Die Helgaard Steyn-toekenning, ook bekend as die Helgaard Steyn-prys is ’n toekenning wat aan kunstenaars van woord, beeld en musiek gemaak word en is die grootste private prys vir kunste in Suid-Afrika. Die toekenning word deur die Helgaard Steyn Trust gemaak.
Die Helgaard Steyn Trust Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die boedel van dr Jan Steyn, in lewe LV vir Potchefstroom en direkteur van maatskappye in die Rembrandt Groep. Die Trust is vernoem na sy vader, ’n voormalige LPR van Bloemfontein en jonger broer van die laaste republikeinse president van die Oranje-Vrystaat, M.T. Steyn.
Die Trust het ten doel die bevordering van die Kunste en die bewaring van Vrystaatse plaaseiendomme. Die helfte van die opbrengs uit die huurgeld van die Trust se plase word jaarliks aangewend vir die Helgaard Steyn Toekenning ter bevordering van Die kunste. Die toekenning word vierjaarliks om die beurt aan die beste komponis, kunsskilder, Afrikaanse skrywer en beeldhouer toegeken.
’n Beoordelaarspaneel van drie persone met een beoordelaar elk wat deur die Universiteit van die Vrystaat en die Noordwes-Universiteit aangewys word en die derde deur die twee aangewese beoordelaars, word versoek om ’n wenner vir die betrokke jaar se prys aan te wys. Die beoordelaars maak die toekenning aan enige Suid-Afrikaans-gebore kunstenaar wat in die vier jaar voor die toekenning ’n kunswerk gelewer het wat die mees verdienstelike werk in die betrokke dissipline is en wat publiek toeganklik bewaar word.
Toekennings Skilderkuns 1987 – Pippa Skotnes vir Lament (1985) 1991 – Nel Erasmus vir Jazz Baby Spent Autumn 1995 – Robert Hodgins vir South African Summer, all this is so and yet (1992) 2003 – Cyril Coetzee vir T’kama - Adamastor 2007 – Bronwyn Findlay vir All about everything (2006) 2011 – Pauline Gutter vir Silenced I
Letterkunde 1988 – Karel Schoeman vir ’n Ander Land 1992 – John Miles vir Kroniek uit die doofpot 1996 – Breyten Breytenbach vir Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (1993) 2000 – John Kannemeyer vir Leipoldt: ’n Lewensverhaal 2004 – Dan Sleigh vir Eilande 2008 – Marlene van Niekerk vir Agaat (2004) en Hermann Giliomee vir Die Afrikaners (2004) 2012 – PG du Plessis vir Fees van die Ongenooides 2016 – Willem Anker vir Buys 2024 – Antjie Krog vir Plunder (2022)
Beeldhoukuns 1989 – David Brown vir Voyage II 1993 – Jackson Hlungwani vir Tiger Fish II, Adam and the birth of Eve, Large Cruciffix, God and Christ, Michael Star en Altar of God 1997 – Gert Swart vir Grace (1996) 2001 – Willem Boshoff vir Blind Alphabet ABC 2005 – Jan van der Merwe vir Showcase (2003) 2009 – Adrita Wentzel vir Aspects of the dark other 2013 – Wim Botha vir Blastwave (2010) 2017 – Angus Taylor vir Dionysus (2017)
Komponis 1990 – Roelof Temmingh vir Drie Sonette 1994 – Peter Klatzow vir From the Poets 1998 – Stefans Grové vir Afrika Hymes II 2002 – Roelof Temmingh vir Kantate wenn wir hochsten noten sein 2006 – Roelof Temmingh vir Kantorium 2010 – Hans Huyssen vir Proteus Variations (2006)
Verwysings
Eksterne skakels Tuisblad van die Helgaard Steyn Trust
Kategorie:Suid-Afrikaanse letterkundige toekennings Kategorie:Afrikaanse letterkunde