TurynCittà di Torino 280px Kaart (provinsie) Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter Land  Administratiewe gewes 20px Piëmont Metropolitaanse stad Turyn (TO) Koördinate  Stigting Omstreeks 28 v.C. Oppervlakte:    - Totaal 130,17 vk km  Hoogte bo seevlak 239 m Bevolking:    - Totaal (31 Januarie 2022) 847 287  - Bevolkingsdigtheid 6 500/vk km Tydsone UTC +1 (MET)  - Somertyd UTC +2 (MEST) Klimaat    - Tipe Gematigde klimaat  - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 11,6 °C  - Gem. temp. Januarie/Julie 1,3 / 22,0 °C  - Gemiddelde jaarlikse neerslae 914 mm Burgemeester Stefano Lo Russo (PD) Amptelike webwerf comune.torino.it

Turyn (Italiaans: Torino; Piëmontees, Duits, Engels en Frans: Turin, Nederlands: Turijn) is die hoofstad van die administratiewe gebied Piëmont en 'n groot nywerheidsentrum in die noordweste van Italië met 'n bevolking van sowat 878 600 in die stads- en 1,7 miljoen in die metropolitaanse gebied.

duimnael|links|Net die boonste verdiepings van 'n wolkekrabber, wat kantore van die administratiewe streeksregering huisves, bly sigbaar terwyl digte mis oor Turyn hang. Termiese inversies kom in die wintermaande gereeld in die Povlakte voor duimnael|links|'n Begrafnismasker in die Egiptiese Museum van Turyn duimnael|links|Die wolkekrabber, wat as hoofkwartier van die bank Intesa San Paolo dien, is deur die Genuese argitek Renzo Piano ontwerp en in 2015 ingewy Eeue lank het Turyn as setel van die koninklike Huis van Savoje en as hoofstad van die gelyknamige koninkryk gedien. Veertien kastele en slotte in Turyn en sy onmiddellike omgewing getuig van hierdie verlede. Gedurende die 19de eeu was Turyn die spilpunt van Italië se nasionale beweging, die Risorgimento, wat hom vir die skepping van 'n Italiaanse eenheidsstaat beywer het. Die vereniging van Italiaanse state in 'n gemeenskaplike Koninkryk Italië is in 1861 onder leiding van die Koninkryk Piëmont bewerkstellig. Die residensies van die Huis van Savoje is deur Unesco in 1997 as wêrelderfenis gelys.

Piëmont se belangrike bydrae tot die vereniging van Italiaanse state en die feit dat Rome in 1861 nog deel uitgemaak het van die Kerklike Staat was die redes vir die keuse van Turyn as voorlopige hoofstad van Italië. Vier jaar lank het koning Viktor Emmanuel II die nuut verenigde land vanuit Turyn geregeer voordat Florence vanweë sy sentrale ligging as nuwe voorlopige regeringsetel aangewys is. Eers in 1870, toe Italiaanse magte Rome ingeneem het, kon die stad aan die Tiberrivier as hoofstad fungeer.

Vanaf die vroeë 20ste eeu, maar veral in die dekades ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die ekonomiese en maatskaplike lewe in Turyn deur die motorvervaardiger Fiat oorheers. Fiat was een van die dryfkragte agter Turyn se vinnige industrialisering en sy groei tot een van Italië se belangrikste groot nywerheidstede waar werksoekendes uit alle dele van die land hulle kom vestig het. Ná die fascistiese magsoorname onder Benito Mussolini in 1922 het Fiat ook militêre tegnologie begin ontwikkel en vervaardig. Turyn se strategiese belangrikheid vir die Italiaanse wapenbedryf het van die stad gedurende die Tweede Wêreldoorlog een van die hoofteikens van lugaanvalle gemaak wat grootskaalse skade aangerig het. Ná die oorlog was Turyn een van die stede wat die vinnigste herstel en met sy snel groeiende nywerheidsproduksie bygedra het tot Italië se "ekonomiese wonder" in die 1950's en 1960's. Die motorbedryf het met begin van die 1990's strukturele veranderings ondergaan waardeur sy belangrikheid afgeneem het en die getal aanlegte en werksgeleenthede merkbaar verminder is.

Turyn staan tradisioneel as die stad van die barok- en Art Nouveau-boustyle bekend; die stad beskik daarnaas oor 'n groot aantal arkades. Saam met die uitbou van die infrastruktuur het internasionale argitekte soos Renzo Piano, Gae Aulenti en Arata Isozaki opspraakwekkende voorbeelde van moderne boukuns ontwerp. Twee universiteite met sowat 100 000 studente dra by tot Turyn se reputasie as een van die kulturele metropole van Noord-Italië. Hier word jaarliks een van die grootste internasionale boekskoue in Europa gehou, die Salone Internazionale del Libro. Turyn het in Februarie 2006 as gasheerstad van die Olimpiese Winterspele opgetree.

Die Rooms-Katolieke katedraal van Turyn kry besondere betekenis deur die sogenaamde Lykkleed van Turyn (la Sacra Sindone), die beweerde grafdoek van Jesus Christus wat in 'n spesiale kas bewaar word. Die grafdoek dateer volgens wetenskaplike ondersoeke nie uit Jesus van Nasaret se tyd nie en word deur die Rooms-Katolieke Kerk ook nie as outenties geag nie. Nogtans is godsdienstige betekenis as ikoon aan die grafdoek toegeken.

Versamelings van onskatbare waarde word in die Museo Egizio, die Egiptiese Museum van Turyn, bewaar en vertoon. Sy versamelings van antieke Egiptiese kuns is die grootste ter wêreld buite Egipte – sy vertoonsale het 'n oppervlakte van 10 000 vierkante meter. 6 500 van altesaam 32 000 kunsvoorwerpe in besit van die museum word vertoon.

Geografie duimnael|350px|Uitsig oor Turyn vanaf die Monte dei Cappuccini ("Kapusyneberg") duimnael|links|Die koninklike slot of Palazzo Reale Turyn is in 'n vlakte geleë wat in die weste en noorde deur die Alpe en in die suide deur die groen heuwelreeks van Monferrato begrens word. Vier groot riviere vloei deur die stad – die Po en twee takriviere, die Dora Riparia (uit die Keltiese duria wat "water" beteken, later deur die Romeine na "Duria Minor" verander) en die Stura di Lanzo, en die Sangone. Die drie kleiner riviere mond naby Turyn in die magtige Porivier uit. Die grootste deel van Turyn se stadsgebied is wes van die rivier in die Povlakte geleë. Net enkele kleiner stadsbuurte het in 'n heuwelstreek wes van die Po ontstaan, met 'n maksimale hoogte van 750 m bo seevlak.

Dit is hoofsaaklik barokboukuns wat sy stempel op die historiese middestad of Centro storico afgedruk het – met 14 km se booggange (portici) met granietsuile, elegante palazzi en kerkgeboue. Die barokboumeesters het die antieke Romeinse stadsuitleg met strate, wat mekaar in regte hoeke sny, bybehou. Die koninklike slot van die Huis van Savoje, die Palazzo Reale op die plein Piazza Castello, vorm die uitgangspunt vir alle strate in die middestad. In sy onmiddellike omgewing is die meeste belangrike besienswaardighede en musea van Turyn geleë, insluitende die Museo Egizio. Binne loopafstand van die Piazza Castello is die plein Piazza della Repubblica en die historese stadspoort Porta Palazzo, die naamgewer vir die besige mark Mercato di Porta Palazzo wat soggens as een van die grootste kosmarkte in Europa gehou word.

Net wes van die besige markplein is die historiese kwartier Quadrilatero romano (die "Romeinse Vierkant" of die buurt tussen die antieke Romeinse stadspoort Porta Palatina, die Decumana – ook Praetoria genoem – en twee stadspoorte wat nie bewaar gebly het nie) met sy doolhof van nou winkelstraatjies en aantreklike pleine geleë – meestal sonder verkeer. 'n Groot verskeidenheid kroeë en restaurante maak van Quadrilatero saans en van die gewildste en besigste buurte in Turyn. Die befaamde koffiehuis Caffè Al Bicerin, wat reeds in 1763 geopen is, is op die sentrale plein Piazza della Consolata geleë.

Turyn maak saam met Milaan en Genua deel uit van die Noord-Italiaanse industriële driehoek. Milaan is sowat 140 km oos-noordoos van Milaan en 123 km noordoos van Genua geleë.

Klimaat

Geskiedenis Antieke tydperk duimnael|Die belangrikste Romeinse bouval in Turyn is die voormalige stadspoort Porta Palatina (hier met 'n bronsstandbeeld van Gaius Julius Caesar) Die naam van die stad is afgelei van die Keltiese woord tau ("berge"), terwyl sy huidige naam in Italiaans "bulletjie" beteken – vandaar die bul in die stadswapen. Die etimologiese oorsprong verwys egter na die voor-Romeinse bewoners van die gebied, die Keltiese Taurini wat groot dele van die huidige Frankryk en Spanje verower het voordat hulle ook die noorde van Italië binnegedring het. Weens hulle verering van die bul, die simbool van die god Api, het hulle dorp ook as Taurasia bekend gestaan. Die eerste skriftelike rekord oor die dorp dateer uit die jaar 218 v.C. en berig van die beleg en verwoesting van Taurasia deur Hannibal se troepe.

In die 1ste eeu v.C. het die Romeine 'n militêre kamp (Castra Taurinorum) in die gebied opgerig, wat later ter ere van Augustus na Augusta Taurinorum herdoop is en teen hierdie tydperk sowat 5 000 inwoners gehad het. Die moderne stad bewaar nog steeds die Romeinse straatrooster.

Middeleeue Ná die ondergang van die Romeinse Ryk het die Langobarde Turyn in 569 verower, later het die Franke onder Karel die Grote die stad ingeneem (774). Turyn het die setel van 'n Frankiese graaf geword, en sy opvolgers het geleidelik begin om hul mag oor die hele provinsie uitbrei.

Ná 'n tydperk van onluste, wat deur die magstryd tussen keisers, grawe, biskoppe en landelike adel gekenmerk was, het keiser Frederik I Barbarossa die stad in 1159 aan die plaaslike biskoppe oorhandig, wat tot 1225 ook as politieke heersers opgetree het. Teen die einde van die 13de eeu is die stad by die hertogdom Savoje ingelyf. In die 15de eeu is Turyn van 'n groot aantal tuine en paleise voorsien en het in 1404 ook sy eie universiteit gekry.

Vroeë moderne tydperk Emanuele Filiberto, genoem die Ysterkop, het Turyn in 1563 tot die hoofstad van Savoje verklaar; die Koninklike Paleis (Palazzo Reale), die via Po (Postraat) en die Piazza San Carlo dateer uit hierdie tydperk. Turyn se bevolking is destyds op sowat 4 000 beraam. Binne die volgende 150 jaar het die getal inwoners in die barokstad gestyg tot 50 000.

Teen die einde van die 17de eeu was Turyn een van die bestemmings van jong Britse adellikes op hul kulturele en opvoedkundige Grand Tour deur Italië. Met sy reëlmatige straatrooster en sy stadsbeeld, wat deur barokboukuns oorheers is, is die stad deur destydse besoekers as modern, skoon en homogeen ervaar. Paola Bianchi and Karen Wolfe (reds.): Turin and the British in the Age of the Grand Tour. Cambridge: Cambridge University Press 2017, bl. 3

Franse troepe het die stad in 1706 beleër, maar ook ná 117 dae nie daarin geslaag om dit in te neem nie. Met die Verdrag van Utrecht is die Koninkryk Sardinië by Savoje ingelyf, en Turyn met sy destydse bevolking van sowat 90 000 is deur die argitek Filippo Juvarra met 'n aantal nuwe geboue voorsien om sy nuwe status as Europese hoofstad te beklemtoon.

Ná 'n kort besetting deur Napoléon Bonaparte se troepe het die stad hom vir die vereniging van die talle klein Italiaanse state beywer. Danksy die opening van die Fréjus-spoorwegtonnel het Turyn ook tot 'n belangrike vervoersentrum met 250 000 inwoners ontwikkel.

Turyn het vanaf 1861 as die hoofstad van die Verenigde Italië gedien, wat in dieselfde jaar uitgeroep is. In 1865 is die regeringsetel egter na Florence verskuif. In 1870 is Rome uiteindelik tot hoofstad van Italië verklaar.

1864 tot 1899 duimnael|Die Mole Antonelliana – genoem na sy argitek Alessandro Antonelli – is oorspronklik as 'n sinagoge ontwerp. Die pawiljoenagtige gebou met sy opvallende dakontwerp  huisves tans die Museo Nazionale di Cinema. 'n Glashysbak neem besoekers na Turyn se hoogste uitsigplatform Gedurende die periode van 35 jaar ná die verskuiwing van die regeringsetel na Florence het Turyn omvattende stedelike transformasie ondergaan. Naas die Mole as die argitek Alessandro Antonelli se langdurige en omstrede projek is die stadsbeeld deur 'n reeks nuwe geboue en kwartiere ingrypend verander. 'n Nuwe residensiële kwartier het rondom die vroeëre Sitadel ontstaan; in die suide van Turyn is 'n liefdadigheidshospitaal voltooi as die stad se grootste 19de eeuse gebouekompleks; twee sentrale pleine, Piazza Castello en Piazza Carlo Alberto, word deur 'n gietyster-deurgang met mekaar verbind; en die Koninklike Mausoleum van Superga word deur 'n kabelspoorweg met die voorstad Sassi verbind.