Die standbeeld van M.T. Steyn is 'n standbeeld van Marthinus Theunis Steyn. Die standbeeld staan op die sentraalkampus van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Die beeld is in 1929 onthul, nadat de Afrikaanse Studentebond in 1917 opdrag gegee het om die beeld te bou. Die beeld is ontwerp deur Anton van Wouw.

Geskiedenis Na die afsterwe van M.T. Steyn, oudpresident van die Oranje-Vrystaat, in 1916 was daar 'n debat in Afrikanergeledere hoe om 'n gedenkteken vir M.T. Steyn te ontwerp. Sommige het voorgestel om 'n standbeeld van hom by die Nasionale Vrouemonument, wat op inisiatief van M.T. Steyn ontwikkel is, te plaas.Marthinus Theunis Steyn-standbeeld, Bloemfontein , Afrikaner Geskiedenis, besoek op 17 Oktober 2017.

In 1917 het die Afrikaanse Studentebond egter sy kongres in Bloemfontein gehou. Op die kongres is daar besluit dat die Afrikaanse studentebond 'n komitee stig wat die standbeeld moes verwesenlik. Die komitee bestaande uit studente en oud-studente is onder leiding van Samuel Henri Pellissier gestel. Daardie komitee het later die benodigde £3000 ingesamel. Ondertussen is Anton van Wouw gevra om die standbeeld te ontwerp en te bou.

Die standbeeld is op 29 September 1929 op die plein voor die Grey-universiteitskollege se hoofgebou onthul. Die onthulling is gedoen deur die weduwee van M.T. Steyn, Rachel Isabella Steyn. By die onthulling was 'n skare van ongeveer 1000 mense aanwesig. John Daniel Kestell, destyds rektor van die universiteitskollege en Nicolaas Johannes van der Merwe, skoonseun van M.T. Steyn, het toesprake gehou. Die plein voor die hoofgebou is toe Presidentsplein genoem, maar staan in die volksmond bekend as die Rooiplein.

In 2010 sou die standbeeld op voorstel van die destydse rektor Jonathan Jansen van die kampus verwyder word. Weens publieke druk en druk van studente en oud-studente het Jansen toe nie die standbeeld laat verwyder nie.For now, Steyn stays, Mail & Guardian, 26 Maart 2010, besoek op 17 Oktober 2017.

Die standbeeld speel 'n rol in die transformasie-strategie van die Universiteit van die Vrystaat. So het die UV saam met die Vryfees gepoog om die persepsie rondom standbeelde op die kampus te verander. Daarom is die standbeelde van M.T. Steyn en C.R. Swart in 2014 tydelik in pienk plastiek gewikkel. Die projek, met die titel #PienkPresidente (#PinkPresidents in Engels), moes dialoog oor die weergawe van geskiedenis op die kampus bevorder.Plastic Histories, The Journalist, besoek op 17 Oktober 2017.

In die nasleep van die FeesMustFall-betogings in 2015 en 2016 het daar 'n debat ontstaan oor die belangrike plek van die standbeeld voor die hoofgebou. Groepe studente het geëis dat die standbeeld van M.T. Steyn verwyder moet word, omdat dit 'n simbool vir apartheid en onderdrukking sou wees. Die destydse rektor, Jonathan Jansen, het hom teen verwydering uitgespreek.Los Steyn se standbeeld uit, sê Jonathan Jansen, Netwerk24, 10 September 2015, besoek op 17 Oktober 2017. 'n Paar weke later het Jansen toegestem die standbeeld gaan verwyder word nadat die regte prosedures gevolg is.Kovsies gaan standbeelde verwyder, eNCA Nuus, 29 Oktober 2015, besoek op 17 Oktober 2017. Toe lede van die EFF in Februarie 2016 die standbeeld van C.R. Swart op die kampus verniel het,C.R. Swart statue vandalised at UFS , News24, 23 Februarie 2016, besoek op 17 Oktober 2017. het hulle ook gedreig om die standbeeld van M.T. Steyn te verniel. Die standbeeld van M.T. Steyn is toe tydelik bewaak deur die kampusbeveiliging.Security for UFS's Marthinus Steyn statue , News24, 26 Februarie 2016, besoek op 17 Oktober 2017. Hoewel die standbeeld van C.R. Swart in 2017 'n nuwe plek gekry het op die Doornkloof Voortrekkerplaas, staan die standbeeld van M.T. Steyn steeds op die kampus.Standbeeld van C.R. Swart standvastig met nuwe horison, Die Erfenisstigting, 2 April 2017, besoek op 17 Oktober 2017.

Die standbeeld Die standbeeld bestaan uit 'n sokkel wat 4 meter hoog is. Die sokkel van ystergraniet is beklee met klippe en aan die voorkant met 'n plakkaat. Op die plakkaat staan: Marthinus Theunis Steyn / Staatspresident O.V.S / 1896-1902 / Opgerig deur die / Afrikaanse Studentebond / 1929.

Die standbeeld staan op die sokkel en is tweemaal lewensgrootte.

Sien ook De Raadsman, borsbeeld vir M.T. Steyn President Steynpark en -bank Standbeeld van M.T. Steyn (1922), standbeeld in die Nederlandse stad Deventer

Eksterne skakels Bladsy van die standbeeld op die webwerf van Afrikaner Geskiedenis

Verwysings

Kategorie:Beeldhouwerke Kategorie:Geboue en strukture in Bloemfontein Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika