Nicole Jaekel Strauss is die skrywersnaam van Nicole Helene Strauss, ’n bekroonde Afrikaanse skrywer.
Lewe en werk Sy is op 8 September 1972 in Kaapstad gebore. Ná skool studeer sy aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy in die negentigerjare die B.Com.-graad in regte en die LL.B.-graad behaal. Ná haar studies bring sy ’n jaar in Londen deur, vanwaar sy vele ander lande in Europa besoek. Hierná praktiseer sy as prokureur en daarna as advokaat en lid van die Kaapse Balie. Sy trou met Ben Strauss en verlaat die praktyk. In 2009 behaal sy onder leiding van Etienne van Heerden die M.A.-graad in Kreatiewe Skryfwerk met lof aan die Universiteit van Kaapstad. Sy woon in Kaapstad met haar man, en het twee seuns en ’n dogter.
Skryfwerk Sy debuteer met die kortverhaalbundel Maal in 2010. Die bundel wen in 2010 die Universiteit van Johannesburg-prys vir debuutwerk en in 2011 die Eugène Marais-prys vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk. Dit was ook op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys.
Die uitgewers skryf as volg oor Maal: “Opwindende kortverhale wat die verplasing en gemoedstoestand van karakters in verskillende stede in Europa en Afrika onder die vergrootglas plaas. Hulle ervaar kos en maaltye as metafoor vir angs, eensaamheid of vertroosting. Die ritueel van maaltye word belig, en kos word ook op vormende teenwoordigheid in die karakters se menswees uitgebeeld – dikwels op paradoksale wyse. ’n Besonder sterk debuut.”
Op die agterblad van die gepubliseerde bundel van Maal skryf Abraham H. de Vries: “Wat my Nicole Jaekel Strauss se Maal nie kon laat neersit het nie, is die skrywer se verrassende keuse van karakters en vertellers. Las nog daarby die aandag aan detail in elke verhaal, ’n vertelwyse wat herinner aan die pointillisme in die skilderkuns: uit die magdom klein besonderhede groei patrone wat – soos gewoonlik in die kortverhaal gebeur – aan die stories, byvoorbeeld oor ’n gewone huispartytjie, ’n onverwagse wending gee. Maal is in die ontwikkeling van die kortverhaal ’n besonder belangrike debuutbundel – een van die bestes van die afgelope dekade.”
In 2013 stel sy Kosblik saam, ’n versamelbundel met kortverhale oor kos en wyn. Verhale en vertellings van skrywers soos Marlene van Niekerk, Rachelle Greeff, Emile Joubert, E.K.M. Dido, Kerneels Breytenbach, Zandra Bezuidenhout, Helena Gunter, Willemien Brümmer en M.C. Botha word hierin opgeneem.
In 2018 verskyn Jaekel Strauss se tweede boek, As in die mond, weer ’n kortverhaalbundel.
Ook hierdie bundel word bekroon – hierdie keer met die Jan Rabie-debuutprys vir 2018, waarvan die bepalings verruim is om ook tweede prosawerke in te sluit. Die beoordelaars se commendatio lui só:https://www.litnet.co.za/nicole-jaekel-strauss-1972/ “As in die mond word bekroon omdat dit die sterkste aansluiting vind by die gees van die spesifieke prys, naamlik die bekroning van ’n sterk teks en ’n outeur wat die potensiaal toon om in die toekoms ’n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde te word. As in die mond is ’n eenheidsbundel wat vernaam die storie vertel van ’n tragiese brand wat ’n familie vernietig. Die bundel gee ’n blik op verlies en posttraumatiese stres wat die leser bybly lank ná die lees van die verhale. Familieverhoudinge (tussen ouer en kind, maar ook grootouer en kleinkind) word verken. Soos in haar kortverhaalbundel, Maal, is daar ook ’n fokus op buitestanderfigure. Die leser kry telkens die gevoel dat hierdie karakters toeskouers is van lewens wat intens dog emosioneel-verwyderd beleef en geleef word...
“Haar sterk punt blyk haar vermoë te wees om groot gebeure en emosies op ’n onderbeklemtoonde, maar steeds presiese en roerende wyse te skets. Die outeur raak dus ’n voyeur, nes haar karakters, wat skynbaar onbenullige detail weergee as tekens van die vure wat onderliggend smeul.” https://www.netwerk24.com/netwerk24/elke-stuk-skryfwerk-laat-n-merk-20180921In 2021 verskyn haar eerste roman, onder die titel Om alleen te gaan. Die titel is ontleen aan Elsa Joubert se roman, Water en woestyn: “Veral wou ek alleen gaan, omdat mens soveel meer afhanklik en soveel meer ontvanklik is as jy alleen gaan.”
Die verhaal speel af in Egipte tydens die val van President Hosni Mubarak. Jonathan Amid skryf soos volg oor Om alleen te gaan:https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/alleenreis-na-sin-en-berusting-20211111 “Cato van Staden, Suid-Afrikaans, diep in die 50, ’n onderwyseres met ’n liefde vir leer, maar wat dikwels haar eie geselskap verkies, los haar man en volwasse kinders agter om ’n bootreis op die Nyl af te lê. Soos met Anne Michaels se epiese, peinsende The winter vault, is die vroulike hoofkarakter besig om verskeie traumas te verwerk – veral die verlies van lewe, van wat kon wees, staan op die voorgrond. Cato se oorlede geliefde, Rebecca, het eweneens ’n ongewone artefak agtergelaat wat ’n bepaalde verantwoordelikheid op Cato se skouers plaas.
“Stories – agtergrondstories, verskillende intertekste, mites en opvattings oor die Egiptiese gode en farao’s, vele verwysings na die buitewêreld self en die stories wat deur die feilbare, onbetroubaar subjektiewe geheue self geskape word – word deel van ’n besinning oor die onaflegbare: verlies en die dood. Ek was so beïndruk met die wyse waarop die skrywer twee verhale wat die meeste lesers goed sal ken, Agatha Christie se Death on the Nile en Jan Rabie se ‘Drie kaalkoppe eet tesame’, funksioneel by die verhaal betrek. Vir sommige karakters is dit die reis wat saak maak, vir ander die bestemming. Watter karakters in watter kamp val, is feitlik onmoontlik om tot reg aan die einde van die verhaal te bepaal – soos dit hier hoort.”Jaekel Strauss se volgende roman, Deelfontein, word in 2023 gepubliseer. Dit haal die kortlys van 2024 se ATKV-Prosaprys.
Die roman het as agtergrond die veldhospitaal op die dorpie, Deelfontein, tussen vandag se De Aar en Richmond, Noord-Kaap waar gedurende die Tweede Vryheidsoorlog ’n goed ingerigte militêre hospitaal was. Dit het bekend gestaan as die Imperial Yeomanry Hospital.Sien byvoorbeeld: https://www.dailymaverick.co.za/article/2023-03-14-deelfontein-siding-once-a-massive-military-field-hospital-in-the-karoo-veld/ Die hospitaal het op 17 Maart 1900 oopgemaak en op 31 Maart 1901 is dit afgeslaan.
Dewald Koen (LitNet) skryf soos volg oor die roman: “Op vernuftige wyse bring Jaekel Strauss die verskillende storielyne bymekaar en onderneem Klarissa nie slegs ’n reis op soek na haar familiegeskiedenis nie, maar ontdek sy geheime wat oor landsgrense en eeue heen strek. In dié opsig ondersoek Jaekel Strauss deur middel van die verteller verskeie aspekte van die verlede, insluitend kolonialisme, rassisme, oorlog, politiek, kuns en dwelmverslawing. Van Deelfontein na Sjanghai en weer terug na Londen onderneem die karakters ’n reis wat deur middel van ’n sirkelmotief twee karakters bymekaar bring om die trauma van die verlede te verwerk.
“Trauma is die belangrikste tema in die roman en vorm die kern van die gebeure oor kontinente en geslagte heen. Die trauma van oorlog, verlies, geweld, skuldgevoel, en die geskiedenis word stelselmatig ontbloot soortgelyk aan Klarissa se fiktiewe installasie-uitstalling gebaseer op die gebeure by Deelfontein tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog. Die roman in sy geheel bied meer as een vertelperspektief waarin belangrike geskiedkundige gebeure vanuit verskillende invalshoeke bekyk word. Die tydvakke word ook deur middel van taalgebruik (en meer spesifiek taalvariëteit) verwoord, veral by Klarissa. Die onderhoudende narratief word op geloofbare en realistiese wyse aangebied.
“Jaekel Strauss se feitelike gegewens is deeglik nagevors en op geslaagde wyse met fiktiewe gebeure vervleg. Oliver Glenville en Klara Grootboom se verhaal kan figuurlik gesproke as die verhaal van Suid-Afrika se traumatiese verlede beskou word. Deelfontein is ’n roman wat ’n unieke bydrae lewer tot die groter korpus fiksie rondom die Suid-Afrikaanse Oorlog...Ten tye van belangrike openbare gesprekke rondom dekolonisering, restitusie en gepolariseerde Suid-Afrikaanse, maar ook internasionale groeperinge, is Deelfontein ’n belangrike roman wat gelees moet word.”
Publikasies JaarKortverhaalbundelsUitgewerISBNPryse toegeken en kortlysbenoemings2010MaalKaapstad: Queillerie9780795802645 2010 UJ-debuutprys 2011 Eugène Marais-prys vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk 2011 finalis WA Hofmeyr-prys Kortlys Jan Rabie-Rapportprys2018As in die mondKaapstad: Queillerie9780795801358 2018 Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede prosawerk 2018 kortlys UJ-prys vir fiksie Kortlys WA Hofmeyr-prys Romans2021Om alleen te gaanKaapstad: Queillerie9780795801648 2023DeelfonteinKaapstad: Queillerie97807958026452024 finalis ATKV-ProsaprysSamesteller2013KosblikKaapstad: Queillerie9780624064657
Bronnelys
Tydskrifte en koerante Pople, Laetitia “’n Kosblik vol van die geur van herinneringe” “Beeld” 17 Augustus 2013 Rautenbach, Elmari “Van Niekerk en Strauss vereer met UJ-pryse” “Die Burger” 2 September 2011 Human, Thys “LitNet Akademies-resensie-essay: As in die mond deur Nicole Jaekel Strauss” 12 Julie 2018
Internet Green, Phyllis Sarie: http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/5-boekminute-met-nicole-jaekel-strauss/#/ NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/7870 Terblanche,Erika: https://www.litnet.co.za/nicole-jaekel-strauss-1972/ 30 April 2025
Resensies
Kategorie:Afrikaanse skrywers