Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Arabies.
Die Arabiere (Arabies: عَرَب, ‘arab, [ˈʕarab], ) is 'n groot en heterogene Semitiese etniese groep wat veral in die Midde-Ooste, Noord-Afrika en aan die Horing van Afrika aangetref word. Hulle het met die uitbreiding van die Islam in die 7de eeu vanaf die Arabiese Skiereiland en Wes-Asië versprei. Tussen 430 en 450 miljoen Arabiere leef wêreldwyd, waarvan die meeste in die Arabiese wêreld. Daarmee is die Arabiere die tweede grootste etniese groep naas die Han-Chinese. Belangrike Arabiese minderhede leef in Iran, Israel en Turkye. Die bande wat Arabiere verbind is taalkundige, kulturele, politieke en etniese feite. Palestyne en Sahrawis is van die bekendste Arabiese deelgroepe.
duimnael|links|Lande van die Arabiese wêreld duimnael|links|Die vlag van die Arabiese opstand teen die Ottomaanse Ryk word soms as vlag van die Arabiere beskou. Die meeste Arabiere is aanhangers van die Soennitiese Islam en hul moedertaal is Arabies. Die Arabiese diaspora is een van die grootstes ter wêreld en het in lande van die Amerikas, Europa, Suid- en Suidoos-Asië gevestig. Die meeste mense van Arabiese afkoms buite die Arabiese wêreld leef in Brasilië (9 miljoen), gevolg deur Frankryk (5,9 miljoen), Argentinië (4,5 miljoen), die Verenigde State (3,5 miljoen), Spanje (1,6–1,8 miljoen), Venezuela (1,6 miljoen), Italië (1,5 miljoen), Meksiko (1,1 miljoen), Chili (1 miljoen) en Colombia (700 000–1 miljoen). As gevolg van die Arabiese Lente met burgeroorloë soos die Libiese (2011) en die Siriese Burgeroorlog (sedert 2011) het miljoene Arabiere van hul tuislande gevlug, waarvan die meeste na Europese lande soos Duitsland.
Geskiedenis duimnael|links|Die Arabies-Islamitiese uitbreiding onder die Kaliefe: Die Arabiere is die grootste bevolkingsgroep in Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Hulle vorm nie 'n homogene groep nie en woon verspreid in 'n stuk of vyftien lande. "Arab " is 'n Semitiese woord en is oorspronklik gebruik om die nomadiese woestynvolke (Bedoeïene) in die Arabiese Skiereiland aan te dui. Naas die nomadiese volke het daar vanaf 1500 v.C. ook 'n aantal klein koninkryke in die suide van die skiereiland voorgekom. Hulle bevolking het van landbou en handel gelewe.
Eers in die 7de eeu n.C. het die profeet Mohammed en sy opvolgers daarin geslaag om die Arabiere in die skiereiland onder die godsdiensleer van Islam te verenig. Aangevuur deur hul godsdiens het die Arabiere deur middel van "heilige oorloë" hul gesag uitgebrei na groot dele van Asië, Afrika en Europa. Tot in die 11de eeu het hulle die politieke mag in die Islamitiese ryk behou, maar hulle het op groot skaal met hul onderdane vermeng sodat die onderskeid tussen Arabiere en nie-Arabiere geleidelik verdwyn het. Dit het aanleiding gegee tot 'n totaal nuwe begrip van die woord Arabier. Voortaan het die woord betrekking gehad op almal wat dieselfde taal en kultuur gedeel het. Islam was ook 'n belangrike samebindende faktor, maar die heilige oorloë het dié godsdiens ook na lande soos Persië, Indië en Turkye laat uitbrei. Aanhangers van Islam in hierdie lande het hul eie kultuur behou en word nie Arabiere genoem nie.
Tussen die 14de en 19de eeu was feitlik alle Arabiessprekende lande deel van die Ottomaanse of Turkse Ryk. Sedert die 19de eeu het hulle geleidelik met Westerse moondhede soos Engeland en Frankryk in aanraking gekom, veral ná die val van die Turkse Ryk en die ontdekking van ruolie. Groeiende nasionalisme het in die 20ste eeu tot die stigting van verskeie Arabiese state gelei. Ondanks verskeie pogings, kon hulle nog nie daarin slaag om Arabiese eenheid of selfs 'n gemeenskaplike politiek tot stand te bring nie. In die 20ste eeu het die tradisionele Arabiese leefwyse vinnig verander. Onder toenemende ekonomiese druk moes al hoe meer nomade hul op een plek vestig om 'n bestaan te kan maak. Plattelandse armoede laat boere ook na die stede stroom.
Algemeen duimnael|Verspreiding van die Arabiese taal Die sogenaamde "Arabiese wêreld" is in Noord-Afrika en die Midde-Ooste geleë. Die Arabiese lande in Noord-Afrika is Mauritanië, Wes-Sahara, Marokko, Algerië, Tunisië, Libië, Soedan en Egipte. Jordanië, Sirië, Libanon en Irak is in die Midde-Ooste. Dan is daar ook Saoedi-Arabië, Jemen en 'n aantal kleiner state wat almal in die Arabiese Skiereiland geleë is. Die volke van al hierdie lande praat een of ander Arabiese dialek en hul kultuurtaal is klassieke Arabies. Hierdie gemeenskaplike kenmerke bring mee dat hul almal as Arabiere bestempel word, hoewel hulle nie tot een groep behoort nie. Uiterlik toon die Arabiere groot liggaamlike verskille. Hulle het 'n lang geskiedenis van onderlinge twis en kon tot vandag toe nie daarin slaag om een nasie te vorm nie. In sommige Arabiese lande kom daar belangrike minderheidsgroepe voor, soos die Koptiese Christene in Egipte en Soedan, die Christene in Libanon en die Koerde in Irak. In Israel, wat vroeër Palestina was, vorm die Arabiere 'n minderheidsgroep. Die Arabiese samelewing kan in drie hoofgroepe verdeel word: Die Bedoeïene wat met groot troppe skape, bokke en kamele deur die woestyn swerf, Die landbouers, en die Bewoners van groot dorpe en stede.
Bedoeïene
duimnael|'n Tradisionele Bedoeïen in Suid-Jordanië Die Bedoeïene kom hoofsaaklik in die Arabiese Skiereiland en in die woestyne van Irak, Sirië en Jordanië voor. Hulle word algemeen as die kleurvolste van al die Arabiere beskou. Omdat hulle voortdurend oor groot afstande rondswerf, het hulle 'n belangrike rol gespeel in die verspreiding van die Islamitiese geloof. Vandag word dit al hoe moeiliker vir die Bedoeïene om hul nomadiese leefwyse vol te hou en baie Bedoeïene word deur omstandighede gedwing om hulle op een plek te vestig.
Die platteland 'n Interessante verskynsel is dat die Arabiese boere in klein dorpies saam woon. Die huise word gebou van modderstene wat in die son drooggebak is en word sonder planmatigheid deurmekaar opgerig. Die boere word "fallahien" genoem en maak hoofsaaklik hul bestaan uit besproeiingslandbou. Hulle plant veral koring en gars en, waar moontlik, ook groente en vrugte. 'n Gedeelte van hul produkte ruil hulle met die Bedoeïene en dorpsbewoners vir ander ware of geld. Grond is private eiendom. Die hoeveelheid grond wat die boere besit, bepaal ook die hoeveelheid water wat daar in die besproeiingskema aan hom toegesê word. Daar is altyd 'n groot skaarste aan water en die verhouding tussen water en grond is so heg dat die een nie sonder die ander verhuur of verkoop mag word nie.
Dorpe en stede duimnael|Kaïro is die grootste stad in die Arabiese wêreld Familiebande speel 'n baie groot rol in die Arabiese samelewing. Dit blyk veral in die groot dorpe waar mense volgens hul familiename in wyke woon. 'n Dorp bestaan gewoonlik uit drie of vier sulke wyke wat gegroepeer is óm die sentrale wyk waar die oudste families woon. Twee wyke vorm saam een bestuurshelfte. Sodoende is daar 'n gesamentlike hoofmanskap wat die dorp verteenwoordig en geskille uitsorteer. Elke wyk beskik oor sy eie begraafplaas en moskee. Gewoonlik trou 'n man met 'n vrou uit sy eie wyk.
Dorpe se grootte varieer van etlike honderde inwoners tot 10 000 of selfs 20 000. Die indeling volgens familiewyke bly egter oral dieselfde. Baie van die inwoners van die groter dorpe maak 'n bestaan uit boerdery – as arbeiders bewerk hulle stukke grond buitekant die dorp.
Armoede bly egter 'n groot probleem in Arabiese dorpe en lei daartoe dat baie mense na die stede stroom, hoewel hulle dáár ook nie 'n veel beter bestaan kan voer nie. Die tradisionele Arabiese stad is baie dig bebou en het smal strate. Winkels met dieselfde spesialiteite is gewoonlik naas mekaar en vorm sodoende 'n basaar -"soeq" in Arabies. Daar is geen onderskeid tussen kommersiële en residensiële buurte nie, hoewel mense van dieselfde etniese of godsdienstige groep in die groter stede in hul eie buurt woon. Toesig oor die mark en 'n militêre polisiemag is die enigste vorm van plaaslike bestuur. Inwoners se lojaliteit lê eerder by hul familie en godsdiens as by die belange van die stad as 'n geheel. Die gesin- en familielewe is dieselfde as dié in dorpe, hoewel daar baie groter verskille in rykdom en sosiale status voorkom. 'n Groot gedeelte van die stedelike bevolking is werkloos en baie ander lewe onder die broodlyn.
Huwelik en posisie van die vrou duimnael|Boeregesin in Ramallah (1900–1910) Die meeste Arabiese huwelike word op die Islamitiese wyse voltrek. Die bruidegom moet 'n prys aan die bruid se ouers betaal. By die Christelike Arabiere is dit egter die bruid se ouers wat 'n bruidskat moet voorsien. Meisies trou gewoonlik wanneer hulle veertien of vyftien is met seuns van sestien tot agtien. Tradisioneel het net die man die reg om die huwelik nietig te laat verklaar. Vroue beklee 'n ondergeskikte posisie in die samelewing. Die ondergeskiktheid van die vrou berus op 'n letterlike vertolking van Mohammed se woorde: "Met 'n volk wat sy belange in die hande van 'n vrou plaas, kan dit nie goed gaan nie." Danksy verbeterde onderwys en groter beroepsmoontlikhede is die posisie van die vrou besig om te verbeter. Vandag kan vrouens byvoorbeeld ook 'n egskeiding verkry.
Arabiese ryke Suid-Arabiese ryke duimnael|Die rotsgraf Ad Deir, "die klooster", in Petra duimnael|Die Tempel van Bel in Palmyra Die Arabiere het hul eerste bloeitydperk in die suide van die Arabiese skiereiland beleef. Daar is die klimaat gunstig vir land- en tuinbou teen die berghellings. Boonop het die groot handelsroetes tussen Afrika en die Midde-Ooste deur hierdie gebied gelei. Die kameel is ongeveer 1200 v.C. deur die Arabiere getem en met groot vrug in die handel gebruik. Die oudste kultuur in die gebied was dié van die Koninkryk Saba, wat ongeveer 1100 v. C. ontstaan het en volgens argeologiese opgrawings 'n hoë ontwikkelingspeil bereik het. Daar word beweer dat die koningin van Skeba inderwaarheid 'n koningin van Saba was omdat die name min of meer ooreenkom en Saba in Salomo se tyd op sy hoogtepunt was. Die mag van die Sabeërs het uiteindelik oorgegaan in die hande van die Himiariete. In Griekse en Romeinse bronne word hulle Homeriete genoem. In die eerste eeu v.C. het die Romeine vergeefs gepoog om hulle te onderwerp. Weens handelsmededinging uit die Hellenistiese wêreld, was die Suid-Arabiese ryk in daardie stadium reeds besig om te taan en is die genadeslag toegedien deur Ethiopiese invalle. Die Ethiopiërs het hulle in 525 n.C. in Suid-Arabië gevestig met die doel om die gebied as aanvalsbasis teen die Persiese Ryk van die Sassanide te gebruik. Hulle het ook die Christendom na Suid-Arabië gebring. In 575 is hulle egter deur die Perse verdring. As gevolg van die vreemde oorheersing het Suid- en Sentraal-Arabië met 'n mengelmoes van kulture te doen gekry. Daar was onder andere ook baie Joodse handelaars op die karavaanroetes. Dit het 'n gunstige klimaat geskep vir die ontplooiing van die Islamitiese geloof.
Noord-Arabiese ryke Die eerste noemenswaardige ryk in die noorde van die Arabiese skiereiland was dié van die Nabateërs wat in die 2de eeu v.C. in die teenswoordige Jordanië ontstaan het. Hul hoofstad, Petra, was naby die Dooie See geleë. Die stad is later opgegrawe en het gespreek van indrukwekkende ontwikkeling. Die Nabateërs het goeie verhoudinge met die Romeine gehandhaaf, maar is nogtans in 105 n.C. by die Romeinse Ryk ingelyf. In die 3de eeu het nog 'n Arabies-Aramese ryk, met Palmyra as hoofstad, in die suidooste van Sirië verrys. Die ruïnes van Palmyra spreek van groot Romeinse invloed. Die ryk het gesukkel om handhawend te bly tussen die Romeine aan die een kant en die Perse aan die ander kant. In 273 is hulle deur die Romeine verower. Sedert die val van Palmyra tot laat in die sesde eeu was die Arabiere vasalle van of die Oos-Romeinse Ryk (later Bisantium) of die Sassanidiese Perse.
Arabiere en Islam