Seekomkommers is seediere in die klas Holothuroidea in die filum Echinodermata (stekelhuidiges). Hulle het 'n kenmerkende wurmagtige tipe lyf wat bedek is met 'n leeragtige vel. Hulle kom wêreldwyd in oseane voor en is oor die algemeen swart, bruin of olyfgroen van kleur. Hul lywe is die buigbaarste van al die stekelhuidiges omrede die harde beenplate verklein het na verspreide mikroskopiese beenagtige gedeeltes in die vleis.
Die mond word omring deur verskeie terugtrekbare tentakels wat vir voeding gebruik word, wat eintlik ontwikkelde buisvoete is. By sommige spesies ontbreek voete aan die bokant en is so skraps aan die onderkant dat die dier oor die seevloer beweeg deur middel van spierbewegings van die lyf. Sommige seekomkommers is aasvreters wat leef op verrotende, organiese materiaal. Ander gebruik hulle taai tentakels om plankton wat onder in die water dryf, te vang en dan in hulle monde te druk om dit skoon te lek. Dié seediere staan bekend as suspensievoeders.
Wanneer sommige spesies bedreig word, skiet hulle lang, taai, toksiese drade uit hul anusse in 'n poging om die aanvaller vas te woel. Ander het die vermoë om hul lywe se wand te laat oopbars en dan ingewande vry te laat wat giftige chemikalieë bevat. Die ingewande en wond sal mettertyd toegroei en herstel. Wetenskaplikes het egter tot die slotsom gekom dat die praktyk nie 'n verdedigingsmeganisme is nie, maar eerder 'n manier om hulself teen 'n opbou van toksisiteit as gevolg van hul dieet te beskerm.
Seekomkommers is of 'n mannetjie of 'n wyfie (dus nie-hermafrodieties) en bevrugting vind plaas as 'n resultaat van eiers en sperma wat in die water losgelaat word. Die larwes ondergaan ontwikkelingsfases voordat hulle begin om op die bodem te leef.
In verskeie Oosterse lande is seekomkommers 'n gesogte lekkerny; dit word veral in sop gebruik en is ook in aanvraag vir hulle medisinale waarde. Ooroesting is egter 'n groot probleem. Seekomkommers leef ook in kommensalistiese simbiose saam met onder andere krappe, garnale, seewurms en vis.
Taksonomie Aangesien seekomkommers nie soos ander klasse in die filum Echinodermata oor 'n skelet beskik nie, is hul taksonomiese indeling meer ingewikkeld en berus hul paleontologiese filogenie op 'n handvol van goed bewaarde monsters. Die moderne taksonomie is eerstens op die teenwoordigheid of vorm van sekere sagte liggaamsdele (podia, longe, tentakels, periferale kroon) gebaseer om die ordes te bepaal, en tweedens op die mikroskopiese ondersoek van ossikels om die genus en spesie te bepaal. Moderne genetiese metodes help ook om die klassifikasie van hierdie diere te bevorder.
Die taksonomie soos aanvaar deur die World Register of Marine Species sien tans soos volg daaruit:
orde Apodida Brandt, 1835 familie Chiridotidae Östergren, 1898 familie Myriotrochidae Théel, 1877 familie Synaptidae Burmeister, 1837 orde Dendrochirotida Grube, 1840 familie Cucumariidae Ludwig, 1894 familie Cucumellidae Thandar & Arumugam, 2011 familie Heterothyonidae Pawson, 1970 familie Paracucumidae Pawson & Fell, 1965 familie Phyllophoridae Östergren, 1907 familie Placothuriidae Pawson & Fell, 1965 familie Psolidae Burmeister, 1837 familie Rhopalodinidae Théel, 1886 familie Sclerodactylidae Panning, 1949 familie Vaneyellidae Pawson & Fell, 1965 familie Ypsilothuriidae Heding, 1942 orde Elasipodida Théel, 1882 familie Deimatidae Théel, 1882 familie Elpidiidae Théel, 1882 familie Laetmogonidae Ekman, 1926 familie Pelagothuriidae Ludwig, 1893 familie Psychropotidae Théel, 1882 orde Holothuriida Miller, Kerr, Paulay, Reich, Wilson, Carvajal & Rouse, 2017 familie Holothuriidae Burmeister, 1837 familie Mesothuriidae Smirnov, 2012 orde Molpadida Haeckel, 1896 familie Caudinidae Heding, 1931 familie Eupyrgidae Semper, 1867 familie Gephyrothuriidae Koehler & Vaney, 1905 familie Molpadiidae Müller, 1850 orde Persiculida Miller, Kerr, Paulay, Reich, Wilson, Carvajal & Rouse, 2017 familie Gephyrothuriidae Koehler & Vaney, 1905 familie Molpadiodemidae Miller, Kerr, Paulay, Reich, Wilson, Carvajal & Rouse, 2017 familie Pseudostichopodidae Miller, Kerr, Paulay, Reich, Wilson, Carvajal & Rouse, 2017 orde Synallactida Miller, Kerr, Paulay, Reich, Wilson, Carvajal & Rouse, 2017 familie Stichopodidae Haeckel, 1896 familie Synallactidae Ludwig, 1894
Bron The Reef Guide: Fishes, corals, nudibranchs & other invertebrates: East & South Coasts of Southern Africa. Dennis King & Valda Fraser. Struik Nature. 2014
Verwysings