Dr. Pieter Groenewald (* 27 Augustus 1955 as Petrus Johannes Groenewald) is ’n Suid-Afrikaanse politikus. Hy dien sedert 3 Julie 2024 as Minister van Korrektiewe Dienste in die Regering van Nasionale Eenheid. Groenewald is ’n stigterslid en die voormalige nasionale leier van die Vryheidsfront Plus van 2016 tot Februarie 2025, lid van die parlement van Suid-Afrika, en lid van die dagbestuur van die Organisasie van Nie-verteenwoordigde Nasies en Volkere. Groenewald was van 1994 tot Maart 2017 die provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in Noordwes en hy was Federale Voorsitter van die Vryheidsfront Plus van 11 Augustus 2011 tot 12 November 2016, toe hy as nasionale leier van die party verkies is. Hy was van 1994 tot 1999 voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee op verdediging.
Vroeë lewe en opleiding Na afloop van sy hoërskoolloopbaan meld Groenewald aan vir militêre diens by die Weermag se beredesentrum in Potchefstroom. Na afloop van sy militêre diens verwerf hy ’n B.Iuris-graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy het ook ’n nagraadse diploma in kommunikasie voltooi, gevolg deur ’n meestersgraad in 2005 in bestuur en ontwikkeling met sy verhandeling Die oorloopklousule as faktor in die herskikking van die Suid-Afrikaanse partypolitiek en ’n doktorsgraad in 2013 in politieke wetenskap met die titel van sy proefskrif Die Suid–Afrikaanse nasionale kiesstelsel : ’n kritiese ontleding en alternatiewe. Hy het talle oorsese studietoere onderneem.
Verwysings
Eksterne skakels
Biografiese profiel op partywebwerf
Dr Pieter Groenewald op Who's Who Southern Africa
Kategorie:Afrikaners Kategorie:Geboortes in 1955 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Politici van die Vryheidsfront Plus