G.R. von Wielligh (1859–1932) was ’n Afrikaanse skrywer en ’n belangrike oorgangsfiguur tussen die Eerste en Tweede Taalbeweging.
Lewe en werk Gideon Retief von Wielligh is op 1 April 1859 op die plaas Vryeguns in die distrik Paarl gebore. Sy vader is Nicolaas von Wielligh en sy moeder Martha Maria Retief. Hy is die tweede kind in ’n gesin van vyf seuns en word vernoem na sy grootvader Gideon Retief, broer van die Voortrekkerheld Piet Retief. Die stamvader van die Von Wielligh-geslag in Suid-Afrika was ’n offisier in die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, afkomstig uit Hamburg in Duitsland. Van sy sewende jaar help Gideon op die plaas met die boerdery en hy ontvang sy eerste skoolonderrig hier van Jan Balt, ’n Hollandse matroos. Deur borgstaan verloor sy vader feitlik al sy besittings en wanneer hy op ’n handelstog na Boesmanland vertrek, vergesel die elfjarige Gideon hom, ’n ondervinding wat later neerslag vind in “Jakob Platjie”. By sy terugkeer ontvang hy geldelike hulp om te gaan studeer en hy matrikuleer aan die Paarl Gimnasium. Hierna gaan werk hy by ’n landmeter en lê op agttienjarige ouderdom die landmeter-eksamen af, sodat hy op 21-jarige leeftyd geregistreer word as landmeter. Hy ontwerp in 1877 die wapen vir die Genootskap van Regte Afrikaners, met die woorde “Verenigde Suid-Afrika” wat omring word deur die name van die vier suidelike state van Afrika en die leuse “Ver Moedertaal en Vaderland” bo-aan, wat aanduidend is van die G.R.A. se nasionale doelwitte. In 1883 verhuis hy na die Transvaal en hy word in 1884 aangestel as landmeter-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek, ’n beroep wat hom in staat stel om groot dele van die land te besoek en te deurreis. Op 12 Mei 1885 trou hy in die Paarl met Elizabeth Johanna Hendrika de Villiers, oudste dogter van professor Jan Stephanus de Villiers van die Paarl, en drie seuns (Jan Stephanus de Villiers, Gideon Retief Francois en Wilhelm) en ’n dogter (Maria van der Lingen) word uit die huwelik gebore. Hy koop ook die plaas Villieria digby Pretoria, waar hy met skape en beeste boer.
Groot terugslae tref hom in die vroeë negentigerjare wanneer sy jongste seun sterf, sy huis se dak deur ’n storm afgewaai word, tweehonderd beeste vrek aan longsiekte, talle skape vrek aan gifblaar en sakevennote hom in ₤17 000 se skuld dompel. In 1895 bedank hy as landmeter-generaal en verkoop sy besittings en eiendom om sy skuld te delg. Hierdie terugslae het tot gevolg dat hy sy vriendekring verloor en huislike probleme optel, waarna hy en sy vrou van mekaar geskei is. Dit alles maak van hom ’n vereensaamde figuur. Na sy finansiële herstel tree hy weer as landmeter in diens van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Wanneer die Anglo-Boereoorlog uitbreek, is hy juis besig om die grens tussen Transvaal en Mosambiek uit te meet. Hy word terug geroep na Pretoria, maar stuur sy instrumente na die Portugese in Delagoabaai vir veilige bewaring. In Pretoria word hy aangestel as krygskommissaris, verantwoordelik vir die Britse krygsgevangenes in die kamp in Pretoria, wat tot vyfduisend Britte huisves. Die kamp word later verskuif na Waterval-Noord, noord van Pretoria, waar hy gevange geneem word met die inname van Pretoria deur die Engelse. Die res van die oorlog word hy in Pretoria ingeperk.
Drie dae na sy gevangeneming bied die Britte hom weer sy ou pos as landmeter-generaal aan en ofskoon die aanbod later herhaal word, bedank hy dit omdat hy nie vir die Engelse wil werk terwyl die Boere nog in die veld is en die oorlog aan die gang is nie. In hierdie tyd plunder vyandelike soldate sy besittings en baie van die aantekeninge wat hy oor die jare gemaak het, gaan so verlore. Sy pligsbesef en die vervelige niksdoen in Pretoria beweeg hom om te probeer ontsnap uit Pretoria en by die magte van generaal De la Rey aan te sluit. Dit is lewensgevaarlik, want die Engelse het verskeie mense wat probeer ontsnap doodgeskiet of anders as krygsgevangenes weggestuur. Op Sondagaand 2 Maart 1901 slaag hy daarin om veilig deur die doringdraad en Britse magte te kom, maar vind hom teen die oggend aan die rand van ’n groot konflik tussen die Britte en De la Rey se magte, met die Engelse tussen hom en De la Rey. Daar is geen moontlikheid om nou by die Boere uit te kom nie en al raad is om weer deur die doringdraad en Britse wagposte te probeer terugkeer na Pretoria.Sy eie verslag van hierdie ontsnappoging is onder die titel “Die geheimsinnige gidse” opgeneem in J.C. Steyn se “Veg en vlug” (1999), bladsye 26-30, op sy beurt oorgeneem uit Die Huisgenoot van 1 en 8 Oktober 1926. Hy vertel hoe bonatuurlike gidse hom vergesel het sodat hy nie die verkeerde roete neem en deur Engelse soldate gevange geneem word nie. Ná die vredesluiting gaan hy in 1903 na Lourenço Marques om sy instrumente te gaan haal en tydens ’n karnaval gooi iemand kalk in sy oë, wat hom feitlik blind laat en hierna kan hy slegs met ’n sterk bril en ’n dubbele vergrootglas met groot moeite lees. Hierdie ongeluk veroorsaak dat hy nie verder sy beroep as landmeter kan beoefen nie en hy wend hom tot die skryfkuns.
In die twintigerjare word hy ingesleep in die polemiek wat rondom P.C. Schoonees se proefskrif “Die prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging” uitbreek. Na publikasie van die proefskrif verkwalik C.J. Langenhoven vir Schoonees oor die negatiewe oordeel wat hy oor die werk van G.R. von Wielligh uitspreek en dit terwyl Von Wielligh feitlik blind is. Verskeie ander skrywers en literatore neem aan die polemiek rondom die proefskrif deel, terwyl skrywers wie se werk negatief beoordeel word, ook deelneem. Von Wielligh maak op beleefde wyse in Die Huisgenoot van Januarie 1923 beswaar teen die wyse waarop sy werk bespotlik gemaak word.Die polemiek rondom hierdie proefskrif word deeglik gedokumenteer in P.J. Nienaber se “Rapier en knuppel”, met Von Wielligh se brief wat volledig opgeneem word in bladsy 61-62 van hierdie publikasie. Sy laaste jare bring hy deur op die plaas van sy jongste broer Marthinus, naby Hendrina, waar hy op 9 Augustus 1932 oorlede is.
Skryfwerk In ons letterkunde neem hy ’n besondere plek in, aangesien hy die tydperk tussen die Eerste en Tweede Taalbewegings oorspan, met sy sketse wat reeds in die eerste tydperk verskyn, met sy romans en ander werk hoofsaaklik in die tweede tydperk. Die aard van sy skryfwerk het egter meer gemeen met die styl van die Patriot-skrywers, wat al geselsende lesers wil vermaak, stig en onderrig. Op sestienjarige leeftyd reeds word hy lid van die Genootskap van Regte Afrikaners en werk vanaf 1876 mee aan Die Patriot, ’n verbintenis wat hy in 1891 opskort in protes teen die politieke rigting wat die blad onder leiding van S.J. du Toit inslaan. Later skryf hy ook in Ons Klyntji (1896–1906) en Ons Taal (1907–1909). Tydskrifwerk van hom in hierdie tyd sluit in “Smoorkossiis fan Oom Kool” (Ons Klyntji tussen Mei en Augustus 1906) waarin hy ’n reeks verhale oor ’n grootliegkarakter skryf; “Ponti, di gif-dokter”, verhale van ’n bruin medisyneman waarin volksgelowe uitgebeeld word in Ons Taal tussen Mei en Julie 1907; en “Abi Oufoet, ’n stori fan ’n Malbaar uit di slawe tyd” in Ons Klyntji tussen September en November van 1906 en Ons Taal van 15 Desember 1908, waarin ’n slaaf se slimstreke verhaal word. Op populêre wyse skryf hy ook in Ons Taal tussen Oktober 1907 en Januarie 1908 oor verskillende godsdienste soos die Boeddhisme, die Islam en die Christendom. “’n Kly Huis of Selfs woon geluk in ’n nedrig hut” verskyn in 1908 in Ons Taal. Hierdie is anekdotes uit die lewe van eenvoudige mense wat deur ’n sentrale verteller aanmekaar gekoppel word. “Twee wonder dokters” is ’n spanningsverhaal wat in 1909 in Ons Taal verskyn, waaruit sy kennis van die sangomas in die swart kultuur duidelik blyk. Hy publiseer ook sowat dertig “Dierestories” in 1906 in Ons Klyntji, waarna hy hierdie stories in verskeie bundels versamel. Dit is veral met sy “Dierestories” en “Boesmanstories” wat hy ’n standhoudende bydrae tot die letterkunde maak, terwyl sy optekening van taalkundige gebruike en die geskiedenis van die Eerste beweging belangrik is uit kultuurhistoriese oogpunt. Sy relaas oor sy ontsnappoging tydens die Anglo-Boereoorlog verskyn aanvanklik op 1 en 8 Oktober 1926 in Die Huisgenoot, waarna J.C. Steyn dit onder die titel “Die geheimsinnige gidse” in die versamelbundel “Veg en vlug” opneem. Die res van sy oeuvre kan as niks meer as ontspanningslektuur beskou word nie.
“Jakob Platjie” word aanvanklik gedeeltelik gepubliseer in Ons KlyntjDit verskyn onder die skuilnaam Hans Kaapnaar met heelwat onderbrekings in Ons Klyntji van Junie, Julie, Augustus en Oktober 1896; Augustus en Desember 1905; en April, Mei, Junie en Julie 1906 van 1912 tot 1914 volledig in Die Brandwag en daarna in boekvorm. Dit is karaktersketse uit die volkslewe van die Khoi-Khoi, Korannas en San. Jakob Platjie is ’n jong kind aan die begin en die verhaal eindig met sy dood, maar daar is nie sprake van ’n lewensverhaal nie, met die grootste deel van die inhoud wat eerder anekdoties van aard is, met ’n lewensopsomming van Platjie om die boek mee af te sluit. Platjie gaan saam met die smous, Koos Fonk, op ’n handelstog na Boesmanland en hulle wedervarings op hierdie tog is die draad wat die reeks anekdotes verbind. Hulle ontmoet interessante karakters, wat dan elkeen aan die woord gestel word om sy storie te vertel. Daar is interessante staaltjies van die Khoi se geskiedkundige oorlewerings, weergegee in hulle eiesoortige taal. Dit is veral die preek van Kleopas Kipie wat uitmunt met sy naïewe beeldspraak en outentieke taalgebruik, terwyl Tys Bokkies ook in hierdie idioom vertel van ’n vry-avontuur. Hennie Aucamp neem ’n fragment uit “Jakob Platjie” op in die versamelbundel “Wys my waar is Timboektoe”.