Johannes de Villiers is ’n Afrikaanse skrywer oor bewustelikheid (“mindfulness”), meditasie en positiewe sielkunde.

Lewe en werk Johannes Bertus de Villiers is op 5 Julie 1976 gebore. Hy het op Beaufort-Wes en die Paarl grootgeword. Van 1996 af studeer hy aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy in 1998-'99 B.A.- en B.A. honneurs-grade in joernalistiek en in 2008 'n M.A.-graad in antieke studies verwerf. Hy verwerf ook in 2000 ’n honneursgraad in Frans aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy werk sedert 2001 as joernalis, eers by Rapport en Die Burger, en uiteindelik by Huisgenoot, waar hy tans as herskrywer werksaam is. Hy het ook in 2013 en 2014 die Rykie van Reenen-leerstoel aan die Universiteit Stellenbosch se departement joernalistiek beklee.

Sedert 2001 is hy ’n student van Heila Downey, Zenmeester van die Robertson Dharma-sentrum, onder wie hy meditasie en bewustheid (“mindfulness”) studeer. In 2017 bekragtig Downey De Villiers se status as meditasie-instrukteur in die tradisie van Kwan Um Zen en die Koreaanse leermeester Seungsahn. Hy ondergaan oor die jare verdere opleiding in Mianmar, waar hy in 2002 ’n maand in ’n klooster deurbring, en die VSA, waar hy onder Jules Shuzen Harris en Roshi Bodin Kjolhede studeer en besinning doen. Hy woon in Bloemfontein, en bied landwyd slypskole en besinning aan met ’n fokus op meditasie, positiewe sielkunde en emosionele weerbaarheid.

Skryfwerk Sy eerste twee boeke, Agter die Somber Gordyn (2011) en Die Einde van die Wêreld (2012), gaan oor spookstories en doemprofesieë.

Hy is egter meer bekend vir sy drieluikboeke oor bewustheid – Kalmte in die malle gejaag (2018), Blydskap (2020) en Meer as jou seerkry (2022), wat al drie deur Tafelberg uitgegee is. Dié boeke kombineer ’n oorsig oor die teorie en wetenskap van meditasie en bewustheid, met praktiese wenke en die verhale van mense wat persoonlike uitdagings moes trotseer.

Dié boeke gee aanleiding tot ’n reeks slypskole wat hy van 2023 af landwyd oor bewustheid en blydskap aanbied. Sedert 2022 bied hy ook Die Blydskapnavorser op RSG aan, ’n insetsel op die oggendradioprogram Alhoebekker.

In 2025, publiseer Johannes de Villiers twee nuwe boeke: die roman Op pad na 'n klooster in die sneeu (by Human & Rousseau) asook 'n kinderboek met 'n Christelike tema getiteld The True Light: Children's Stories for a Confused World (by Faithline Press).

Publikasies JaarBoektitelUitgewer2010Agter die somber gordynGriffel Media2012Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleefTafelberg2018Kalmte in die malle gejaagTafelberg2020BlydskapTafelberg2022Meer as jou seerkryTafelberg2025Op pad na 'n klooster in die sneeuHuman & Rousseau2025The True Light: Children's Stories for a Confused WorldFaithline Press

Sien ook Zen Seungsahn (Koreaanse Zen meester) Dharma-sentrum

Verwysings

Eksterne skakels Persoonlike webwerf Johannes de Villiers op LitNet Die Blydskapnavorser RSG potgooie.

Kategorie:Afrikaanse skrywers Kategorie:Joernaliste Kategorie:Afrikaners Kategorie:Geboortes in 1976 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Alumni van Paarl-gimnasium