Die rooinerfie (Trithemis arteriosa) is 'n naaldekoker wat tot die familie Libellulidae behoort.

Voorkoms Liggaamslengte: 32–36 mm. Agtervlerklengte: 26–27.5 mm.

Die mannetjies is rooi met bloedrooi oë. Die voorste gedeelte van die toraks is rooi met swart strepe aan die kante; die mannetjies het soms 'n pers gedeelte bo-op die toraks. Die vlerke het helderrooi are en ligte oranje spatsels aan die basisse. Die skraal agterlyf is helderrooi en die swart wigvorms langs die punt van die agterlyf is een van die duidelikste kenmerke. Die wyfies het soortgelyke kenmerke as die mannetjies, maar is geel tot geelbruin, nie rooi nie.

Verspreiding Die rooinerfie is een van die mees wydverspreide en algemene naaldekokers in Afrika, die suide van Europa en die Arabiese Skiereiland. Die verspreidingsgebied strek tot by Turkye, Kreta in Griekeland en Iran.

Habitat Dit kom by varswaterdamme en -mere voor, asook by permanente poele in droë rivierbeddings, langs besproeiingkanale, en naby groot riviere.

Verwysings

Kategorie:Naaldekokers