Libanon (Arabies: لبنان, Libnān, [lɪbˈnæːn]; Frans: Liban), amptelik die Republiek Libanon (Arabies: الجمهورية اللبنانية, al-Jumhūrīyah al-Lubnānīyah, [elˈʒʊmhuːɾɪjje l.ˈlɪbnæːnɪjje]; Frans: République Libanaise), is 'n klein, hoofsaaklik bergagtige land in die Midde-Ooste. Dit is geleë aan die oostekant van die Middellandse See.
duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Libanon duimnael|links|Kaart van Libanon Libanon se mense het die meeste Westerse invloed teenoor ander Arabiese lande. Hulle word ook deur Sirië beïnvloed aangaande interne sake. Die Christendom is ook nog sterk in Libanon. In die sewentiger jare het Israeliese troepe die PLO-troepe uit Libanon verdryf, omdat die PLO destyds Israel vanuit Libanon aangeval het. Die Christendom van Libanon het in daardie tyd teen die Soennitiese Islamitiese PLO-groep geveg. Nadat die PLO-troepe uit Libanon verdryf is het die Droese- en Sjia-groepe groter invloed oor die Libanese regering begin uitoefen.
Libanon het 'n soortgelyke geskiedenis as Sirië, in die opsig dat albei lande deur die Bisantynse en daarna die Mamelukke en Ottomaanse Ryk beheer is, soos Jordanië.
Libanon bevat ook Assiriërs, Droese, Koerde en Armene, soos Sirië. Mense in Libanon is afstammelinge van Edomiete, Fenisiërs, Armene en Koerde.
Libanon met Beiroet as hoofstad is sedert 1946 'n Arabiese republiek wat aan die oostekant van die Middellandse See geleë is. Die totale oppervlakte is 10 400 km² en die land het 'n totale bevolking van ongeveer 5,4 miljoen in 2024 gehad.
Die ekonomie is hoofsaaklik op die dienstesektor gebaseer en hoewel die land deel is van die Arabiese Liga, word goeie betrekkinge met die Weste gehandhaaf. Daarom is die land betreklik welvarend in vergelyking met die omringende lande. Sedert die Oudheid is daar 'n groot Christelike bevolkingsgroep in Libanon, wat meebring dat hy die enigste Arabiese land in die Midde-Ooste is waar die Moslems amptelik nie in die meerderheid is nie.
Libanon het 'n Middellandse Seeklimaat met warm, droë somers en sagte, reënerige winters. Die klimaatverskille word veroorsaak deur die land se ligging ten opsigte van die Middellandse See en die Libanonbergreeks. Die reënval in die kusvlakte en op die westelike hellings van die Libanongebergte is die hoogste en wissel tussen 700 mm in die suidelike deel van die kusvlakte tot 900 mm in die noorde.
Die oostelike hellings en die Bekaavallei kry baie minder reën. Daar wissel die jaarlikse neerslag van 600 mm in die suide tot meer as 200 mm in die noorde. Vanweë die magtigende invloed van die Middellandse See is die temperatuurverskille tussen somer en winter wes van die Libanongebergte kleiner as in die gebied oos daarvan. Die klimaat het hier ook 'n meer kontinentale karakter, met somertemperature bo 35°C, maar in die winter kan die temperatuur tot onder 5°C daal. Langs die kus daarenteen daal die temperature in die winter selde benede die vriespunt en die somertemperatuur is gemiddeld 27°C.
Bodem en reliëf duimnael|links|Kadisha-vallei, 'n kloof in die noorde van Libanon Die kusvlakte van Libanon is 'n smal, vrugbare strook land wat opgebou is uit spoelgrond wat deur riviere en die see afgeset is en in die noorde in die vrugbare Akkarvlakte eindig. Die kusvlakte word begrens deur die steil Libanongebergte, wat hoofsaaklik uit sand- en kalksteen bestaan en van noord na suid geleidelik in hoogte afneem. Die hoogste bergspitse is berg Sannin (2 630 m) en Koernat as Saoeda (3 080 m). Hoewel die grond nie baie vrugbaar is nie, word die laer liggende berghellings intensief verbou. Die Bekaavallei, met ’n gemiddelde hoogte van 1 000 m, is eintlik 'n tafelland wat tussen die Libanon- en die Anti-Libanongebergte lê. Die Anti-Libanongebergte, wat geleidelik van noord na suid begin afplat, lê eintlik meer in Sirië. Die belangrikste riviere is die Al-Asi (Orontes) en die Al-Litani, wat albei in die Bekaavallei ontspring en die afwatering oos van die Libanongebergte moontlik maak. Die Al-Asi vloei na die noorde en bereik via Sirië en Turkye die Middellandse See. Die Al-Litani, wat aanvanklik na die suide vloei, krom later na die weste en mond by Soer ook in die Middellandse See uit. Die kusvlakte word deur baie kort (selde langer as 25 km) bergstrome deursny, wat van groot belang is vir besproeiing.
Bevolking duimnael|links|Verdeling van die belangrikste godsdienstige groepe in Libanon volgens die laaste munisipale verkiesingsdata Sedert 1932 is daar nog nie weer 'n sensus in Libanon gehou nie, waardeur verhoed is dat die fyn politieke balans tussen die verskillende godsdiensgroepe versteur word. Volgens skatting van die Verenigde Nasies het die totale bevolking in 1970 meer as 2,6 miljoen getel, terwyl die geboortesyfer tussen 30 en 35‰ was, met 'n sterftesyfer van meer as 10‰.
Die groeitempo wissel tussen 2 en 2,5% per jaar. In 2018 was die totale bevolking meer as 6,8 miljoen. Buitendien word die aantal Libanese wat grotendeels permanent in die buiteland woon, op meer as een miljoen geskat. ’n Groot aantal Palestynse vlugtelinge woon tans ook in Libanon. In die vroeë tagtigerjare is hul getal op ongeveer 500 000 geskat, waarvan ’n groot deel in vlugtelingkampe woon.
In Libanon is die tendens van toenemende verhuising van die platteland na die stad ook merkbaar en tans woon nog net ongeveer 42% van die bevolking op die platteland en 58% reeds in die stede. Die belangrikste stede is die hoofstad Beiroet (omtrent 2 miljoen inwoners), Tripoli (730 000), Zahle (ca. 85 000), Sidon (75 000) en Aley (ca. 65 000). Die meeste Libanese beskou hulself as Arabiere, terwyl Armene (4,6%), Koerde, Jode, Grieke en Turke minderhede vorm. Arabies is die voertaal in die hele Libanon, hoewel Frans, en in steeds toenemende mate Engels, as bestuurs- en handelstaal gepraat word.
Van baie groter belang is egter die godsdiensverskille tussen die bevolking, wat ongeveer gelyk verdeel is in Christene en Moslems. Onder die Christene vorm die Maroniete die grootste groep. Die Maronitiese gemeenskap is ’n Oosterse Christelike gemeenskap wat reeds geruime tyd met die Rooms-Katolieke Kerk geaffilieer is. Ander Christene behoort hoofsaaklik tot die Grieks-Ortodokse Kerk, die Grieks-Katolieke Kerk en die Armeense Kerk. Naas die twee bekende groepe binne die Islam, naamlik die Soenniete en die Sjiiete, is daar ook nog 'n klein Islamitiese gemeenskap, die Droese, in Libanon. 'n Klein Joodse gemeenskap van ongeveer 6 000 mense woon ook in Libanon.
Volksgesondheid, onderwys en die pers duimnael|links|Haigazian-universiteit in Beirut duimnael|Die Amerikaanse Universiteit van Beiroet Die godsdienste en die daarmee gepaardgaande politieke verskeidenheid van die Libanese bevolking kom ook tot uiting in die onderwys en die pers. Baie onderwysinstellings staan onder die beheer van die godsdiensgemeenskappe, terwyl baie skole bestuur en gefinansier word deur buitelandse kulturele sendings. In die jongste tyd speel die staat ook 'n steeds groter rol in die onderwys. Oor die algemeen het Libanon 'n redelike onderwysstelsel, waarin vyf jaar se laerskool-onderrig vir almal verpligtend is.
Gevolglik het die land ook die hoogste geletterdheidsyfer (86%) van al die Arabiese lande. Libanon het vier universiteite, naamlik die Amerikaanse Universiteit, die Franstalige Katolieke Saint-Joseph Universiteit, die Libanese Staatsuniversiteit en die Arabiese Universiteit, wat eintlik tot die Universiteit van Alexandrië behoort. In Libanon geniet die pers 'n groot mate van persvryheid. Daar is sowat 50 koerante, waarvan sowat 30 in Arabies en die res in Frans, Armeens en Engels verskyn, wat ’n aanduiding gee van die baie menings in Libanon. Die weekblad Al Hurriya ("Vryheid"), die belangrikste spreekbuis van die Harahat Al gaumiyin Al Arab (die Arabiese Nasionale Beweging: die moederorganisasie van alle Palestynse weerstandsbewegings), word in Beiroet uitgegee.
Sensuur kan net toegepas word as die betrokke koerant of weekblad die konflikte tussen die verskillende godsdiensgroepe aanwakker. In vergelyking met die res van die Midde-Ooste is daar voldoende geskoolde mediese personeel in Libanon. Daar is een dokter vir elke 1 230 inwoners en 'n hospitaalbed vir elke 250 inwoners. Die mediese fasiliteite is wel hoofsaaklik in die stede gekonsentreer, maar die regering probeer die verspreiding ook na die platteland bevorder.
Geskiedenis duimnael|links|'n Kaart van die Fenisiese handelsroetes duimnael|Die verowering van Tripoli deur die Egiptiese Mamelukke en die vernietiging van die Kruisvaarderstaat in 1289 Die oudste histories bekende bewoners van Libanon is die Feniciërs. Hulle het veral bekend geword vanweë hul handelstogte deur die hele Middellandse Seegebied. Deur die eeue heen het die gebied deel uitgemaak van die verskillende ryke in die Midde-Ooste. Tydens die Romeinse tyd het die Grieks-Romeinse kultuur uitgebrei en die Christendom het die belangrikste godsdiens geword. Toe die Arabiese Moslems vanaf 634 die land begin binneval, het die arabisering gevolglik stadiger verloop as byvoorbeeld in Sirië of Palestina. In die tyd het die ontoeganklike Libanongebergte sy historiese rol as die toevlugsoord vir die plaaslike Christene, die Maroniete gekry.
Die Maroniete het hulle reeds baie vroeg aan die Weste verbonde gevoel, veral vanweë hul kontak met die kruisvaarders en Rome. 'n Ander godsdiensgroep, die Droese, het eweneens 'n toevlugsoord in Libanon gevind. Na 1516 het Libanon deel uitgemaak van die Ottomaanse Ryk. Onder 'n aantal plaaslike vorstehuise in die daaropvolgende drie eeue het Libanon 'n sekere mate van outonomie behou. In 1840 het die Ottomane Libanon regstreeks onder hul gesag geplaas, waarna die stryd tussen die Maroniete en die Droese begin het.
Na bloedige gevegte tussen die groepe het Frankryk dit bewerkstellig dat Libanon die status van ’n outonome provinsie binne die Ottomaanse Ryk verkry het. Van toe af is die leiers gekies uit die godsdiensgroepe en wel na gelang van die grootte van die groepe. In die tyd was daar ook sprake van 'n relatief hoë mate van voorspoed. Baie Droese het in die tyd na Sirië geëmigreer, waardeur die ou twispunte baie van hul betekenis verloor het. Na die Eerste Wêreldoorlog het Frankryk Libanon gekry, wat saam met die kusvlakte en die Bekaavallei tot die huidige staat Libanon saamgevoeg is.
In die tyd tussen die twee wêreldoorloë het die Soenniete veral die beweging wat die aansluiting met Sirië nagestreef het, gesteun. In teenstelling met hulle het die Maroniete vasgehou aan die idee van ’n onafhanklike Libanon.
Die onafhanklike Libanese staat duimnael|Ontploffing by die mariene kasernes in Beiroet soos gesien van ver af, 1983 Hoewel Libanon in 1941 formeel onafhanklik geword het, het die laaste Franse troepe die land eers in 1946 verlaat. Die nuwe staat is nie gevorm deur die grondwet nie (Libanon is 'n republiek met ’n grondwetlike regering), maar deur die Nasionale Verbond. Dit is ’n ooreenkoms tussen die leiers van die Christene en die Moslems, waarin daar gestreef word om ’n politieke ewewig tussen die godsdiensgroepe tot stand te bring. Kragtens die ooreenkoms word die kamersetels en openbare kantore in die verhouding 6:5 tussen die Christene en Moslems verdeel.
Die president is 'n Maroniet, die premier altyd 'n Soenniet en die voorsitter van die parlement 'n Sjiet. Hierdie verdeling word vandag nog deur die Moslems as onregverdig beskou, omdat dit gegrond is op die sensus van 1932. Sedertdien het die Moslems baie in getalle toegeneem in vergelyking met die Christene. Die ontevredenheid word nog verder vergroot vanweë die Moslems se klein aandeel in die welvaart. Die onsekere ewe wig is in 1958 aan gevaar blootgestel vanweë die pro-Westerse regeringsbeleid, wat teenstrydig was met die politiek van Sirië en Egipte.