Hierdie artikel handel oor die dwergplaneet Pluto. Vir ander betekenisse van die naam, sien Pluto (dubbelsinnig).
duimnael|links|Vergelyking in grootte met die Aarde. duimnael|links|Pluto en sy mane: Charon, die tweede helderste voorwerp, met Nix regs bo en Hidra regs onder (15 Februarie 2006, Hubble-ruimteteleskoop). duimnael|links|Een omwenteling van Charon om Pluto. Albei voorwerpe draai om die stelsel se massamiddelpunt. duimnael|links|Pluto se grootste maan, Charon, soos op 13 Julie 2015 afgeneem deur New Horizons.
Pluto, ook bekend as 134340 Pluto, is die grootste bekende dwergplaneet in die Sonnestelsel en die een met die tweede grootste massa (naas Eris). Dit is die negende grootste liggaam wat direk om die Son wentel.
Van die oomblik van sy ontdekking in 1930 tot in 2006 is Pluto as die Sonnestelsel se negende planeet beskou. In die laat 20ste en vroeë 21ste eeu is baie voorwerpe soortgelyk aan Pluto in die buitenste dele van die Sonnestelsel ontdek, waaronder die verstrooideskyfvoorwerp Eris. Op 24 Augustus 2006 het die Internasionale Sterrekundevereniging (IAU) die term "planeet" vir die eerste keer gedefinieer. Hierdie definisie het Pluto van sy titel as planeet ontneem en dit is in 'n nuwe kategorie, dwergplanete, geklassifiseer saam met Ceres, Haumea, Makemake en Eris. Ná die herklassifisering is Pluto ook op die lys kleinplanete gevoeg en is die nommer 134340 aan hom toegewys. Sommige sterrekundiges meen Pluto, asook van die ander dwergplanete, behoort as planete beskou te word.Gorwyn, Adam; Alan Stern: ‘A Chihuahua is still a dog, and Pluto is still a planet’, EarthSky-onderhoud, 18 Februarie 2010
Pluto kom in die Kuipergordel voor en soos ander lede van die gordel, bestaan dit hoofsaaklik uit rots en ys en is dit relatief klein: sy massa is ongeveer 'n vyfde van die Aarde se maan s'n en sy volume 'n derde. Sy deursnee is 2 370 km. Pluto is kleiner as sewe mane in die Sonnestelsel en het 'n eksentrieke wentelbaan met 'n hoë inklinasie wat wissel van 29 tot 49 AE (4,3–7,3 miljard km) van die Son af. Dit is soms nader aan die son as die planeet Neptunus.
Op 14 Julie 2015 was die ruimtetuig New Horizons die eerste tuig wat by Pluto verbygevlieg het. Dit het vir Nasa mates en foto's van Pluto en sy mane geneem. Daar is onder meer vasgestel Pluto is 50 km groter as wat aanvanklik bereken is, en dus groter as Eris.
Pluto en sy grootste natuurlike satelliet, Charon, word dikwels as 'n dubbelstelsel beskou omdat die twee liggame om hul massamiddelpunt wentel en nie om mekaar nie. Die IAU het egter nog nie 'n formele definisie vir tweeledige dwergplanete nie en tot dan bly Charon 'n maan van die dwergplaneet Pluto. Pluto het ook vier kleiner mane, onder meer Nix en Hidra, wat in 2005 ontdek is. Op 28 Junie 2011 het die Hubble-ruimteteleskoop Kerberos ontdek en op 11 Julie 2012 die laaste maan, Styx.
Geskiedenis Ontdekking In die 1840's het Urbain Le Verrier klassieke meganika gebruik om die posisie te voorspel van die toe nog onontdekte planeet Neptunus nadat hy versteurings in die wentelbaan van Uranus ontleed het. Daaropvolgende waarnemings van Neptunus in die laat 19de eeu het sterrekundiges laat glo Uranus se wentelbaan word deur nog ’n planeet benewens Neptunus beïnvloed.
links|duimnael|Die sterrewag waar Pluto ontdek is. In 1906 het Percival Lowell, ’n ryk Bostoniet wat die Lowell-sterrewag in 1894 in Flagstaff, Arizona gestig het, ’n duur projek begin op soek na ’n moontlike negende planeet, wat hy "Planeet X" genoem het. Teen 1909 het Lowell en die Amerikaanse sterrekundige William H. Pickering verskeie moontlike koördinate voorgestel vir so ’n planeet. Lowell en sy sterrewag het gesoek tot met sy dood in 1916, maar vergeefs. Sonder dat hy dit besef het, is twee dowwe beelde van Pluto op 19 Maart en 7 April 1915 op sy opnames vasgevang, maar daar is nie besef wat dit was nie.
Daar was 14 ander bekende "ontdekkings" van Pluto; die eerste was op 20 Augustus 1909 by die Yerkes-sterrewag.
Weens ’n regstryd van 10 jaar met Constance Lowell, Percival se weduwee wat die sterrewag se miljoen-dollar-deel van sy erfenis vir haarself wou hê, is die soektog na Planeet X eers in 1929 voortgesit toe die direkteur, Vesto Slipher, die taak om Planeet X op te spoor oorgelaat het aan Clyde Tombaugh, ’n 23-jarige man van Kansas wat pas by die Lowell-sterrewag aangesluit het, omdat Slipher beïndruk was deur ’n voorbeeld van sy sterrekundige tekeninge.
Tombaugh het die naglug sistematies in pare foto's vasgevang en elke paar ondersoek om te bepaal of enige voorwerpe van posisie verander het. Hy het vinnig heen en weer tussen die fotografiese plate beweeg om die illusie van beweging te skep van enige voorwerp wat van posisie verander het. Op 18 Februarie 1930, ná ’n soektog van byna twee jaar, het Tombaugh ’n moontlik bewegende voorwerp geïdentifiseer op plate wat op 23 en 29 Januarie van daardie jaar geneem is.
’n Foto van swakker gehalte wat op 21 Januarie geneem is, het gehelp om die beweging te bevestig. Nadat die sterrewag nog foto's gekry het wat die beweging bevestig, is die nuus van die bevindings op 13 Maart 1930 na die Harvardkollege-sterrewag gestuur.
Naam Die ontdekking het wêreldwyd die hoofnuus gehaal. Die Lowell-sterrewag, wat vanweë die ontdekking die reg gehad het om die voorwerp ’n naam te gee, het meer as duisend voorstelle van oor die wêreld ontvang wat gewissel het van Atlas tot Zymal. Tombaugh het Slipher aangespoor om gou ’n naam te kies voordat iemand anders dit doen. Constance Lowell het die naam Zeus voorgestel, toe Percival en eindelik Constance. Dié voorstelle is verwerp.
Die naam Pluto, na aanleiding van die mitologiese god van die onderwêreld, is voorgestel deur Venetia Burney (1918–2009), toe ’n 11-jarige skoolmeisie van Oxford, Engeland, wat geïnteresseerd was in klassieke mitologie.
Die voorwerp het op 24 Maart 1930 amptelik ’n naam gekry. Elke lid van die Lowell-sterrewag is toegelaat om uit ’n kortlys van name te kies: Minerva (wat reeds die naam van ’n asteroïde was), Cronus (wat nie gewild was nie) en Pluto. Pluto het al die stemme gekry. Die naam is op 1 Mei 1930 aangekondig.
By die aankondiging het Venetia se oupa vir haar die ekwivalent van £5 (gelyk aan R5 563 in 2015) gegee as ’n beloning.
Die keuse van die naam is gedeeltelik geïnspireer deur die feit dat die eerste twee letters van Pluto die voorletters van Percival Lowell is. Pluto se sterrekundige simbool (20px|, Unicode U+2647, ♇) is toe geskep as ’n monogram uit die letters "PL". Pluto se astrologiese simbool lyk soos dié van Neptunus (20px|♆), maar het ’n sirkel in die middel in plaas van die middelste deel van die vurk (20px|⯓, Unicode U+2BD3, ⯓).
Die naam het gou byval gevind. In 1930 was Walt Disney oënskynlik daardeur geïnspireer toe hy Mickey Muis se hond, Pluto, geskep het, hoewel Disney se animeerder Ben Sharpsteen nie kon bevestig waar die naam vandaan kom nie. In 1941 het Glenn T. Seaborg ’n nuut ontdekte element plutonium genoem ter ere van Pluto nadat die element uraan na Uranus en neptunium na Neptunus genoem is.
Twyfel oor massa Toe Pluto eers gevind is, het sy dofheid twyfel laat ontstaan oor of dit wel Lowell se Planeet X is. Ramings van Pluto se massa het deur die 20ste eeu al hoe kleiner geword.
+ Ramings van Pluto se massa Jaar Massa Raming deur 1915 7 Aardes Lowell (voorspelling vir Planeet X) 1931 1 Aarde Seth Barnes Nicholson en Nicholas U. Mayall 1948 0,1 Aarde Kuiper 1976 0,01 Aarde Dale Cruikshank, Carl Pilcher & David Morrison 1978 0,002 Aarde James W. Christy & Robert Sutton Harrington 2006 0,00218 Aarde Marc W. Buie e.a. 2015 0,00220 Aarde New Horizons Sterrekundiges het aanvanklik sy massa bereken volgens die veronderstelde invloed wat dit op Neptunus en Uranus gehad het. In 1931 is bereken Pluto het min of meer dieselfde massa as die Aarde, maar in 1948 is die raming afgebring na dié van Mars. In 1976 het Dale Cruikshank, Carl Pilcher en David Morrison van die Universiteit van Hawaii Pluto se albedo vir die eerste bereken en bevind dit stem ooreen met dié van metaanys; dit sou beteken Pluto is baie helder vir sy grootte en kon dus nie meer as een persent van die massa van die Aarde wees nie. (Pluto se albedo is keer so groot soos die Aarde s'n.)
In 1978 het die ontdekking van Pluto se maan Charon dit vir die eerste keer moontlik gemaak om Pluto se massa min of meer akkuraat te bereken: sowat 0,2% dié van die Aarde, en heeltemal te klein om die afwykings in Uranus se wentelbaan te verduidelik. Daaropvolgende soektogte na ’n alternatiewe Planeet X, veral deur Robert Sutton Harrington, het misluk. In 1992 het Myles Standish data van Voyager 2 se verbyvlug van Neptunus in 1989 gebruik om sy swaartekraginvloed op Uranus te herbereken. Met die nuwe syfers het die afwykings, en dus die soeke na Planeet X, nie meer sin gemaak nie. Vandag stem die meeste sterrekundiges saam dat Planeet X, soos Lowell dit gedefinieer het, nie bestaan nie. Lowell het in 1915 ’n wentelbaan en posisie vir Planeet X voorspel wat taamlik ooreenstem met dié van Pluto destyds, maar Ernest W. Brown het gou ná Pluto se ontdekking gemeen dit is toeval, en dié mening word vandag nog gehuldig.
Klassifikasie Sedert 1992 is baie hemelliggame in dieselfde gebied as Pluto ontdek, wat gewys het Pluto is een van baie voorwerpe in die Kuiper-gordel. Dit het sy amptelike status as planeet omstrede gemaak, en baie mense het gewonder of Pluto beskou moet word as bloot een van die Kuiper-gordelvoorwerpe of nie. Die direkteurs van museums en planetariums het dikwels omstredenheid veroorsaak deur Pluto uit te laat uit planetêre modelle van die Sonnestelsel. Die Hayden-planetarium het in Februarie 2000 heropen ná opknappingswerk – met ’n model van net agt planete. Dit het ’n jaar later die hoofopskrifte gehaal.
Namate voorwerpe van min of meer Pluto se grootte in dieselfde omgewing ontdek is, het baie gemeen die planeet moet herklassifiseer word as ’n Kuiper-gordelvoorwerp, nes Ceres, Pallas, Juno en Vesta eindelik hul planeetstatus verloor het ná die ontdekking van baie ander asteroïdes. Op 29 Julie 2005 is die ontdekking van nog ’n trans-Neptunus-voorwerp, Eris, aangekondig. Daar is geglo dit is heelwat groter as Pluto. Sy ontdekkers en die media het dit aanvanklik die tiende planeet genoem, hoewel daar geen amptelike konsensus was dat dit wel ’n planeet is nie. Al hoe meer mense het begin glo Pluto moet herklassifiseer word.
IAU-klassifikasie Die debat het op 24 Augustus 2006 ’n hoogtepunt bereik toe die Internasionale Sterrekundevereniging (IAU) ’n amptelike definisie vir die term "planeet" opstel. Daarvolgens moet ’n voorwerp aan drie hoofkriteria voldoen om ’n planeet genoem te kan word: Die voorwerp moet om die Son wentel. Dit moet groot genoeg wees sodat sy swaartekrag hom rond gedruk het (dit moet dus in hidrostatiese ewewig wees). Dit moes sy wentelbaan "skoongevee" het van ander voorwerpe.
Pluto voldoen nie aan die derde kriterium nie omdat sy massa net 0,07 keer so groot is as dié van die res van die voorwerpe in sy wentelbaan (die Aarde se massa is in vergelyking 1,7 miljoen keer so groot as die res van die voorwerpe in sy wentelbaan). Die IAU het verder besluit voorwerpe wat nie aan die derde kriterium voldoen nie, sou dwergplanete genoem word. Op 13 September 2006 het die IAU Pluto, Eris en Eris se maan Disnomia ook ingesluit in hul katalogus van kleinplanete; hulle het die kleinplaneetname "(134340) Pluto", "(136199) Eris" en "(136199) Eris I Disnomia" bygekry. As Pluto met sy ontdekking in 1930 in die katalogus ingesluit is, sou dit die syfer 1164 voor sy naam gekry het, ná 1163 Saga wat ’n maand tevore ontdek is.