Ds. Nicolaas Jacob Reinier Swart (Amsterdam, Nederland, 3 Junie 1831 – Mosselbaai, Kaapkolonie, 20 Februarie 1892) was predikant in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, Transvaalse hoofamptenaar (later staatsekretaris genoem) en sakeman.

Herkoms Swart was die oudste seun van die welgestelde hidrograaf en ryksonderwyser in die seevaartkunde Jacob Swart (1796–1866), en sy vrou, Anna Maria Scherius. Jacob Swart was indertyd ’n bekende voorstander van Voortrekkerbelange. Hy en sy vrou het vanuit Nederland hul bes gedoen om in die Voortrekkers se geestelike behoeftes te voorsien. Die gesin het behoort tot die Nederlandse Hervormde Kerk. Swart was godsdienstig-vrysinnig van gesindheid en is in die moderne en klassieke tale en die seevaartkunde opgevoed omdat sy vader wou hê hy moes in sy voetspore volg. Vroeg al was Nicolaas Swart etlike Europese tale magtig en kon as seun reeds Grieks en Latyn lees. Ook Engels het hy, nes sy ontwikkelde vader, goed magtig geword.

Verhuising na Suid-Afrika Dr. Bouke Spoelstra, geskiedskrywer van die Gereformeerde Kerk, en ’n naamlose skrywer op die webtuiste van die Gereformeerde kerk Pretoria, waarvan Swart van 1866 tot 1872 die tweede leraar was, se weergawe van Nicolaas Swart se koms na Suid-Afrika verskil in sekere opsigte lynreg van mekaar. Spoelstra skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Swart se vader het hom in 1849 "vanweë huislike spanning" op ’n retoerreis na Australië gestuur as lid van die skeepsbemanning. Op die uitreis het hy in Kaapstad in die geheim die skip verlaat. Volgens die Pretoriase kerkwebtuiste wou Jacob Swart sy seun altyd die beste geleenthede gee; daarom het hy by hom aangedring om hom verder in Australië te bekwaam. "Dit gebeur in 1849 dat die skip waarmee hierdie reis onderneem is, by Kaapstad (moes vasmeer) om vandaar die reis voort te sit. In die Kaap het die jonge Nicolaas, 19 jaar oud, eenvoudig nie verder wou saamreis toe die skip weer moes vertrek nie. Hy het besluit om sy voete op Afrika-bodem vas te maak."

Eerste jare in die Kaapkolonie duimnael|regs|200px|Ds. Swart en ds. (later pres.) Thomas François Burgers was goed bevriend vandat laasgenoemde predikant van die NG gemeente Hanover geword het, maar eindelik het Swart sy ou vriend se bewind in Transvaal tot 'n val help bring. Met behulp van bekenstellingsbriewe van sy vader, onder meer aan ds. Andrew Murray, die ouere, van die NG gemeente Graaff-Reinet – en moontlik Kaapse vriende van sy ouers – het Swart deur ds. Murray se toedoen winkelklerk en daarmee saam boekhouer van die firma Gebroeders Mosenthal (of Mosenthal en Kie.) op Graaff-Reinet geword. Volgens die kerklike webtuiste het sy "vader het hierdie verwikkelinge goedgekeur op die voorwaarde dat hy na Nederland moes terugkeer as hy nie binne ’n jaar ’n goeie betrekking kry nie". Toe die winkeleienaars op ’n dag van Swart verwag om as deel van sy werk in ’n kantien uit te help, het hy botweg geweier en summier bedank.

Onderwyser Ds. Murray en dr. G.H. Maasdorp het ewe sterk by Swart aangedring dat hy die onderwys betree. In 1852 het hy dan ook, toe nog ongetroud, as skoolmeester in die distrik Graaff-Reinet op die kolonieplaas (of die plaas Coloniesplaats, volgens R. en N. Musiker in die Standard Encyclopaedia of Southern Africa en dr. Spoelstra) van Kootjie Burgers, ’n oom van die predikant en later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek, ds. T.F. Burgers, begin werk. So het hy laasgenoemde goed leer ken terwyl dié in die pastorie van ds. Andrew Murray sr. op Graaff-Reinet ingewoon en onder die leiding van George Bremner hom op sy voorgenome universitêre studie voorberei het.

In Julie 1858, toe Swart op een van talle plekke in die omgewing van Hanover skoolgehou het in ruil vir kleinvee, het hy onder die invloed van ’n familie van die Sneeuberg tot bekering gekom, aldus dr. Spoelstra. Vanweë Swart se verbintenis met die Burgers-familie kon hy spoedig vorder van plaasonderwyser tot meester op Hanover, waar ds. Burgers nie lank daarna nie leraar van die plaaslike NG gemeente sou word. Ds. Burgers en sy bruid, ’n musikaal begaafde Skotse dame, Mary Bryson – wat van Londen na Utrecht gekom het om verder te studeer alwaar hy ná sy studie in die teologie op 5 Augustus 1858 deur die provinsiale kerkbestuur van Utrecht tot die bediening toegelaat is – is op 23 Augustus daardie jaar in die Britse hoofstad getroud. Hulle het op 15 Desember voet aan wal in Tafelbaai gesit. Die NG gemeente Hanover was toe reeds meer as twee jaar sedert sy stigting vakant. Prop. Burgers is in April 1859 beroep en in die laaste naweek van Junie in sy eerste gemeente bevestig.

Intussen het Nicolaas Swart, wat toe reeds skoolmeester op die dorp geword het, vantevore vir ’n kort rukkie as voorleser in die gemeente waargeneem. Volgens die kerkraadsnotule van Julie 1858 is Swart die voorleserskap van die nagenoeg twee jaar oue gemeente aangebied. Hoewel hy buite die dorp gewoon het en ten spyte van die beswaar van sommige kerkraadslede dat hy Sondag na die kerk sou moes ry en die Sabbat so sou ontheilig, het Swart tog die aanstelling as eerste voorleser van Hanover aanvaar. Enkele maande later het hy bedank, blykbaar omdat dit vir hom ongerieflik was om so gereeld in dorp toe te kom of moontlik omdat oudl. C.J. Viljoen en andere teen sy in-en-uitryery op die dag van die Here beswaar gemaak het.

Intussen is prop. Burgers as leraar bevestig en hierna is Swart as dorpsonderwyser van die goewermentskool bevestig, blykbaar danksy die invloed van die Burgers-familie. Nadat Jan Rabie se onsuksesvolle proeftydperk van drie maande verstryk het, het Swart dié amp vanaf 1859 weer ’n ruk lank beklee. Op Hanover het Swart ál nouer kontak met ds. Burgers gehad. Dit sou veral in Swart se later lewe ’n ál groter rol speel. Saam met sy onderwyserspos het dit hom met die invloedrykes in die gemeenskap in aanraking begin bring.

Na Transvaal duimnael|links|300px|Ds. Swart het die eerste Gereformeerde kerk Potchefstroom, ontwerp deur ds. Dirk Postma, se ingebruikneming op 12 Januarie 1867 waargeneem. Dié foto is in die 1950's geneem nadat die kerkie in onbruik verval het.

Deels weens moeilikhede oor sy optrede besluit Swart in 1862 om Hanover saam met sy gesin te verlaat en na die plaas Kalkheuvel aan die Krokodilrivier by Hartbeespoort te trek. Intussen het Swart se ouers ’n ooreenkoms met pres. M.W. Pretorius op sy ampsbesoek aan Nederland bereik ingevolge waarvan Jacob Swart die president £1 000 gegee het waarmee hy ’n plaas vir sy seun in die ZAR moes koop. Die plaas wat die president met sy terugkeer in Transvaal gekoop het, was Kalkheuvel. Swart het eers met skape geboer, maar nadat dit misluk het, het hy na Angorabokke (sybokke, soos hy dit genoem het) oorgeslaan. Hy het 300 bokke na Graaff-Reinet laat gaan om uit daardie sybokwêreld na sy plaas in die noorde terug te keer en daar met hulle te boer. Tydens hierdie transaksie in 1862 het Swart ook 12 osse, 10 koeie en twee perde bekom waarmee hy teruggetrek het Transvaal toe. Sy vrou en die drie jong kinders wat hulle toe gehad het, het die hele ent uit Transvaal Karoo toe en terug saam in ’n tentwa getrek.

Die boerdery het Swart nie goed getref nie, want pas was hy terug op sy plaas, of die bokke vreet bokke gifplante wat uit ’n afgelope grasbrand uitgeloop het. Nie een het oorleef nie. Intussen het sy buurman onder sy beeste ’n dodelike longsiekte opgetel en meer as die helfte van Swart se koeie het ook aangesteek en gevrek.

Terug na die onderwys Weens die terugslae wat Swart as boer getref het, het hy besluit om terug te keer na die beroep wat hy voor dié mislukte poging beoefen het. Pres. Pretorius het die plaas by hom teruggekoop (volgens ’n bron was dit nog tot 1886 in Swart se naam) en hiermee het hy na Pretoria gegaan om daar ’n betrekking as onderwyser te probeer kry, maar vergeefs.

Die werklose Swart het toe na Potchefstroom gegaan en daar kennisgemaak met die ZAR se kommandant-generaal, S.J.P. Kruger, wat hom versoek het om op sy plaas Waterkloof suid van Rustenburg skool te begin hou. Op dié tydstip, 1862, was die Gereformeerde kerk Rustenburg, die eerste in die kerkverband, sowat drie jaar oud. Swart en sy gesin het daarby aangesluit en daarin ’n geestelike tuiste gevind. Kort voor lank het hy ook hier voorleser geword as hulp vir ds. Dirk Postma, die Gereformeerde Kerk se eerste predikant onder wie leiding die gemeente Rustenburg op 11 Februarie 1859 van die Nederduitsch Hervormde Kerk afgeskei het.

Op Waterkloof het die leerders kort voor lank so toegeneem dat die waenhuis waarin Swart skoolgehou het, te klein geword het. Rustenburg se Gereformeerde kerkraad het toe, in die afwesigheid van ds. Postma, ingegryp en die kerkgebou op die dorp as skool aangebied. So goed het dit met die skool op Rustenburg gegaan dat twee assistente aangestel moes word om meester Swart by te staan. Die een was die latere predikant en teologiese professor Jan Lion Cachet en die ander ene Wagenaar. Intussen het die plaaslike kerk Swart ook as skriba begin gebruik.

Teologiese opleiding duimnael|regs|320px|'n Groep staatsamptenare voor die ou Volksraadsgebou in 1875 toe pres. T.F. Burgers na Europa was. Van regs is J.J. Meintjes, P.J. Joubert (waarnemende president), N.J.R. Swart (goewermentsekretaris), Chr. J. Joubert (latere hoof van mynwese). Twee van links is J.C. Minnaar (registrateur van aktes).

In hierdie tyd het ds. Postma vir Swart oorgehaal om onder hom in die teologie te studeer. In sy aansoek van 12 Mei 1864 om as predikant van die Gereformeerde Kerk opgelei te word, het Swart sy verlede beskryf. Op ’n vergadering (waarskynlik van die Rustenburgse kerkraad of so nie ’n meerdere vergadering) het Swart as ’n openhartige figuur na vore getree en gesê hy beskou hom nie as ’n goeie leier nie; daarom het hy ’n behoefte daaraan dat goeie leiding aan hom gegee word. Hy het ook vertel hoe sy uittrede uit die Nederlandse Hervormde Kerk, waarvan sy vader steeds lid was, en oorkoms na die Gereformeerde Kerk vir hom ’n hartseer besluit was (hy was bes moontlik intussen ook lid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, maar onderneem om hom met oorgawe aan sy teologiese studie te wy. Hy het ook vertel hoe hy as immigrant in die Graaff-Reinetse distrik (Hanover sou eers later ’n afsonderlike distrik word) tot bekering gekom het, maar hoe hy ook op Hanover "weer ligsinnig begin leef het" tot hy in 1862 na Transvaal gekom het. Tydens sy studie op Rustenburg onder ds. Postma, wat op 27 November 1864 begin het, het hy steeds waardevolle dienste as onderwyser, voorleser en skriba gelewer.

Swart se aansoek om as predikant toegelaat te word het op die sinode van 1866 in sitting te Reddersburg gedien, waar hy een van vier kandidate was en waar die sinode heel gunstig oor hom geoordeel het. Hy was die enigste kandidaat van ds. Postma; die ander was al drie kandidate van ds. Johannes Beijer van die Reddersburgse gemeente, by name S.D. Venter (van 1866 tot 1877 eerste Gereformeerde leraar van Bethulie, A.A.J. de Klerk Coetsee (van 1869 tot 1872 eerste leraar van Philipstown) en J.S.L. Venter (ds. Swart se opvolger in Pretoria, waar hy leraar was van 1872 tot 1880). Van die drie wat onder ds. Beijer studeer het, is net Venter dadelik toegelaat saam met prop. Swart, van wie hoë verwagtings gekoester is, aldus dr. Spoelstra. So het Swart die heel eerste kandidaat in die teologie geword wat in Suid-Afrika studeer en as predikant in die Gereformeerde Kerk toegelaat is. Hy was reeds 34 jaar oud. Al het ’n vorige sinode besluit dat van studente bo 30 jaar nie verwag sou word om die antieke tale te leer voor hulle die bediening betree nie, het Swart Grieks, Hebreeus en Latyn as vakke in sy voorbereiding gehad en daarin geslaag.

Predikant van Pretoria