|ongevalle1 =
Die Russies-Japannese Oorlog (Japannees: 日露戦争, Nichiro sensō; Russies: Ру́сско-япóнская войнá, Roessko-japonskaja woina) was 'n oorlog tussen die Japannese en Russiese Ryke in 1904 en 1905 oor botsende imperiale ambisies in Mantsjoerye en Korea. Die hoofterreine van militêre operasies was op die Liautoeng-skiereiland, Moekden in Suid-Mantsjoerye, die seë om Korea en Japan en die Geelsee.
Rusland wou 'n warmwaterhawe aan die Stille Oseaan hê vir beide sy vloot en maritieme handel. Wladiwostok was net in die somer ysvry en operasioneel; Port Arthur, 'n vlootbasis in die provinsie Liautoeng, wat die Qing-dinastie van China van 1897 af aan Rusland verhuur het, was die hele jaar operasioneel. Sedert die einde van die Eerste Chinees-Japannese Oorlog in 1895 was Japan bang Russiese indringing sou inmeng met sy planne om 'n invloedsfeer in Korea en Mantsjoerye te vestig. Rusland het sedert die bewind van Iwan die Verskriklike in die 16de eeu 'n beleid van uitbreiding oos van die Oeral, in Siberië en in die Verre Ooste gevolg.
Japan het Rusland as 'n mededinger beskou en aangebied om Russiese oorheersing in Mantsjoerye te erken in ruil vir die erkenning van Korea as binne die Japannese invloedsfeer. Rusland het geweier en het die vestiging van 'n neutrale buffersone geëis tussen Rusland en Japan in Korea noord van die 39ste parallel. Japan het dit beskou as 'n struikelblok in sy planne om na die Asiatiese vasteland uit te brei en het besluit om oorlog te verklaar. Nadat samesprekings in 1904 misluk het, het Japan op 'n verrassingsaanval geloods op die Russiese Oostelike Vloot in Port Arthur.
Hoewel Rusland 'n paar nederlae gely het, was keiser Nikolaas II oortuig dat Rusland nog kon wen as hy bly veg; hy het besluit om die oorlog voort te sit en te wag op die uitslag van belangrike seeslae. Toe hoop op 'n oorwinning vervaag, het Nikolaas die oorlog voortgesit om Rusland se waardigheid te behou en 'n "vernederende vrede" te vermy. Rusland het Japan se bereidwilligheid vroeër geïgnoreer om 'n wapenstilstand aan te gaan en die idee verwerp om die saak voor die Permanente Arbitrasiehof in Den Haag te bring.
Die oorlog is uiteindelik beëindig met die Verdrag van Portsmouth (), wat deur die Amerikaanse president Theodore Roosevelt bemiddel is. Japan se algehele oorwinning het internasionale waarnemers verras en die magsbalans in beide Oos-Asië en Oos-Europa verander. Dit het Japan se opkoms as 'n groot moondheid bevestig en gelei tot 'n afname in Rusland se aansien en invloed in Oos-Europa. Rusland se aansienlike verliese vir 'n saak wat in 'n vernederende nederlaag geëindig het, het bygedra tot die toenemende binnelandse onrus wat gelei het tot die Russiese Rewolusie van 1905 en het Rusland se outokrasie groot skade berokken. Die oorlog was ook die eerste oorwinning van 'n Asiatiese land oor 'n Westerse mag in moderne tye.
Historiese agtergrond Modernisering van Japan Ná die Meiji-restourasie in 1868 het die Meiji-regering besluit om Westerse idees, tegnologiese vordering en oorlogvoering na te streef. Teen die laat 19de eeu het Japan verander in 'n gemoderniseerde nywerheidstaat. Japan wou as 'n gelyke van die Westerse magte beskou word. Die doel van die Meiji-restourasie was om Japan 'n moderne staat te maak, nie 'n Westerse een nie. Japan was 'n imperialistiese mag, met 'n plan om oorsee uit te brei.
thumbnail|links|upright=1.2|'n Anti-Russiese satiriese kaart deur 'n Japannese student tydens die Russies-Japannese Oorlog. In die jare 1869-'73 het die Seikanron ("Oorwin Korea-argument") die Japannese elite in twee verdeel: Een faksie wou Korea dadelik oorwin en die ander wou wag tot Japan eers verder gemoderniseer het. Niemand in die Japannese elite het ooit die idee aanvaar dat Korea die reg het om onafhanklik te wees nie; die enigste kwessie wat die faksies verdeel het, was die tyd om Korea te verower. Nes met die Europeërs se siening oor Afrika en Asië, was die "agterlikheid" van China en Korea genoeg bewys van die minderwaardigheid van dié lande, en 'n rede hoekom Japan die "reg" het om hulle te verower..
Graaf Inoue Kaoru, die minister van buitelandse sake, het in 1887 'n toespraak gelewer waarin hy gesê het: "Wat ons moet doen, is om ons ryk en ons volk te omskep, en die ryk te maak soos die lande van Europa en ons volk soos die volke van Europa." Hy het gesê die Chinese en Koreane het basies hulle reg om onafhanklik te wees ingeboet deur nie te moderniseer nie. 'n Groot deel van die druk vir 'n aggressiewe buitelandse beleid het van onder gekom, met die voorstanders van die "menseregte"-beweging wat 'n beroep gedoen het vir 'n verkose parlement en die ultranasionalistiese standpunt dat Japan die "reg" het om Korea te annekseer – die "menseregte"-beweging is gelei deur diegene wat in 1869-'73 ten gunste daarvan was om Korea te verower.
As deel van die moderniseringsproses in Japan was idees van sosiale Darwinisme oor die "oorlewing van die sterkstes" algemeen in Japan van die 1880's af en baie gewone Japannese het beswaar gehad teen die swaar belasting wat die regering ingestel het om Japan te moderniseer. Hulle het iets tasbaars geëis, soos 'n oorsese kolonie, as beloning vir hulle opofferings.
Verder is skoolseuns in die opvoedingstelsel van Meiji-Japan opgelei om soldate te wees as hulle groot is. As gevolg daarvan wou die volk oorlog hê en het hulle diplomasie as 'n swakheid beskou.
Druk van die volk Die Britse Japanoloog Richard Story het geskryf die grootste wanindruk oor Japan in die Weste was dat die Japannese volk "gedweë" instrumente van die elite was, maar eintlik het 'n groot deel van die druk vir Japan se oorloë van 1894 tot 1941 gekom van die gewone mense, wat 'n "streng" buitelandse beleid geëis het en geneig was om hulle tot betogings en sluipmoorde te wend wanneer hulle buitelandse beleid as lafhartig ervaar het.
In 1884 het Japan 'n bewindsoorname in Korea deur 'n pro-Japannese reformistiese faksie aangemoedig, wat daartoe gelei het dat Korea se konserwatiewe regering China se hulp gevra het. Die gevolg was 'n botsing tussen Chinese en Japannese soldate in Seoel.. Op dié tydstip wou Japan nie die risiko van 'n oorlog teen China loop nie, en die krisis is beëindig deur die Konvensie van Tientsin, wat Korea stewiger in die Chinese invloedsfeer geplaas het, hoewel dit Japan die reg gegee het om in Korea in te gryp. Deur die 1880's en vroeë 1890's is die regering in Tokio gereeld gekritiseer omdat hulle nie aggressief genoeg in Korea was nie.
Russiese uitbreiding ooswaarts Tsaristiese Rusland het as 'n groot keiserlike moondheid ambisies in die ooste gehad. Teen die 1890's het dit uitgebrei oor Sentraal-Asië tot in Afganistan, en ander state in die proses geabsorbeer. Die Russiese Ryk het gestrek van Pole in die weste tot die Kamtsjatka-skiereiland in die ooste. Met die bou van die Transsiberiese Spoorlyn na die hawe van Wladiwostok het Rusland gehoop om sy invloed en teenwoordigheid in die streek verder te konsolideer. In die Tsoesjima-voorval van 1861 het Rusland Japannese grondgebied regstreeks aangeval.
Eerste Chinees-Japannese Oorlog (1894-'95) thumb|220px|Chinese generaals in Pjongjang gee aan die Japannese oor, Oktober 1894.
Die eerste groot oorlog van Japan ná die Meiji-restourasie was van 1894 tot 1895 teen China: oor beheer van en invloed in Korea. Van die 1880's af was daar sterk mededinging tussen die twee lande vir invloed in Korea.. Die Koreane was geneig om faksies te vorm en was in dié tyd sterk verdeel in 'n hervormingskamp, wat vir Japan was, en 'n konserwatiewer faksie, vir China. In 1884 het China 'n pro-Japannese poging tot 'n bewindsoorname onderdruk en 'n "residensie" in Seoel gevestig. 'n Rebellie deur kleinboere het daartoe gelei dat die Koreaanse regering die Qing-dinastie gevra het om troepe na die land te stuur om dit te stabiliseer. Japan se reaksie was om sy eie troepe na Korea te stuur om 'n marionetregering in Seoel daar te stel.
China het beswaar aangeteken en 'n oorlog het uitgebreek. Dit was van korte duur: Japan het Chinese soldate op die Liaotoeng-skiereiland oorwin en byna 'n Chinese vloot uitgewis in die Slag van die Jaloerivier. Japan en China het die Verdrag van Sjimonoseki onderteken, waarkragtens die skiereiland en die eiland Taiwan aan Japan afgestaan is. Ná die verdrag het Rusland, Duitsland en Frankryk Japan gedwing om aan die skiereiland te onttrek. Japan het nie opgewasse gevoel teen 'n gesamentlike mag van die drie lande nie en het tot die ultimatum toegestem.
Terselfdertyd het Japan nie afgesien van sy pogings om Korea in die Japannese invloedsfeer in te dwing nie. Op 8 Oktober 1895 is koningin Min van Korea, die leier van die anti-Japannese en pro-Chinese faksie, deur Japannese agente vermoor, 'n daad wat lelik geboemerang het omdat dit die Koreaanse publiek teen Japan laat draai het.. Vroeg in 1896 het koning Gojong van Korea na die Russiese gesantskap in Seoel gevlug omdat hy geglo het die Japannese agente bedreig sy lewe, en Russiese invloed het in Korea begin oorheers. Kort ná die vlug van die koning is die pro-Japannese regering in 'n opstand omvergewerp en verskeie kabinetsministers is in die strate gelynch.
In 1897 het Rusland die Liaotoeng-skiereiland beset en die Port Arthur-fort gebou. Die Russiese Pasifiese Vloot is ook in die hawe gevestig. Rusland se skuif was hoofsaaklik teen Brittanje gemik om die Britse besetting van Wei-hai-Wei teë te werk, maar in Japan is dit as 'n anti-Japannese skuif beskou. Tussen 1897 en 1903 het Rusland 'n spoorlyn in Mantsjoerye gebou en Russiese troepe is daar gestasioneer om die spoorlyn teen aanvalle te beskerm. Van 1897 af het Mantsjoerye – wat in naam nog deel van die "Groot Qing-ryk" was – al hoe meer soos 'n Russiese provinsie begin lyk.
Russiese indringing In Desember 1897 het 'n Russiese vloot naby Port Arthur sy verskyning gemaak. Ná drie maande, in 1898, het China en Rusland 'n ooreenkoms bereik waarvolgens China Port Arthur, Talienwan en die omringende waters aan die Russe sou verhuur en dat die ooreenkoms deur 'n wedersydse ooreenkoms verleng kon word. Die Russe het blykbaar 'n verlenging verwag, want hulle het geen tyd verspeel om die gebied te beset en Port Arthur te fortifiseer nie. Dit was hulle enigste warmwaterhawe aan die kus van die Stille Oseaan en was van groot strategiese waarde. 'n Jaar later het die Russe, om hulle posisie te konsolideer, 'n nuwe spoorlyn, die Suid-Mantsjoeryse Spoorlyn, van Harbin deur Moekden na Port Arthur gebou.
Die ontwikkeling van die spoorlyn was 'n bedraende faktor tot die Bokseropstand, toe Boksermagte die spoorwegstasies afgebrand het.
Die Russe het ook paaie na Korea begin bou. Teen 1898 het hulle mynbou- en bosboukonsessies naby die Jaloe- en Toemenrivier bekom, wat die Japannese erg bekommer het. Japan het besluit om aan te val voor die Russe die Transsiberiese Spoorlyn voltooi.
thumb|220px|Troepe van die Agtlandeverbond in 1900, van links: Brittanje, VSA, Australië, Indië, Duitsland, Frankryk, Oostenryk-Honagerye, Italië en Japan. Bokseropstand Rusland en Japan het albei troepe bygedra tot die Agtlandeverbond wat in 1900 gestuur is om die Bokseropstand te onderdruk en die internasionale gesantskappe te bevry wat in die Chinese hoofstad, Beijing, beleër is. Rusland het reeds 177 000 soldate na Mantsjoerye gestuur, volgens hom om die spoorlyne te beskerm wat hy aan die bou was.
Hoewel die Qing-leër en die Bokserrebelle verenig het om teen die invallers te veg, is hulle gou oorwin en uit Mantsjoerye verdryf.
Ná die Bokseropstand is 100 000 Russiese soldate in Mantsjoerye gestasioneer. Ondanks versekerings dat Rusland ná die krisis sou onttrek, het hy teen 1903 nog geen tyd aangedui daarvoor nie en het hy eintlik sy posisie in Mantsjoerye versterk.
Vooroorlogse samesprekings