Die mens, alle soogdiere en 'n aantal ander lewendbarende diersoorte lê nie eiers nie, maar hul babas word lewend gebore. Die geboorteproses kan soms heelwat komplikasies hê, maar hou meestal nie gevaar in vir die moeder of die kind nie. Dit is wel 'n ingrypende gebeurtenis wat deur talle faktore gereguleer word. Hormone, net soos psigiese faktore, speel byvoorbeeld hier 'n baie belangrike rol. Die soogdiere kan in twee groepe ingedeel word, naamlik die unipare en die multipare soogdiere. By eersgenoemde groep word slegs een kleintjie op 'n keer gebore en die kleintjie is onmiddellik na die geboorte in staat om te loop en self aan sy moeder te drink. Die kleintjies van multipare soogdiere is 'n lang tyd na hulle geboorte totaal afhanklik van hul ouers se sorg en word gewoonlik blind en doof gebore.
Diere duimnael|Koei wat geboorte gee. Stap vir stap Omdat die geboorteproses by die meeste diere gewoonlik vlot verloop, vergeet 'n mens dikwels hoe ingewikkeld hierdie proses werklik is. Uit ‘n veilige wêrel binne-in die baarmoeder word die kleintjie skielik in 'n (vir hom) vyandige wêreld gewerp.
Die aanvoer van suurstof en voedsel deur middel van die plasenta word beëindig en die kleintjie se eie longe moet direk ná geboorte begin funksioneer. Die opening (foramen ovale) wat tot nou toe tussen die twee hartatria teenwoordig was, sluit dan. Die regstreekse verbinding tussen die longslagaar en die dorsale aorta (die ductus arteriosus) word verbreed en die longe maak vir die eerste keer deel uit van die bloedsirkulasie.
Unipare en multipare soogdiere Sommige soorte soogdiere skenk aan slegs een kleintjie geboorte (unipare soogdiere) terwyl ander soorte aan meer as een kleintjie per werpsel geboorte gee (multipare soogdiere). Die meeste hoefdiere, seeleeus, robbe, walvisagtiges, ape en vlermuise is unipaar. Die landroofdiere, knaagdiere, varke en inseketers is almal muItipaar.
Die kleintjies van multipare soogdiere is na hulle geboorte nie in staat om vir hulself te sorg nie (nesblyers). Kleintjies van multipare soogdiere het gewoonlik groot koppe en hul pote is nog nie volledig ontwikkel nie. Die pasgebore kleintjies is blind en doof en hulle het nie 'n pels nie, of dit bestaan net uit enkele haartjies. In teenstelling hiermee is die kleintjies van unipare diere in groot mate selfstandig sodra hulle gebore word. Die pels en sintuie is goed ontwikkel en die kleintjies is in staat om sy moeder te volg (nesvlieërs).
Nesbou Voordat die kleintjies gebore word, bou baie multipare diere 'n nes vir dié doel. So grawe die konyn byvoorbeeld 'n gat met 'n lang gangetjie en 'n ronde kamertjie aan die einde daarvan. Die wyfiekonyn voer die nes met haartjies van haar eie pels uit. Sowat vyf dae voor die geboorte skei die wyfie se liggaam 'n hormoon af wat 'n belangrike rol speel by die geboorteproses, maar ook van haar hare laat loskom.
Die wyfie pluk die haartjies uit haar pels en bring dit na haar nessie. Hierdie "plukgedrag" is 'n unieke eienskap van die konyn. Die geboorte self duur slegs enkele minute en 'n werpsel van 8 kleintjies kan in minder as 10 minute gebore word. Die moeder lek haar kleintjies skoon en eet die nageboorte op, waarna sy die nes verlaat. Sy kom dan slegs een maal elke 24 uur terug om haar kleintjies te soog. Die pelshare waarmee die nessie uitgevoer is, sorg dat die kleintjies warm gehou word terwyl die moeder weg is. As hierdie donsies verwyder word, sterf die kleintjies gewoonlik.
Die geboorte van honde en katte duur langer. Daar is ook gewoonlik 'n rusperiode tussen die geboorte van die verskillende kleintjies, wat kan wissel tussen 5 minute en 1 uur. Rotte en muise het ook meer tyd vir hul geboortes nodig as konyne. Omtrent alle nesblyers eet die plasenta op, terwyl hierdie verskynsel ook by sommige unipare soogdiere, wat dikwels planteters is, aangetref word. Na alle waarskynlikheid word dit gedoen om alle tekens van die geboorte uit te wis en roofdiere van die geboortepiek weg te hou. Diere soos byvoorbeeld die walvis, wat in die water geboorte gee, hoef nie die plasenta op te eet nie omdat dit deur die water weggespoel word.
Baring Geboortes in die vrye natuur word redelik selde waargeneem. Selfs in wildreservate is die kans dat 'n mens 'n geboorte sien plaasvind, seldsaam. Die mofhartbees en die olifant baar in die teenwoordigheid van die kudde. Gewoonlik sal dragtige diere hulle egter van die kudde afsonder en 'n veilige plek soek om te baar. Die waarneming van die geboorte van 'n edelhert in 'n reservaat het daarop gedui dat baring ook baie inspanning en uithouvermoë van 'n dier verg. Eers 'n uur nadat die kontraksies begin het, het die kalfie se neus verskyn. Die kleintjie se voorpote het eerste verskyn. Hierdie posisie van die kleintjie, met sy kop op sy gestrekte voorpote, is kenmerkend vir alle hoefdiere. In hierdie posisie is die kanse groot dat die geboorte sonder enige hulp suksesvol kan verloop. Tydens die laaste stadium van uitdrywing het die hert in 'n staande posisie baie kragtig begin druk en ná enkele minute het die kalfie op die grond geval. Die naelstring breek vanself sonder dat die dier enige bloed verloor. Hierdie verskynsel sien 'n mens by alle hoefdiere waar 'n breuklyn in die naelstring teenwoordig is. Onmiddellik na die geboorte lek die moeder haar kleintjie droog en skoon. Daarbenewens stimuleer die gelek ook die kleintjie se asemhaling. Die moeder en haar kleintjie leer mekaar ook in hierdie periode ken (fiksasie). By die geboorte van die edelhert het die nageboorte ongeveer 45 minute ná die geboorte verskyn en die moeder het dit onmiddellik opgeëet.
Regulering van die geboorte Aan die einde van die dratyd, wat van soort tot soort verskil, begin die geboorte. Die baarmoeder, wat tydens die dratyd rustend is, begin kragtig saamtrek. Terselfdertyd verslap die baarmoedernek, wat tot dan gesluit was.
Die regulering van die werking van die baarmoeder word in 'n groot mate deur hormone beïnvloed. As konyne met die hormoon progesteroon ingespuit word, kan die dratyd verleng word, hoewel dieselfde hormoon egter geen uitwerking op die dratyd by skape het nie.
Dierkundiges het vasgestel dat baring begin sodra die afsluitingseffek van die progesteroon beëindig word. Koeie skei gewoonlik net voor die aanvang van die geboorte 'n verhoogde hoeveelheid van die hormoon estrogeen af. Estrogeen onderdruk waarskynlik die sintese van progesteroon en stel die baarmoeder in staat om saam te trek. In hierdie stadium reageer die baarmoeder ook op meganiese prikkels en op die hormoon oksitosien, wat deur die hipofise afgeskei word. Dié hormoon beïnvloed die spiersametrekking. Hoewel 'n mens sou dink dat die meeste oksitosien aan die begin van die baringsproses afgeskei moet word, word die meeste oksitosien egter afgeskei wanneer die kontraksies begin. Hierdie reflektoriese afskeiding van die hormoon, asook die drukrefleks, word deur die rekking van die baarmoedernek en die vagina, asook die organe by die bekkeningang, veroorsaak. Die laaste fase van die proses verloop baie vinnig omdat die suurstofvoorsiening aan die fetus moontlik te laag kan daal.
Emosionele faktore speel ook 'n rol in die geboorteproses. Merries kan byvoorbeeld die geboorte vertraag as daar mense in die nabyheid is. Menige boer het al ure lank tevergeefs by 'n merrie gewaak en die vulletjie is dan gebore terwyl hy vir 'n oomblik sy rug gedraai het. Hierdie verskynsel kom nie net by perde nie, maar by verskeie ander diersoorte voor. Alle dragtige diere soek 'n rustige en veilige plek op wanneer hulle wil begin baar. As die rus verstoor word, kan dit die werking van die baarmoeder so rem dat die baringsproses 'n tyd lank vertraag kan word. In die natuur is hierdie verskynsel van wesenlike belang. Angs vir 'n naderende roofdier gee daartoe aanleiding dat die baarmoeder in so 'n mate verslap dat die geboorte onderbreek word en die dier op die vlug kan slaan.
Benewens hormone het die metabolisme, die dag- en nag ritmes en die senustelsel ook hier 'n belangrike funksie. As die dier rustig is, is die parasimpatiese senustelsel oorheersend en geboorte kan in hierdie tyd gou en gemaklik verloop. As gevolg hiervan skenk die meeste diere geboorte gedurende die tyd waarin hulle gewoonlik rus. So word hamsters bykans altyd in die dag gebore, terwyl vulletjies in die nag gebore word. Die meeste babas word ook snags gebore wanneer die moeder se liggaam in 'n ontspanne toestand is.
Die mens
Swangerskap duimnael|Menslike embrio - 8 weke oud Swangerskap is die tydperk in 'n vrou se lewe waarin sy die draer is van 'n bevrugte eier, wat in 'n embrio en daarna in die fetus ontwikkel. Gedurende die swangerskap ondergaan die moeder se liggaam baie veranderinge. Die swangerskap duur gewoonlik sowat 40 weke en die eerste simptome is die afwesigheid van menstruasie. Die bevalling geskied gewoonlik in drie fases. Tydens die ontsluitingsperiode word die onderste deel van die baarmoeder as gevolg van kontraksies oopgerek. Die nou baarmoedernek gaan oop en die baba kan deurbeweeg. Laasgenoemde vind gewoonlik onder die invloed van die kontraksies tydens die uitdrywingsfase plaas. In die nageboortestadium word die plasenta deur die uterus uitgewerp. Gewoonlik lê die fetus in die lengte en die agterkop sal eerste sy verskyning uit die baarmoeder maak. As 'n ander deel van die baba se kop, of selfs die stuit, eerste verskyn, moet spesiale maatreëls dikwels getref word. As die baba dwars lê, is 'n normale geboorte onmoontlik. Indien die geboorte om die een of ander rede versnel moet word, kan die uitgang van die geboortekanaal geknip word om dit te vergroot. In ander gevalle sal die verloskundige besluit om die baba met behulp van instrumente uit te help. As die baba nie by die moeder se bekken kan verbybeweeg nie, word 'n keisersnee gewoonlik gedoen. Met 'n keisersnee word die buikwand en die uterus oopgesny en die baba word uit die uterus gehaal. 'n Normale bevalling kan deur 'n verloskundige, vroedvrou of huisdokter waargeneem word en kan selfs tuis plaasvind. As daar egter 'n moontlikheid bestaan dat komplikasies kan intree, moet die swangerskap en die bevalling onder toesig in 'n hospitaal verloop. 'n Nuwe individu begin sy bestaan van die oomblik van bevrugting af, wanneer 'n saadsel met 'n eiersel versmelt. Die bevrugte eiersel beweeg van die eierstok na die baarmoeder, waar dit aan die slymvlies vasgeheg word. Met hierdie vashegting ontstaan daar 'n verwantskap tussen die vrug en die moederlike organisme en 'n mens kan van hierdie oomblik af van swangerskap praat. Die bevrugte eiersel ontwikkel verder in die slymvlies van die baarmoeder om eers 'n embrio en later 'n fetus met vrugvliese, naelstring en plasenta te vorm. Die vrugvliese (die chorionvlies aan die buitekant en die amnionvlies aan die binnekant) vorm 'n ballonvormige blaas waarin die embrio vryelik kan rond beweeg.