duimnael|300px|Boerevroue en kinders in 'n Britse konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog, ongeveer 1900.

'n Konsentrasiekamp is 'n groot aanhoudingsentrum wat geskep word met die doel om politieke vyande, vyandige persone wat nie burgers van die betrokke staat is nie, spesifieke etniese of geloofsgroepe, of burgerlikes wat krities teenoor 'n regering se beleid staan, veral tydens oorlogstoestande, te huisves. Dit word gebruik in omstandighede waar die geïnterneerdes voldoen aan breë toelatingskriteria na só 'n kamp, maar sonder dat die persone as individue toegang tot die normale regsverteenwoordiging gehad het. Gewoonlik word kampe vir krygsgevangenes nie as konsentrasiekampe beskou nie. Die woord konsentrasie toon nie alleen 'n geografiese konsentrasie aan nie, maar ook die oorbevolkte, ongesonde stand van sake binne-in só 'n kamp.

Geskiedenis Van die vroeëre beskawings, soos die Assiriërs, het gebruik gemaak van gedwonge hervestiging van hele bevolkingsgroepe, ten einde grondgebied te beheer.

Die moderne begrip was die eerste keer gevorm om sulke kampe te beskryf tydens die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika. Alhoewel Brittanje beweer het dat hulle aanvanklik gepoog het om hiermee hulp te verleen aan die Boeregesinne wie se eiendom vernietig is, is die kampe lateraan gebruik om groot getalle van die burgerlike bevolking te beperk en te beheer in dié dele van die land waar die Boere met vryheidsvegteraktiwiteite besig was. Tienduisende Boerevroue en -kinders, asook hulle plaaswerkers, is van hulle plase verwyder en het gesterf vanweë siektes wat die gevolg was van die oorbevolking, ondervoeding en gebrekkige sanitasie. Die woord konsentrasiekamp is gebruik om die konsentrasie van 'n groot aantal mense op een plek aan te dui en is gebruik om beide die kampe in Suid-Afrika (1899–1902) en die kampe wat met Spaanse ondersteuning in Kuba (ongeveer 1895–1898 ) opgerig is, al is daar sekere Spaanse bronne wat die vergelyking bestry .

In die loop van die vroeë twintigste eeu het die willekeurige inperking van burgerlikes deur die staatgesag al meer algemeen geword en 'n laagtepunt bereik tydens die volksmoord in die kampe van Nazi-Duitsland en met die Goelagstelsel van dwangarbeiderskampe in die Sowjet-Unie. As gevolg van hierdie neiging word die begrip konsentrasiekamp sterk geassosieer met uitwissingskampe en word soms as sinonieme gebruik. 'n Konsentrasiekamp is egter nie noodwendig 'n uitwissingskamp nie.

Konsentrasiekampe wêreldwyd (In alfabetiese volgorde)

Argentinië Tydens die sogenaamde Vuiloorlog (1976 tot 1983), onder die militêre diktatorskap van 'n driemanskap junta, was daar ongeveer 100 plekke dwarsoor Argentinië waar mense ondervra, gemartel en vermoor is. Hierdie slagoffers moes dikwels gedwonge afstand van hul eiendom doen. Ongeveer 11 000 mense het tydens hierdie periode verdwyn, waarvan dit bekend is dat ten minste 9 000 vermoor is. Die gesaghebbende werk hieroor is die Comisión Nacional sobre la Desaparición de Personas (1984), of kortweg CONADEP.

Bosnië en Herzegowina Bronne verskil, maar tussen honderd- tot tweehonderdduisend mense is in die periode tussen 1992 en 1995 in ongeveer 520 kampe, hoofsaaklik onder Serwiese beheer, aangehou. Vele gruweldade is teen hierdie mense gepleeg.

Brittanje regs|duimnael|350px|Plakket op die Potchefstroomse Konsentrasiekamp gedenkteken. Die name van die gestorwenes kan ook op 'n ander gedenkteken hiernaby gelees word. Die woord konsentrasiekamp is die eerste keer gebruik deur die Britse weermag tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902). Onder gevegsdruk van die Boerekommando's, het die Britte as deel van 'n verskroeideaardebeleid die Boerekrygers se vroue, kinders en plaaswerkers aangekeer en gestuur na 34 tentkampe dwarsoor Suid-Afrika. Sodoende kon hulle hul vyande toegang weerhou tot die kos- en ander voorrade wat noodsaaklik was vir die Boere om met die stryd voort te gaan.

Die kampe was geleë in Aliwal-Noord, Balmoral, Barberton, Belfast, Bethulie, Bloemfontein, Brandfort, Heidelberg, Heilbron, Howick, Irene, Kimberley, Klerksdorp, Kroonstad, Krugersdorp, Meerbank, Middelburg, Norvalspont, Nylstroom, Pietermaritzburg, Pietersburg, Pinetown, Port Elizabeth, Potchefstroom, Springfontein, Standerton, Turffontein, Vereeniging, Volksrust, Vredefortweg, Vryburg en Winburg.

Alhoewel die kampe nie uitwissingskampe was nie, is die vroue en kinders van aktiewe Boerekrygers kleiner voedselporsies gegee. Die swak dieet en gebrek aan higiëne het die weg gebaan vir aansteeklike siektes soos masels, ingewandskoors en disenterie. Met die tekort aan mediese versorging daarby gereken, het dié toestande gelei tot die dood van 'n beraamde 27 927 Afrikaners (waarvan 22 074 kinders was, jonger as sestien) en 14 154 swart Afrikane, weens verhongering, siekte en blootstelling aan swak weersomstandighede. Altesaam 'n kwart van die Afrikaanse en ongeveer 12% van die Afrikaan-gevangenes is dood in dié kampe. (Meer onlangse navorsing suggereer dat die sterfgetalle van die Afrikane onderskat is, en dat soveel as 20 000 van hulle ook gesterf het). links|duimnael|280px|Foto van die plakette by die Klerksdorpse konsentrasiekamp se kerkhof wat die name van gestorwenes (meestal minderjariges) lys. Die kerkhof is tans in 'n gehawende toestand. 'n Afgevaardigde van die South African Women and Children's Distress Fund, Emily Hobhouse het sommige van hierdie kampe in die Vrystaat besoek. Sy was grootliks verantwoordelik vir die wye bekendmaking van hierdie gevangenes se lot, met haar terugkeer na Brittanje. Haar verslag van vyftien bladsye het 'n opskudding in die Britse samelewing tot gevolg gehad, en was die oorsaak van die stigting van die Fawcettkommissie wat laat in 1901, na 'n besoek aan Suid-Afrika, haar bevindinge bevestig het. Die toepassing van die kommissie se aanbevelings het die jaarlikse sterftesyfer in die 'wit' kampe uiteindelik, in Februarie 1902, na 2% laat daal. Hobhouse se pleiting vir soortgelyke veranderinge vir die 'swart' kampe het egter nie so geredelik plaasgevind nie.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog, het Suid-Afrikaanse troepe van die Britse Ryk talle Duitse burgers in die destydse Duitswes-Afrika bymekaargemaak en weggestuur na konsentrasiekampe in Pretoria en later ook in Pietermaritzburg.

Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog het die Britte Duitse en Oostenrykse burgers wat in Brittanje woonagtig was, in 'n konsentrasiekamp op die eiland Man aangehou. Meeste van die gevangenes is binne ses maande weer bevry.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Britte gepoog om Joodse emigrasie na Palestina te voorkom, en derhalwe konsentrasiekampe in Siprus opgerig. Hier is uiteindelik 50 000 mense gevange gehou. Meer as 2 000 kinders is in dié kampe gebore. Nadat Israel 'n staat geword het, het die Britse regering steeds 8 000 Jode van militêre ouderdom, asook 3 000 van hul eggenote daar aangehou, om te probeer voorkom dat hulle hul aansluit by die worstelstryd waarbinne die Jode hulself bevind het. (Bron: N. Bogner, The Deportation Island: Jewish Illegal Immigrant Camps on Cyprus 1946–1948, 1991; in Hebreeus).

Gedurende die jare 1954 tot 1960, tydens die Mau Mau in Kenia, is kampe opgerig om persone wie vermoedelik rebelle was, aan te hou. Alhoewel presiese syfers nie bekend is nie, bestaan daar beraminge dat tot 1,5 miljoen mense aangehou is ('n getal soveel as omtrent die totale bevolking van die Kikoejoe), en dat tussen 130 000 en 300 000 mense dood is. (Bron: C. Elkins, Britain's Gulag: The Brutal End Of Empire In Kenya, 2005).

Chili In die dae van Pinochet se diktatorskap (1973 tot 1990), is politieke teenstanders aangehou in die stadion van die stad Santiago.

Duitsland Vir 'n breër dekking van die onderwerp, lees ook die artikel Nazi-konsentrasiekampe, die Lys van konsentrasiekampe in Nazi-Duitsland en die Joodse volksmoord. duimnael|Buchenwald-konsentrasiekamp

Die konsentrasiekampe (Konzentrationslager of KZ) het berug geword vanweë hule gebruik in Nazi-Duitsland. Die Nazi-bewind het hierdie kampe gebruik as arbeids- en strafkampe, reeds vanaf die begin van hulle bewind in 1933. Na die aanvang van die oorlog, is dit ook gebruik as uitwissingskampe vir die volksmoord van die Europese Jode. Meer as drie miljoen Jode is so dood. Meeste slagoffers is vermoor deur vergassing in gaskamers, maar talle ander is in groepe doodgeskiet, of het omgekom van die kombinasie van harde werk en verhongering. Die gevangenes is aangery na hierdie kampe in die volgestopte trokke van goederetreine, en menige is dood nog voordat hulle die kamp bereik het. Dit word beraam dat tot tien miljoen mense in Nazi-konsentrasiekampe dood is.

Finland Aan die einde van die Finse burgeroorlog van 1918, is ongeveer 75 000 gevangenes van die verloorkant geïnterneer. Honderd vyf en twintig van hulle is as Kommuniste skuldig bevind aan hoogverraad en is tereggestel, maar ongeveer 12 000 is dood aan siekte, en verhongering. 'n Onbekende aantal is dood ná hul vrylating; sommige van wie geskiet is toe hulle na hul tuisdorpe teruggekeer het.

Die Finse weermag het Oos-Karelië in 1941 beset, en het in dié gebied konsentrasiekampe tot stand gebring vir Russiese burgerlikes. Van die meer as 9 000 gevangenes het ongeveer 4 000 beswyk aan wanvoeding, veral gedurende die lente en somer van 1942.

Frankryk In 1830, maar veral ook weer tydens die onafhanklikheidsoorlog (1954 tot 1962) het Frankryk in besette Algerië groot getalle Algerynse burgers in konsentrasiekampe ingedwing. In die tweede geval is daar soms hele dorpe ontruim in die proses.

Italië Italië het ook tientalle konsentrasiekampe gehad gedurende die Tweede Wêreldoorlog, vanaf die somer van 1940 tot in September 1943. Min korrekte getalle is bekend.

Kambodja Reuse konsentrasiekampe en volksmoord het Kambodja gekenmerk ten tye van die Pol Potbewind (1976 tot 1979): lees die artikel Demokratiese Kambodja.

Kanada Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Kanada, soos sy buurman, die VSA dié burgers wat van Japannese en Italiaanse afkoms was, asook enige burgers wat gereken was om gevaarlik te wees vir die belang van nasionale veiligheid, aangehou. Die kampe was geleë naby Petawawa, Ontario, Kananaskis, Alberta, en Hull, Quebec.

Kroasië Die Ustaše, 'n Kroatiese Nazi-organisasie, het in die jare 1941 tot 1945 drie konsentrasiekampe geskep om tot soveel as 700 000 Serwiërs aan te hou.

Noord-Korea In Noord-Korea is daar huidig vyf konsentrasiekampe bekend. Ten tye van die skryf van hierdie artikel word meer as tweehonderdduisend gevangenes daarin gehuisves. Wanneer 'n beskuldigde beskuldig word van 'n politieke misdryf, word die persoon, en sy of haar gesin, sonder enige verdere reg op 'n verhoor toegesluit in een van hierdie kampe, en van daar af verder afgesonder van enige kontak met diegene daarbuite. Die beskuldigde self kry sonder uitsondering 'n lewenslange gevangenisstraf, maar die persoon se gesin word ná 'n periode van drie jaar vrygelaat, mits hulle ingestem het om intensief te studeer en dan 'n politieke eksamen deurkom. Daar word berig dat die gevangenes tot veertien uur 'n dag aan handearbeid en/of ideologiese breinspoeling spandeer. Die voorkoms van siekte en verhongering is hoog.

Konsentrasiekampe het in Noord-Korea ontstaan aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, ten tye van die land se bevryding van Japannese koloniale heerserny. Diegene wat toe beskou is as vyandige klasmagte – soos grondbesitters, vorige Japannese samewerkers, godsdienstige toegewydes en die gesinne van dié wat na Suid-Korea gevlug het – is bymekaargemaak en in 'n groot kamp aangehou. Soos wat die magstryd om politieke opponente te beheer, in die 1950's en 1960's verskerp het, is meer en meer kampe opgerig. Dit het veral gebeur onder die leiding van die Kim Il Sung-diktatorskap en sy opvolger Kim Jong-il. Teen die 1990's het wêrelddruk op Noord-Korea die getal konsentrasiekampe waarskynlik van twaalf na vyf verminder.

Oostenryk-Hongarye