Hierdie artikel handel oor die Duitse stad. Vir die gelyknamige stede en dorpe, sien gerus Potsdam (dubbelsinnig). Potsdam 280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter Land Deelstaat 20px|raam Brandenburg Koördinate Stigting 993 (eerste verwysing) Stadstatus 1345 Oppervlakte: - Totaal 188,24 vk km - waarvan waterliggame 11 persent Hoogte bo seevlak 32 m Bevolking: - Totaal (31 Desember 2023) 184 290 - Bevolkingsdigtheid 979/vk km Tydsone UTC +1 (MET) - Somertyd UTC +2 (MEST) Klimaat - Tipe Gematigde klimaat www.klimadiagramme.de – Potsdam - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 8,7 °C - Gem. temp. Januarie/Julie -0,9 / 17,9 °C - Gemiddelde jaarlikse neerslag 592 mm Burgemeester Noosha Aubel (O) Amptelike webwerf potsdam.de
Potsdam (Duits: [ˈpɔtsdam], ) is die administratiewe hoofstad en grootste stad van die Duitse deelstaat Brandenburg, met 'n bevolking van 184 290 (soos op 31 Desember 2023). Potsdam lê digby die suidwestelike stadsgrens van die Duitse hoofstad Berlyn wat 'n eie deelstaat en enklawe in die hart van Brandenburg vorm, en maak deel uit van die Europese metropolitaanse gebied Berlyn-Brandenburg. Die middestede van Potsdam en Berlyn lê sowat 30 kilometer van mekaar af.
duimnael|links|Die Sanssouci-kasteel, 'n gunstelingprojek van die Pruisiese koning Frederik die Grote, is in die Rokoko-boustyl uitgevoer, met wingerdterrasse aan die buitekant Potsdam is 'n gewilde toeristebestemming en word as een van die mooiste stede in Duitsland beskou. Hier het Pruise se monarge diep spore gelaat deur hul droom van 'n Pruisiese Arkadië te verwesenlik, geïnspireer deur hul verlange na die kultuurlandskappe van Frankryk en Italië. Sewentien kastele en kasteelagtige wonings, wat ingebed lê in die bosryke meerlandskap van die Havelrivier, oorheers die stadsbeeld. Potsdam se kasteel- en tuinlandskap is in koninklike opdrag deur beroemde boumeesters soos Knobelsdorff, Schinkel en Persius en landskapsargitekte soos Lenné, Eyserbeck en prins Von Pückler-Muskau geskep.
Dié kultuurlandskap – met die kasteeltuine Sanssouci, Nuwe Tuin (Neuer Garten) en Babelsberg, insluitende die kastele Sanssouci en Nuwe Paleis; die kasteel en tuin in Sacrow met die Verlosserkerk (Heilandskirche); die kasteel Lindstedt; die Russiese kolonie Alexandrowka, die Pinksterberg (Pfingstberg) met die Belvedere; en die Keiserstasie (Kaiserbahnhof) vlakby die Wildpark is in 1990 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.
'n Voorstad van Potsdam, Babelsberg, het Londen, Praag en Rome as die belangrikste sentrum van die televisie- en rolprentbedryf in Europa verbygesteek. Die filmateljee Studio Babelsberg beskik oor die grootste kapasiteit en modernste geriewe van sy soort in Duitsland en ontwikkel nou ook tot 'n gewilde ateljee vir internasionale rolprentprojekte.
Etimologie Die oudste bekende verwysings na die stad dateer uit 993 as Poztupimi, 1317 as postamp en rondom 1500 as Potstamp. Hulle is almal van 'n Slawiese oorsprong en beteken "nedersetting van 'n man met die naam Potstampin". Die algemene interpretasie as "onder die eike" (uit Slawies pod "onder" en dubimi "eike") word in die wetenskap verwerp. Ander verduidelikings (byvoorbeeld die vergelyking met Sorbies Podstupim "voorfase" of "voorpos") is ook te betwyfel.
Geografie duimnael|links|Die Sacrowse Meer duimnael|Die Heilige Meer Potsdam is net suidwes van Berlyn aan die middelloop van die Havelrivier temidde van 'n bos- en meerlandskap geleë. Hierdie diverse landskap, wat gedurende die laaste koueperiodes van die ystydperk deur gletsers gevorm is, wissel van breë riviervlaktes tot heuwels wat as moreenafsettings gevorm is. Die hoogste punt in die stadsgebied is die Klein Ravensberg met 114,2 meter bo seevlak, die laagste punt is die gemiddelde watervlak van die Havelwaterliggame met 29 meter bo seevlak. Die stadsgebied bestaan tans merendeels (75 persent) uit groen ruimtes, waterliggame en landbougebiede, 25 persent van die oppervlak is bebou.
Daar is altesaam meer as twintig waterliggame. Mere is sowel in die beboude middestad (Heilige Meer, Aradomeer, Templinse Meer, Diep Meer (Tiefer See) en Griebnitzmeer asook in die omliggende groen voorstede (onder meer Sacrowse Meer, Lehnitzmeer, Groß Glienicke-meer, Fahrlander-meer en Wit Meer) geleë.
Belangrike riviere en kanale sluit die Potsdamse Havelrivier (wat baie mere met mekaar verbind), die Sacrow-Paretzer-kanaal, Teltowkanaal, Nuthe- en Wublitzrivier in. Die Teltowkanaal en die Nutherivier mond in die stadsgebied in die Havel uit.
Die stadsgebied bestaan uit die woongebiede Potsdam, Babelsberg, Bornim, Bornstedt, Drewitz, Nedlitz en Sacrow en nege stadsdele wat grotendeels eers op 26 Oktober 2003 by Potsdam ingelyf is en nog steeds oor hulle eie verkose dorpsraad en plaaslike burgemeester beskik.
Die Potsdamse Datum is in die Duitse kartografie en geodesie die sentraalpunt vir die Gauß-Krüger-koördinatestelsel se Bessel-ellipsoïed.
Klimaat duimnael|'n Fontein op die riviereiland Freundschaftsinsel duimnael|Die herfs kom nader – "Maanskynbrug" in die Sanssouci-kasteelpark in September Potsdam het 'n gematigde klimaat wat vanuit die noorde en weste deur die Atlantiese seeklimaat en vanuit die ooste deur die kontinentale klimaat beïnvloed word. Uiterstes soos storms, sterk hael of hewige sneeuval kom nouliks voor.
Die temperatuurverloop kom min of meer ooreen met die gemiddelde van Duitsland. Die jaarlikse seisoenale temperatuurskommelinge is laer as in die gewone kontinentale klimaat, maar nogtans hoër as in die gelykmatige seeklimaatsone van die kusgebiede. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 8,7 °C (met 'n gemiddelde van -1,1 °C in Januarie en 18,4 °C in Julie). Die jaarlikse reënval is met 590 millimeter relatief laag en dieselfde as byvoorbeeld dié van die Katalaanse metropool Barcelona, terwyl in die Beierse hoofstad München jaarliks sowat 1 000 millimeter aangeteken word.
Die Telegrafenberg-heuwel in Potsdam dien sedert 1874 as 'n sentrum van klimaatnavorsing. Die Institut für Klimafolgenforschung voorspel vir die deelstaat Brandenburg in die nabye toekoms hoër daaglikse temperature en steeds laer reënval as gevolg van die globale verwarming.
Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Keiser Otto III se skenkingsoorkonde van 993 Gedurende die volksverhuisings vanaf die 4de eeu n.C. het die meeste Sueve, 'n volksgroep binne die Elb-Germaanse Semnone, hul stamgebied langs die Havel- en Spreeriviere verlaat om hulle langs die Bo-Ryn te vestig. In die 6de en 7de eeu het Slawiese stamme na die vermoedelik onbewoonde gebied geïmmigreer. Die Slawiese Heveliër-stam het in hierdie tydperk 'n vesting naby die Nutherivier se uitmonding in die Havel opgerig.
Die eerste verwysing na Potsdam as Poztupimi verskyn in 'n skenkingsoorkonde van keiser Otto III wat op 3 Julie 993 uitgereik is en waardeur die gebied aan sy tant, die abdis Mathilde von Quedlinburg, geskenk sou word. As gevolg van die Slawe-opstand van 983 was die Duitse magsgebied egter tot by die Elberivier terug verskuif sodat die dokument voorlopig waardeloos gebly het.
Die oorkonde verwys na twee nedersettings, Poztupimi et Geliti, wat tans as Potsdam en Geltow gelees word. Die herkoms van die naam is nie duidelik nie – dit is waarskynlik afgelei van die Slawiese woorde pod ("onder") en stupa sodat die naam as "onder die eikebome" vertaal kan word. 'n Tweede verklaring is die afleiding van 'n Slawiese persoonsnaam, Postapim.
Die oorheersing van die oortog oor die Havelrivier het tot die gebied se strategiese belangrikheid bygedra. Nogtans was die nedersetting nie langs die beduidende destydse handelsroetes geleë nie en omring deur water en moerasgebiede. Akkerbou, veeteelt en vissery het die ekonomiese basis van die plaaslike bevolking gevorm.
Middeleeue duimnael|Die gebied van Berlyn en Brandenburg omstreeks 1150. Twee Slawiese stamme in die omgewing word as Hevellers en Sprewane aangedui Teen die middel van die 12de eeu is sowat 700 meter van die Slawiese burg 'n Duitse steenkasteel digby die oorgang oor die Havel opgerig, wat die kern van 'n klein nedersetting geword het. 'n Dokument van 1304 verwys na die stad as 'n stedeken ("klein stad"), terwyl 'n verwysing na sowel die stad asook sy kasteel van 1317 dagteken. Die naam Postamp is in dieselfde jaar vir die eerste keer opgeteken.
Potsdam het in 1345 stadstatus gekry, maar het nogtans vir 'n lang tyd 'n onbenullige markstad gebly. In 1573 was daar nog steeds slegs 192 huise en 2 000 inwoners. Ná die verwoestings van die Dertigjarige Oorlog (1618–1648) het hierdie getal selfs tot 700 gekrimp.
Vorstelike hoofstad duimnael|links|Danksy die Edik van Potsdam, wat in 1685 uitgereik is, het Potsdam ná die Dertigjarige Oorlog vinnig gegroei duimnael|Die verligte monarg Frederik die Grote het 'n beduidende invloed op Potsdam se ontwikkeling uitgeoefen duimnael|links|"Lange Kêrels" van die Pruisiese infanterie in die Slag van Hohenfriedeberg, 4 Junie 1748 duimnael|Die Ou Raadsaal het tussen 1753 en 1755 ontstaan en huisves tans die Potsdam-museum Met die keurvorstelike Landdag van 1653, waartydens die "Groot Keurvors" Frederik Willem I van Brandenburg die mag van die plaaslike adel beperk het, is die tydperk van die absolutisme ingelui. Die regeringstydperk van Frederik Willem I was een van die invloedrykste in die geskiedenis van Potsdam. Hy het alle verpande stadswyke aangekoop en besluit om van Potsdam die tweede vorstelike hoofstad naas Berlyn te maak. Met die uitbreiding van die stedelike slot en die "verfraaiing" van die omgewing het Potsdam vanaf 1660 'n belangrike groeitydperk beleef.
Maar eers met die Edik van Potsdam, wat in 1685 uitgereik is, is die gebied danksy die toenemende immigrasie weer bevolk. Veral Franse Hugenote, wat in hul tuisland vervolg is, het 'n nuwe heenkome in Brandenburg gevind. Sowat 20 000 Protestantse geloofsvlugtelinge het die keurvors se aanbod om hulle in Brandenburg te vestig aanvaar en die plaaslike ekonomie met hul vakkennis 'n hupstoot gegee.
Onder die sogenaamde "soldatekoning" Frederik Willem I het Potsdam ook tot 'n beduidende garnisoenstad ontwikkel, en gevolglik het talle ambagsmanne, wat militêre uitrusting en ander goedere vervaardig het, hulle in die stad gevestig.. Die bevolking het vervolgens sterk gegroei, en tydens die eerste en tweede stadsuitbreiding het nuwe woonbuurte ontstaan. Die koning het daarnaas ook die opdrag vir die oprigting van die Potsdamse Garnisoenkerk, die Sint-Nikolaikerk en die Heilige-Gees-kerk gegee wat voortaan die stadshorison oorheers het. In die nuutgestigte militêre weeshuis in die Breite Straße ("Breëstraat") is kinders van soldate versorg, en hulle het hier ook 'n opvoeding en opleiding gekry.
Sy seun Frederik II ("Frederik die Grote") het groot waarde aan die gedagtes van die verligting geheg en die Pruisiese staat hervorm. Hy het die besluit geneem om van Potsdam sy hoofsaaklike regeringsetel te maak en sodoende ook die opdrag gegee om strate en pleine te herontwerp. Die belangrikste bouprojekte het die herontwerp van die Alte Markt (Ou Markplein) en die Sanssouci-park en die bou van nuwe burgerhuise met barokfasades ingesluit. In die Sanssouci-park het vanaf 1745 die slot Sanssouci, wat aanvanklik net tydens jagte deur die vorstelike gesin bewoon is, as somerpaleis ontstaan. Later is die Nuwe Paleis bygevoeg. Die stedelike slot en die Lustgarten (Lushof) is tot sy winterpaleis omgeskep, waarby die argitek Georg Wenzeslaus von Knobelsdorff (1699–1753) 'n beduidende bydrae gelewer het.