Helene de Kock is ’n Afrikaanse skrywer.
Lewe en werk Helene van Schalkwyk is op 12 November 1943 op Sabie in Oos-Transvaal gebore as die oudste dogter van Herman en Sylvia van Schalkwyk en is een van twee kinders. Sy het ’n suster, Sunet, wat agt jaar jonger is as sy. Haar vader is ’n predikant in die N.G. Kerk en haar ma is ’n Engels onderwyseres wat skoolleesboeke met ’n Suid-Afrikaanse agtergrond skryf. Sy word groot in Boksburg waar haar vader die Boksburg-Wes gemeente bedien. Haar laerskoolopleiding kry sy aan die Laerskool Hennie Basson en sy gaan dan na die Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg, waar haar ma personeellid is en waar sy ook matrikuleer. Sy word hier verkies tot hoofmeisie. Na skool studeer sy verder aan die Universiteit van Pretoria, waar sy ’n B.A.-graad met Engels en Duits as hoofvakke behaal, asook ’n Hoër Onderwysdiploma. Sy was onder-primaria van die koshuis Klaradyn. In hierdie tyd neem sy sanglesse aan die Konservatorium, onder andere by Xander Haagen, Nellie du Toit en Rina Hugo, en tree daarna gereeld as soliste by opvoerings op. Op universiteit is sy vir twee jaar in die redaksie van die studentekoerant Die Perdeby.
duimnael|regs|Helene van Schalkwyk trou kort voor Kersfees 1967 met dr. Jos de Kock. Helene gee twee jaar onderwys in Engels aan die Hoërskool Dr. E.G. Jansen, terwyl haar ma daar departementshoof is. Hierna trou sy op 23 Desember 1967 met dr. Jos de Kock, visepresident van die Landbounavorsingsraad en latere ereprofessor aan die Universiteit van Pretoria wat ook in die Proteïnnavorsingsraad dien. Hulle het drie kinders, naamlik Jaco, Herman en Sylvia. Haar oudste seun, Jaco, is in Junie 2004 in ’n motorongeluk oorlede. In 1968 gee sy Engels aan die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland. Wanneer die gesin na Bloemfontein trek gaan sy voort met sanglesse en gee hier self ook sanglesse. Sy slaag in hierdie tyd die Universiteit van Suid-Afrika se finale sangeksamen. In die laat tagtigerjare verhuis die gesin na Bethlehem in die Oos-Vrystaat waar hulle vir agt jaar woon. Hier gee sy vir drie jaar lank Geskiedenis aan die Hoërskool Voortrekker en tree ook op as soliste van die Cantus Choraliskoor. Sy is ook vir ’n tyd waarnemende redakteur van Vrystaat, ’n streekskoerant in hierdie kontrei. In 1990 word sy deur die Bethlehem Kultuurraad aangewys as Kultuurvrou van die Jaar.
Later verhuis die gesin na Pretoria, waar sy voltyds skryf en ook periodiek lesings gee oor die skryfkuns by die ATKV-skryfskool aan die Noordwes-Universiteit. Van hierdie lesings is deur die Universiteitspublikasies gepubliseer en haar lesing “Die skrywer in die praktyk” is saam met ander skrywers s'n gebundel in “Skryfateljee”. Op uitnodiging van dr. Annette Jordaan gee sy ook lesings aan die Universiteit van Pretoria. Aan die Noordwes-Universiteit skryf sy haar in vir ’n Meestersgraad in Skeppende Skryfkuns, waarvoor sy die roman “Dieper water” skryf. Hierdie graad behaal sy in 2008 cum laude en vir haar tesis kry sy die toekenning as beste meestersgraadstudent in Afrikaans. In 2014 behaal sy haar Ph.D.-graad in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit onder leiding van Franci Greyling en Hans du Plessis, met ’n proefskrif oor “Die skep van ruimtelike dinamika in ’n roman”, waarvoor die roman “Somersneeu” as vertrekpunt gedien het.
Sy spreek gereeld leeskringe toe en op vryskutbasis doen sy steeds joernalistieke werk met veral artikels vir die tydskrifte Finesse en Taalgenoot. Daar is ook reekse opstelle van haar deur die SAUK uitgesaai. Gereeld skryf sy resensies van veral liefdesverhale vir koerante en tydskrifte soos Literator. Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Helene en haar man woon in Midstream Estate naby Pretoria.
Skryfwerk Haar ma skryf onder die naam Sylvia Bosman die Engelse roman “Drums at night”, wat haar aanspoor om ook te probeer skryf. Sy skryf haar eerste kortverhaal in haar tweede jaar op universiteit en dit word in 1962 deur Huisgenoot gepubliseer. Nadat die volgende elf verhale teruggestuur word, hou sy egter vir ’n ruk op met skryf en begin eers weer skryf tydens haar kinders se babajare. Dit neem tien jaar voordat haar volgende verhaal gepubliseer word. Kortverhale, novelles en vervolgverhale verskyn hierna in Huisgenoot, Sarie, Rooi Rose en Voorligter, waarna sy haar debuut in 1978 maak met die publikasie van die roman “Die soete dwaling”. Sy skryf regdeur haar loopbaan kortverhale en in 1980 word die bundel “Ruitjiesvenster” gepubliseer met ’n keur uit haar kortverhale. In 1988 is sy die naaswenner in Rooi Rose se kortverhaalwedstryd met “’n Laaste maal” en sy wen die derde prys in Sarie en Ou Mutual se kortverhaalwedstryd in 1999 met “Net nog ’n maal”. Kortverhale van haar word onder andere opgeneem in die bundels “Dit kom van ver af” en “Kruis en dwars” wat onderskeidelik deur T.T. Cloete en Jeanette Ferreira saamgestel is en ook in die bundels “Bittersoet sewe”, “Huisgenoot trefferverhale”, “Liefde in die lae lande” en “Van liefde en oorlog”.
Die oorheersende tema in haar boeke is die liefde en haar werk is ontspanningsromans wat op die kommersiële mark gerig is. “Die soete dwaling” (1978) is haar debuutroman. Dr. Daïrus Deetlefs vlug weg na Londen. Sy ma en sy vriendin, Martine, kan dit nie begryp nie. In Londen ontmoet hy die misterieuse Sylvia Saunders. In “Sonder Winter” (1979) is dr. Karen Marais ’n vrou wat liefde geken en weer verloor het. Een middag terwyl sy op pad terug is Oos-Vrystaat toe, kry sy die kans om daardie liefde te herwin. Die vraag is egter of sy Bernard Cilliers weer kan vertrou en of sy kan regmaak wat sy vier jaar tevore verbrou het. “Gruispad na Tóg Wat” (1980) speel af op die kampus van die Universiteit van Pretoria. Die rustelose Pierre Nienaber is nog nie gereed om met sy jeugliefde te trou en te begin boer nie, en besluit om ’n nagraadse kursus te gaan doen. Daar is egter ’n lewenslustige jong mediese student wat al sy waardes onderstebo keer. “Die bruidseisoen” (1981) bestaan uit twee lang novelles. In “’n Bruid vir vier seisoene” gaan hou Sanet Bornman in Venesië vakansie waar sy die nuus kry dat haar verloofde, Kallie, skielik getroud is. Gelukkig is daar ’n ou vriend wat haar onderskraag, iemand wat weet dat die liefde die toets van vier seisoene moet kan deurstaan. In “Huwelik in die herfs” besluit Amara om Londen toe te gaan om helderheid te kry oor haar gevoelens vir Pieter Cronjé en oor sy huweliksaansoek. Die besoek bring haar egter weer in kontak met haar rampspoedige jeugliefde. “Man van gister” (1981) is ’n plaasroman oor die lief en leed van vier jongmense wat ná die afloop van hul studies uitsien na ’n idilliese vakansie op Damplaas in die Oos-Vrystaat. Onder die skynbaar vreedsame oppervlak is daar egter tog diep emosionele onderstrominge in hul onderskeie verhoudinge. Die jong dominee Renier van Petrusdal is in “Met vandag se brood” (1981) vasgevang tussen sy verstand en sy hart. Hy moet tussen twee uiteenlopende vroue kies. Petra is die stemmige dogter van Peet Baumann, terwyl Vasti, die aangenome dogter van Eugene Basson, beeldskoon is en sing soos ’n nagtegaal. Hy wonder of hy tevrede moet wees met vandag se brood, of na meer durf verlang. In “Ver vlug na môre” (1981) moet Eugene Basson na Holland gaan om vas te stel wat geword het van sy gevoelens vir die mooi blonde Elsje. Elsje is met sy aangenome broer, Peet Baumann, getroud. In Leiden ontmoet hy vir Sylvie Bosman, maar Sylvie is ’n getroude vrou. In “Kamer van die stormwind” (1982) moet Jessica leer afskeid neem van haar man wat al maande in ’n koma is na ’n rugbybesering. Dan kom daar iemand soos Ezra op die toneel, en die jong predikant, Andrew, sodat haar lewe in ’n nuwe rigting gedwing word. In “Skemerspel” (1982) raak Christine Delange en die jong student Eben Malan op Stellenbosch op mekaar verlief. Eben vra haar om met hom te trou, ten spyte van haar onuitstaanbare boetie, Fransie, en haar bejaarde wewenaar-vader. Eben kry dan ’n beurs om drie jaar lank in Holland te gaan studeer. Christine kan nie saamgaan nie, want Fransie word ernstig beseer in ’n motorfietsongeluk. Die skeiding wat volg, is meer as ’n toets vir hul liefde. In Leiden leer Eben die beeldskone en amorele Katerine ken en op Stellenbosch loop Christine se lewe ook vreemde paaie. “Digby Grootgewaag” (1983) is die verhaal van drie susters se liefdes en leed. Bettina leef geïsoleerd op hul plaas, die weduwee Zia is ’n stralerjakker en Carola is nog jonk. In “Plek van die bittermaan” (1983) trek die ongehude moeder Tessa Verwey stad toe om met haar seuntjie Jamie ’n nuwe lewe te begin, waar niemand van haar verlede weet nie. Hier ontmoet sy die dinamiese Simon wat in ’n rolstoel sit, Otto, die aantreklike aspirant-advokaat en die begrypende wewenaar, Frans.