Die Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum is 'n militêre lugvaartmuseum vir die versameling, bewaring, herstel en uitstalling van artikels en rekords wat verband hou met die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Lugmag. Die museum het drie takke: Lugmagbasis Swartkop buite Pretoria, Lugmagbasis Ysterplaat in Kaapstad en by die lughawe in Port Elizabeth.
Geskiedenis Die Minister van Verdediging het op 26 Oktober 1973 toestemming gegee vir die vestiging van 'n Lugmagmuseum. Kol. PJM McGregor was die eerste bevelvoerder van die museum.
Die opleidingskool van die Suid-Afrikaanse Mediese Korps het op 2 November 1973 die Lockheed PV-1 Ventura met die reeksnommer 6487 aan die Museum aangebied (dit was die SALM-museum se eerste vliegtuig). Loods nommer 13 by Lugmagstasie Snake Valley naby Pretoria is as museumstoorfasiliteit beskikbaar gestel.
Daar is oral in Suid-Afrika wrakke en oorblyfsels van vliegtuie gevind. Van hierdie vliegtuie is teen Desember 1973 geïnspekteer; daaronder het vyf B-34 Ventura II-vliegtuie op ’n plaas en ’n Sikorsky S-51-helikopter by ’n skrootwerf in Soutrivier naby Kaapstad getel. Verskillende mense het verskillende items aan die Museum geskenk.
Die SALM-museum het uitgebrei en die Suid-Afrikaanse Nasionale Oorlogsmuseum het ’n Fieseler Storch aan die Museum geleen. (Hierdie lening is later in ’n skenking omskep.) Ander items het ook na die Museum toe gekom.
’n Vliegtuig wat ’n groot bydrae gelewer het om belangstelling in die geskiedenis van plaaslike lugvaart te bevorder was die Spitfire Merk IX E wat deur Larry Barnett en Alan Lurie gerestoureer is. Evelyn is vir die eerste keer in 1975 ten toon gestel. Die vliegtuig is op 6 April 1976 tydens ’n seremonie op die grondslag van ’n jaarlikse lening aan die SALM oorhandig en is vir promosiedoeleindes gebruik.
Die tydperk 1976 tot 1980
In Augustus 1976 het ’n ander eenheid die stoorfasiliteite by Snake Valley nodig gekry en die grootste deel van die Museum se vliegtuie is na Lanseria-lughawe verskuif.
Die loods by Lanseria-lughawe op 15 Desember 1976
Verskillende vliegtuie, enjins en vliegtuigdele is op 15 Desember 1976 by Lanseria gesien. Daar was 'n Percival Prentice ZS-EUS, Tiger Moth 1467 (op lening), Sikorsky S-55 ZS-HDO, ’n Merk 35-Goblin-enjin met die konstruksienommer 9009 (van die SAL by Jan Smuts), ’n Goblin-enjin met die konstruksienommer 5510, die enjinkap en die stuurkajuit-en-neusdeel van Anson HD 4588 of 6588 by Kuilsrivier, ’n Junkers Jumo-enjin, ’n Hispano 20 mm-kanon, ’n Anson Armstrong-Whitworth-geweerkoepel van Port Elizabeth af, ’n Wright Cyclone-enjin, stukke van Anson 4437 vanaf 43 Lugskool by Somerset-Oos, ’n Armstrong Siddeley Cheetah-enjin en ’n lugraam van Uitenhage af.
Lugmagstasie Snake Valley Nadat die meeste van die Museum se vliegtuie en toerusting in Augustus 1976 na Lanseria verskuif is, het daar 'n paar vliegtuie by Snake Valley agtergebly.
Die volgende vliegtuie kon op 15 Desember 1976 by Snake Valley besigtig word: Sabre 361F, Vampire 219, die neusdeel van Vampire 221, Vampire 229 en Ventura 6487.
Die Aviation Africa-lugskou in Oktober 1977 Die Suid-Afrikaanse Lugmag het in Oktober 1977 heelwat vliegtuie tydens die Aviation Africa-lugskou ten toon gestel. Dit het vliegtuie van die SALM-museum ingesluit. Daar was die Spitfire IX, twee Sikorsky S-55-helikopters, ’n Anson-neus-en-stuurkajuitdeel, ’n Fairchild Argus, ’n Percival Prentice en ’n Tiger Moth.
Sikorsky S-55 CR-ALO Sikorsky S-55 CR-ALO is tydens die lugskou met twee dekals gesien, naamlik die reeksnommer A4 en ’n SALM-kasteel. Hierdie helikopter het die konstruksienommer 55-959 en is in 1956 deur die SALM gekoop (hy het die reeksnommer A4 in die SALM gehad). Daarna is dit as ZS-HCO aan Autair verkoop. Autair het die masjien as CR-ALO na sy Mosambiekse filiaal oorgeplaas (die masjien is in Januarie 1970 as CR-ALO geregistreer en die registrasie CR-ALO is in Julie 1977 gekanselleer). Ná kansellasie is CR-ALO vir vliegdoeleindes tydelik as “ZS-O” geregistreer en het toe na die SALM-museum gegaan.
Percival Prentice VS609 Die Percival P-40 Prentice T Merk 1 met die reeksnommer VS609 (kode P) het die konstruksienommer PAC/207 en is in 1949 gebou. Die vliegtuig se vorige identiteite is VS609 (Koninklike Britse Lugmag), G-AOPL (30 Mei 1956 geregistreer; 24 April 1967 na eienaar in Suid-Afrika oorgeplaas) en ZS-EUS (20 Oktober 1967 geregistreer; 11 Augustus 1971 gekanselleer).
Spitfire Evelyn Evelyn het die lewe as ’n Supermarine Spitfire H.F.IXc/e met die nommer MA793 begin en het die reeksnommer 5601 in die SALM gehad. MA793 het op 30 September 1948 in Suid-Afrika aangekom. Nommer 5601 is as onderdeelbron gebruik en is in 1954 aan die Meerhof-hospitaal vir Gestremde Kinders verkoop, waar die vliegtuig gebly het totdat dit in 1967 deur Larry Barnett gekoop is. Die vegvliegtuig is gedurende die volgende agt jaar gerestoureer en is in September 1975 by die fasiliteite van die Atlas-vakleerlingskool onthul. Die vliegtuig was as PT672 met die kode WR-RR van die SALM se eskader nommer 40 van die Tweede Wêreldoorlog geverf. Evelyn het tot 1986 in Suid-Afrika gebly.
Lugmagbasis Durban-opedag 15 Julie 1980 duimnael|Supermarine Spitfire Merk IX reeksnommer PT672 en naam Evelyn op 15 Julie 1980. Die Supermarine Spitfire Merk IX met die reeksnommer PT672 en die naam Evelyn het op 15 Julie 1980 aan die Lugmagbasis Durban-opedag deelgeneem.
In die meegaande foto word die Supermarine Spitfire Merk IX met die reeksnommer PT672 op 15 Julie 1980 by Durban gesien. “WR” is die kode wat 40 Eskader gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebruik het. Die wapen van 40 Eskader kan op die neus van die vegvliegtuig gesien word. Die vliegtuig is gereed om na die aanloopbaan te ry en met sy vliegvertoning te begin.
Lugskoue wat van 2000 tot 2005 gehou is
Lugmagbasis Waterkloof in September 2000 en September 2002 In die jaar 2000 was die Suid-Afrikaanse Lugmag 80 jaar oud. Verskeie lugskoue het gedurende die jaar 2000 plaasgevind om hierdie geleentheid te vier. Een van die skoue was in September by Lugmagbasis Waterkloof. Die Africa Aerospace and Defence-tentoonstelling is in September 2000 en September 2002 by Waterkloof gehou. Vliegtuie van die SALM-museum was tydens al drie geleenthede te sien.
Lugmagbasis Waterkloof September 2000 Die hoogtepunt van die Suid-Afrikaanse Lugmag se verjaarsdagvieringe in die jaar 2000 was die SALM 80 Internasionale Lugskou by Lugmagbasis Waterkloof weens internasionale deelname. Die militêre skou het van 8 tot 9 September 2000 geduur en het met Africa Aerospace and Defence (AAD 2000) saamgeval. AAD 2000 is van 5 tot 7 September gehou.
Lugmagbasis Waterkloof September 2002 Vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum is in September 2002 gesien gedurende die Africa Aerospace and Defence-tentoonstelling wat by Waterkloof gehou is.
Polokwane Internasionale Lughawe 21 Mei 2005 geen|duimnael|Mirage IIIBZ reeksnommer 817 word op 21 Mei 2005 op die Polokwane Internasionale Lughawe-vluglyn gesien. Die vliegtuig het tydens ’n lugskou aan die vliegvertoning deelgeneem. Die masjien het teen daardie tyd die burgerlike registrasie ZU-DMD verkry en het deel van die SALM-museum-vlug uitgemaak.
Lugskou Makhado 8 Oktober 2005
Geskiedenisse van die Swartkop-, Port Elizabeth- en Ysterplaat-tak van die SALM-museum
Swartkop-tak
Internasionale Museumdag 18 Mei 1991
Internasionale Museumdag is op 18 Mei 1991 by Lugmagbasis Swartkop gehou. Verskillende lugvaartuie van die SALM-museum kon op hierdie dag by Swartkop gesien word. Dit het die volgende vliegtuie en helikopters ingesluit: Sud Aviation Alouette II nommer 22, Westland Wasp nommer 96, Aerospatiale Super Frelon nommer 309, Hawker Siddeley Buccaneers nommers 414 en 421, Dassault Mirage IIICZ nommer 804, Dassault Mirage IIIBZ nommer 816, Dassault Mirage IIIRZ nommer 835, Shackletons nommers 1716 en 1721, Sikorsky S-51 nommer A1, Sikorsky S-55 nommer A5, Hunting Provost nommer RR137 van die Koninklike Rhodesiese Lugmag en Lockheed Ventura TS306 (hy was voorheen van die SAL-vakleerlingskool en was bestem om reeksnommer 6498 van die SALM-museum te word). Van hierdie lugvaartuie kon vlieg en was deel van die SALM-museumvlug en ander is normaalweg staties ten toon gestel.
Lugskou op 15 Mei 1993
’n Lugskou om die amptelike opening van die SALM-museum by Swartkop te vier het op 15 Mei 1993 plaasgevind.
Museumvliegdag 21 Augustus 1993 Die eerste vliegdag van die SALM-museum het op 21 Augustus 1993 by Swartkop plaasgevind.
Besoek aan SALM-museum Swartkop 9 Februarie 2003
Toe die Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum by Swartkop op 9 Februarie 2003 besoek is, was sommige van die vliegtuie buitekant uitgestal.
Besoek aan SALM-museum Swartkop 22 Maart 2005 geen|duimnael|Mirage IIIBZ reeksnommer 818 word op 22 Maart 2005 in die SALM-museum Swartkop-buitevertoongebied gesien.
Swartkop-lugskou 17 September 2005 duimnael|’n Ventura met kamele en ander SALM-museum-lugvaartuie word op 17 September 2005 by Swartkop gesien. Swartkop het ’n ryk geskiedenis. Toe Swartkop as aktiewe SALM-basis gesluit is, was dit die oudste SALM-basis (ongeveer 75 jaar oud) – die basis het tot stand gekom toe die SALM gebore is. Baie geskiedkundige besoeke het gedurende die basis se vroeë jare plaasgevind. In ’n stadium het FASK die SA Historiese Vlug, die Harvard-klub van Suid-Afrika, die hooftak van die SALM-museum en 17 Eskader van die SALM gehuisves. Swartkop is egter ten tye van die lugskou weer as SALM-basis gebruik totdat probleme met die aanloopbaan by Lugmagbasis Waterkloof uitgesorteer kon word. Die burgerlike operateurs is gevra om te verhuis.
Uitgestalde SALM-museumvliegtuie duimnael|Mirage IIIRZ reeksnommer 838 met toeskouers. Rondom hierdie tyd is sommige van die SALM-museum se vliegtuie permanent buite ten toon gestel terwyl ander binne (in die verskillende loodse en die vertoonsaal) ten toon gestel is. Hoewel sommige van die vliegtuie wat buite ten toon gestel is in ’n swak toestand was, was dié van die Museumvlug in ’n uitstekende toestand. Om plek vir statiese uitstallings te maak is sommige van die permanent ten toon gestelde SALM-museumvliegtuie verskuif. ’n Lugskou soos hierdie bied die algemene publiek ’n uitstekende geleentheid om na die verskillende uitgestalde vliegtuie te kyk en die Museumvlug in aksie te sien.
Die artefakte by die Museum wat staties ten toon gestel word, was baie gewild – mense het na die verskillende uitstallings gekyk en byvoorbeeld tougestaan om ’n geleentheid te kry om die SAL-museum se Airbus A300-nabootser te sien en te voel hoe dit is om in een te sit. Buiten die A300-nabootser was daar ’n Link-, ’n Impala- en ’n Cheetah D-nabootser. Al hierdie nabootsers het toeskouers ’n idee gegee van die fasiliteite wat gebruik is en word om die lugvaarders van die verskillende generasies op te lei.
Besoek 31 Mei 2008 Op 31 Mei 2008 was van die SALM-museum se vertoonstukke buite en ander binne te sien.
SALM-museum Swartkop 10 Augustus 2013 Op 10 Augustus 2013 was daar in ‘n lang onderdakvertoongebied by SALM-museum Swartkop vegvliegtuie en opleidingsvliegtuie uitgestal. Hierdie vliegtuie het die volgende ingesluit:
211 Mirage F1CZ, 235 Mirage F1AZ, 589 Impala I, 805 Mirage IIICZ, 818 Mirage IIIBZ, 835 Mirage IIIRZ, 842 Cheetah E en 847 Cheetah D.
Port Elizabeth-tak
Lugvaartuie van die SALM-museum was op 22 November 2005 in die hoofmuseumgebou en in Peter Boshoff se plek oorkant die hoofeindpuntgebou van Port Elizabeth-lughawe uitgestal en gestoor. Hoewel die lugvaartuie in die museum binnekant uitgestal was en dus moeilik was om te fotografeer, was die Port Elizabeth-tak ’n goeie plek uit ’n besoeker se oogpunt, aangesien die luike en stuurkajuite van die Impala Mk II en die Mirage F1CZ oop was en die binnekante van die twee vliegtuie gesien en afgeneem kon word. Ander volledige lugvaartuie het ’n Vampire, Scout en Bell Sioux ingesluit.