Gamma Arae (γ Arae, afgekort as Gamma Ara of γ Ara) is ’n ster in die suidelike sterrebeeld Altaar (Ara). Met ’n gemiddelde skynbare magnitude van 3,3 is dit die vierde helderste ster in die sterrebeeld en is dit maklik met die blote oog sigbaar. Dit is sowat 1 110 ligjare van die Son af.

Eienskappe Dit is ’n enorme ster met ’n radius van 23 keer dié van die Son. Dit straal 120 000 keer soveel energie as die Son uit, met ’n oppervlaktemperatuur van 21 500 K. Dié hitte gee Gamma Arae die kenmerkende blouwit skynsel van ’n B-tipe ster. Dit het ’n sterreklassifikasie van B1 Ib – die helderheidsklas "Ib" dui aan dit is ’n superreus met ’n laer ligsterkte. Gamma Arae is redelik jonk, met ’n geraamde ouderdom van sowat 15,7 miljoen jaar.

Die ster roteer vinnig, teen ’n snelheid van 269 km s-1, wat beteken dit voltooi ’n volle rotasie elke 4,8 dae. Dit veroorsaak absorpsielyne in sy spektrum wat saamvloei vanweë die Doppler-effek, wat hulle moeilik maak om te ontleed. Dit is ’n periodies veranderlike ster wat nieradiale pulsasies ondergaan met ’n primêre periode van 1,1811 dae en ’n sekondêre periode van 0,1281 dae.

Sterrekundiges stem nie heeltemal saam oor die massa van die ster nie. Tetzlaff et al. (2011) raam dit op sonmassas, terwyl Fraser et al. (2010) meen dit is sowat 19 sonmassas en Lefever et al. (2007) dit aangee as 25. Die ster verloor massa weens ’n sterwind teen ’n tempo van 3 × 10-8 sonmassas per jaar – dit is gelyk aan die verlies van ’n massa van die Son elke 33 miljoen jaar. Die wind word beïnvloed deur die ster se vinnige rotasie, wat ’n toename in verlies met die ewenaar langs tot gevolg het.

Gamma Arae het ’n optiese metgesel-ster, ’n A-tipe hoofreeksster met ’n skynbare magnitude van 10,5, teen ’n hoekafstand van 17,9 boogsekondes.

Verwysings

Eksterne skakels HR 6462 Foto van Gamma Arae by Aladin

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:B-tipe superreuse Kategorie:A-tipe hoofreekssterre Kategorie:Altaar (sterrebeeld)