Die Kulturele Rewolusie of Kultuurrewolusie, amptelik die Groot Proletariese Kulturele Rewolusie, was van 1966 tot 1976 ’n sosiaal-politieke beweging in China. Dit is van stapel gestuur deur Mao Zedong, toe die voorsitter van die Kommunistiese Party van China. Die doel was om "ware" Kommunistiese ideologie in die land te bewaar deur dit te suiwer van oorblyfsels van kapitalisme en tradisionele elemente van die Chinese gemeenskap, en om Maoïstiese idees weer as die oorheersende ideologie in die party te vestig. Die rewolusie het die terugkeer van Mao in ’n magsposisie aangedui ná die mislukking van die Groot Sprong Voorwaarts. Die beweging het China in ’n groot mate polities verlam en die land se ekonomie en gemeenskap negatief beïnvloed.
Die rewolusie het in Mei 1966 begin nadat Mao beweer het dat bourgeois elemente die regering en die gemeenskap in die algemeen ingesypel het met die doel om kapitalisme te herstel. Om sy teenstanders in die Kommunistiese Party uit te skakel, het Mao daarop aangedring dat hierdie revisioniste (voorstanders van vreedsame eerder as rewolusionêre sosiale hervorming) deur ’n gewelddadige klassestryd verwyder word. China se jeug het hierop gereageer deur Rooi Garde-groepe deur die land te stig. Die beweging het na die weermag, stedelike werkers en die Kommunistiese leiers self uitgebrei. Dit het gelei tot wydverspreide faksiestryde in alle lae van die samelewing. In die topleierskap het dit gelei tot ’n massasuiwering van senior amptenare. In dieselfde tyd het Mao se persoonlike kultus enorme afmetings aangeneem.
In die geweld wat oor die hele land ontstaan het, is miljoene mense vervolg en is hulle blootgestel aan ’n groot verskeidenheid mishandelings, insluitende openbare vernedering, lukrake inhegtenisnemings, marteling, hardearbeid, volgehoue teistering, beslaglegging van eiendom en soms teregstellings. ’n Groot deel van die bevolking is aan gedwonge verskuiwing onderwerp, veral stedelike jeugdiges na plattelandse gebiede. Historiese nalatenskappe en artefakte is vernietig. Kulturele en godsdienstige terreine is geplunder.
Mao het amptelik verklaar dat die Kulturele Rewolusie in 1969 geëindig het, maar die aktiewe fase het aangehou tot met die dood van die militêre leier Lin Biao in 1971. Ná Mao se dood en die vervolging van die Bende van Vier in 1976, het hervormers geleidelik ontslae geraak van sy beleide van die Kulturele Rewolusie. In 1981 het die party verklaar dat die rewolusie "verantwoordelik was vir die hewigste terugslag en grootste verliese wat deur die party en die volk gely is sedert die stigting van die Volksrepubliek"."Resolution on Certain Questions in the History of Our Party Since the Founding of the People's Republic of China," adopted by the Sixth Plenary Session of the Eleventh Central Committee of the Communist Party of China on June 27, 1981 Resolution on CPC History (1949–81). (Beijing: Foreign Languages Press, 1981). bl. 32.
Agtergrond Groot Sprong Voorwaarts duimnael|links|Regeringsamptenare word na die platteland gestuur om daar te gaan werk (1957). In 1958, ná China se eerste vyfjaarplan, het Mao ’n beroep gedoen om "voetsoolsosialisme" om sy planne momentum te gee om China in ’n moderne nywerheidsland te verander. Hy het die Groot Sprong Voorwaarts van stapel gestuur deur volkskommunes op die platteland te stig en te begin met die massaverskuiwing van mense na kollektiewe plase. Baie kommunes het opdrag gekry om dieselfde produk te vervaardig: staal. Mao het belowe om die landbou-oeste van 1957 te verdubbel.Tang Tsou. (1986). The Cultural Revolution and Post-Mao Reforms: A Historical Perspective. University of Chicago Press.
Die Groot Sprong was ’n ekonomiese mislukking. Onopgevoede boere het op ’n enorme skaal staal probeer vervaardig en hoofsaaklik van oonde op hul agterwerf gebruik gemaak om plaaslike produksiemikpunte te haal. Die staal was van swak gehalte en in ’n groot mate onbruikbaar. Die Groot Sprong het gelei tot kleiner oeste en ’n afname in die vervaardiging van die meeste goedere buiten ru-yster en staal van ’n substandaard. Verder het plaaslike owerhede dikwels hoër syfers aangegee as wat dit werklik was, en so die probleem jare lank verdoesel en vererger. Intussen het chaos op die kollektiewe plase, slegte weer en die uitvoer van kos om geld te laat invloei, gelei tot die Groot Chinese Hongersnood. Voedsel was uiters skaars en produksie het drasties gedaal. Miljoene mense is in die hongersnood dood, veral in armer, binnelandse streke.
Die mislukking van die Groot Sprong het Mao se aansien in die party aansienlik geskaad. Nadat hy gedwing is om verantwoordelikheid te neem, het hy in 1959 bedank as president van die Volksrepubliek China, die land se de jure-staatshoof. Hy is opgevolg deur Liu Shaoqi. In Julie het senior partyleiers byeengekom om beleid te bespreek. Op die konferensie het maarskalk Peng Dehuai, die minister van verdediging, die Groot Sprong se beleide in ’n privaat brief aan Mao gekritiseer. Hy het geskryf dit is deur wanbestuur geteister, en gewaarsku teen die verheffing van politieke dogma bo die wette van die ekonomie.
Ondanks die gematigde aanslag van Peng se brief, het Mao dit as ’n persoonlike aanval op sy leierskap beskou.Jin Qiu, bl. 55 Ná die konferensie het hy Peng uit sy pos geskop; hy is vervang met Lin Biao, nog ’n rewolusionêre weermaggeneraal wat later in sy loopbaan ’n meer stoere Mao-ondersteuner geword het. Hoewel die konferensie slegte gevolge gehad het vir Peng, Mao se mees kritiese teenstander, het dit gelei tot ’n magsverskuiwing na gematigdes onder Liu Shaoqi en Deng Xiaoping, wat ná 1959 doeltreffend beheer van die ekonomie oorgeneem het.
Teen die vroeë 1960's was baie van die Groot Sprong se beleide omgekeer deur inisiatiewe deur Liu, Deng en Zhou Enlai. Hierdie gematigde groep was nie baie beïndruk met Mao se utopiese visies nie. Weens die verlies van aansien in die party het Mao ’n dekadente en eksentrieke leefstyl ontwikkel.Spence Teen 1962 het hy hom onttrek aan ekonomiese besluitneming en hoofsaaklik gepeins oor sy bydraes tot Marxisties-Leninistiese sosiale teorie, insuitende die idee van ’n "ononderbroke rewolusie".Jin Qiu, Ch. 2 Die uiteindelike doel van hierdie teorie was om die verhoog gereed te kry vir die herstel van Mao se soort kommunisme en sy aansien in die party.
Sowjet-Chinese skeuring en antirevisionisme In die vroeë 1950's was die Volksrepubliek China en die Sowjetunie die grootste twee kommunistiese state in die wêreld. Hoewel hulle mekaar aanvanklik gesteun het, het onmin ontstaan ná die dood van Josef Stalin en die opkoms van Nikita Chroesjtsjof in die Sowjetunie. In 1956 het Chroesjtsjof Stalin en sy beleide gekritiseer en met post-Stalinistiese ekonomiese hervormings begin. Mao en baie lede van China se Kommunistiese Party het hierdie veranderings teengestaan en geglo dit sal ’n negatiewe uitwerking hê op die wêreldwye Marxistiese beweging, wat Stalin steeds as ’n held beskou het.MacFarquhar en Schoenhals 2006. bl. 4–7.
Mao het geglo Chroesjtsjof hang nie Marxisme-Leninisme aan nie, maar is ’n revisionis wie se beleide afwyk van basiese Marxisties-Leninistiese beginsels, iets wat Mao gevrees het kapitaliste in staat sou stel om weer beheer van die land oor te neem. Betrekkinge tussen die twee lande het versuur. Mao het revisionisme in April 1960 in die openbaar verwerp. Sonder om vingers na die USSR te wys, het hy dié land se ideologiese bondgenoot die Kommunistiese Liga in Joego-Slawië gekritiseer. Op sy beurt het die USSR China se bondgenoot die Arbeidersparty van Albanië gekritiseer.MacFarquhar en Schoenhals 2006. bl. 7. In 1963 het China die Sowjetunie openlik begin verwerp. In ’n verslag het Mao beweer Chroesjtsjof is nie net ’n revisionis nie, maar hy verhoog ook die gevaar van die herstel van kapitalisme. Chroesjtsjof se ondergang in 1964 weens ’n interne "staatsgreep" het ook bygedra tot Mao se vrese oor sy eie politieke kwesbaarheid, veral weens die afname in sy aansien ná die Groot Sprong Voorwaarts.
Voorloper Mao het die verhoog vir die Kulturele Rewolusie geskep deur magtige amptenare in Beijing met twyfelagtige lojaliteit te verwyder. Sy aanslag was nie openlik nie; hy het die suiwering aangepak deur koerantberigte, interne vergaderings en die bedrewe gebruik van sy netwerk politieke bondgenote.
In laat 1959 het die historikus en onderburgemeester van Beijing, Wu Han, ’n historiese drama met die naam Hai Rui uit Sy Amp Ontslaan gepubliseer. In die toneelstuk word ’n eerlike staatsamptenaar, Hai Rui, deur ’n korrupte keiser ontslaan. Hoewel Mao die stuk aanvanklik geloof het, het hy in Februarie 1965 in die geheim sy vrou, Jiang Qing, en die Sjanghaise propagandis Yao Wenyuan aangesê om ’n artikel te publiseer waarin hulle dit kritiseer.MacFarquhar en Schoenhals. bl. 15–18. Yao het beweer Hai Rui was in werklikheid ’n allegorie wat Mao aanval; dus was Mao glo die korrupte keiser en Peng Dehuai, die minister van verdediging wat hy afgedank het, die eerlike staatsamptenaar.MacFarquhar en Schoenhals. bl. 16.
Yao se artikel het die Beijingse burgemeester, Peng Zhen (nie familie van Peng Dehuai nie), op die verdediging geplaas. Peng, ’n magtige amptenaar en Wu Han se direkte hoof, was die hoof van die "Vyfmangroep", ’n komitee wat Mao aangestel het om die moontlikheid van ’n kulturele rewolusie te ondersoek. Peng Zhen, wat daarvan bewus was dat hy geïmpliseer sou word as Wu inderdaad ’n anti-Mao-toneelstuk geskryf het, wou Yao se invloed afskaal. Yao se artikel is aanvanklik in net ’n paar plaaslike koerante gepubliseer. Peng het die publikasie daarvan in die nasionale koerant Volksdagblad en ander groot koerante onder sy beheer verbied. Hy het opdrag gegee dat hulle oor "akademiese besprekings" berig en hulle nie steur aan Yao se kleinlike politiek nie.MacFarquhar en Schoenhals. bl. 14–19.
Terwyl die "letterkundige stryd" teen Peng gevoer is, het Mao vir Yang Shangkun afgedank weens ’n reeks onbewese aanklagte; Yang was die direkteur van die Kommunistiese Party se algemene kantoor, ’n liggaam wat interne kommunikasie hanteer het. In sy plek is ’n stoere lojalis, Wang Dongxing, aangestel.MacFarquhar en Schoenhals 2006. Hoofstuk 1. Yang se afdanking het blykbaar Mao se bondgenote aangemoedig om teen hul faksieteenstanders op te tree. In Desember het die minister van verdediging en ’n Mao-ondersteuner, Lin Biao, generaal Luo Ruiqing, die weermag se stafhoof, daarvan beskuldig dat hy teen Mao is en te veel klem lê op militêre opleiding pleks van Maoïstiese "politieke besprekings". Ondanks aanvanklike skeptisisme in die Politburo oor Luo se skuld, het Mao ’n ondersoek gelas. Luo is toe afgedank, waarna hy probeer selfmoord pleeg het.MacFarquhar en Schoenhals 2006. bl. 20–27. Ná Luo se afdanking was die weermag agter Mao verenig.MacFarquhar en Schoenhals. bl. 24.
Februarie-oorsig Nadat Mao van Luo en Yang ontslae geraak het, het hy weer sy aandag op Peng Zhen gevestig. Op 12 Februarie 1966 het die Vyfmangroep ’n verklaring uitgereik bekend as die Februarie-oorsig. Die "oorsig" het Hai Rui ’n opbouende akademiese bespreking genoem en probeer om Peng Zhen amptelik van enige politieke blaam te onthef. Jiang Qing en Yao Wenyuan het egter voortgegaan met hul kritiek op Wu Han en Peng Zhen. Intussen het Mao ook die direkteur van die departement van propaganda, Lu Dingyi, ’n bondgenoot van Peng Zhen, afgedank.MacFarquhar en Schoenhals 2006 Hoofstuk 1.