duimnael|regs|320px|Ds. Koos en mev. Brechtje van Rooy.
Ds. Jacobus Albertus (Koos) van Rooy (plaas Wonderboom, distrik Albert (Burgersdorp), Kaapkolonie, 9 Augustus 1868 – Pretoria, 11 Augustus 1962) was predikant in drie werkkringe van die Gereformeerde Kerk, naamlik Postmasburg 1895–1898, die kombinasie Waterberg-Pietersburg 1898–1905 en Bethulie 1905–1931. Nadat hy sy emeritaat aanvaar het, het hy tot sy eindelike aftrede in 1941 as sekretaris-penningmeester van die Administratiewe Buro op Potchefstroom gewerk. Met die viering van sy 90ste verjaardag tydens 'n saamtrek op Potchefstroom in Augustus 1958 van sowat 300 familielede, het sen. Jan de Klerk gesê hy sien in ds. Van Rooy meer as 'n mens; hy het hom as 'n simbool gesien. Soos pres. Paul Kruger 'n simbool van Suid-Afrika se nasionale aspirasies was, so was ds. Van Rooy vir hom 'n simbool van godsvrug, van arbeidsaamheid in belang van land en volk, van offervaardigheid en nederigheid.Die familie Van Rooy
Herkoms duimnael|links|320px|Ds. van Rooy en sy vier broers. Agter: Willem Izaak. Voor: Antoine Charles August, Henri Charles en Johannes Cornelis.
320px|duimnael|regs|Die Algemene Vergadering gehou te Burgersdorp, 1897. Eerste ry: (vyfde van links) prof. Stephanus Postma, (sewende van links) ds. J.A. van Rooy, ds. Taetse Hamersma, ds. P.S. Snyman, ds. L.J. Vorster. Tweede ry: Di. Martinus Postma, J.L. Maury, Dirk Postma, (moontlik Petrus Viljoen), prof. Jan Lion Cachet, ds. A.J.J. de Klerk Coetsee, Maarten Pelser, M.P.A. Coetsee sr., Petrus Postma, L.J. du Plessis, W.J. Snyman.
Koos van Rooy was ’n seun van die Nederlandse immigrant J.C. van Rooy, en dié se Vlaamse vrou, Anne Françoise Holsters. J.C. van Rooy, die stamvader van dié familie in Suid-Afrika, was die jongste kind van Hendrik van Rooy en Clara Kuijpers, albei Rooms-Katolieke. Hy en Anne Holsters is op 21 Maart 1855 getroud. Koos van Rooy se grootouers aan moederskant was Charles Holsters en Petronella de Gilter. Uit dié huwelik is vyf seuns en vyf dogters gebore, van wie die eerste seun in Nederland, die tweede seun ter see (Charles) en die res in Suid-Afrika. Koos was hul sewende kind en jongste seun. Die egpaar Van Rooy het op 24 Oktober 1857 met die seilboot Karel August na Suid-Afrika verhuis, waar hulle en hul twee seuntjies Henri en Charles op 26 Januarie 1858 by Port Elizabeth aan wal gestap het. Die gesin het hulle in die Noordoos-Kaap gevestig.
J.C. van Rooy, wat uit ’n Katolieke gesin gekom het, het reeds in sy vaderland onder die invloed van 'n onderwyser, ene Quik, en 'n predikant, H. van Andel, 'n Protestant geword en is daar opgelei as onderwyser. In Suid-Afrika was hy 17 jaar lank rondgaande onderwyser aan plaasskole in die distrikte Colesberg, Venterstad, Albert (Burgersdorp), Cradock, Middelburg, Kaap, en Steynsburg. Die gesin het gewoonlik ses maande op 'n plek vertoef, maar soms ook 'n jaar of twee. Hy kon Nederlands en Frans vlot praat en sy Engels was goed. Hy het vroeg reeds aan swak gesondheid gely en hom eindelik op Steynsburg gevestig, waar hy eers onderwyser en later sakeman was. So talryk was sy kindskinders (77), dat toe die Christelik-nasionale skool op Steynsburg op 17 Julie 1905 met 60 leerlinge open, net mooi 'n kwart van hulle kleinkinders van oupa Van Rooy was. Veral sy broers Charles en Jan het groot invloed uitgeoefen op kerklike en maatskaplike gebied. Jan van Rooy is in 1929 benoem tot senator en was ook die teler van die Van Rooy-basterskaap op sy plaas.
Opleiding en onderwyser duimnael|links|320px|Die studente en dosente van die Teologiese Skool Burgersdorp, 1892. Voor: J. Kruger, G. Kruger, J. du Plessis, J. Henning, G. du Plessis, D. Heystek, J. van der Walt. Middel: J. de Klerk, J.A. van Rooy, prof. J. Lion Cachet, prof. S. Postma, K. Coetsee, J. Malan, P. van der Walt. Agter: J. van der Walt, J. Kruger, W. de Klerk, Willem Postma, J. Scheepers, P. van Wyk, J. Kruger, P. Coetsee, P. Snyman.
duimnael|regs|300px|Afgevaardigdes na die Gereformeerde Kerk se Algemene Sinode te Reddersburg, 1910. Voor: J.A. van Rooy, Martinus Postma, Petrus Postma, W.J. Snyman, Jan Lion Cachet, Louw du Plessis, Louis Vorster, Pieter Biewenga. Middel: J.G.H. van der Walt, Jacobus du Plessis, Willem de Klerk, G.H.J. Kruger, Dirk Postma, H.J.R. du Plessis, Willem Postma, Hendrikus Pasch. Agter: J.P. van der Walt, N.H. van der Walt, T.N. Venter, P.C. Snyman, J.H. Kruger, J.D. du Toit, Sietse Los, T. Hamersma, Derk Rumpff.
Van sy vader het Koos van Rooy sy eerste onderwys ontvang en daarmee saam 'n groot liefde en ywer vir die Christelike onderwys; daarom is hy ook op 15-jarige leeftyd na die Teologiese Skool Burgersdorp om hom aldaar as onderwyser te bekwaam. (Dié skool het 'n teologiese sowel as ’n literariese departement gehad.) Ná voltooiing van sy studie as onderwyser, was hy 'n tyd lank hoof van die Christelike skool op Burgersdorp. Hierdie opleiding as onderwyser sou hom later goed te pas kom in die katkisasieklasse. Dit is dus ook te verstane dat hy allerweë as 'n uiters bekwame katkisasiemeester beskou is.
Sy onderwysloopbaan sou nie lank duur nie. In die Gereformeerde Kerk was 'n dringende behoefte aan nuwe predikante en ’n beroep is op jong mense gedoen om hulle as predikante te bekwaam. Aan hierdie roepstem het Koos van Rooy gehoor gegee en so is hy terug na die Teologiese Skool Burgersdorp waar hy sy teologiese studie voltooi het onder prof. Jan Lion Cachet, ook ’n Nederlandse immigrant, maar een wat saam met sy hele gesin hulle van die Joodse geloof bekeer en Protestante geword het.
Huwelik Teologiese student Van Rooy is op 14 September 1892 op Burgersdorp getroud met Brechtje Postma, die oudste van die ses kinders uit ds. Dirk Postma (wat twee jaar vantevore aldaar oorlede is) se vyfde huwelik, op 20 Desember 1869, met Johanna Wilhelmina van Biljon (24 Mei 1854 – 12 Julie 1901). Koos van Rooy se enigste swaer, ds. Willem (1874–1920), was bekend as die skrywer dr. O'kulis. Sy skoonsuster Laurika Postma (1875–1905) was prof. J.A. du Plessis se eerste vrou. Ná haar dood is hy getroud met Aletta (1876–1957), Brechtje Postma se volgende sibbe. Sy jongste skoonsuster, Maria (1881–1966), was getroud met die digter, psalmberymer, predikant en teoloog Totius.
Tien kinders is tussen 1894 en 1907 uit ds. en mev. Van Rooy se huwelik gebore. Die eersteling, Jan Dirk, is op ses maande oorlede, maar al die ander het grootgeword: Johanna (Nan), (later prof.) Dirk Jan (Dirk), Claartje (Kaat), Willem van Biljon (Willem), Anne Francoise (Anne) (genoem na die Van Rooy-stammoeder, Anne Françoise Holsters), (later ds.) Jacobus (Jacs), die tweeling Aletta Jacoba (Lettie) en Martinus Paul (Boet), en Laurika (Riek, ds. David Kotzé se tweede vrou nadat hy vantevore getroud was met 'n dogter van H.C. van Rooy, ds. Van Rooy se broer).
Eerste werkkringe duimnael|regs|300px|Die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp, 1902, die eerste algemene vergadering ná die Tweede Vryheidsoorlog. Eerste ry: Di. J.A. van Rooy, L.P. Vorster, S. Postma, Gert Kruger. Tweede ry (vanaf vyfde van links): Prof. Jan Lion Cachet, dr. P.C. Snyman, prof. J.A. Du Plessis, ds. T. Hamersma, J.C. Krüger, Willem Postma, W.J. Snyman. Derde ry: Di. H.J. du Plessis, Schalk Buys, N. van der Walt, Christiaan van Wyk, D.G. Grobler.
duimnael|links|320px|Predikante by die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerk in sitting op Rustenburg, 1904. Eerste ry: Di. W.J. de Klerk, Flippie Snyman, J.G.H. van der Walt, Totius, G.H.J. Kruger. Tweede ry: Di. Martinus Postma, Petrus Postma, prof. Jan Lion Cachet, di. L.J. du Plessis, W.J. Snyman. Derde ry: Di. T. Hammersma, Willem Postma, Louis Vorster, Dirk Postma, J.A. van Rooy en prof. Jacobus du Plessis.
Ná aflegging van die proponentseksamen is hy in 1895 na Postmasburg beroep. Daar het hy gearbei tot hy in Mei 1898 na die kombinasie Waterberg-Pietersburg is. Hy was dié gemeentes se eerste vaste leraar en het saam met sy gesin op Nylstroom gewoon. Van 28 Julie 1899 tot 15 November 1902 kon die kerkraad geen vergaderings hou nie weens die Tweede Vryheidsoorlog. Die jong pastoriemoeder moes in die afwesigheid van haar man, wat op kommando was met genl. C.F. Beyers en later op parool in Pretoria, ses klein kindertjies versorg, terwyl die pastorie self in ’n kamphospitaal omskep is. In Julie 1905 het die Van Rooys die gemeente verlaat en verhuis na Bethulie, ds. Van Rooy en derde en laaste werkkring waar hy en sy gesin diep spore sou trap in kerklike kringe, maar ook in wyer verband.
Gemeentebediening op Bethulie duimnael|regs|320px|1933: Die Algemene Sinode van die GKSA in sitting Pretoria, afgeneem op die trap van die Uniegebou. Eerste ry: A. Postma, P.G.W. Snyman, Derk Rumpff, J.G.H. van der Walt, I.D. Krüger, prof. J.C. Coetzee, T.T. Spoelstra, A.S.E. Yssel, D.N. Kotzé, W.J. Postma, J.P. van den Berg, I.J. van der Walt. Tweede ry: H.F.V. Kruger, J.H. Boneschans, J.M. de Wet. Tweede ry: W.J. de Klerk, P.J.S. de Klerk, B.J. de Klerk, B. de Klerk, S.J. van der Walt, L.S. van der Walt, J. Schutte, N.H. van der Walt, E.I.J. Venter, H.S. van Jaarsveld, H.J. Venter, D.G Venter, J.V. Coetzee. Vierde ry: J. van Rooy, A. Aucamp, H.P.J. Pasch. Vyfde ry: J.A. van Rooy, J.H. Kruger, G.H.J. Kruger, W.F. Venter, I.J. Lessing, J.B. du Plessis, S.P. van der Walt, J.P. Jooste, J.L. de Bruin, S. du Toit, D.P. du Plessis, F.P.J. Snyman.
duimnael|links|240px|Die Gereformeerde kerk Bethulie het eredienste in dié geboutjie gehou van 1878 tot die ingebruikneming van die nuwe kerk in 1924. Daarna het dit as kerksaal gedien tot dit in 1950 aan die Metodistekerk verkoop is.
duimnael|links|340px|Bethulie se kerkraad met ds. Van Rooy se bevestiging in 1905. Agter: Hendrik Vorster, Jan Fourie, Simon Venter, H. Strydom (?), A. Venter, Gert du Plooy en Hendrik Snyman. Middel: Hendrik Venter, Lewies Fourie, Jan van Rooy, Gert Steenkamp (?) en Dirk du Plooy. Voor: Florie Coetzee, E. (Jims) Nortje, ds. Van Rooy en J. de Wet..
Op Bethulie het ds. Van Rooy 'n gemeente aangetref wat gebukkend gegaan het onder groot geldelike laste. Blykbaar was dit nog altyd die gevolge van die Driejarige Oorlog. Dadelik is aan die werk gespring om hierdie toestand reg te probeer stel. Die kerkraad het besluit elke wyk sou deur die predikant, wyksouderling en diaken deurgegaan word met die kollektelys. Die eerste inskrywing in die boek wat ds. Van Rooy spesiaal vir hierdie kollekte aangehou het, is reeds op 9 Januarie 1906 gedateer. Die gemeente het pragtig saamgestaan en elkeen het sy bydrae ter delging van die skuld gelewer. Kontant was skaars maar wat hulle gehad het, het die gemeente gegee. 'n Broeder, Ignatius Kruger, het 'n erf vir £6-10-0 verkoop en die geld aan die kerk geskenk. Baie bokke en skape is ingekry maar die pryse was maar laag. Een broeder het byvoorbeeld 'n bok gegee, maar dit is maar vir 7 sjielings verkoop. 'n Ander broeder het 3 hamels gegee wat elk vir 14/9 verkoop is. Stadig maar seker is die skuld afbetaal en op 25 November 1910 kon berig word dat die skuld uitgewis is, en dat nog 'n saldo van £27-11-0 oor was. So was die eerste jare van ds. van Rooy in Bethulie 'n worsteling met finansies.
Destyds het ds. Van Rooy nie net sy hande vol gehad met sy eie gemeente nie; vanaf 1906 moes hy Philippolis en Fauresmith as konsulent bedien. Ook in Zastron moes hy gereeld dienste gaan hou en in 1908 het die lidmate op Springfontein die versoek aan die Kerkraad gerig dat ook daar dienste gehou word. Dit is toegestaan, maar vir eers kon net twee dienste per jaar afgestaan word. In 1909 het die lidmate op Smithfield, wat toe 19 getel het, ook ’n versoek tot Bethulie se kerkraad gerig om plaaslike eredienste. Die Kerkraad het besluit om dié versoek toe te staan en dat ds. Van Rooy wel af en toe daarheen kon reis om ’n diens te hou. So moes hy dus die hele suidelike Vrystaat bedien.
Vrystaatse LPR