Livermorium is ’n superswaar, kunsmatige element met die atoomgetal 116 en simbool Lv. Dit is die derde swaarste bekende element en die derde laaste element van die 7de periode op die periodieke tabel.
Dit is ’n uiters radioaktiewe element wat in ’n laboratorium geskep is en nie sover bekend in die natuur voorkom nie. Dit is genoem na die Lawrence Livermore Nasionale Laboratorium in Livermore, Amerika, wat saam met die Gesamentlike Instituut vir Kernnavorsing in Doebna, Rusland, gewerk het om dit in 2000 te ontdek. Die naam is op 30 Mei 2012 deur die Internasionale Unie van Suiwer en Toegepaste Chemie (IUSTC) aanvaar. Daar is vier bekende isotope met massagetalle van tussen 290 en 293; die een met die langste leeftyd is livermorium-293, met ’n halfleeftyd van sowat 60 millisekondes.
Op die periodieke tabel kom livermorium in die p-blok in die 7de periode voor. Dit is die swaarste chalkogeen in groep 16, maar daar is nog nie bevestig dat dit optree soos die swaarder homoloog van die chalkogeen polonium nie. Daar is bereken livermorium het dieselfde eienskappe as sy ligter homoloë, suurstof, swael, seleen, telluur en polonium, en dat hy ’n hoofgroepmetaal is, hoewel dit ook grootliks van hulle kan verskil.
Verwysings
Eksterne skakels Livermorium at The Periodic Table of Videos (Universiteit van Nottingham) Livermorium by WebElements.com
Kategorie:Livermorium