duimnael|regs|Die sentrale Pireneë duimnael|regs|'n Pad in die Franse gedeelte van die bergreeks. Die enigste maklike roete deur die Pireneë loop langs die Atlantiese kus duimnael|regs|In die ruwe bergwêreld van Andorra: Coma Pedrosa

Die Pireneë (Frans: Pyrénées, Spaans: Pirineos, Katalaans: Pirineus, Oksitaans: Pirenèus of Pirenèas, Aragonees: Perinés, Baskies: Pirinioak) is 'n bergreeks in Suidwes-Europa wat die natuurlike grens tussen Frankryk en Spanje vorm.

Die Pireneë strek vanaf die Kantabriese See in die weste oor 'n afstand van meer as 450 kilometer tot by die Kaap Creus aan die Middellandse See en vorm met sy magtige bergpieke met hoogtes van meer as 3 000 meter bo seevlak 'n natuurlike versperring wat Spanje van die res van die Europese vasteland skei. Die bergreeks met sy groen valleie en historiese nedersettings vorm al eeue lank 'n smeltkroes van verskillende kulture en die tradisionele ingangspoort tot die Spaanse gedeelte van die Jakobsweg-pelgrimsroete.

Die hoofkam van die bergreeks vorm grotendeels ook die grenslyn tussen Frankryk en Spanje, terwyl die Katalaanssprekende prinsdom Andorra tussen dié twee state lê. Die Val d'Aran vorm 'n uitsondering; hierdie vallei is teen die noordelike kant van die bergreeks geleë, maar maak nogtans deel uit van Spanje. Terwyl groot dele van die Pireneë in politieke opsig deel uitmaak van Frankryk (een derde van die totale oppervlakte) en Spanje (twee derdes), is Andorra heeltemal tussen die bergtoppe geleë.

Etimologie

Die etimologiese oorsprong van die naam Pireneë bly onduidelik. Sommige taalkundiges beweer dat dit van die Oud-Griekse woord pyros of "vuur" afgelei kan wees, terwyl ander die Baskiese term buru ("bergpiek") as etimologiese wortel beskou. 'n Mitologiese verklaring verwys na die legende van prinses Pyrene wat Herkules verlei het.

Die benaming Pireneë is in die antieke tydperk algemeen gebruik, maar het later in vergetelheid geraak. In die Middeleeue het die plaaslike bevolking name net aan enkele valleie gegee, maar nie aan die hele bergreeks nie. In 15de eeuse taalgebruik het die benaming "Pireneïese Alpe" voorgekom wat later tot "Pireneë" verkort is.Michelin - Der Grüne Reiseführer: Pyrenäen. Das Hochgebirge, Toulouse und das Pyrenäenvorland. München: Travel House Media 2007, bl. 9

Geografie duimnael|regs|'n Topografiese kaart van die Pireneëreeks duimnael|regs|Die Aneto-gletser (Glaciar del Aneto) In politieke en administratiewe opsig maak die Pireneë deel uit van die Franse départements Pyrénées-Orientales, Aude, Ariège, Haute-Garonne, Hautes-Pyrénées en Pyrénées-Atlantiques (die Nasionale Pireneëpark lê in die twee laasgenoemde départements); en die Spaanse provinsies Girona, Barcelona, Lleida, Huesca, Zaragoza, Navarra en Gipuzkoa. Daarnaas maak die Pireneë ook deel uit van die onafhanklike vorstedom Andorra.

In geografiese opsig word die bergreeks gewoonlik in die Sentrale, Atlantiese (of Westelike) en Oostelike Pireneë verdeel. Hierdie indeling baseer sowel op belangrike bergpasse asook historiese grense.

Die Sentrale Pireneë strek van Port de Canfranc in oostelike rigting tot by die Val d'Aran. Hier lê die hoogste bergspitse:

Aneto of Pic de Néthou (3 404 meter) en geleë teen die Maladetta-rand, Mont Posets (3 375 meter), en Mont Perdu (Monte Perdido, Mont Perdut) (3 355 meter).

Die Sentrale Pireneë of Aragonese Pireneë se hoofkam strek vanaf die bergpas Puerto de Somport (1 631 m bo seevlak) in die weste tot die Puerto del Portillón (1 308 m bo seevlak) in die ooste. In hierdie sentrale gedeelte is twee nasionale parke, Ordesa (Spanje) en Pyrénées-Occidentales (gestig in 1967 met 'n oppervlakte van 477 km², Frankryk), asook kleiner gletsers geleë.

In die Atlantiese Pireneë (ook Westelike of Navarrese Pireneë genoem) neem die gemiddelde hoogtes geleidelik in oos-westelike rigting af; die hoogste pieke is Visaurin (2 668 m), Pic d'Anie (2 504 m) en Pic d'Orby (2 016 m). Hier loop maklike roetes oor 'n aantal bergpasse soos die Puerto de Ibañeto naby Roncesvalles, (1 056 m) bo seevlak.

Met die uitsondering van een breuk teen die uiterste oostelike kant van die Pyrénées Ariégeoises het die bergpieke van die Oostelike Pireneë min of meer dieselfde hoogte, totdat hulle in die Albères-groep en in die Alto Ampurdán naby Kaap Creus steil begin daal. Hier word hoër geleë bergvalleie soos Capcir, Cerdagne en Vallespir aangetref. Die hoogste pieke is Pic Maubermé (2 880 m), Montvalier (2 839 m), Pic de Horedo (2 760 m), Pic de Montcalm (3 141 m), Port Negre (2 761 m) en Mont Canigou (2 785 m). Hier het die Nasionale Aigües Tortes-park aan die Spaanse kant ontstaan.

Geologie

Die Pireneë is ouer as die Alpe; hulle afsaksels is vir die eerste keer in die Paleosoïese en Mesosoïese tydperke in die kusbekkens gevorm. Die seebodem van die Golf van Gascogne het tussen 100 en 150 miljoen jaar gelede begin sprei en die huidige gebied van Spanje teen Frankryk gestoot en sodoende groot lae van afsaksels saamgepers. Die hewige druk en opwaartse beweging van die aardkors het eers die oostelike gedeelte geraak en daarna langs die hele bergketting gestrek, om uiteindelik sy hoogtepunt in die Eoseen (60 miljoen jaar gelede) te bereik.

Die oostelike gedeelte van die Pireneë bestaan hoofsaaklik uit graniet en gneisagtige gesteentes, terwyl die granietpieke in die ooste deur lae van kalksteen flankeer word. Die massiewe en onverslete voorkoms van die bergreeks is te danke aan die groot hoeveelhede graniet, wat baie goed bestand is teen erosie, en die swak ontwikkeling van gletsers.

Landskapsvorms duimnael|250px|regs|Cirque de Gavarnie Tipiese kenmerke van die Pireneë se landskapsvorms is die afwesigheid van groot mere soos in die dwarsdale van die Alpe, die skaarste aan en groot hoogte van bergpasse, die groot aantal bergstrome, wat plaaslik as gaves bekend staan en dikwels hoë watervalle vorm wat in Europa slegs deur dié van Skandinawië oortref word, en die gereelde voorkoms van sogenaamde cirques - halfsirkels van steil rotswande, wat teen die boonste dele van die valleie lê.

Die hoogste waterval in die Pireneë is die Gavarnie-valle met 'n hoogte van 462 meter, wat teen die boloop van die Gave de Pau lê. Die Cirque de Gavarnie in dieselfde vallei is een van die mees bekende voorbeelde van die cirque-formasies. Laer bergpasse ontbreek; net die Col de la Perche, geleë tussen die valleie van die Têt- en Segreriviere, en die Col de Semport of Port de Canfranc langs die ou Romeinse pad van Zaragoza na Oloron-Sainte-Marie verbind die pad- en spoorwegnetwerke van Frankryk en Spanje aan weerskante van die bergreeks.

'n Bekende geografiese kenmerk is La Brèche de Roland, 'n kloof in die bergreeks wat volgens tradisionele legendes deur die Frankiese ridder Roland geskep is.

Natuurlike hulpbronne duimnael|250px|Die meer van Artouste Die metaalertse van die Pireneë is ekonomies minder belangrik, alhoewel groot ystermyne naby Vie de Sos in Ariège en teen die voet van die Canigou in Pyrénées-Orientales bestaan het. Groot steenkoolreserwes lê hoofsaaklik teen die Spaanse hange, terwyl die Franse gedeelte oor groter voorkomste van laegraadse steenkool (ligniet) beskik. Die oopmyn van Trimoun (Ariège) is een van die belangrikste verskaffers van talk in Europa.

In die Franse Sentraal-Pireneë word bauxiet ontgin wat in die département Ariège tot aluminium verwerk word. Ertse, waaronder yster, lood, sink en magnesium, is tradisioneel ook in die Spaanse gedeelte ontgin, maar die meeste mynbouaktiwiteite is hier intussen gestaak.

In teenstelling met die Alpe is daar 'n oorvloed mineraalbaddens soos dié van Bagnères-de-Luchon, Ax-les-Thermes, Eaux-Chaudes en Panticosa. Hulle bevat groter hoeveelhede swael en lê op groot hoogtes, waar die graniet in aanraking kom met die lae van ander gesteentes. Die laer geleë mineraalbaddens, soos dié van Bagnères-de-Bigorre (Hautes-Pyrénées), Rennes-les-Bains (Aude) en Campagne (Aude), bevat meesal seleen en is nie baie warm nie.

Die kaasmakers van die westelike Pireneëgebied trek voordeel uit die kalkgesteente, wat deur 'n groot aantal grotte gekenmerk word. Hulle word dikwels gebruik om die rypwording van die plaaslike kaassoorte te bevorder.

Klimaat duimnael|links|Die Església de Sant Andreu in Andorra la Vella onder 'n wit sneeukleed duimnael|Col du Tourmalet duimnael|Baretous-vallei, westelike Pireneë, Frankryk In klimatiese opsig vorm die Pireneë 'n soort natuurlike versperring. Die Franse noorde het 'n Meer gematigde en vogtige klimaat as die Spaanse suide waar die klimaat geleidelik droër en warmer word. Temperature van meer as 25 °C word meestal net in die warmste somermaande (Julie en Augustus) aangeteken. Swaar donderbuie kom gereeld in hoër geleë streke aan weerskante van die grens voor.

Net soos noorde en suide toon ook weste en ooste klimatiese besonderhede. Die westelike Pireneë kry meer reën- en sneeuval as die oostelike gedeelte, waardeur die twee gebiede 'n aantal verskille toon. Gletsers ontbreek volledig in die oostelike Pireneë, aangesien die swak sneeuval nie toereikend is vir hulle ontwikkeling nie. Gletsers bly beperk tot die noordelike hange van die sentrale Pireneë en daal ook nie ver af na die valleie nie, soos hulle eweknieë in die Alpe. Hulle bereik hulle grootste lengte in die rigting van die bergreeks en vorm 'n nou gebied naby die hoogste bergpieke. Net soos in die ander groot bergreekse van Middel-Europa het die Pireneë se gletsers tydens die ystydperk 'n duidelik groter oppervlak bedek. Die gletser in die vallei van Argelbs in die département Hautes-Pyrénées is die bekendste voorbeeld.

Sedert die middel van die 19de eeu het die gletsers geleidelik begin terugtrek. Veral die Ossoue-gletser naby die berg Vignemale, wat vroeër 'n indrukwekkende natuurskouspel was, het merkbaar afgesmelt. Tans bedek die gletsers in die Sentraal-Pireneë 'n oppervlak van sowat 500 hektaar. As gevolg van die globale verwarming sal hulle tot by die jaar 2100 verdwyn het.

Die sneeulyn in die Pireneë lê tussen 2 700 en 2 800 meter bo seevlak.

Flora en fauna duimnael|regs|'n Bergstroom in die somer

Die oorwig van reënval in die westelike gedeelte van die Pireneë oefen ook 'n groot invloed op die plantegroei in die gebied uit. Die laer geleë berge in die uiterste weste is pragtig bebos, tog neem die omvang van die bosgebiede in oostelike rigting duidelik af. Die oostelike Pireneë is 'n ongerepte, kaal gebied, wat deur groot massa's graniet oorheers word. Daarnaas verander ook die samestelling van die flora in wes-oostelike rigting. Die plantegroei in die noordelike gedeelte van die Wes-Pireneë kom ooreen met dié van Middel-Europa, terwyl dit in die ooste al 'n Mediterreense karakter het - ofskoon die verskil ten opsigte van die breedtegraad net 1° is. duimnael|links|250px|Die Pic de Bugatet in die natuurbewaringsgebied van Néouvielle

Die Pireneë is net soos die Alpe ryk aan endemiese spesies. Hier groei die enigste soort Dioscorea (yamwortel), Dioscorea pyrenaica, op slegs een hooggeleë plek in die sentrale Pireneë, en die monotipiese genus Xatardia op net een hooggeleë bergpas tussen die Val d'Eynes en Katalonië. Die genus, wat die meeste in die Pireneë voorkom, is die Saxifrages, waarvan verskeie spesies hier endemies is.

Ook die fauna van die Pireneë spog met 'n aantal voorbeelde van endemiese spesies. Die Pirenese desman of watermol (Galemys pyrenaicus) kom slegs in sommige bergstrome van die noordelike hange voor. Die enigste ander mol van hierdie genus is inheems aan die riviere van die Kaukasus-bergreeks in Suid-Rusland. Die Pirenese euproctus, wat nou verwant is aan die salamander, kom eweneens in hooggeleë bergstrome en mere voor. 'n Ander besonderheid van die Pireneë is die blinde insekte in die grotte van Ariège, waarvan die Anophthalmus en Adelops die bekendste genera is.