Die Jode in Suid-Afrika is ’n gemeenskap van nagenoeg 52 000 mense, die twaalfde grootse Joodse gemeenskap in enige land ter wêreld. Op sy hoogtepunt omstreeks 1970 het die Jode in Suid-Afrika amper 120 000 siele getel, maar die emigrasie van nagenoeg 40 000 Suid-Afrikaanse Jode na veral Israel asook Australië, Kanada en Nieu-Seeland, tesame met ’n lae geboortesyfer, het hul getalle met amper 40% laat afneem, terwyl Suid-Afrika se wit bevolking, waarvan die Jode ’n klein onderafdeling vorm, in dieselfde tyd eers toegeneem, maar later teruggesak het tot min of meer dieselfde getal as in 1970. (Die afname sou selfs groter gewees het as 10 000 Jode nie van omstreeks 1970 tot 1994 uit Israel na Suid-Afrika geëmigreer het nie.) Jewish Virtual Library. URL besoek op 13 November 2017. Tog oefen Joodse Suid-Afrikaners steeds op vele terreine, soos die politiek, ekonomie en kunste, ’n invloed ver buite verhouding tot hul getalle uit.
Weens verstedeliking kan Suid-Afrika se Joodse inwoners vandag as 'n twee-stad-bevolking beskryf word: Van die totaal van nagenoeg 80 000 siele (Jode in die algemeenste sin van die word, maar met 'n kernbevolking van net oor die 50 000), woon amper tweederdes (50 000) in Johannesburg en meer as 'n vyfde (17 000) in Kaapstad. Dus is amper 85% van die bevolking in net twee stede saamgetrek, met kleiner bevolkings in Durban, Pretoria en Gqeberha. Suid-Afrikaanse Jode was vroeër jare, toe elke dorp van enige grootte 'n gemeenskap met 'n eie shul en gemeenskapsorganisasies gehad het, veel beter geïntegreer in die breë Suid-Afrikaanse samelewing. Dit verklaar waarskynlik hoekom die koers van ondertrouery met nie-Jode slegs 7% is. South Africa Virtual Jewish History Tour. URL besoek op 5 Desember 2017. Selfs in die stede waarin die grootste Joodse bevolkings voorkom, is hulle beperk tot sekere voorstede: In Kaapstad in die suidelike voorstede, stadskom en aan die Atlantiese kus (Groenpunt, Seepunt en Kampsbaai, met 'n kleiner bevolking rondom Milnerton en Bloubergstrand), en in Johannesburg in die noordooste en noorde van die stad. Jewish Virtual Library. URL besoek op 5 Desember 2017.
Vestiging in Suid-Afrika duimnael|Joodse immigrante kom in Kaapstad aan uit Oos-Europa. Jode se verbintenis met Suider-Afrika strek terug tot die vroeë dae van verkenning deur Europeërs. Joodse astronome, kaartmakers en navigators het die Portugese verkenners bygestaan, terwyl Joodse kapitaal bygedra het tot die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Reeds in die eerste nedersetting aan die Kaap die Goeie Hoop was daar mense van Joodse herkoms, hoewel hulle niepraktiserend was aangesien die Kompanjie vereis het dat alle werknemers van gereformeerde geloofsoortuiging moes wees.
Eers tydens die Britse besetting het Jode hulle in enige noemenswaardige getalle aan die Kaap begin vestig. Hulle was hoofsaaklik uit Duitsland en Engeland afkomstig en is genoop om te emigreer weens die omstandighede in Europa ná die Napoleontiese Oorloë. Aan die Kaap het hulle hul as handelaars gevestig, maar algaande na die binneland verhuis en aansienlik bygedra tot die platteland se ekonomiese ontwikkeling. Onder die 1820-Setlaars was ’n aantal Joodse families, wat aan die Oosgrens in die lyding van die setlaars gedeel het.
Die eerste permanente Hebreeuse gemeente in in 1841 aan die Kaap gestig en die tweede 21 jaar later, in 1861, in Port Elizabeth. Destyds het Jode hulle ook al in die Oranje-Vrystaat gevestig, waar hulle van die vroeë inwoners van Bloemfontein was, en in Transvaal. Ná die ontdekking van diamante en daarna goud het die Joodse bevolking skerp toegeneem van 'n geskatte slegs 4 000 in 1880. Talle het uit Oos-Europa (hoofsaaklik Litaue, maar ook Letland en Rusland) gekom, waar tsaristiese vervolging die uittog aangevuur het.
Die eerste Hebreeuse gemeente is reeds in Julie 1887 in Johannesburg gestig en in Pretoria drie jaar later. In 1899, 13 jaar ná die stigting van die stad, het Johannesburg se Joodse bevolking sowat 11 000 getel. Uit die staanspoor het Jode ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van die diamant- sowel as die goudveld. So het die fokuspunt van Suid-Afrika se Joodse gemeenskap noordwaarts uit Kaapstad na Johannesburg verskuif, hoewel die Moederstad 'n vername Joodse sentrum sou bly.
Tot omstreeks 1880 het die Suid-Afrikaanse Joodse gemeenskap hoofsaaklik uit immigrante uit Brittanje en Duitsland bestaan, maar die sluipmoord op tsaar Aleksander II van Rusland in 1881 het gelei tot die wrede verdrukking van Jode. Dit het Jode in reusegetalle uit die Russies beheerde gebiede van Oos-Europa laat emigreer. Uit die totaal van sowat 3 miljoen wat verhuis het, het net 40 000 na Suid-Afrika gekom en meer as die helfte na Amerika gegaan. Dit was in dié tyd dat heelparty aankomelinge hulle óf in die arm buurt Distrik Ses naasaan die Kaapse middestad óf op die platteland gevestig het, waar elke dorp van noemenswaardige grootte mettertyd 'n Joodse gemeenskap met sy eie sinagoge sou hê. Daar het hulle, vanweë hul bydrae tot die handel, 'n groot rol gespeel in die handelsomwenteling van die platteland in die laat 19de en vroeë 20ste eeu. Jode was die energieke en ingeligte tussengangers tussen die nuwe markte van die dorpe en die produsente. Ook het Joodse plattelandse winkels in die groeiende behoeftes van die ontluikende plattelandse verbruikers voorsien.
Demografie duimnael|links|upright|Helen Gavronsky tree op 12 Augustus 1937 in die Groot Sinagoge in Wolmaransstraat, Johannesburg, in die huwelik met dr. Mosie Suzman. duimnael|Malmesbury in die Swartland is een van tallose dorp wie se Joodse gemeenskap ophou bestaan het. Die ou sinagoge huisves nou die dorpsmuseum, soos op byvoorbeeld Calvinia en Piketberg (deels). duimnael|Die eertydse sinagoge op die hoek van Smid- en Noodstraat, Middelburg, Kaap, is in 'n woonhuis omskep Amptelike sensussyfers met die jare skets ’n duidelike beeld van die groei van die Joodse bevolking deur immigrasie. In 1904 het die gemeenskap 38 101 getel, oftewel 3,41% van die totale blanke bevolking. Teen 1926 was hul getalle 62 103, 4,09% van die wit bevolking van die Unie van Suid-Afrika. Teen 1936 het hul bevolkingsaandeel toegeneem tot 4,52% (90 645), maar teen 1946 ietwat gedaal tot 4,39% (104 156). Daarna het hul bevolkingsaandeel bly afneem sodat dit teen 1960 3,7% was, hoewel hul getalle steeds toegeneem het, tot 114 762. Die aandeel van die Jode aan die totale bevolking het sedert 1936 deurgaans bly krimp weens verskeie faktore, onder meer beperkende immigrasiewetgewing, die feit dat Oos-Europese Jode, die grootste bron van immigrasie na Suid-Afrika, feitlik uitgewis is in die Sjoa voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog, en dat die Joodse geboortesyfer in Suid-Afrika laer was as dié van die blanke bevolking in die geheel, veral die Afrikaners.
In die kwarteeu tussen 1936 en 1960 was die Jode se jaarlikse bevolkingstoename 1,17%, vergeleke met die hele blanke bevolking se toename van 2,26% per jaar. Ook was daar vroeg reeds ’n hoër persentasie bejaardes onder die Jode as onder enige groep van enige ras. In 1936 was soveel as 53,31% van die Joodse bevolking in die buiteland gebore, maar algaande het die aandeel van dié wat in Suid-Afrika gebore is, ál groter geword. Vandag is feitlik almal gebore Suid-Afrikaners. In Kaapstad was die persentasie Suid-Afrikaans gebore Jode in 1960 byvoorbeeld 73%, vergeleke met 8% elk in Brittanje en Duitsland.
Die geografiese verspreiding van die Jode het mettertyd ingrypend verander. In die vroeë dekades van die 20ste eeu was daar op feitlik elke dorp in Suid-Afrika ’n Joodse gemeenskap. Maar die afgelope reeds sowat 100 jaar het die Jode sodanig verstedelik dat van die plattelandse Jodedom feitlik niks oorgebly het nie. In baie gevalle het die Jode na die stede verhuis, waar hulle hul geloof en kultuur makliker kon handhaaf, hul kinders 'n Joodse opvoeding kon ontvang en daar vir hulle en hul nasate beter ekonomiese geleenthede was. Op amper al die dorpe, selfs groteres soos Malmesbury (met ’n wit bevolking van 6 440 in 2011) en Wellington (8 569), en selfs in die meeste stede, het eens florerende Joodse gemeenskappe verdwyn. Reeds in 1960 het Johannesburg 57 806 Joodse inwoners het (50% van die totaal), Kaapstad en die Skiereiland 22 716 (20%), Durban 5 353, Port Elizabeth 2 972 en Bloemfontein en omstreke 1 219 gehad. Destyds was die provinsiale verdeling Transvaal 73 051, Kaapland 32 104, Natal 6 189 en die Vrystaat 3 157, wat daarop dui dat ruim 10 000 Jode hulle toe nog op die Kaapse platteland bevind het en byna 2 000 elders in die Vrystaat as in Bloemfontein.
Vandag word Suid-Afrika se Jode beskryf as 'n twee-stad-bevolking aangesien 85% in Johannesburg en Kaapstad woon, met die res amper almal in Durban, Pretoria en Port Elizabeth.
Bydrae tot die volkslewe duimnael|links|upright|Bertha Solomon, Volksraadslid en kampvegter vir vroueregte duimnael|upright|Ronnie Kasrils was van 1999 tot 2004 minister van waterwese en bosbou en van 27 April 2004 tot 25 September 2008 minister van intelligensie. Kasrils het van 1987 tot 2007 in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gedien. Van 1986 tot 2007 was hy 'n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party se sentrale komitee. Jode is reeds dekades lank ten volle geïntegreer in die Suid-Afrikaanse ekonomiese, burgerlike en kultuurlewe. Hul grootste bydrae was waarskynlik op ekonomiese gebied, soos vergestalt deur vooraanstaande figure onder wie die Mosenthal-familie van die Kaap (handel, bankwese en nywerheid), Nathaniel Isaacs en Benjamin Norden (reisigers en pioniers van die oostelike grensgebiede), die De Pass-familie (handel, nywerheid en skeepvaart), Jonas Bergtheil in Natal (landbounedersetting en katoen), Samuel Marks (nywerheid) en I.W. Schlesinger (sitrusbedryf, geldwese en vermaakbedryf). Name soos sir Lionel Phillips, Barney Barnato, die Joels, Alfred en sir Otto Beit, sir George Albu en sir Ernest Oppenheimer (hoewel hy hom in 1935 tot die Christendom bekeer het) herinner aan die aandeel wat Jode gehad aan die ontwikkeling van die diamant- en goudvelde.
Joodse ondernemings het ’n groot bydrae gelewer tot die nywerheidsomwenteling in Suider-Afrika ná 1914, byvoorbeeld in die vervaardiging van tekstiele, klere en meubels, in voedselverwerking en die vervaardiging van tabak- en chemiese produkte, en in die toepassing van moderne landboumetodes. Reeds sedert die dae van Samuel Marks het Jode ’n aansienlike bydrae gelewer tot Suid-Afrikaanse fabriekswese, landbou en handel, van wie seker die vernaamste I.W. Schlesinger en Raymond Ackerman was.
Jode se deelname aan die openbare lewe strek terug tot by die beroemde Kaapse parlementslid Saul Solomon en die Kaap se prokureur-generaal in die 1870's, Simeon Jacobs. Sir Matthew Natan was goewerneur van Natal met Uniewording. In die eerste Unieparlement was die Joodse LP's Morris Alexander, sir David Harris, Emile Nathan, sir Lionel Phillips, C.P. Robinson en senator Samuel Marks. Nog openbare figure was sen. Wolf Ehrlich, F.C. Hollander en Franz Ginsberg, dr. Henry Gluckman en Morris Kentridge. Selfs kommunisteleiers soos Sam Kahn en Solly Jacks was Joods en in later jare die vooraanstaande vryheidsvegter Ronnie Kasrils, terwyl Bertha Solomon, Jewish Women's Archive. URL besoek op 13 November 2017. Helen Suzman Jewish Women's Archive. URL besoek op 13 November 2017. en Harry Schwartz in die Volksraad vir geregtigheid gestry het. In al die groot stede het Jode as raadslede en burgemeesters gedien.