duimnael|Resultaat van die verskroeideaardebeleid

Die Verskroeideaardebeleid is aanvanklik deur Frederick Roberts ingestel en later deur Horatio Kitchener uitgebrei gedurende die Tweede Vryheidsoorlog. Volgens hierdie beleid is byna al die Boere se plaashuise afgebrand, vee doodgemaak, lande aan die brand gesteek en die vroue en kinders is na konsentrasiekampe toe gestuur. In die kampe was daar onvoldoende kos en mediese dienste en in 1901 het ongeveer 25 000 kinders en 3 000 vroue in hierdie kampe gesterf.

Op 16 Junie 1900 het Lord Frederick Roberts in die middel van die Anglo-Boereoorlog ’n verwoestende plan beraam om die oorlog wat hy nie kon beëindig nie, te wen. Die taktiek staan bekend as die verskroeideaardebeleid en het ’n aanvang geneem toe proklamasie nommer 5 deur Roberts uitgevaardig is. Die taktiek het die afbrand van die vyand, in dié geval die burgers van die Boererepublike, se huise en plase behels. Dit is gedoen om “die lewe uit kommando’s uit te wurg” deur die voedselvoorraad, skuiling en morele ondersteuning wat hul huise bied, weg te neem. Dit is die grootste rede waarom die Boere dié oorlog verloor het.

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) is ongeveer 48 000 mense as ’n direkte gevolg van die verskroeideaardebeleid dood. 30 000 plase is afgebrand en as gevolg van ’n tekort aan kos, morele ondersteuning en skuiling het baie Boere en burgerlikes hul lewens verloor. Om al die vroue en kinders wat gesterf het as gevolg van die beleid te herdenk, is ’n monument bekend as die Vrouemonument, in Bloemfontein opgerig. Emily Hobhouse was ’n kampvegter vir die Boerevroue en -kinders en het hulle ondersteun en in die konsentrasiekampe bygestaan. Sy het later ook gehelp om die algehele lewensgehalte van die vroue en kinders te verbeter.

Lord Roberts se proklamasie

Lord Roberts het op 16 Junie 1900 die volgende proklamasie (No 5/1900) uitgevaardig:

duimnael|Lord Roberts

duimnael|Lord Herbert Kitchener

Historiese agtergrond Die term “verskroeideaardebeleid” is waarskynlik ’n vertaling van die Chinese frase jiāotŭ (zhèngcè). Die praktyk en taktiek van wat vandag as 'n verskroeideaardebeleid beskou kan word, dateer egter so ver terug as die tyd van antieke Egipte en Mesopotamië.

Suid-Afrika en die Anglo-Boereoorlog was dus nie die eerste land en geleentheid waartydens hierdie beleid toegepas is nie. Die verskroeideaardebeleid is vanaf die 18de eeu in die volgende konflikte toegepas:

18de eeu: Groot Noordelike Oorlog Sullivan-Clinton volksmoord Haïtiaanse revolusie teen Napoleon

19de eeu: Napoleontiese oorloë Suid-Amerikaanse Vryheidsoorlog Griekse Vryheidsoorlog Filippynse-Amerikaanse Oorlog Amerikaanse Burgeroorlog Inheemse Amerikaanse oorloë Tweede Boereoorlog Nieu-Seeland oorloë

20ste eeu: Eerste Wêreldoorlog Grieks-Turkse Oorlog Tweede Sino-Japannese Oorlog Tweede Wêreldoorlog Maleisiese Bevrydingsoorlog Goa Oorlog Viëtnamoorlog Persiese Golfoorlog Guatemalaanse Burgeroorlog

21ste eeu: Tsjetsjeense oorloë Darfoeroorlog Sri Lankaanse Burgeroorlog Mianmarse burgeroorlog Russies-Oekraïnse Oorlog

Aanloop tot die beleid in Suid-Afrika Uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog Die Tweede Vryheidsoorlog (11 Oktober 1899 – 31 Mei 1902), ook bekend as die Boereoorlog, die Anglo-Boereoorlog, of die Suid-Afrikaanse Oorlog, was ’n konflik wat gevoer is tussen die Britse Ryk en die twee Boere-Republieke (die Zuid-Afrikaanse Republiek en die Oranje-Vrystaat) oor die Ryk se invloed in Suidelike Afrika en hul begeerte om beheer te kry oor die goudvelde van die Zuid-Afrikaanse republiek.

Die oorlog het uit drie fases bestaan. In die eerste fase het die Boere aanvalle op Brits-beheerde grondgebied in Natal en die Kaapkolonie geloods. In die tweede fase, nadat die aantal Britse troepe onder bevel van Lord Roberts sterk toegeneem het, het die Britte in 1900 aanvalle geloods wat die beleërings sou beëindig, waarna die opmars na die hoofstede van die Boererepublieke sou begin. Teen Junie 1900 was beide hoofstede van die Boererepublieke, Bloemfontein en Pretoria, onder Britse beheer. Hierna sou die derde en laaste fase van die oorlog aanbreek. Hierdie fase het as die guerilla-fase bekendgestaan. Dit het in in Maart 1900 begin en die oorlog met bykans twee jaar uitgerek.

Konvensionele fase van die oorlog (1899–1900)

Die konflik tussen Brittanje en die Boererepublieke het in 1899 uitgebreek na die mislukking van die Bloemfontein-konferensie. Daar is Britse troepe na die grense van die Boererepublieke gestuur. Die doel was om die republieke in te val. Die Boere het hierdie aggressiewe aksie gesien en daarop gereageer. Die konflik het amptelik begin nadat die verstryking van die ultimatum wat die Boere aan Brittanje gestel het en Boere begin het om militêre aanvalle op koloniale nedersettings in nabygeleë Britse kolonies uit te voer. Die eerste twee fases van die oorlog is hoofsaaklik deur konvensionele krygstaktiek gekenmerk.

Tydens die eerste fase van die stryd, beginnende in Oktober 1899, het die Boere: Ladysmith, Kimberley en Mafikeng beleër, en het hulle 'n reeks oorwinnings by Colenso, Magersfontein en Slag van Stormberg behaal. In reaksie op hierdie ontwikkelinge is 'n toenemende aantal Britse soldate na Suid-Afrika gestuur en het hulle grotendeels onsuksesvolle aanvalle teen die Boere geloods.

Tydens die tweede fase van die stryd het die militêre posisie van die Britte begin verander toe hulle bevelvoerende offisier, generaal Redvers Buller, deur Lord Roberts en Lord Kitchener vervang is. Hulle het die drie beleërde stede ontset en die twee Boere-Republieke in die begin van 1900 aan die hoof van ’n 180 000-man sterk ekspedisiemag, ingeval. Die Boere, bewus van hul onvermoë om so 'n groot mag te weerstaan, het gekies om nie meer konvensionele metodes in veldslae te gebruik nie en het die Britte toegelaat om beide republieke en hul hoofstede, Pretoria en Bloemfontein, in te neem.

Volgens die Britte was die einde van die oorlog in sig. Sommige Boere het oorgegee, maar is deur hul volk as verraaiers beskou en is later “hensoppers” genoem. In 1900 het die Britse Ryk die twee Boererepublieke amptelik tot Britse grondgebied verklaar, min wetende dat die stryd vir nog twee jaar sou voortduur.

Guerilla fase van die oorlog Tydens die derde fase van die oorlog, het die Boere hul taktiek verander. Hulle het besef dat konvensionele krygstaktiek nie teen die Britte sou slaag nie. Dit was die begin van die guerilla fase van die oorlog. Die Boere wat by hierdie fase van die stryd betrokke was, het as die Bittereinders bekendgestaan. Onder leiding van bekende generaals soos Louis Botha, Jan Smuts, Christiaan de Wet en Koos de la Rey, het die Boere-generaals aanvalle en hinderlae teen die Britte uitgevoer wat twee jaar lank aangehou het. Deur fynbeplande aanvalle op troepkolonnes, telegraafstasies (kommunikasie infrastruktuur), spoorweë en stoorplekke, is die Britse magte lamgelê. Die guerilla-taktiek het ’n taktiek van herhaaldelike (en blitsige) aanval en terugval behels. Die Boere het hul groot kommando’s opgebreek in kleiner, meer beweeglike eenhede en het kort, effektiewe aanvalle geloods en dan weer teruggeval voor daar ernstige verliese gely is.

Dit was moeilik vir die Britte om die Boere-generaals te verslaan. Dit was deels weens die Britte se onbekendheid met guerrillataktiek en omdat die Boerevrouens die burgers vanaf die plase met proviand en inligting ondersteun het. Verder was die Boere wat in kleiner eenhede beweeg het, ook baie meer mobiel as die lomp gevegseenhede van die Britte. Hierdie taktiek het die Britte genoodsaak om van taktiek te verander ten einde die oorlog in hul guns te beklink. Dit was die begin van die verskroeideaardebeleid.

Die verskroeideaardebeleid word ingestel (16 Junie 1900) Om ondersteuning aan die Boere-guerrillas te ontneem, het die Britte, nou onder die bevel van Lord Kitchener, ’n verskroeideaardebeleid aangeneem. Hulle het begin om oral blokhuise op te rig wat die bewegings van die Boere sou bemoeilik en strategiese infrastruktuur sou beskerm. Doringdraadheinings is gespan om die bewegings van die Boere aan bande te lê. Daar is verder besluit om Boereplase te vernietig en die vrouens, kinders en werkers na konsentrasiekampe te verskuif en sodoende die Boere se ondersteuningsnetwerke te vernietig.

Oorspronklik was die plan om net sekere plase af te brand. Net plase met baie voedselvoorrade sou geteiken word. Generaal Arthur Hart was in beheer van die verbranding van plase geplaas. Sy opdrag was om die oorblywende weerstand wat die Boere gebied het, uit te wis deur alle voedsel, ondersteuning en vervoer te verwyder. Sy eerste opdrag was om na Potchefstroom toe te reis en op pad na die dorp, tussen die Gatsrand en Mooirivier, plase af te brand en vee te buit. Die gebied was baie vrugbaar en het dus baie voedsel aan die Boeremagte gelewer. Hy het op die eerste dag van sy reis 600 beeste, 1200 skape en bokke en 13 waens vol voer gebuit (pdf). Generaal Pretorius Johannes Liebenberg het egter nuus ontvang van die skade wat hy besig was om aan te rig en het hom probeer stop. Dié skermutselings en die feit dat dit baie moeite was om soveel diere en voer te steel, het Hart gekeer om weer so baie te steel. Hy het in totaal nog 1340 skape en beeste en 400 sakke mieliemeel gebuit.

Op 9 September 1900 het hy Potchefstroom beset. Daar is patrollies vanuit Potchefstroom gestuur om meer plase af te brand. Die burgers van Potchefstroom het egter konstant teen Hart in opstand gekom. Liebenberg het op hierdie manier agtergekom waar hulle strooptogte beplan het en elke nou en dan aanvalle op Hart se magte geloods. Liebenberg was van mening dat Hart nie tegelyk sy manskappe kon verdedig, die dorp bestuur en plase afbrand nie. Hy was reg.

Op 22 September 1900 het Roberts generaal Hart herroep, omdat hy ontevrede was met sy vordering. Hart het na Krugersdorp teruggekeer met 6000 stuks vee en 378 voertuie . Hy kon nie saamvat, wat hy reeds verwoes het nie. Hy het wel ’n voorbeeld gestel vir die toekomstige generaals wat die beleid moes toepas. Hy het ook 96 gevangenes saamgebring. 70 van hulle was dorpsburgers wat in opstand teen sy gesag gekom het. Ten spyte van al die skade wat hy aangerig het, het Liebenberg gebly.

Later het generaal Hart teruggekom na Potchefstroom toe. Onder leiding van majoor-generaal Geoffrey Barton, het al die Britse troepe in die gebied op Liebenberg gefokus om hom uit die gebied te verwyder. Op pad na Potchefstroom is Barton naby Frederikstad deur Liebenberg voorgekeer. Barton en sy manne sou ’n entjie verder voorraad en meer troepe ontvang, maar die brug waaroor hul trein moes gaan, was stukkend. Hulle moes wag dat dit herstel kon word. Dit vat toe langer as wat verwag is om die treinspoor te herstel en Barton se troepe moet hulself verdedig. Liebenberg se manne het in ’n dun kring rondom Barton se kamp gewag en gekeer dat Barton nie patrollies kan uitstuur nie. Liebenberg sien toe ’n geleentheid raak om Barton te verslaan en vra om generaal Christiaan de Wet se hulp. Die veldslag van Frederikstad vind toe hier plaas. Die geveg het vanaf 20 Oktober 1900 tot 25 Oktober 1900 geduur . Die Boere het ’n ernstige nederlaag gely en Liebenberg het toe uit die Potchefstroomgebied onttrek.

Al Barton se doelwitte is dus met een veldslag bereik. Liebenberg het ’n groot fout gemaak deur die guerrillataktiek met een langdurige aanval te vervang. Die gevolge van die beleid

Vernietiging van infrastruktuur en ontworteling van ’n volk

Die verskroeideaardebeleid het vernietigende gevolge vir die Boererepublieke gehad. Dit het veroorsaak dat ongeveer 30 000 plase tydens die Anglo-Boere oorlog afgebrand is. Nagenoeg 48000 mense, waaronder bykans 34000 vrouens en kinders, het hul lewens in konsentrasiekampe as ’n direkte gevolg van die verskroeideaardebeleid verloor.

duimnael|Britse Troepe brand 'n plaashuis af