Ethiopië of Etiopië (Afar: Itiyoophiyaa; Amharies: ኢትዮጵያ, ʾĪtyōṗṗyā, ; Ge'ez: ኢትዮጵያ; Oromo: Itoophiyaa; Somalies: Itoobiya; Tigrinya: ኢትዮጵያ), amptelik die Federale Demokratiese Republiek Ethiopië, is 'n landingeslote land in Oos-Afrika in die Horing van Afrika. Ethiopië grens in die noorde aan Eritrea, in die ooste aan Djiboeti en Somalië, in die suide aan Kenia en in die weste aan Soedan en Suid-Soedan. Die land beslaan 'n oppervlakte van 1 104 300 km² en het in 2024 'n bevolking van meer as 118 miljoen gehad. Die hoofstad en grootste stad is Addis Abeba, wat sentraal in Ethiopië geleë is.

Die land se volle naam in sy vyf amptelike tale is: ityoppiah federalih demokrasih ummuno (Afar); የኢትዮጵያ ፌዴራላዊ ዴሞክራሲያዊ ሪፐብሊክ, yeʾĪtiyoṗṗiya Fēdēralawī Dēmokirasīyawī Rīpebilīk (Amharies), ; Rippabliikii Federaalawaa Dimokraatawaa Itiyoophiyaa (Oromo); Jamhuuriyadda Dimuqraadiga Federaalka Itoobyaa (Somalies); en ናይኢትዮጵያ ፌዴራላዊ ዴሞክራሲያዊ ሪፐብሊክ, nayi'ītiyop'iya fēdēralawī dēmokirasīyawī rīpebilīki (Tigrinya).

thumb|220px|links|Addis Abeba, die hoofstad van Ethiopië. Ethiopië se nasionale identiteit is gewortel in die historiese en huidige rolle van die Christendom en Islam, asook die onafhanklikheid van die land van buitelandse heerskappy, soos die geval was in verskeie antieke Ethiopiese koninkryke. Van die oudste skelette van mense met moderne anatomie is in Ethiopië ontdek. Dit word algemeen beskou as die gebied van waar moderne mense eerste na die Midde-Ooste en verder plekke migreer het. Volgens linguiste het die eerste sprekers van Afro-Asiatiese tale hulle in die Neolitiese Tydperk in die Horing-gebied gevestig. Van die 2de millennium v.C. af was Ethiopië vir die grootste deel van sy geskiedenis ’n monargie. Volgens oorlewering is die monargie gestig deur die Salomoniese Dinastie van die koningin van Skeba, onder sy eerste koning, Menelik I. In die eerste eeue het die Koninkryk Aksoem die beskawing in die streek verenig gehou.Ancient India, A History Textbook for Class XI, Ram Sharan Sharma, National Council of Educational Research and Training, IndiaMunro-Hay, p. 57Henze, Paul B. (2005) Layers of Time: A History of Ethiopia, .

Gedurende die Wedloop om Afrika in die laat 19de eeu was Ethiopië en Liberië die enigste twee lande wat hulle soewereiniteit te midde van kolonialisme behou het, en baie nasies op die kontinent wat pas onafhanklik geword het, het die Ethiopiese vlagkleure, groen, goud en rooi, aangeneem. In dié tyd het Ethiopië sy moderne grense vasgestel deur middel van groot verowerings van gebiede in sy ooste, weste en suide. Ethiopië was die eerste onafhanklike Afrika-lid van die Volkebond en die Verenigde Nasies."The Reporter – English Edition" . thereporterethiopia.com. Die land is in 1936 deur Italië beset en het Italiaans-Ethiopië geword as deel van Italiaans-Oos-Afrika, totdat dit vyf jaar later, in 1941 tydens die Tweede Wêreldoorlog, bevry is. Tydens die Italiaanse bewind het die regering die eeue oue praktyk van slawerny afgeskaf, en verstedeliking het stelselmatig toegeneem.Shivley, K. "Addis Ababa, Ethiopia" Macalester.edu . Besoek op 15 Mei 2008.

In 1974 is die langdurige Ethiopiese monargie onder Haile Selassie omvergewerp deur die Derg, ’n kommunisties-militêre regering wat deur die Sowjetunie gesteun is. In 1987 het die Derg die Demokratiese Volksrepubliek Ethiopië gestig wat in 1991 deur die Ethiopiese Rewolusionêre Demokratiese Volksfront omvergewerp is. Dit was die heersende politieke koalisie tot in 2019, toe dit deur Abiy Ahmed se Welvaartparty opgevolg is.

duimnael|220px|links|'n Kaart van Ethiopië. Ethiopië is ’n nasie met vele tale; daar is sowat 80 etnolinguistiese groepe – die grootse vier is die Oromo, Amhare, Somaliërs en Tigrinya. Die meeste mense in die land praat Afro-Asiatiese tale tale van die Koesjitiese of Semitiese tak. Verder word Omotiese tale deur etniese minderheidsgroepe in die suidelike streke gepraat. Nilo-Sahariese tale word ook deur Nilotiese minderheidsgroepe gepraat. Oromo het die meeste moedertaalsprekers, terwyl Amharies die meeste totale sprekers het. Ge'ez bly belangrik as ’n liturgiese taal vir beide die Ethiopies-Ortodokse Tewahedo-kerk en die Eritrees-Ortodokse Tewahedo-kerk en vir die Beta Israel. Die meeste bewoners is Christene (veral van die Ethiopies-Ortodokse Tewahedo-kerk en P'ent'ay), en die historiese Koninkryk Aksoem was een van die eerste state wat dié geloof aangeneem het. ’n Derde van die bewoners volg Islam, veral Soenni. Die land het die oudste Moslemnedersetting in Afrika, by Negash. ’n Aansienlike bevolking Jode, bekend as Beta Israel, het ook tot in die 1980's in Ethiopië gewoon.Weil, Shalva (2008) "Jews in Ethiopia", pp. 467–75 in Encyclopaedia of the Jewish Diaspora, Vol. 2. M.A. Erlich (red.). Santa Barbara, VSA: ABC CLIO.Weil, Shalva (2011) "Ethiopian Jews", pp. 165–66 in Cambridge Dictionary of Judaism and Jewish Culture. Judith Baskin (red.). New York: Cambridge University Press.

Die land is vol geografiese teenstrydighede, van die uitgestrekte en vrugbare weste met sy woude en talle riviere tot die wêreld se warmste nedersetting, Dallol in die noorde. Die Ethiopiese Hoogland is die grootste aaneenlopende bergreeks in Afrika, en die Sof Omar-grotte het een van die kontinent se langste grotte (15,1 km). Ethiopië het ook die tweede grootste getal Unesco-wêrelderfenisgebiede in Afrika.

In die 1970's en 1980's het Ethiopië burgerlike onrus en die Rooi Terreur-suiwerings beleef, wat sy ekonomie geknou het. Die land het sedertdien herstel en het in 2010 die grootste ekonomie (volgens BBP) in Oos-Afrika gehad,Ethiopia GDP purchasing power 2010: 86 billion. Internasionale Monetêre Fonds (14 September 2006). Besoek op 3 Maart 2012. maar bly een van die wêreld se armste lande. Armoede, hongersnood, korrupsie, ’n swak infrastrutuur, min respek vir menseregte en beperkte toegang tot gesondheid en opvoeding staar die land in die gesig – net 49% is geletterd.

Etimologie Die Griekse naam Αιθιοπία (Aithiopia, van Αιθίοψ Aithiops, "Ethiopiër") kom van die woorde αἴθω (aitho, "ek brand") + ὤψ (ops, "gesig"). Volgens Liddell-Scott Jones se Greek-English Lexicon beteken dit as selfstandige naamwoord "gebrande gesig" en as byvoeglike naamwoord "rooibruin". Die historikus Herodotos het die term gebruik vir dié dele van Afrika suid van die Sahara wat toe aan die "bewoonde wêreld" bekend was.Vir alle verwysings na Ethiopië in Herodotus, sien: dié lys by die Perseus Project. Die Griekse term kan ook ’n volksetimologie wees vir die Egiptiese term athtiu-abu, wat beteken "rowers van harte".Partridge, Eric. Origins: A Short Etymological Dictionary of the English Language, 4de uitg. 1966, p. 188. Dié Griekse naam is deur Amharies geleen as ኢትዮጵያ, ʾĪtyōṗṗyā.

In Grieks-Romeinse inskripsies was Aethiopia ’n spesifieke toponiem vir antieke Nubië. Die naam Aethiopia verskyn ook in baie vertalings van die Ou Testament met verwysing na Nubië. Na aanleiding van die Hellenistiese en Bybelse tradisie lui die Monumentum Adulitanum, ’n 3de-eeuse inskripsie uit die Koninkryk Aksoem, dat Aksoem se destydse heerser regeer het oor ’n streek wat in die weste begrens is deur die gebied Ethiopië en Sasu. Koning Ezana van Aksoem het Nubië die volgende eeu geannekseer en die Aksoemiete het die naam "Ethiopiërs" vir hulleself aanvaar.

In die 15de-eeuse Boek van Aksum, in Ge'ez, kom die naam "Ethiopië" van ’n legendariese individu met die naam Itijopp'is. Hy was ’n seun van Kus, die seun van Gam, wat nie in die Bybel genoem word nie. Hy het glo die stad Aksoem gestig.

Buite die land was Ethiopië eens bekend as Abessinië. Dié toponiem is afgelei van die gelatiniseerde vorm van die antieke Ḥabashat, wat gebruik word in die Ge'ez-weergawe van die Ezana-inskripsie en in Arabies Ḥabasha is.

Geskiedenis Voorgeskiedenis Verskeie belangrike vondste het Ethiopië en die omringende gebied laat uitstaan in paleontologie. Die oudste hominiede wat tot dusver in Ethiopië ontdek is, is die 4,2 miljoen jaar oue Ardipithecus ramidus (Ardi), wat in 1994 deur Tim D. White gevind is. Die bekendste hominied wat ontdek is, is Australopithecus afarensis (Lucy). Die spesimen is plaaslik as "Dinkinesh" bekend en is in 1974 in die Awashvallei van Ethiopië se Afarstreek ontdek deur Donald Johanson. Dit is een van die volledigste en bes bewaarde fossiele van Australopithecus wat nog ontdek is. Lucy se wetenskaplike naam verwys na die streek waar die ontdekking gedoen is. Die hominied het na raming 3,2 miljoen jaar gelede gelewe.

thumb|220px|links|’n Skedel van Homo sapiens idaltu. Ethiopië word ook beskou as een van die eerste plekke waar die anatomies moderne mens, Homo sapiens, gewoon het. Die oudste van dié plaaslike fossiele vondste, die Omo-oorblyfsels, is in die suidwestelike Omo Kibish-gebied opgegrawe en dateer uit die Middel-Paleolitikum van sowat 200 000 jaar gelede. Verder is skelette van Homo sapiens idaltu op ’n terrein in die Middel-Awashvallei ontdek. Hulle is sowat 160 000 jaar oud en kan dele wees van ’n uitgestorwe subspesie van Homo sapiens, of die onmiddellike voorouers van die anatomies moderne mens. Fossiele van argaïese mense wat in Marokko opgegrawe is, is sedertdien gedateer as uit ’n vroeëre tydperk, sowat 300 000 jaar gelede, terwyl Omo-Kibish I (Omo I) van Suid-Ethiopië sover bekend die oudste anatomies moderne menslike skelet is (196 000 jaar).

Volgens linguiste het die eerste Afro-Asiatiessprekende bevolkings tydens die Neolitikum in die streek aangekom uit hulle vermeende oorspronklike vaderland in die Nylvallei of die Nabye Ooste. Ander geleerdes glo die Afro-Asiatiese familie het in die Horing van Afrika ontstaan en dat die sprekers later van daar af versprei het.

In 2019 het argeoloë ’n 30 000 jaar oue rotsskuiling uit die Middel-Steentydperk by Fincha Habera in die Baleberge van Ethiopië ontdek – op ’n hoogte van 3 469 meter bo die seevlak. Op hierdie hoogte is mense aan beide hipoksie (’n gebrek aan suurstof) en ekstreme weer blootgestel. Volgens ’n studie wat in die tydskrif Nature gepubliseer is, is dit ’n bewys van die vroegste permanente menslike woonplek op groot hoogtes wat nog ontdek is. Duisende dierebene, honderde stukke steengereedskap en antieke vuurmaakplekke is ontdek, asook bewyse van ’n dieet van reusetandmolle.

Bewyse van die vroegste bekende projektiele met klippunte (’n tipiese wapen van Homo sapiens) is in 2013 op die Ethiopiese terrein Gademotta ontdek. Dit is sowat 279 000 jaar oud. In 2019 is nog bewyse van komplekse projektielwapens uit die Middel-Steentydperk by Aduma, ook in Ethiopië, ontdek wat sowat 80 000 tot 100 000 jaar oud is. Die punte was waarskynlik deel van pyle wat deur spieswerpers afgevuur is.

Oudheid thumb|180px|Die Obelisk van Aksoem. Omstreeks die 8ste eeu v.C. is ’n koninkryk met die naam Dʿmt in Tigray en Eritrea gestig. Die hoofstad was Jeha in Noord-Ethiopië. Die meeste historici dink dié beskawing was inheems Ethiopies, hoewel vroeër vermoed is dit was onder Sabese invloed vanweë laasgenoemde se heerskappy oor die Rooisee.

Ander geleerdes beskou Dʿmt as die resultaat van ’n vereniging van Afro-Asiatiessprekende kulture van die Koesjitiese en die Semitiese tak; naamlik plaaslike Agau-volke en Sabeërs van Suid-Arabië. Ge'ez, die antieke Semitiese taal van Ethiopië, het egter vermoedelik onafhanklik ontwikkel van Sabees, een van die Suid-Semitiese tale. Reeds omstreeks 2000 v.C. het ander Semitiessprekendes in Ethiopië en Eritrea gewoon waar Ge'ez ontwikkel het.Tamrat, Taddesse (1972) Church and State in Ethiopia: 1270–1527. Londen: Oxford University Press, pp. 5–13.Uhlig, Siegbert (red.) (2005) Encyclopaedia Aethiopica, "Ge'ez". Wiesbaden: Harrassowitz Verlag, p. 732. Daar word nou vermoed die Sabese invloed was klein en beperk tot ’n paar plekke, en dat dit ná ’n paar dekades of ’n eeu verdwyn het. Dit kon ’n handels- of militêre kolonie gewees het in ’n alliansie met die Ethiopiese beskawing van Dʿmt of ’n ander proto-Aksoemitiese staat.