
Verwysings
Kategorie:Nedersettings in Limpopo