duimnael|270x270px|Die engel van die Noorde deur Antony Gormley, 1998 Die beeldhoukuns is een van die oudste uitdrukkingsvorme van die beeldende kunste en kom voor in feitlik alle kulture in die verlede en in die hede. Waar 'n skilder en 'n grafiese kunstenaar met 'n gelyk oppervlak te make het, skep die beeldhouer sy werk in 'n bepaalde ruimte. Daar is vandag feitlik geen beperking op die soort materiaal wat die beeldhouer gebruik nie. Danksy die moderne tegnologie, kan die beeldhouer vry eksperimenteer met yster, staal, sintetiese stowwe en selfs met items wat vir die meeste miskien onbruikbaar en nutteloos is. Daarbenewens is daar ook die meer tradisionele materiaal soos klip, marmer, hout en brons.
Algemeen Beeldhoukuns kan breedweg in 'n paar kategorieë ingedeel word: Daar is beelde wat spesifiek geskep word om in 'n ruimte geplaas te word, soos standbeelde - met of sonder voetstukke - borsbeelde en mobiele skeppings, wat gedeeltelik of in die geheel beweeglik is. 'n Ander kategorie is die beeldhouwerke wat slegs van een kant af besigtig kan word, soos dié wat teen 'n muur geplaas word, of in 'n muur, soos die Italië beelde van Christus aan die kruis of die beeldhouwerke wat vir nisse in geboue bedoel is.
Reliëfwerke vorm 'n derde kategorie. Dit is soos "skilderye" in klip, en dien meestal ter versiering van geboue. Gewels behoort ook tot die groep. As die figuur op die reliëf ver uitstaan, word van haut-reliëf (of hoogreliëf) gepraat; as die figure baie vlak is, van basreliëf (of vlakreliëf) en as die voorstelling heeltemal in die materiaal versink is, van versonke reliëf. Laasgenoemde vorm het feitlik net by die Egiptebeeldhoukuns nare voorgekom. 'n Vorm tussen hoog- en vlakreliëf is demireliëf (halfreliëf). duimnael|270x270px|Assiriese Reliëfwerk hekoppasser van Khorsabad, c. 800-721 BCE
'n Eietydse soort beeldhouwerk is die sogenaamde speelskulptuur. Dit is spesiaal vir kinders ontwerp en wel só dat hulle daarin, daarom of daarop kan speel. Daar is feitlik geen beperking op die grootte van 'n beeldhouwerk nie. Die materiaalsoorte is ewe uiteenlopend en die kunstenaar het geheel en al 'n vrye keuse wat dit betref. Waar die kunstenaar oorspronklik hoofsaaklik met klei, ivoor, been, hout en klip en later met brons gewerk het, het daar met verloop van tyd nog talle ander media bygekom, soos glas, yster, staal, gewapende beton, sement, sintetiese stowwe, ens. Soms maak die kunstenaar letterlik van optelgoed gebruik, soos metaalstawe, balletjies, geroeste ystervoorwerpe en dies meer. Daar is selfs vir die mis van diere 'n funksie gevind. Sommige kunstenaars meng dit byvoorbeeld met klei om te voorkom dat die klei bars of kraak. Ander hulpmiddels, soos water en tekstiel, word dikwels gebruik.
Dit kan 'n wesenlike funksie vervul in die artistieke geheel. So kan die besondere eienskappe van sekere materiaalsoorte benut word om die besondere effek wat die beeldhouer wil bereik, te verhoog. In dié verband is daar byvoorbeeld die kleur van 'n steen of 'n klip, die besondere grein van 'n houtsoort, die voorkoms van oksidasie by sommige metaalsoorte (die groen aanslag by brons of die roes van yster), of die vorm van 'n sekere skulp. Die moderne werkmetodes maak die moontlikhede vir die beeldhouer feitlik onbeperk.
By die ou kulture is beeld houtwerke meestal geverf, soos byvoorbeeld in antieke Griekeland en ook in Europa tydens die Middeleeue. Dié gebruik het met die tyd heeltemal uitgesterf, ofskoon dit deesdae weer in enkele gevalle toegepas word wanneer die kunstenaar 'n bepaalde effek wil bereik.
Geskiedenis
Voorgeskiedenis Die oudste beeldhouwerke waarvan ons kennis dra, dateer uit die voorgeskiedenis. Hulle is afkomstig uit Sentraal-Europa en het in die Steentydperk ontstaan. Die beelde - meestal van horing of klip- is kleinerig en is met behulp van vuursteengereedskap gebeeldhou. Die Venus van Willendorf is 'n bekende voorbeeld. Dit is van kalksteen gemaak en kan vandag in die Museum van Natuurlike Geskiedenis in Wenen, Oostenryk, gesien word. Dit is omstreeks 15000 -10000 v.C. gemaak. Vir die prehistoriese mens het sy kuns 'n godsdienstige betekenis gehad en dit was dikwels vir hom iets met bonatuurlike kragte. Vir hom was daar 'n baie noue verband tussen die werklikheid en die beeld wat hy skep. Kragte wat hy nie kon verklaar nie, soos bliksemstrale, die son en vrugbaarheid, het hy deur middel van sy kuns probeer uitbeeld. Volke wat landbouers was, het dikwels son- en reëngode verbeeld, terwyl die jagtersvolke afbeeldings van diere gemaak het.
Oudheid In die Oudheid – vanaf ca. 3000 v.C. tot ca. 400 n.C. - het verskillende groot kulture ontwikkel, elk met 'n eie kuns; eers in Egipte en Mesopotamië, later in Griekeland en Italië. Groot ryke en stede het ontstaan. Talle oorblyfsels van geboue het bewaar gebly: paleise vir die konings, tempels vir die gode, grafmonumente en ook gewone huise. Uit hierdie periode het ook talle beelde van alle groottes bewaar gebly. Dit het dikwels as versiering van geboue gedien.
Oud-Egipte duimnael|300x300px|Die sterwende Galliër, of Die sterwende Fransman Die Egiptiese Ryk het omstreeks 3000 v.C. tot stand gekom. Baie beeldhouwerke uit dié tyd is gevind, byvoorbeeld beelde uit die grafte van konings, soos die dubbelportret van koning Rahotep en sy vrou (omstreeks 2610 v.C.). Dit is pragtig beskilder en is tans in die Egiptiese Museum in Kaïro te sien.
Die veelkleurige beeld van koningin Nefertiti (ca. 1365 v.C.) word in Wes-Berlyn bewaar. Die Egiptenare se kultuur is deur hul geloof in die lewe na die dood oorheers, en beelde wat in die graf te van konings gevind is, hou hiermee verband. Hulle het geglo dat die lewensgetroue beeld van die afgestorwe koning (= farao = god) hom sou help om ná die dood te bly leef. Dit is dus nie so eienaardig nie dat een van die Egiptiese benamings vir 'n beeldhouer "hy wat lewend hou" beteken. Egiptiese beelde uit hierdie tydperk was feitlik altyd blokvormig, en moet van al vier kante bekyk word. Mense is nog steeds baie staties afgebeeld.
Mesopotamië In teenstelling met Egipte, waardieselfde ryk eeue lank feitlik onveranderd bly bestaan het, het verskillende ryke mekaar in Mesopotamië opgevolg: Sumerië (ca. 3000 - ca. 1600 v.C.), Babilonië (tot ca. 1000 v.C.) en Assirië (tot ca. 600 v.C.). Daar was ook dikwels oorlog, waarvan daar baie afbeeldings gevind is, soos byvoorbeeld die Assiriese reliëfs in die paleis van koning Asjoerbanipal in Ninevé (tans Koejoenjik). Hierdie reliëfs, uit ca. 650 v.C., word in die Britse Museum in Londen bewaar. Die beelde uit Mesopotamië is ook blokvormig, soos die Egiptiese beelde.
Argaïese Kuns Onder Argaïese kuns word verstaan die voor Griekse kuns wat op die eilandgroep die Ciklade, op die eiland Kreta en op die Griekse skiereiland Peloponnesos ontwikkel het. Oorblyfsels van die Cikladiese beeldhoukuns wat in grafkelders gevind is, is klein vrugbaarheidsbeeldjies van marmer: klein gestileerde vrouefiguurtjies. Van die Minoïese kuns - vernoem na koning Minos van Kreta - is terracotta-beeldjies van vroue (godinne of priesteresse) met lang, wye rokke aan en slange in hul hande, ontdek. Dit dateer uit omstreeks 1600 v.C. Uit dieselfde tyd kom ook die goue en silwermaskers wat in grafte in Micene op die Peloponnesos gevind is.
Oud-Griekeland Teen 1000 v.C. het vreemde, onontwikkelde stamme Griekeland uit die noorde binnegekom, onder wie die loniërs en die Doriërs. Hul beeldhouwerke was aanvanklik eenvoudig en strak soos dié van die ou Egiptenare. Die "kouroi" (naakte seuns) is goeie voorbeelde van hierdie vroeg-Griekse beeldhouwerk. Baie van dié beelde het bewaar gebly.
Die bloeitydperk van die antieke Griekse kuns was tussen 500 en 350 v.C. Beelde uit hierdie periode was vir latere beeldhouers voorbeelde van skoonheid en perfeksie. Weens die goeie kennis van die anatomie, kon die menslike liggaam in alle houdings verbeeld word, en 'n dinamiese effek is daardeur verkry. Phidias (ca. 445 v.C.). die skepper van die beeld van Zeus wat later verlore gegaan het en in die Oudheid as een van die sewe wêreldwonders beskou is, was een van die bekendste beeldhouers uit hierdie tyd. 'n Ander bekende beeldhouer was Praxiteles (ca. 350 v.C.), van wie slegs een beeld, die bekende Hermes, bewaar gebly het. Ongelukkig het die meeste oorspronklike Griekse beeldhouwerke uit hierdie tyd, meestal van brons, verlore gegaan, en vandag is daar slegs die marmerkopieë wat die Romeine 'n paar eeue later gemaak het.
Oud-Italië In hierdie tyd het daar 'n bevolkingsgroep, die Etruskiërs, in Italië gewoon wat beelde van terracotta (gebakte klei) gemaak het. Soms was 50 'n beeld meters hoog, en om dit te kon bak, moes 'n spesiale oond daaromheen gebou word. Baie bekend is die Apollo van Vei en 'n sarkofaag van 'n egpaar uit Cerveteri (uit onderskeidelik 510 en 540 v.C.). Die hoogtepunt van die Etruskiese kultuur lê tussen 700 en 500 v.C. Daarna het stad na stad onder Romeinse heerskappy gekom.
Die Romeine het uit die verowerde gebiede kunsskatte versamel en toe Griekse beeldhouers na Rome gebring om die Griekse beelde in marmer na te maak. Uit die ooste het hulle die gebruik oorgeneem om oorwinnings van veldslae in reliëf uit te beeld, byvoorbeeld op die Suil van Trajanus (Rome; 106-113 n.C.), wat as voorbeeld vir verskillende latere monumente gedien het. Die Romeine het baie beroemd geword vir hul gebeeldhoude portrette. In teenstelling met die Grieke het hulle die menslike gelaat nie geïdealiseer nie, maar realistiese afbeeldings daarvan gemaak. Talle borsbeelde van heersers, militêre helde en vooraanstaande burgers van die stad het bewaar gebly.
Middeleeue In 330 n.C. verskuif keiser Konstantyn die hoofstad van die Romeinse Ryk van Rome na Bisantium (nou Istanboel). Hy verklaar ook die Christelike godsdiens tot staatsgodsdiens. In die Ooste, in Bisantium, en in die Weste, in Italië, het die Romeinse tradisies lank voortgeleef. So is daar in Italië marmersarkofae vir Christene gemaak, en die voorstellings wat daarop uitgebeeld is, het nouliks van dié van die heidene verskil. Talle uitbeeldings is ook gemaak in ivoor, wat in die Middeleeue sowel in die Weste as in Bisantium 'n gesogte materiaal was.
Met die verval van die Romeinse Ryk in die 4e en 5e eeu, het talle Germaanse volkstamme Europa binnegetrek. Soos met ander rondtrekkende stamme ook die geval was, het hulle nie kunswerke gelewer wat groot afmetings gehad het nie, maar hulle het wel 'n bloeiende edelsmeedkuns gehad waarin fantasiediere 'n belangrike rol gespeel het. Hierdie diermotiewe kom later weer in die houtsnywerk van die Noormanne voor. Keiser Karel die Grote het ca. 800 probeer om die kuns en kultuur van die ou Romeinse Ryk van Noord-Europa te laat herleef.
Die ivoorsnykuns het nou weer 'n opbloei beleef. Van belang is ook die klein bronsruiterbeeldjie wat waarskynlik in die tyd van Karel die Grote se kleinseun, keiser Karel die Kale, vervaardig is (ca. 875). Geen groot beelde uit hierdie tyd het bewaar gebly nie, maar wel uit die tyd van die volgende dinastie, die Ottoniese, soos byvoorbeeld die houtbeeld van Christus aan die kruis, in Duitsland.
Baie beelde uit die daaropvolgende eeue het bewaar gebly, uit die Romaanse (12e eeu) sowel as die Gotiese tyd (ca. 1150-15e eeu). Die meeste beelde was oorspronklik bestem vir die talle kerke wat in hierdie eeu opgerig is. Gebeeldhoude reliëfs het die ingangsportale van die kerke en die kapitele (kopstukke) van die suile versier; langs die deure is groot beelde aangebring. Deurgaans is die lewe van Christus, verskeie heiliges en die skeppingsverhaal uitgebeeld. Die Gotiese beeldhouwerk in die katedrale in Chartres en Reims, Frankryk, is beroemd. Terwyl die beelde uit die Romaanse tyd dikwels verwronge of langgerek was, het dit in die Gotiese periode al hoe meer naturalisties geword.