Hennie Aucamp (20 Januarie 1934 – 20 Maart 2014) was 'n bekroonde Afrikaanse skrywer en digter en skrywer van hoofsaaklik kortverhale.http://www.esaach.org.za/index.php?title=Aucamp,_Hennie_(Hendrik_Christoffel_Lourens Daar is ook al na hom verwys as 'die vader van die Suid-Afrikaanse letterkundige kabaret'NB-uitgewers: Hennie Aucamp , verkry op 4 Julie 2009. en hy het 'n belangrike plek onder die beoefenaars van die Afrikaanse kontreikuns beklee.

Hennie Aucamp was by uitstek 'n belese kortverhaalskrywer, maar het ook heelwat sterk verhoogtekste gelewer, veral vir die kabaretgenre – onder meer 'n Brommer in die boord, Die sewe doodsondes, Met permissie gesê en Slegs vir almal. Sy werk is ook gewild vir prosa-aanbiedings en talle van sy gedigte is getoonset. Die Afrikaanse sangeres Amanda Strydom het hom as haar mentor beskou. In 1982 is hy met die Hertzogprys vir sy prosawerk bekroon, en in 2004 met die Fleur du Cap-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die groei en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse teater.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Lewe en werk Hendrik Christoffel Lourens Aucamp is op 20 Januarie 1934 op Dordrecht in die Kaapprovinsie geborehttp://esat.sun.ac.za/index.php/Hennie_Aucamp as een van twee kinders. Sy ma was ’n nooi Coetzee en hy het ’n suster, Rina. Hy word groot op die plaas Rust-mijn-ziel op die Stormberg-hoogland in die distrik Jamestown. Van substanderd A af gaan hy op die dorp skool, waar hy in die week in die koshuis inwoon. Sy onderwyseres op laerskool moedig hom aan om versies te skryf en sy stuur dit vir Die Jongspan, wat dit in Maart 1946 publiseer toe Hennie slegs elf jaar oud was. In 1951 matrikuleer hy aan die Jamestown Hoërskool, waar die skrywer Jan Rabie vir ’n ruk ’n onderwyser was. Vanaf 1952 studeer hy Afrikaanse, Engels en Drama aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy die B.A.-graad in 1955, die B.A. Honneurs-graad in 1956, die Hoër Onderwysdiploma in 1957 en die M.A.-graad in 1958 (met lof) behaal met ’n studie oor Die poësie van Ernst van Heerden. In 1959 en 1960 bring hy as toeris sowat tien maande in Europa deur, waar hy kennis maak met die goue era van die teater en veral in Londen klassieke werke te siene kry. Hy is daarna vir ’n periode tydelike lektor aan die Fakulteit van Opvoedkunde op Stellenbosch en in Kaapstad en tree dan op as onderwyser op Stellenbosch (in die Lückhoffskool vir Kleurlinge), sy tuisdorp Jamestown, Cradock en in Rondebosch. Vanaf Oktober 1963 tot Junie 1964 studeer hy letterkunde-onderwys op hoërskole aan die Katolieke Universiteit van Leuven in België.http://www.stellenboschwriters.com/aucamph.html

Sedert middel 1964 is hy dosent en sedert 1983 departementshoof in Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Op Stellenbosch bly hy vir baie jare in die Molenvliet-woonstelkompleks, waar die digter Lina Spies een van sy bure is. In 1974 promoveer hy met lof (D.Ed.-graad) aan hierdie universiteit met die proefskrif ’n Ondersoek na die doeltreffendheid van die eksterne eksaminering van voorgeskrewe letterkunde vir Afrikaans Hoër in die Kaaplandse Senior Sertifikaat. Vir die Taalfeesprogram in 1975 in die Paarl is hy die samesteller van ’n program onder die titel Om Boer te wees. Hierdie program bied ’n beeld van die boer soos vervat in die Afrikaner se letterkunde en preliterêre erfgoed. In 1979 ontvang hy ’n beurs vir buitelandse studie en hy studeer dan in New York in Amerika aan die Teachers College en die Columbia University, waar hy die spesialisasiekursusse volg in The writing of drama, Professional and Educational Writing en Popular Fiction. Hy onderneem in die begin van 1982 ’n kabarettoer na Nederland en Duitsland. In 1986 word hy aangestel as medeprofessor en hoof van die Departement Afrikaans en tree dan aan die einde van 1993 af as hoogleraar by die Universiteit van Stellenbosch.http://www.litnet.co.za/hennie-aucamp-1934/

Hierna verhuis hy na ’n woonstel in Tamboerskloof in Kaapstad en wy hom daarna voltyds aan sy skryfwerk. Hy ondergaan in hierdie tyd ’n knievervanging, wat sy mobiliteit bemoeilik. Tot 2006 is hy besonder aktief as resensent van nuwe boeke vir verskeie tydskrifte en koerante. In April 2011 het hy ’n beroerte-aanval en hoewel hy weer herstel, het hierdie gebeurtenis ’n groot impak op sy gesondheid en lewenswyse. Hierna kan hy nie meer bestuur nie en moet sy motor verkoop, waarna ’n motoris oor sy regtervoet ry en sy mobiliteit verder belemmer. Noodgedwonge moet hy sy woonstel in Tamboerskloof ontruim en trek na ’n ander woonstel, omdat hy nie meer trappe kan klim nie. Daar is ook gebrekkige koördinasie in sy regterhand en sy geheue is aangetas, wat dit vir hom toenemend moeilik maak om te skryf. links|duimnael|'n Jong Hennie Aucamp Hy skryf sy hele omvangryke oeuvre met die hand en gebruik nooit ’n tikmasjien of ’n rekenaar nie. So is hy dan altyd afhanklik van die hulp van tiksters om sy manuskripte persklaar te maak. Dwarsdeur sy lewe is hy ook ’n entoesiastiese korrespondent wat briewe skryf (en ontvang) van baie van die leidende persoonlikhede in die land en ook van die buiteland.

Hennie Aucamp is Donderdagnag 20 Maart 2014 in sy woonstel in Kloofstraat in Kaapstad oorlede.

Skryfwerk

Kortverhale As letterkundige, opvoedkundige en veelsydige skrywer van veral korter vorme, publiseer hy oor ’n breë spektrum, wat insluit verhale, essays, toneel- en kabarettekste, lirieke, aforismes, dagboeke, gedigte en resensies. Reeds in standerd twee begin hy skryf wanneer Die Jongspan van sy gediggies publiseer, waarna vanaf 1949 verhale in Die Naweek en Die Huisvrou volg en in sy matriekjaar verskyn sy eerste verhaal in Die Huisgenoot. Van hierdie kortverhale (getipeer as landelike sketse en vertellings) word opgeneem in sy debuutbundel Een somermiddag, wat ’n plaas en die platteland as agtergrond het vir jeugherinneringe. Eitemal skryf ’n kort voorwoord vir hierdie bundel, waarin hy reeds die aandag vestig op die gevoeligheid van Aucamp se woordgebruik.

Die hartseerwals is ’n groot vooruitgang op hierdie debuut. Soos die titel aandui, staan die verhale in die bundel almal in die gees van een of ander hartseer gebeurtenis.

Die titel Spitsuur roep kennelik die grootstadlewe op en Aucamp verbreed hier sy tematiek en aanslag. Die bundel is in drie dele verdeel, waar die verhale in die eerste deel die problematiek van die individu aanspreek soos hulle dit in herinnerings ervaar, die tweede deel simbolies-allegoriese verhale is wat bewustelik met die surrealistiese eksperimenteer en die derde deel ’n aantal beelde van eensame mense skep.Van Heerden, Ernst. Standpunte. Nuwe reeks 77, Junie 1968

’n Bruidsbed vir tant Nonnie bevat verhale in drie afdelings. In die eerste afdeling is die lewe en dood die oorheersende tema, met die titelverhaal ’n hoogtepunt. Die tweede afdeling werk hoofsaaklik met die kontras tussen tyd en ruimte, waar die karakters teruggryp na die verlede en die geluk of liefde onthou wat hulle toe ervaar het. In die derde afdeling is daar twee verhale wat aanpassing as tema het. ’n Tafelberg-prys word in 1970 vir ’n Bruidsbed vir Tant Nonnie toegeken.Brink, André P. Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1976Cloete, T.T. Standpunte. Nuwe reeks 92, Desember 1970

Saam met Margaret BakkesNB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/Authors/164 bundel hy in ’n Baksel in die more kortverhale oor die Stormberge, met Want kyk, die bruidegom is hier wat wentel rondom die verhouding van ’n ouma en ’n kind.Bouwer, Alba. Sarie Marais, 21 November 1973Coetzee, A.J. Rapport, 25 November 1973De Vries, Abraham. Die Huisgenoot, 12 Julie 1974

Die bundel Hongerblom bevat vyf elegieë (treurliedere) en is ’n besondere hoogtepunt in sy werk. Soos die beskrywing “elegieë” reeds aandui het die verhale almal met verganklikheid en die dood te doen. Die titel van die bundel vind weerklank in die terugkerende motief van blomme in die verskillende verhale, terwyl die “honger” gestalte vind in die roofdier-motief en die uitreik na son en genade (liefde en aanvaarding) wat ook in verskeie verhale te vinde is. In die bundel kom die subtiele mengsel van woede en weemoed oor die verganklikheid van die mooie fyn aan die woord.Botha, Elize. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 16 no. 1, April 1976Spies, Lina. Standpunte. Nuwe reeks 105, Februarie 1973 Hierdie bundel word onder andere in Duits vertaal. Hongerblom verower saam met Wolwedans die W.A. Hofmeyr-prys in 1974.

Wolwedans bevat ’n bonte verskeidenheid van kunsvorme (kortverhale, sketse, gedigte en selfs ’n eenbedryf), waarin die styl wissel tussen ironies, bytend, satiries en geestig. Deur hierdie veelvoud word menswees ondersoek en word die mens agter sy masker ontbloot.De Vries, Abraham. Die Huisgenoot, 10 Mei 1974

Dooierus kan stagnasie of die rus van die dooies beteken maar ook sekuur aanlê op die teiken, terwyl dit ook balans impliseer. Die temas van die verhale is onder andere die eensaamheid en angs van gefrustreerde mense, met die Stormberge wat dikwels as agtergrond dien. In hierdie verhale bemoei Aucamp hom vir die eerste keer werklik met die tydshantering in die kortverhaal, veral om die chronologie van verskillende belewenisse wat oor verskeie tye plaasvind, op te hef ten einde so beter die samehang en betekenis hieruit te haal.Botha, Elize. Beeld, 31 Januarie 1977Brink, André P. Rapport, 7 November 1976Brink, André P. Tweede Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad Pretoria Johannesburg

Die titel van Enkelvlug verwys daarna dat daar vir hierdie lewe nie ’n retoer is nie, terwyl dit ook die enkeling en eensaamheid suggereer en “vlug” ook die konsep van weghardloop bevat. Die bundel bevat dan ook verhale oor mense besig met hulle alleenreis deur die troostelose wêreld. Aucamp situeer agt van die tien verhale binne ’n fisiese reis, waarbinne die emosionele reis voltrek word.Botha, Johann. Beeld, 6 November 1978Brink, André P. Rapport, 26 November 1978Brink, André P. Tweede Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad Pretoria Johannesburg Eerste uitgawe 1980

Volmink vat in sy titel die teenpole van “volmaak” en “vermink” saam. In hierdie bundel word veral die gestroopte mens ondersoek, wat in sy emosionele naaktheid met groot deernis behandel word. Die oorwegende boodskap is dat ons genade met ander moet hê, omdat almal iewers tussen volmaak en vermink is. Onderliggende temas is ook eensaamheid en die erotiek.Roos, Henriette Beeld, 23 November 1981Smuts, J.P. Burgerband. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1985Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 3, Augustus 1982

Aucamp kry in 1982 die Hertzogprys vir al sy gepubliseerde prosawerke tot op daardie datum, te wete Een somermiddag, Die hartseerwals, Spitsuur, Karnaatjie, ’n Bruidsbed vir Tant Nonnie, Hongerblom, Wolwedans, Dooierus, Enkelvlug en Volmink.

Wat bly oor van soene? bevat weer hoofsaaklik herinnering- en belydeniskuns, maar hier is daar kennelik ’n ouer en wyser verteller aan die woord. Die titel word herlei na Brecht se vraag, “Wonde laat letsels, maar wat bly oor van soene?”, met die implikasie dat intimiteit tussen mense vergaan. Aucamp beeld hier die melodrama en seksualiteit uit, maar altyd binne die subtiliteit wat sy kuns kenmerk. Hy sê self in ’n onderhoud met Koos Prinsloo in Beeld van 20 Januarie 1986 dat dit hier gaan om die bankrotskap van seks en liefde, teenoor die beswerende krag van kreatiwiteit. Die soektog na vervulling en die futiliteit daarvan onderlê dan die verhale, met die lewe en letterkunde wat ten nouste aan mekaar verbonde is.Brink, André P. Rapport, 5 Oktober 1986De Vries, Abraham. Die Burger. 23 Oktober 1986Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 25 no. 1, Februarie 1987