Barend J. Toerien (1921–2009) was ’n Afrikaanse digter en skrywer, wat as bibliotekaris vir die Verenigde Volke Organisasie (voorganger van die Verenigde Nasies) in New York en ook in Suid-Afrika vir verskeie biblioteke werk.NB Uitgewers: http://www.nb.co.za/Authors/627
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Barend Jacobus Toerien was op 29 Maart 1921 op die plaas Steenwerp in die distrik Porterville in die Swartland gebore. Hy het ’n broer en ’n suster. Sy geboorteplaas is vandag Voorberg-gevangenis. In sy jeugjare het hy ’n problematiese verhouding met sy uiters streng, konserwatiewe pa, van wie hy nie liefde of erkenning ontvang nie. In 1938 matrikuleer hy aan die Hoërskool Porterville en studeer daarna vanaf 1939 aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1941 die B.A.-graad verwerf en saam met Etienne Leroux in Dagbreek-koshuis bly. Sy kleinneef, die bekende komponis Hubert du Plessis, matrikuleer ’n jaar ná hom op Porterville en bly ook in Dagbreek, waar hulle goeie vriende wordVan der Mescht, Heinrich. Die agtergrond en ontstaansgeskiedenis van Hubert du Plessis se Duitse en Franse liedere. Literator. Jaargang 24 no. 2 Augustus 2003. In 1942 sit hy sy studies voort aan die Universiteit van Kaapstad met die doel om hom as onderwyser te bekwaam en ’n onderwysdiploma te verwerf, maar verander van studierigting en behaal dan in 1943 ’n Diploma in Biblioteekkunde. Op Stellenbosch is Etienne Leroux, H.W. Truter en Jan Rabie van sy tydgenote en in Kaapstad is N.P. van Wyk Louw een van sy dosente. Vanaf 1944 tot 1947 werk hy as bibliotekaris by die Carnegie-biblioteek op Stellenbosch, die Staatsbiblioteek in Pretoria en die Transvaalse Provinsiale Biblioteek in die noordwesstreek.
Oorsese reise Met die geld wat hy uit twee Afrikaanse pulpromans verdien wat hy onder ’n skuilnaam geskryf het, verlaat hy Suid-Afrika in 1947. Hy gaan aanvanklik na Londen waar hy onder andere radiodramas vir die British Broadcasting Corporation (BBC) se Afrikaanse diens skryf, teen twintig ghienies per drama. Hy het egter nooit na enigeen van die dramas geluister nie, aangesien die BBC hom nooit in kennis gestel het van wanneer hulle dit gaan uitsaai nie. Hy werk tussen 1947 en 1949 in Londen as redakteur van die Bibliography of Industrial Diamonds Applications en gee ses maande lank aandklasse in Afrikaans by Marylebone College. In hierdie tyd werk en reis hy saam met ander Afrikaanse skrywers soos Uys Krige, Sheila Cussons, C.J.M. Nienaber en H.W. Truter, wat in daardie tyd in die buiteland is. Toerien maak ook van hierdie geleentheid gebruik om tydens vakansies die hele Europa te verken en doen hier enige los werkie wat hom voordoen, onder andere paaie bou in Noorweë en bossies uittrek in die Switserse Alpe. Sedert Julie 1949 is hy woonagtig in Amerika waar hy tot 1962 bibliotekaris is in diens van die Verenigde Volke Organisasie (VVO) in New York. Vanaf 1963 tot 1967 is hy inligtingsbeampte by die United Nations Industrial Development Organisation (UNIDO). Hy is ook dosent aan die Departement van Gevangenisse in Woodburn. Tydens sy dienstydperk by die Verenigde Volke kry hy elke twee jaar tuisverlof, wat hy gebruik om kontak met Suid-Afrika te behou. So bly hy byvoorbeeld in 1964 tydelik in Groenpunt waar hy noue kontak het met Jan Rabie, Uys Krige, Jack Cope en Ingrid Jonker. In hierdie verloftye bring hy ook besoek aan lande in Wes-Europa, Turkye, Egipte, Kenia en Roemenië. In 1950 is hy getroud met die Tsjeggiese Maria Krikavova wat ook by die VVO werk en by wie hy ’n dogter (Janna) het. Hulle skei in 1963. Sy dogter, Janna Dyer, bedryf die perdeplaas Dark Horse Dressage in Maryland in Amerika, waar sy afrigting doen in perdespring en gimkana.
Vanaf 1968 sit hy sy loopbaan as bibliotekaris voort, eers tot 1970 by die State University in Albany, en daarna by die Bard College in New York vanaf 1970 tot 1971. In 1971 keer hy terug na Suid-Afrika en is tot 1973 werksaam in die Jagger-biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad. Hierna keer hy terug na Amerika en vanaf 1974 tot 1977 werk hy onder andere as car hop by ’n hotel, as sekuriteitswag by ’n fabriek, tuinier vir ’n ryk prokureur, saagmeule-assistent en oppasser van ’n beroerte-slagoffer, waarna hy weer bibliotekaris word, hierdie keer vanaf 1978 tot 1983 by ’n tronk. Vir baie dekades is hy die hoofresensent van Afrikaanse letterkunde in die toonaangewende Amerikaanse tydskrif World Literature Today, terwyl hy ook gereeld resensies vir Afrikaanse publikasies skryf. Sedert 1978 is hy ’n Amerikaanse burger. Reeds in 1966 koop hy vir hom ’n plaas in Kerkhonson aan die voetheuwels van die Catskills in die staat New York. Hier hou hy ryperde aan, maak slagbeeste groot, boer met pluimvee en bye en plant spardenne om te verkoop as Kersbome.
Latere jare en sterfte ’n Tweede huwelik, hierdie keer met Johanna Meyer (weduwee van sy neef, professor Jan Toerien van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat), duur vanaf 1979 tot 1982. Saam koop hulle die plasie Eldorado buite Onrus. Na sy aftrede in 1984 vestig hy hom weer in ’n woonstel in Kaapstad, maar bring steeds die somers deur in Amerika, waar hy meestal tyd saam met sy dogter deurbring. Sy besondere liefde vir bergklim neem hom regdeur die wêreld na feitlik alle bekende bergspitse. Onder sy talle reise tel ’n besoek in Augustus 1991 aan die Sowjetunie en die Oekraïne, waar hy die Russiese revolusie beleef wat ’n einde bring aan die Sowjetunie en die kommunistiese bewind. Tydens hierdie reis besoek hy ook Leningrad (tans weer St. Petersburg), Wladikafkaz in die Kaukasus en Riga in Letland. Hieroor skryf hy die boek Augustus in Moskou. In 1993 bly hy vir ’n paar maande in Bretagne in Frankryk in Julian de Wette se ou plaashuis, waarna hy in Berlyn ’n huis in Darmstadt oppas en die Switserse berge klim. In 1998 verhuis hy weer na Amerika, maar bring steeds gereelde besoeke aan Suid-Afrika. Later bly hy in ’n eenvertrek-woonstel in die Strand.
Hy is op Vrydag 4 September 2009 in die Vergelegen Medi-Clinic in Somerset-Wes aan ’n hartaanval oorlede.
Skryfwerk
PoësieVersindaba: http://versindaba.co.za/gedigte/barend-toerien/ Reeds op skool begin hy gedigte skryf. Sy eerste gedigte verskyn as student in Die Stellenbosse Student en Groote Schuur, waarna D.J. Opperman en F.J. le Roux van sy gedigte opneem in Stiebeuel, wat in 1946 saamgestel word. Daarna verskyn sy gedigte gereeld in letterkundige tydskrifte soos Die Huisgenoot, Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde, Weekblad, Tirade, Wurm en Contrast.
In 1960 debuteer hy met ’n eie bundel Antonissen, Rob. Standpunte. Nuwe reeks 32, Desember 1960.Gedigte, waarin die verse volgens tyd en plek gerangskik word.Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk. Eerste uitgawe. Eerste druk. Elsiesrivier, 1963.Die twee afdelings is 1939–1947 (Stellenbosch-Kaapstad-Pretoria) en 1948–1958 (Londen-New York).Van Heerden, Ernst. Rekenskap. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad. Eerste uitgawe. Tweede druk, 1971.Hierdie bemoeienis met tyd en plek vind tematies ook weerklank deur sy hele oeuvre. Die verskillende begrippe van ruimte, soos natuur, land en grond, asook die besit daarvan, word in hierdie bundel ingelei. Die natuur figureer in gedigte soos Die wit reier, Herfs in die Bosveld, Herfs-Lullaby en September-weer, terwyl Jeug I, Jeug II en En Onder-Steenwerp heet my plaas nostalgiese herinneringe oor ’n plaasjeug beskryf. Speels is die bekoorlike Puck met die mooi teenstelling van die formele kerkdrag en die wind wat die kerkrok hoog opwaai. Verder dig hy oor die dwaasheid van die mensdom, skynheiligheid en die heiligheid van die natuur teenoor die doodmaaklus van die mens, waardeur hy skerp kritiek oor die mens se heerskappy in die wêreld uitspreek. Satire word gevind in verse soos Op die plaas, Kultuuraand en bereik ’n hoogtepunt met Die tante, ’n praatvers met mooi geestige sienings, waarin die digter agtereenvolgens die gewigtige vrou se voorkoms, slag met plante en houding teenoor bruin mense skets, met die slotvers wat ironiese kommentaar lewer op haar status as verteenwoordigend van die (heroïese) vrou van Suid-Afrika. Die gedig Eendvoël-jag beskryf die inherente wreedheid van die mens, terwyl die vergelyking tussen mens en dier in Slotsom ook ongunstig uitval vir die mens. Matrose op straat is ’n mooi uitbeelding van die romantiese verlange na die swerwerslewe waar in verre lande geluk, wyn en vrouens op die matrose wag. “In ’n strik” gee in die handeling van die man en vrou ’n indringende blik op hulle disfunksionele verhouding. Orlando-landskap is ’n protesvers oor die toestande waarin die swart inwoners moet woon en werk, waarin die volgehoue vraagvorm die intensiteit van die uitgesproke gevoelens verhoog. Hoewel in terme wat vandag nie meer polities korrek is nie, vra Waarom as ons ’n naturel sien lees? ook reeds vrae oor waarom geletterde swart mense die wit mense onrustig maak, terwyl Die kindermeid sing uiting gee aan die minagting van ’n swart kinderoppasser vir haar blanke werkgewers. Die reekse Mense en Diere bevat geestige sienings wat veral ’n ooreenkoms toon met die puntdigte van A.G. Visser. In hierdie bundel is die digter duidelik nog besig om sy eie stem te vind. Ten spyte van mooi fragmente is meeste van die gedigte nog onafgerond, met lomp woordorde en rymdwang wat gereeld die effek van die gedig benadeel.