Met sigvermoë word bedoel die vermoë van mense en diere om lig waar te neem.
Laer diere, soos eensellige diere en erdwurms, reageer op verskille in ligintensiteit en donkerte met behulp van ligsensitiewe selle (fotoreseptors). duimnael|Iris van die oog Die volgende stap in die ontwikkeling is die bewustheid van die rigting waaruit die lig kom. Dit is moontlik wanneer die ligsensitiewe selle deur pigmentselle gedeeltelik teen die invallende lig beskerm word. Ingewikkelder oë, soos die kameratipe oog van die Nautilus, die lensoog van onder meer werweldiere en die saamgestelde oog van geleedpotige diere, maak die waarneming van beweging en beelde moontlik.
Deur die klein oogopening van die kameratipe oog word 'n omgekeerde en swak beeld op die netvlies gevorm; die lensoog kan vanweë die feit dat die lens die ligstrale breek (straalbreking), ook by 'n groter ligopening (van die pupil) 'n skerp en helder beeld op die netvlies werp. Om 'n voorwerp op verskillende afstande skerp te sien, pas hierdie tipe oog hom daarby aan (deur akkommodasie).
Die waarneming van kleur berus op die vermoë om tussen verskillende golflengtes van lig te kan onderskei (binne 'n bepaalde golflengtegebied). Die keëlvormige reseptors in die netvlies is hiervoor verantwoordelik; die stafies reageer alleenlik op verskille in ligsterkte. By die mens en by diere wat 'n prooi vang, is die oë naby mekaar geleë sodat 'n voorwerp deur twee oë gelyktydig waargeneem word (vanuit 'n effens ander hoek). Mens en dier kan so diepte waarneem.
Visuele waarneming by diere duimnael|'n Tier se oog Byna alle diere reageer op ligprikkels. So word eenselliges (Protozoa) soos die Stentor en die Amoeba deur lig afgestoot (negatiewe fototaksis) en ander, soos die Euglena, deur lig aangetrek (positiewe fototaksis). Een- en meersellige diere neem ligprikkels waar deur middel van lig- of fotoreseptor. Hierdie selle kan baie verskil wat bou en vorm betref, maar by alle diere en die mens funksioneer hulle volgens dieselfde beginsel; ligenergie veroorsaak 'n chemiese verandering in die ligsensitiewe pigment, waarna die fotoreseptor 'n impuls na 'n senusel oord ra. Fotoreseptors reageer meestal uitsluitlik op lig met 'n golflengte van 350 tot 700 nanometer. Infrarooi lig (λ700 nanometer) bevat nie genoeg energie om die chemiese reaksies in die fotoreseptor vinnig genoeg te laat verloop nie. Straling met 'n golflengte korter as 350 nanometer (ultraviolet, UV) is weer so energieryk dat die fotopigment daardeur verniel word. 'n Klein aantal diere, waaronder die by, kan wel infrarooi waarneem (korter as 350 nm), en groefkopadders kan met behulp van 'n hittegevoelige sintuig (onder die eintlike oog geleë) infrarooi strale waarneem.
Tipes fotoreseptors Eensellige diere het die eenvoudigste fotoreseptors in die vorm van 'n oogvlek (stigma). Meersellige diere het primêre sintuigselle. By die erdwurm (Lumbricus terrestris) is die sintuigselle onder en in die deursigtige epidermis (opperhuid) geleë. Die dier kan hiermee verskille in ligsterkte waarneem, maar nie die rigting nie. Die bepaling van ligrigting word moontlik wanneer pigmentselle agter die sintuigselle geleë is, sodat die pigmentselle nie van agter belig kan word nie. Dit is onder meer die geval by die seedier Branchellion, die bloedsuiertjie. Ligrigting word nog beter bepaal wanneer die sintuigselle in bekervormige pigmentselle geleë is, soos by die trilhaarwurmpie Polyeelis. By die trilhaarwurm Planaria kom 'n saamgestelde pigmentbekeroog voor, waar groter pigmentselle 'n aantal sintuigselle omring. Een oog kan só verskillende ligrigtings onderskei. Die groefoog en die bekeroog wat by slakke (onder meer Patella), seesterre en jellievisse voorkom, besit ook hierdie vermoë.
By die wulk ('n soort seeslak, Buccinum) vorm die pigmentselle van die oog 'n vloeistof wat die holte van 'n blasie vul en verhard tot 'n lensvormige liggaam, die blaasoog.
Beeldvormende oë By die primitiewe inkvis Nautilus kom 'n kameratipe oog voor. Dit kan as 'n "verbetering" op die reeds genoemde tipes oë beskou word. Dié inkvis het 'n bekeroog met 'n nou sigopening waardeur 'n omgekeerde beeld op die netvlies gevorm word.
Die lensoog, wat 'n groter sigopening as die kameratipe oog het, is die sterks gedifferensieerde oogtipe. In die opening is 'n lens wat, saam met ander lig brekende onderdele van die oog, 'n skerp en helder beeld op die netvlies (retina) werp. Lensoë kom by inkvisse en werweldiere voor.
Die netvlies van werweldiere is meerlagig; die sintuigselle lê met hulle prikkelsensitiewe gedeelte weg van die lig af (inverse retina) en die pigment is in 'n spesiale pigmentepiteel geleë. By die inkvis het die netvlies ʼn enkel laag en die prikkelsensitiewe deel is na die lig gerig (everse retina). Die pigment is in die sintuigselle self geleë.
Akkommodasie Om 'n skerp beeld op die retina te behou, moet die oog hom aanpas namate 'n voorwerp nader kom of verder weg beweeg - 'n proses bekend as akkommodasie. By visse en amfibieë word akkommodasie verkry deur lensverplasing. Visse leef in 'n redelik ondeursigtige milieu met dreigende gevaar altyd naby. In 'n toestand van rus is die vis se oog dan ook op 'n naby afstand ingestel. As 'n voorwerp verder weg waargeneem moet word, word die lens na die netvlies teruggetrek. By amfibieë is die oog ingestel op 'n afstand van meer as 5 m. Wanneer 'n nabygeleë voorwerp bekyk word, moet die lens vorentoe verplaas word.
By reptiele (slange uitgesonder). voëls en soogdiere word akkommodasie verkry deur die wysiging van die lens se vorm. Hul oë is in 'n toestand van rus ingestel om ver te sien. Die verandering van die lensvorm vind plaas met behulp van 'n kringspier. As die akkommodasiespier by reptiele en voëls saamtrek, word die lens " ingesnoer". met ander woorde dit word meer gebuig. By roofvoëls, waar goeie sig tydens jag op 'n prooi belangrik is, geskied akkommodasie egter meer deur die wysiging van die horingvlies (kornea) as deur die verandering van die lensvorm. By soogdiere is die lens in die rustende toestand afgeplat deur die saamtrekking van die suspensoriese ligament. Met akkommodasie vir naby kyk ontspan die suspensoriese ligament en die lens word bolvormiger as gevolg van sy elastisiteit. By baie soogdiere, byvoorbeeld rotte en beeste, is die akkommodasiespiere swak ontwikkel en hierdie diere is permanent versiende. Akkommodasie deur wysigings van die oogdiepte kom by slange en inkvisse voor. Hul oogbal kan met behulp van 'n kringspier dieper gemaak word .
Die saamgestelde oog duimnael|'n Insek se saamgestelde oê Akkommodasie vind nie by 'n ander tipe beeldvormende oog, soos die saamgestelde of fasetoog, plaas nie. Dié oog is saamgestel uit 'n aantal enkelvoudige oë (ommatidiums). Saamgestelde oë kom voor by alle geleedpotige diere, met uitsondering van die spinnekopagtiges, enkele insekordes en inseklarwes. Hierdie diere het enkelvoudige oë, bekend as oselli (enkelvoud osellus). Soos die saamgestelde oog, kan die osellus nie beweeg word nie. Die oë is by spinnekoppe sterk ontwikkel, maar die diere kry waarskynlik 'n baie onduidelik beeld van hul omgewing deurdat die lens onvolmaak is en daar betreklik min sintuigselle in die oog is.
Beeldkwaliteit Die oog van gewerwelde diere - en veral dié van voëls is die gevorderdste en volmaakste gesigsintuig. Die oog kan egter net 'n reeks impulse oordra na die breinselle, waar die dier van die impulse bewus word, dit herken en met ander gewaarwordinge assosieer. 'n Organisme met 'n primitiewe senustelsel sal dus met die volmaakste oog nie meer inligting uit die ligprikkels kan haal nie as "daar is lig" of "daar beweeg iets". Die reaksies op prikkels uit die omgewing is ook meer beperk in vergelyking met dié van 'n organisme met 'n hoër ontwikkelde senustelsel.
Gesigskerpte By alle diere met lensoë is die reseptorselle van die netvlies ewe groot, afgesien van hoe groot of klein die oog is. Die groter oog sal egter 'n groter beeld op die netvlies werp, en so sal meer reseptorselle deur die beeld geprikkel word. Die voorwerp sal dus in meer detail waargeneem en ontleed kan word - dit wil sê die skerpte van die sigvermoë neem toe namate die oog groter word. Die grootste lensoë kom voor by die groot inkvissetot 300 mm in deursnee. Klein diere het groot oë in verhouding tot hul liggaamsgrootte. Katte se oë is in verhouding groter as dié van leeus. Die grootte van die oog word ook bepaal deur die feit dat sekere diere op hul oë aangewese is om te oorleef (soos voëls), of op hul reuksintuie (soos soogdiere). So het die volstruis groter oë as 'n perd, wat 5 maal so swaar is.
'n Saamgestelde oog met ʼn groot aantal ommatidiums sal ook 'n meer gedetailleerde mosaïekbeeld gee as 'n klein saam gestelde oog. Sommige miere het maar 6 ommatidiums per oog, terwyl die naaldekoker 28 000 het. By vlieënde insekte lê die krag van hul oë in die waarnemingsvermoë per tydseenheid. Naaldekokers kan byvoorbeeld 100 tot 220 afsonderlike ligprikkels per sekonde waarneem, terwyl werweldiere (voëls uitgesonder) prikkels wat mekaar vinniger as 12-40 per sekonde opvolg, nie afsonderlik kan waarneem nie; die prikkels smelt saam of "slaan oormekaar". Voëls kan waarskynlik tot 150 prikkels per sekonde verwerk, dit wil sê afsonderlik waarneem.
Kleurwaarneming Die vermoë om die verskillende golflengtes van lig - dit wil sê kleure - te onderskei, is aangetoon by werweldiere, inkvisse, sommige soorte krewe en die meeste soorte insekte; by soogdiere is die vermoë net by mensape en sommige ander ape goed ontwikkel. By insekte is aangetoon dat elke reseptorsel van 'n ommatidium 'n ander kleurgevoeligheid het. Enkele selle is vir geel gevoelig, ander vir blou of ultraviolet lig. Behalwe die kleur kan baie insekte ook die polarisasierigting van lig waarneem. Dit wissel met die stand van die son en word deur insekte gebruik by rigtingbepaling of navigasie.
Stereoskopiese sigvermoë Dié vermoë kom voor by die mens en by roofdiere, waar die oë voor in die kop is, soos by luiperds, valke, uile en die snoek. Albei oë vorm gelyktydig elk 'n effens ander beeld van 'n voorwerp en die kombinasie van die beelde in die brein gee 'n stereoskopiese beeld van die voorwerp. Dit word veral gebruik vir die raming van afstand. Diere met oë aan die sykante van die kop kan afstand alleenlik skat deur die skynbare grootte van die voorwerp en deur die oog te beweeg, en so die voorwerp van verskillende rigtings af te bekyk. Die oë van hierdie diere neem ook 'n groot of wye blikveld in, dit is die gebied wat met bewegende oë en die kop stil gesien kan word. By sommige diere, soos sekere voëls, slaan die blikvelde van die twee oë voor sowel as agter die kop oormekaar. Die panoramiese blikveld is veral van belang vir prooidiere wat van alle kante deur gevaar bedreig word.
Die gesigsorgaan van die mens Anders as die mens se ander sintuie is sy gesigsorgaan (die oog) die bes ontwikkelde in die natuur. Die mens se gesigsveld, dit wil sê die gebied wat 'n mens kan sien sonder om die oog te beweeg, is egter beperk, aangesien die twee oë naas mekaar geleë is. Dit beteken ook dat die hele gesigsveld deur albei oë gelyktydig gesien word. Dit is van belang by stereoskopiese (ruimtelike) gesigswaarneming.
Die oog bestaan hoofsaaklik uit die oogbal met sy uitwendige aanhangsels soos die oogspiere, die oogsenuwee, ooglede en traankliere.
Oogbal