duimnael|400px|Hedendaagse kaart van Afrika
In hierdie artikel word die geskiedenis van Afrika tot en met kolonialisme oorsigtelik bestudeer. Daar word na prehistoriese tydperke, verkenning en die kontinent se verhouding met die Weste gekyk.
Voorgeskiedenis Die Vroeg- en Middel-paleolitiese tydperk duimnael|Afrika-bifasiese artefak (spiespunt) gedateer in die Laat Steentydperk Tydens die Pleistoseen, 2,5 miljoen jaar gelede, het in Oos- en Suidelike Afrika oerwesens geleef. Hulle het regop geloop en 'n stel tande gehad wat baie soos dié van die moderne mens gelyk het. Hul gesigte was in verhouding tot die hedendaagse mensape, die Australopithecinae, heelwat smaller as hul agterkoppe. Hoewel hul skedelinhoud (600 cc) skaars groter as dié van 'n gorilla was en hulle self nog geen werktuie kon vervaardig nie, word hulle deur antropoloë saam met die genus Homo geklassifiseer.
Ná ontdekkings uit die oertyd kon antropoloë die prehistoriese wesens van Afrika in drie hoofgroepe indeel: Die klein geboude allesetende Australopithecus boisei; die Australopithecus africanus, onderskeidelik uit Tanzanië (Olduwai) en Suid-Afrika; en die groter geboude vegetariër Australopithecus robustus of Paranthropus van Suid-Afrika, wat in 'n beboste omgewing geleef het. Laasgenoemde dateer terug tot die Middel-Pleistoseen, 100 000 tot 500 000 jaar gelede. Oorblyfsels van die Australopithecinae is naby die Tsjadmeer en in Ethiopië gevind.
In die vroeë Pleistoseen-lae van Olduwai in Tanzanië is daar ook oorblyfsels gevind van 'n mensagtige Homo habilis. Dit het kleiner tande, maar 'n groter skedelinhoud (680 cc) en het kleiner soogdiere gejag en werktuie gemaak, soos primitiewe kerfmesse waarvan die kante aan een of albei kante afgewerk was. Dit is bekend as die Olduwai-beskawing. Dié soort mense het na bewering 'n miljoen jaar gelede in Oos-Afrika geleef.
In die Middel-Pleistoseen is die kerf- of hakmesse tot volwaardige handbyle ontwikkel. Die hele kerfmes is netjies afgewerk sodat dit mooi in die hand kon pas, en albei kante is skerpgemaak sodat dit gebruik kon word om wild mee te slag en wortels uit te grawe. Hierdie soort gereedskap is gebruik deur 'n nuwe soort mens, die Homo erectus africanus (of Pithecanthropus) wie se oorblyfsels in Algerië en Tanzanië gevind is.
Die Homo erectus africanus word gekenmerk deur 'n groter skedelinhoud (900–1050 cc), en met die uitsondering van die kopbeen, feitlik 'n moderne skelet. Die voorkop trek egter, nes die ken, taamlik ver terug agtertoe. Groot oogbanke kom bokant die oë voor.
Die Homo erectus was 'n vleiseter wat op grootwild jag gemaak het met houtspiese waarvan die punte in die vuur hard gemaak was. Hulle het in die grasvlaktes in kampe naby water geleef.
Die tradisie van die handbyl kan verdeel word in die vroeë fase in die begin van die Middel-Pleistoseen, en 'n ontwikkelde fase wat verder uit Noord- en Oos-Afrika na die Kaap (Stellenbosch-beskawing) en Wes-Afrika uitgebrei.
Teen die einde van die Middel-Pleistoseen sowat 200 000 jaar gelede, het daar om die Middellandse See 'n vuursteentegniek ontwikkel. 'n Voorafbewerkte stuk klip in 'n skilpadvorm geneem en skilfers is van hierdie kern afgekap totdat die werktuig die gewenste vorm gehad het (Levallois-tegniek). 'n Latere tegniek was om die skilfers tot pylpunte en skrapers af te werk.
Later is die tegniek ook suid van die Sahara aangetref waar die Fauresmith-beskawing van die grasvlaktes en die Sangoan-beskawing in die reënwoude rondom die ewenaar dit gebruik het. Dié kulture is verder gedra deur 'n nuwe soort mens, bekend as die Homo sapiens rhodesiensis, wat steeds gekenmerk is deur groot wenkbroue en 'n groter skedelvolume (1000 cc). Die jag van grootwild met behulp van spiese en die bola ('n slinger met 'n klip) was steeds een van die belangrikste maniere van bestaanvoering.
Laat-Paleolitiese en Mesolitiese tydperk duimnael|Begin vuur met die hand. San-mense in Botswana Sedert die verskyning van die moderne mens het Afrika suid van die Sahara in hul ontwikkeling begin terugsak by die bewoners van Noord-Afrika wat veral in gebiede langs die Middellandse See gewoon het. Ware steennywerhede het ontstaan waar fyner voorwerpe soos dolke met skerp lemme vervaardig is. Hamerslae is duidelik hierop sigbaar. Die soort gereedskap is byvoorbeeld in 38 000 v.C. deur die Dabba-beskawing van Cirenaïka en later ook deur die Oranian-beskawing gebruik.
Elders het die Levalloisien-tradisie in die Laat-Pleistoseentyd voortgeleef: in die Aterian-beskawing van die Maghreb en die Sahara; in die Stilbaai-beskawing van Suid- en Oos-Afrika; en in die Lupembien van die bosgebiede digby die ewenaar in Sentraal-Afrika.
Sedert 7000 v.C. vind ons in Afrika 'n tendens om baie klein, mikrolitiese gereedskap te vervaardig. In die Maghreb en Libië het 'n Hamietiese ras klein lemmetjies en halfmaanvormige pylpunte vervaardig. In Kenia het die draers van die Capsien-beskawing begin visvang met vervaardigde harpoene. In die savanne van Namibië het die Nachikufu-beskawing ontstaan en in Suid- en Oos-Afrika het die Smithfield- en Magosien-beskawings tot stand gekom. Hieruit, omstreeks 6000 v.C., het die Wilton-beskawing ontwikkel.
Daar word gereken dat die eerste draers van hierdie kultuur die San was, wat later deur die Afrikane suidwaarts tot in die Kalahariwoestyn teruggedryf is. Dit is hier dat hulle vandag nog grotendeels hul tradisionele bestaanswyse voortsit. Die rotstekeninge, wat so eie aan die San-kultuur is, is wydverspreid in Suid- en Oos-Afrika gevind.
Neolitiese en Ystertydperk duimnael|Die ruïnes van Kartago Die neolitiese invloed het Afrika vroeg in die vyfde millennium v.C. uit Suidwes-Asië bereik. Die Capsiens van Cirenaïka en die Maghreb het nou naas die versameling van weekdiere (versamelaarskultuur), ook diere begin mak maak en met veeteelt begin. Daar is ook pottebakkersware gemaak en wat met skulpe versier is. Dat die Sahara destyds heeltemal geskik was vir bewoning, word bewys uit rotstekeninge wat in die hooglande gevind is.
Aanvanklik het jag nog steeds die belangrikste plek in die ekonomie ingeneem, maar sedert die vierde millennium v.C. het veeteelt die belangrikste rol vervul, soos duidelik uit rotstekeninge van beeste en skape blyk.
Met verloop van tyd het die neolitiese beskawing tot by die Soedan in Oos-Afrika uitgebrei. Inwoners het behalwe visvangs en jag, ook vee aangehou, potte gebak en gepoleerde handbyle vervaardig. Oos- en Suid-Afrika word sedert 2000 v.C. dan ook sterk deur die beskawing in die Soedan beïnvloed.
Yster word nou vir die eerste keer in die Fenisiese kolonie Kartago gebruik. Uit Egipte word dit na die suidelik geleë Meroe-kultuur uitgebrei, en die verspreiding geskied nog verder suid deur die inheemse sprekers van Afrikatale. Juis die aanwesigheid van yster en die toenemende invloed van die Middellandse See-beskawing, het gelei tot die ontstaan van die Middeleeuse koninkryke in Afrika. Hierdie koninkryke het 'n nuwe fase in die prehistorie van Afrika ingelei.
Verkenning Oudheid duimnael|Die beweerde reis van Hanno die Navigator Die Egiptenare het die eerste poging aangewend om Afrika te verken. Op land het hulle nie verder as die Soedan gevorder nie, maar ter see het hulle, volgens die Griekse historikus Herodotos, met behulp van Feniciese skepe daarin geslaag om om die hele Afrika te seil.
Toe die Romeine aan die begin van die Christelike jaartelling daarin geslaag het om die hele Noordkus van Afrika te beheer, het hulle hul ook suidwaarts gewend.
Onder Nero, keiser van 64 tot 68, het verskeie ekspedisies die Nylrivier opgevaar en probeer om Suid-Soedan te bereik.
Baie belangriker as dié enkele verkenningstogte, was die kolonisasie van die Noordkus van Afrika gedurende die Oudheid. Dit het veral op die gevestigde kultuur van die Berbers 'n invloed gehad.
Islamitiese uitbreiding duimnael|Kaart van die Islamitiese uitbreiding: Die Arabiere se verowering van Noord-Afrika in die 7de eeu het die vasteland van Afrika vir 'n lang tyd van Europa en sy invloed afgesny. Die verkenning van Afrika is toe uitsluitlik deur die Arabiere voortgesit. Later het ander Islamitiese volke in hul voetspore gevolg. Deur hulle toedoen is 'n groot gedeelte van "Donker Afrika" ontsluit.
Die invloed van die Islam was in die algemeen blywender as dié van Europa, omdat dit oor 'n langer tydperk geduur het en baie Afrika-volke hulle tot Islam bekeer het.
Teen ongeveer 1000 v.C. het die Arabiere en die Perse Oos-Afrika binnegedring en baie handelsposte, soos Kilwa en Mombasa, langs die kus gestig. Die handel het hoofsaaklik uit goud, ivoor en slawe bestaan. Die inheemse bevolking is hierby betrek en daar het selfs 'n geleidelike vermenging tussen die verskillende bevolkingsgroepe plaasgevind.
'n Belangrike en betroubare Chinese bron, Sin T'ang-sjoe, uit die jaar 1060, beskryf presies die rol wat die Arabiere en Perse in die tyd as tussengangers gespeel het in die handel tussen Oos-Afrika en China.
Vanaf 1504 is groot dele van Wes-Afrika en verskeie van die destydse kleiner koninkryke onder die oorheersing en invloed van Islam gebring. In hierdie stadium is die hele Noord-Afrika, insluitende die Sahara, met karavane vol handelsware deurkruis. Groot dele van Wes-Afrika en die binneland is verken en byna die hele Ooskus tot by die monding van die Zambezirivier was aan die Arabiere bekend. Een van die bekendste Arabiese ontdekkingsreisigers was Ibn Battuta (1304–1377) van Marokko. Hy het 'n volledige beskrywing van al sy reise deur Afrika agtergelaat.
Westerse verkenning duimnael|Portugese kaart van die Wes-Afrikaanse kus in 1571 Eers gedurende die Middeleeue, teen ongeveer die 13de eeu, het Afrika weer kontak met Europa gemaak.
Spaanse en Portugese sendelinge het hulle met die toestemming van die More aan die mees noordelike punt van Afrika gevestig. In die 14de eeu het die pous van Rome probeer om in aanraking te kom met 'n groep Christene wat volgens oorlewering iewers in Oos-Afrika tussen die "heidene" sou geleef het. Sy afvaardiging het inderdaad die Ethiopiërs hier aangetref, en hulle was reeds in die 4de eeu gekersten. Gesante is tussen Rome en Ethiopië uitgeruil in 'n poging om 'n front teen Islam te vorm. Dit het misluk, maar in die proses het Europa meer oor daardie deel van Afrika geleer.
Intussen het die Portugese ywerig die Weskus van Afrika begin verken. Aanvanklik het die Portugese die gebiede wat sterk onder die invloed van Islam gestaan het, vermy. Hulle het hulle sendingstasies en handelsposte net langs die kus opgerig. Teen die tweede helfte van die 15de eeu was daar 'n wending. Nuwe navigasietegnieke het die Portugese in staat gestel om die Atlantiese Oseaan en die kus van Afrika steeds verder en verder te verken. Die Arabiese handelsposisie, selfs aan die Ooskus, het in die gedrang gekom. Die Portugese het die Arabiese handelsroetes na Venesië via die Rooisee en Egipte afgesny. Hulle het waardevolle produkte uit die Ooste en van die Ooskus van Afrika met die Kaapse roete na Europa gebring.
In die 17de eeu het ander Europeërs – in die besonder die Nederlanders en die Engelse – die Portugese hulle monopolistiese handelsposisie ontneem deur self met die artikels in Afrika handel te dryf.
Net soos die Portugese wou hulle dit ook nie in die binneland waag nie. Gevolglik het geen nuwe ontdekkingsreise plaasgevind nie. Die binneland is eers teen die 19de eeu verken, eers weens ideologiese oorwegings van die sendelinge (David Livingstone), en later deur die groot koloniale moondhede self.
Middeleeuse koninkryke duimnael|Belangrike ryke in Afrika voor die koloniale tydperk Die eerste werklik Middeleeuse koninkryke in Afrika het omstreeks 600 in die Soedan, en later geleidelik ook in die res van "Donker Afrika" ontwikkel.