Abraham Adam Josef (Abie) van Niekerk (8 Augustus 1931–19 April 1994) was ’n Afrikaanse skrywer van kontreiverhale oor die Noordweste.

Lewe en werk Van Niekerk is op 8 Augustus 1931 op die plaas Koebees in Boesmanland naby Springbok gebore as een van drie seuns van J.D. van Niekerk en Catharina Helena Coetzee. Sy pa is in 1962 oorlede en sy ma in Oktober 1994. Hy begin sy skoolopleiding op die plaasskooltjie van die buurplaas, Taaibosfontein. Die ses kilometer skool toe lê hy elke dag per voet af. Die skool sluit na twee jaar en dan gaan hy na die Hoërskool Namakwaland op Springbok, waar hy in die koshuis bly en in 1949 matrikuleer. Vanaf 1950 tot 1952 is hy inwoner van die Dagbreek-koshuis aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1952 die B.A.-graad behaal met Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis as hoofvakke. Op universiteit slaag hy daarin om onder die aansporing van Ernst van Heerden ’n Suid-Afrikaanse rekord in gewigoptel te verbeter. In 1953 begin hy werk in die uitgewersafdeling van Nasionale Boekhandel Beperk in Parow, maar skryf hom ook in vir die M.A.-graad in Geskiedenis op Stellenbosch. Hy slaag die eksamens vir hierdie graad aan die einde van 1953, maar moet nog sy skripsie voltooi. In 1954 aanvaar hy ’n tydelike pos by ’n hoërskool en die volgende jaar ’n pos as onderwyser op Maclear, waarna hy in 1956 na Stellenbosch terugkeer om die skripsie vir sy M.A.-graad te voltooi en ook ’n Senior Onderwysdiploma te verwerf. Op universiteit ontmoet hy sy toekomstige vrou, Marita van Tonder, oorspronklik van Barrydale. Die verloofring koop hy met die geld wat hy kry vir die publikasie van “Snippie”, sy eerste kinderboek. Sy onderwysloopbaan begin in alle erns in 1957 wanneer hy ’n pos aanvaar as Geskiedenis-onderwyser aan Oudtshoorn Boys High School. Aan die einde van hierdie jaar trou hy en Marita en die egpaar het twee seuns en ’n dogter.

In 1961 word hy aangestel as senior Geskiedenis-onderwyser aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, waar hy ook huisvader word van die seunskoshuis, Huis A.J. van der Merwe. Op twee en dertigjarige ouderdom word hy in 1962 skoolhoof van die Middelbare Skool op Kanoneiland, ten weste van Upington. Na twee jaar in hierdie pos kry hy ’n beurs van die British Council vir studie in Brittanje en keer na ’n jaar terug na Suid-Afrika met ’n Diploma in Sekondêre Onderwys van die Universiteit van Leeds en ’n Certificate of Proficiency in English van die Universiteit van Cambridge. By sy terugkoms word hy skoolhoof op Calvinia en na drie jaar verhuis hy na Durbanville, waar hy skoolhoof is aan die plaaslike hoërskool. Dan word hy in 1974 opvoedkundige adviseur van die Nasionale Boekhandel se groep filiaalmaatskappye, waarna hy in April 1979 aangestel word as uitgewerbestuurder by die uitgewer HAUM. Later stig hy sy eie uitgewery, Klipbok-Uitgewers, waarin hy sy eie werk uitgee en ook ander skrywers aanmoedig om te publiseer. Op Dinsdag 19 April 1994 is hy onverwags aan hartversaking oorlede.

Skryfwerk Vir volwassenes Hy begin sy ernstige skryfwerk met ’n roman, wat afgekeur word vir publikasie, waarna hy van hierdie genre as kreatiewe medium afsien. In sy skryfwerk konsentreer hy hoofsaaklik op die kontreikuns, met die Noordweste (Namakwaland, Boesmanland en die Richtersveld) as fokuspunt. In al sy bundels staan sy beeldende taalvernuf en vlot dialoog in die streektaal uit. Daar is talle stories oor mense en gebeurtenisse uit ’n verbygegane tyd wat die Afrikaanse kontreikuns verryk en ook ’n belangrike kultuurhistoriese funksie vervul. Hy slaag daarin om die Noordweste te belig in sy menslike, geografiese, historiese en ekonomiese fasette, sodat die streek in sy skryfwerk ordentlik getipeer en geboekstaaf word. Humor is ’n belangrike bestanddeel van sy kortkuns, sonder dat dit ooit laf word, met die eg-menslike wat telkens deurskemer om aan die verhale ’n betekenis te gee verby die bloot plaaslike gebeure.

Vir die Vrouerubriek van die Afrikaanse Diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie skryf hy die reeks “Sketse uit Namakwaland”. Die aard van meeste van sy vertellinge is eerder storie of skets as volwaardige kortverhaal. Hierdie vertellinge word saamgebring in vele bundels soos “Die soutryers”, “Kelkiewyn en Koggelaar”, “Bittergousblom”, “Herneuter”, “Rondom die skoolklok”, “Die klipsweet sit aan my voetsool vas” en “Vir ’n oulap en ’n bokstert”.Ahlers, Gerda “Beeld” 27 Februarie 1984 “Die soutryers” is die eerste bundel van sy kontreikuns en die eerste kennismaking met sy kenmerkend sappige geselstrant, deurspek met die streektaal, waardeur die mense van die streek en hulle dinge bekend gestel word.Snyman, Henning “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 22 no. 2, Mei 1984 Die titel verwys daarna dat ons almal soutryers is, brakwaterdrinkers langs die lewenspad, wat met moeite en in stryd ’n lewe moet maak. Die verhale speel af in die eensame half-woestynwêreld van die Noordweste wat sy stempel terdeë op sy kinders afdruk. Dis die wêreld wat in die outyd nog die soutryer en trekboer geken het, die waterskep met ’n emmer vir duisend skaap en die soeke na weiveld en diamante. Baie van die dinge van hierdie landstreek is deel van die verlede, maar die aristokrasie van sy inwoners word in hierdie bundel verewig. Daar is byvoorbeeld die Godsman Anneries Kok wat al baie oud is, maar steeds relatief sterk, want hy het die vrede van tevrede wees in watter omstandighede hy hom ook al bevind. Daar is oom Gys Goosen wat ’n opteldiamant in sy katel se poot weggesteek het en toe geen duurte gehad het voordat hy die kwade klip aan die polisie oorhandig het nie. Daar is ook Kolbok, daardie langoor-aristokraat, ’n donkie duisend, en ou Windstaan, ’n hond sonder weerga.

“Kelkiewyn en koggelaar”Brink, André P. “Rapport” 7 Desember 1975 kan beskou word as van sy beste werk. Hierdie boek word dan ook, nes “Die soutryers”, vir skoolgebruik voorgeskryf. Die Noordweste is ’n afgesonderde deel van die land vol kontraste: eensame sandwêreld, dikwels die vreugde van blomme en ook bossie en klip en soms amper karoowêreld met rante en heuwels en dynserige vertes. Dis ’n wêreld met sy eie mense wat na aan die aarde leef, deur die aarde gevorm word en feitlik deel is van die wind, die son, die grond. Hierdie streek en sy mense beskryf die skrywer met deernis en met fyn waarnemingsvermoë. ’n Besondere hoogtepunt in hierdie bundel is die verhaal “Die-aadernaait-deer”, waarin die plaaslike folkloristiese oorgesteek word om in ’n eenvoudige verhaal die verlossing wat kuns is ter woorde te bring. Die verteller en Klei’Gert ry in die droogte in die dor Karoo by ’n buitepos aan, waar die verlatenheid en ellende van die natuur ook in die jong man wat daar diens doen, saamgetrek is. Hy is verlam in sy onderlyf, maar speel na oorreding vir sy besoekers op sy tuisgemaakte viool en neem homself en sy besoekers in sy lied ver bokant die aardse ellende uit en verplaas hulle na ’n mistieke wêreld.

“Bittergousblom”Roets, Ninon “Beeld” 17 Oktober 1974 imponeer met die wyse waarop jeugherinneringe, anekdotes en karaktertekeninge met ewe veel gemak verwoord word. Die verhale is ingeklee met humor en menslikheid asook deeglike agtergrond inligting, soos byvoorbeeld die eetgewoontes van die mense van die streek. Die Anglo-Boereoorlog vorm die agtergrond vir ’n aantal van die verhale. “Die Boerespioen” vertel van Gert Oerbies wat vir die Boere op die Engelse spioeneer. Hy word egter gevang en ter dood veroordeel en die Engelse probeer om hom op te hang. Ter ontvlugting wend Gert sy aandag in hierdie oomblikke aan hoe om sy pyp aan die brand te kry. Hy word eindelik na drie mislukte pogings om hom op te hang vrygelaat, en sy pyp is steeds nie aan die brand nie. “Oupa Dirk se skool” is ’n hoogtepunt in die bundel, waarin die ongeletterde dertienjarige Dirk ’n man se werk moet doen. Saam met ’n vreemdeling wat ’n vuurwapen knap hanteer, word hy die wildernis ingestuur. Dirk vrees sy metgesel en die wildernis en hy het slegs Psalm 23, wat hy van buite af ken, om die vrees te besweer. Hy wend hom dan tot die Bybel en met Psalm 23 as basis begin hy die Bybel te ontsyfer sodat hy hierin troos kan vind, en met ’n stokkie in die sand leer hy homself om te lees en skryf.

“Herneuter” se titel beteken ’n soort mes en die skrywer sny hier diep in die alledaagse lewe van die volksmense van Noordwes-Kaapland. Die bundel bevat sketse en essays uit ’n radioreeks waarin die vaardighede en kunste van ’n vroeëre leefwyse uit die streek te boekgestel is. Hierdie vertellings word in vyf afdelings ingedeel, met die eerste “As jy net weet hoe en wat”, waarin byvoorbeeld verduidelik hoe ’n vel haar-af gemaak word, seep gekook word, ’n boksak gemaak word en dies meer. Die tweede afdeling bevat Boererate en die derde afdeling onder die titel “Vooreergister se dae” is vertellings oor gebruike wat baie ver kom, soos inisiasie en huwelikseremonies onder die Namas en ’n stuk oor die Namataal. Hierna volg ’n aantal vertellings oor die eetgewoontes en resepte van die Noordweste, met die slotafdeling wat weer die Namas belig, onder andere hulle godsdienstige gebruike. Die vertellings word deurgaans aangebied op ’n wyse wat van fyn waarnemingsvermoë en medemenslikheid getuig, terwyl die humor gewoonlik nie ver onder die oppervlak lê nie.

“Rondom die skoolklok” bevat stories oor die onderwys en ervarings in die skoollewe, waarin gebruike van vergange dae geboekstaaf word. “As die skoolklok lui” bevat ’n keur uit sy rubrieke wat oorspronklik in Huisgenoot in die rubriek “Rondom die skoolklok” verskyn het. “Kerf ’n stokkie” bevat verdere sketse van die Noordweste. “Die klipsweet sit aan my voetsool vas”Smuts, J.P. “Beeld” 15 Maart 1982 se titel kom uit een van die gedigte uit Smuts, J.P. “Burgerband” Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1985“Klipwerk” in N.P. van Wyk Louw se digbundel “Nuwe verse”.Van Zyl, Ia “Tydskrif vir Letterkunde” Nuwe reeks 19 no. 4, November 1981 Die bundel bevat weer ’n aantal verhale oor die Noordweste, waarvan sommige vassteek by die anekdotiese en grappige, maar ander die siel van die streek goed vasvat. Elkeen van die treffende vertellings plaas ’n karakter of karakters in ’n gewone situasie, waaruit die skrywer ’n groot stuk lewe oopmaak. So is daar Flip Tarentaal wat leer dat ’n mens met jouself en met jou naam deur die lewe moet gaan; daar is die deur droogte-geteisterde boer Ben wat leer dat die besoek van ’n koning mense toelaat om water te mors terwyl elke druppel van hierdie vog vir hom lewe beteken; en die Jood Benjamin Rabinski leer in “Die swart wandelstok” (’n ware verhaal oor die Joodse wil tot oorlewing tydens die Russiese rewolusie) om die lewe te fnuik in die ewigdurende stryd tussen ondergang en voortbestaan in hierdie aardse lewe. Veral treffend is die verhaal “Klaas”, ’n Nama-kind wat beide sy ouers verloor en dan wettiglik deur die plaasboer en sy vrou aangeneem word. Hy word groot as tussenmens wat as kombuishulp in die huis is en die res van die tyd by sy rasgenote, maar die dag vrees dat sy ounooi moet sterf, want hy weet nie waar hy inpas nie. Die besondere tragiek van kleur en ras word hier prakties gedemonstreer.