duimnael|Die topografie van die Swartwoud duimnael|Ligging in Duitsland

Die Swartwoud (Duits: Schwarzwald, [ˈʃvaʁt͡svalt], ) is 'n groot beboste bergreeks in die deelstaat Baden-Württemberg in Suidwes-Duitsland, begrens deur die Rynvallei in die weste en suide en naby die grense van Frankryk en Switserland. Dit is die bron van beide die Donau- en Neckar-riviere.

Dit is die grootste van die Duitse middelgebergtes met 'n oppervlakte van sowat 6 000 km². In die bergreeks word die hoogste bergpieke van alle middelgebergtes in die land aangetref. Die bergreeks hou ook die rekord van bebossing – sestig persent van sy berge en heuwels is dig bebos. Rolf Goetz: ADAC Reiseführer Schwarzwald. München: ADAC Verlag 2007, bl. 6

Die Romeine het die dig beboste bergreeks met sy kenmerkende donker naaldbome Silva Nigra genoem – die "Swart (of Donker) Woud", wat vir hulle onheilspellend en byna ondeurdringbaar was. Die Duitse naam Schwarzwald is vir die eerste keer in 868 in 'n dokument van die Switserse klooster St. Gallen gebruik. Planet Wissen: Schwarzwald

Die Swartwoud is die grootste bosgebied in Duitsland en bestaan hoofsaaklik uit denne- en sparbome. Vandag is die Swartwoud een van die gewildste toeristebestemmings in Duitsland.

Geografie duimnael|Die bergpiek Blauen naby Badenweiler duimnael|Bome op die bergpiek Schauinsland duimnael|'n Bergstroom in die Murgvallei naby Baiersbronn Die Swartwoud is 'n dig beboste gebied, wat vanaf die sogenaamde "Drielandepunt" (Switserland – Frankryk – Duitsland) langs die vlaktes van die Ryn se boloop sowat 160 km in noordelike rigting strek. Die bergreeks bereik in die suidelike gedeelte 'n wydte van tot by 60 km, in die noorde net 30 km.

In die suidooste begin die bergreeks geleidelik oorgaan na die Baar-plato. Die noordooste word begrens deur die Swabies-Frankiese platorand, terwyl die noorde aan die berglandskap van Kraichgau grens.

Natuurlandskappe Die Kinzig-rivier vorm die grenslyn tussen die Noordelike en die Middel-Swartwoud, terwyl die Dreisam-rivier met die Helvallei (Duits: Höllental) die Middel- van die Suidelike Swartwoud skei. Die hoërgeleë suidelike gedeelte van die Middel-Swartwoud word saam met die bergpieke van die Suidelike Swartwoud ook die Hoog-Swartwoud (Hochschwarzwald) genoem. Hier lê bekende toeristebestemmings soos die dorp Hinterzarten en die hoogste bergpiek van die bergreeks, die Feldberg.

Berge Op 'n hoogte van 1 493 m bo seevlak is die Feldberg in die Suidelike Swartwoud die hoogste bergpiek van die bergreeks. Die Suidelike Swartwoud is hoër geleë as die Noordelike en beskik oor 'n aantal bekende bergspitse soos Herzogenhorn (1 415 meter) en Belchen (1 414 m). Die hoogste bergpiek van die Noordelike Swartwoud is die Hornisgrinde op 1 166 m bo seevlak.

Riviere Die Swartwoud maak deel uit van die kontinentale waterskeiding tussen die rivierstelsels van die Ryn en die Donau. Dit is ook die brongebied van 'n aantal riviere soos die Brigach (43 km) en die Breg (49 km), die twee bronriviere van die Donau. Die Triberg-watervalle van die bergstroom Gutach is een van die bekendste toeristebestemmings in die Swartwoud.

Mere Die belangrikste mere in die Swartwoud is die Glaswaldmeer, Mummelmeer, Kirnbergmeer, Feldmeer, Titimeer en Schluchmeer. 'n Aantal damme soos Schwarzenbach, Wehra, Witznau, Kleine Kinzig en Nagoldtal lewer teen spitstye ekologiese krag op.

Geologie duimnael|'n Tipiese landskapstoneel In die Later Tersiêr (die Paleoseen) – sowat 70 miljoen jaar gelede – het die Bo-Rynvallei inmekaarsak, terwyl die gesteentes aan die kante geplooi is. Die Swartwoud-bergreeks is in 'n soort golfbeweging teen verskillende hoogtes gevorm. Tussen die hoë bergpieke lê uitgestrekte, tektoniese vlaktes soos die Kinzig- en Murg-riviervalleie. Die Swartwoud bestaan uit twee geologiese eenhede: 'n Ou kristalliene basisgebergte en 'n sogenaamde deklaaggebergte van bont sandsteen.

Die basisgebergte word deur gneiss-gesteentes oorheers, wat deur enkele groot granietmassa's deurspek is. As gevolg van magmatiese verskynsels het voorkomste van ertse gevorm, wat al vroeg die ontwikkeling van 'n plaaslike mynboubedryf bevorder het. Kwartsporfier en tufsteen is volop in byvoorbeeld die vlakte van Baden-Baden.

Ystydperk en vormgewing Tydens die ystydperk van sowat 120 000 tot 10 000 jaar gelede het die Swartwoud sterk vergletser, en baie van die Swartwoud se mere is glasiale oorblyfsels. Die ysmassas het meesal teen die noordoostelike berghellings gelê en dikwels baie lank geneem om af te smelt.

Klimaat duimnael|links|Die Feldberg in die winter duimnael|Die berg Schauinsland in die winter, met die Franse Vogese-bergreeks in Elsas teen die verre gesigseinder Net soos ander gebergtes word die Swartwoud deur laer temperature en hoër reënval as sy omgewing gekenmerk. Reën val in die Swartwoud enige tyd van die jaar, en ook die laer geleë gebiede en die westelike rand kry bo-gemiddelde reënval.

Die Noordelike Swartwoud kry danksy die oorheersende westelike lugstromings, wat vogtige Atlantiese lugmassas na die gebied voer, sowat 2 200 mm reën per jaar, maar minder in die oostelike gebiede van die Middel-Swartwoud, wat 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 750 mm kry. Sneeuvalle kom gereeld in die winter voor.

Die hoër gebiede ondervind minder temperatuurskommelings. In die somermaande kom winderige weerstoestande, wolkvorming en skielike donderbuie voor, terwyl daar danksy die hoogdrukgebiede (antisiklone) en inversies in die winter meer sonskynure is as in die laer gebiede, wat dan toe onder 'n missluier lê.

Die gemiddelde jaarlikse temperatuur in die aangrensende warm Rynvallei is sowat 9 °C, maar slegs 2 °C op die hoogste bergpieke soos die Feldberg wat in baie jare meer as 100 dae lank met 'n sneeulaag bedek is. Klimaatsverandering met stygende temperature skep nogtans probleme in laer geleë wintersportgebiede.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Die bouval van die Romeinse warmbaddens in Badenweiler duimnael|Die katedraal van die voormalige klooster St. Blasien duimnael|Freiburg im Breisgau, die grootste stad, lê teen die voet van die Swartwoud. Die berg Schauinsland maak deel uit van die stadsgebied duimnael|Die kasteel in Hornberg duimnael|Volksdansgroep in Furtwangen duimnael|Die Swartwoud in die 21ste eeu: windplase en telekommunikasietorings verander die landskap. Die foto wys die hoogste bergpiek in die Noordelike Swartwoud, Hornisgrinde In prehistoriese tye was die Swartwoud – net soos Elsas anderkant die Ryn – 'n gebied wat deur 'n uitgebreide en digte, ondeurdringbare oerwoud bedek was. Die bergreeks het ook ná die einde van die laaste kouetydperk sowat 10 000 jaar gelede onbewoon gebly. Net riviere het hul valleie deur die ongerepte landskap gesny. Vroeë jagters het kort roetes langs die riviere – veral die Ryn en sy sytakke – aangedurf waar hulle argeologiese spore soos pylpunte en lemme gelaat het, maar nie diep in die woudgebiede binnegedring nie.

Die vroegste nedersettings van boeregemeenskappe het vanaf 4 000 v.C. ontstaan. Keltiese setlaars het in die ystertydperk (vanaf omstreeks 800 v.C.) vanuit die noordweste uitgebrei en gebiede rondom die Swartwoud begin koloniseer. Hulle het stedelike nedersettings soos Tarodunum in die Dreisam-vallei, naby Breisach en in Burkheim naby die Kaiserstuhl, in Ehrenkirchen in die Hexental ("Heksevallei") en op die Baar-plato aan die Swartwoud se oostelike rand aangelê. Die Magdalenenberg naby Villingen, 'n Keltiese grafheuwel uit die ystertydperk, getuig van hierdie vroeë beskawing.

Danksy die ertsvoorrade in die Swartwoud, wat in die 5de of 4de eeu v.C. ontdek is, het Keltiese beskawing 'n gesofistikeerde ysterbedryf ontwikkel wat produkte van hoë gehalte opgelewer het. Ondanks hul eenvoudige tegniese hulpmiddels was hulle in staat om 'n mynboubedryf in die Swartwoud te vestig waarvan spore naby Sulzburg en Bollschweil ontdek is. Met die Romeinse verowering van Gallië het die agteruitgang van die Keltiese beskawing in Suid-Duitsland begin. Romeinse troepe het verder noord- en ooswaarts beweeg om ook Keltiese stamme noord van die Alpe in die huidige Switserland en uiteindelik ook in die Bo-Ryngebied en in streke rondom die Swartwoud verslaan.

Die eerste kartografiese verwysing na die Swartwoud in die Tabula Peutingeriana dateer uit die 4de eeu. Die Romeine het die Swartwoud toe Marciana Silva of "Grenswoud" genoem. Daarnaas is ook die Keltiese naam – Abnoba of "Rivierwoud" ('n verwysing na die bergstreek se waterrykdom) – oorgelewer. Albrecht Greule: Keltische Ortsnamen in Baden-Württemberg. In: Imperium Romanum. Roms Provinzen an Neckar, Rhein und Donau. Esslingen am Neckar: Archäologisches Landesmuseum Baden-Württemberg 2005, bl. 80

Die ondeurdringbare woud en die kouer klimaat was allermins aantreklik vir setlaars uit Mediterreense lande sodat Romeinse nedersettings hoofsaaklik in die vrugbare warmer gebiede van die Rynvallei en op die oostelike vlaktes teen die voet van die Swartwoud-bergreeks ontstaan het. Die eerste Romeinse pad tussen Straatsburg en Offenburg is in 74 n.C. gebou en het deur die Kinzig-vallei na Tuttlingen geloop. Die welvarende Romeinse nedersetting Arae Flaviae (die huidige Rottweil) het in 186 Romeinse stadstatus (municipium) gekry.

Die Middeleeue Die eerste bewoners van die gebied ná die ondergang van die Romeinse Ryk was Alemanne wat eers in die laer geleë valleie en later ook in die berggebiede geboer het. Ná die kerstening van die Germaanse gebiede het ook monnike hulle as kluisenaars in die byna ondeurdringbare woud gevestig, en soms het hul kluise tot kloosters ontwikkel wat na hul stigters (van wie sommige later heilig verklaar is) of ouer beskermheiliges vernoem is. Die kerk was die drywende krag agter die kolonisasie van die Swartwoud en het met sy kerk- en kloostergeboue sy voorneme bevestig om die Christelike geloof ook na die mees afgeleê streke te dra om selfs daar kunsvolle plekke van aanbidding vir gelowiges te skep. Dina Stahn en Rainer Fieselmann: DuMont Bildatlas Schwarzwald – Süden. Ostfildern: DuMont Reiseverlag 2010, bl. 8 Gaandeweg is klein nedersettings naby hierdie kloosters gestig wat dieselfde naam gedra het. So is daar steeds 'n groot getal "heilige" nedersettings soos St. Georgen, St. Peter, St. Märgen en St. Blasien.

Omstreeks 900 was groot dele van die Swartwoud gekoloniseer. In die vroeë Middeleeue het die ontginning van natuurlike hulpbronne begin, wat danksy die mynbou, vlotbou en glasvervaardiging sedert die 13de eeu versterk is. By die warm mineraalbaddens in Bad Liebenzell, Bad Teinach-Zavelstein en Bad Wildbad het in hierdie tydperk nedersettings ontstaan.

Saam met die mynwerkers het ook koolbranders hulle in die Swartwoud begin vestig. Hout was die vernaamste energiebron in die Middeleeue, maar die temperature, wat met die verbranding van hout bereik kon word, was nie hoog genoeg vir die verwerking van metaalertse wat plaaslik ontgin is nie – yster, silwer en koper. Die hout moes eers tot houtskool verkool word.

Aanvanklik het koolbranders hul verbrandingsoonde digby die myne opgerig. Maar gaandeweg het hulle die woud dieper binnegedring. Hul beroep het maar lae aansien geniet, veral vanweë die eensame lewe wat hulle saam met hul gesinne gelei het, en gewoonlik is koolbranders in die Middeleeue orals as uitgestotenes behandel. Al het hulle in die dringende vraag na 'n basiese energiebron vir die metaalbedryf voorsien, is koolbranders sleg betaal. Vroue en kinders moes meewerk, en die gesinne was in die woud op sigself aangewese. Koolbrandergesinne het in eenvoudige houthutte gewoon, en sodra houtvoorrade rondom hulle woonplek uitgeput was, het hulle verder getrek. SWR Schwarzwaldgeschichten: Köhler – Die schwarze Zunft. Besoek op 17 Maart 2013