duimnael|regs|210px|Con de Villiers, 1944.
Con de Villiers (distrik Caledon, 16 Desember 1894 – Ceres, 25 November 1978) was 'n professor in fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch, skrywer van verskeie boeke oor die Overbergstreek, musiekkenner en vertaler wat die Akademieprys vir Vertaalde Werk verwerf het in die vorige eeu.
Lewe en werk duimnael|links|200px|Prof. De Villiers, 1937. Cornelius Gerhardus Stephanus de Villiers is op 16 Desember 1894 op die plaas Dunghye Park (wat hulle Donkiespad noem) in die distrik Caledon gebore. Hy was die jongste van ses kinders (en laatlam) van Andries Stephanus de Villiers, oorspronklik van Caledon, en Cornelia Gertruida Susanna (Nelie) Swart, oorspronklik van Bredasdorp, wat in 1866 met mekaar getroud is. Hy is na sy ma vernoem. Hy het drie ouer broers, Jan ( Jeremias), Johan (Johannes Urbanus) en Andries ( Stephanus) en twee ouer susters, Hannie, wat "Tietie" genoem is (Johanna Catharina Hendrina), en San (Susanna Martha Magdalena) gehad. Donkiespad was sy oom se plaas, wat as parlementslid nie kon boer nie en om daardie rede het sy pa vir hom geboer. Sy pa verhuur sy eie plaas omdat hy daar asma gekry het. Tydens sy geboorte is sy vader reeds 52 jaar oud en sy moeder reeds 47. Sy ma was fisiologies nie meer in staat om die kind te voed nie en hy word dus gevoed deur die Kleurlingvrou Jakowa Hendriks. Die weetgierige jong Con leer homself Nederlands uit Ons land en voordat hy skool toe is, kan hy reeds lees, skryf en Engels praat. Hy ontvang sy laerskoolopleiding in Engels op die plaasskool Solitaire, waar hy elke dag oor die berg die sowat ses myl soontoe en weer terug moes stap. Op tienjarige ouderdom is sy ma oorlede, waarna sy pa so twee jaar later met die weduwee Hannie Krige van Caledon trou. Ná laerskool gaan Con na die Hoërskool Overberg, waar hy in 1911 in die eerste klas matrikuleer. Hier is Samuel Hobson, een van die twee skrywende Hobson-broers, een van sy onderwysers. As jong seun kry Con reeds klavierlesse by Miss Frederica Scheuble op Caledon en by die Duitse Fraülein Markgraaff. Hierdie belangstelling in musiek bly hom sy hele lewe lank by.
Vanaf 1912 studeer hy aan die Victoria-kollege op Stellenbosch, waar hy eers privaat loseer en later by die Wilgenhof-koshuis inwoon. In sy eerste jaar volg hy die verpligte Intermediêre kursus met vakke soos Latyn en Wiskunde. Die volgende jaar begin hy studeer vir 'n B.A.-graad, met Geologie, Engels, Etiek en Politiek en Geskiedenis as sy vakke. Die geskiedenisklasse staan hom nie aan nie en nadat hy ’n lesing in Dierkunde bygewoon het, skakel hy oor na hierdie vak. Professor Goddard, vanaf 1911 tot 1922 professor in Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, het ’n belangrike vormende invloed op hom. In 1915 behaal hy die B.A.-graad met ’n onderskeiding in Dierkunde en in 1916 verwerf hy die M.A.-graad in Dierkunde met sy studieveld die Coelenterata (seeanemone, jellievisse en verwante vorme). Hy word in dieselfde jaar die eerste lektor in Dierkunde aan die destydse Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria. In 1919 vertrek hy na die Kantonale Universiteit in Zürich in Switserland, waar hy verder studeer en in 1922 promoveer onder professor Karl Hescheler met ’n verhandeling getiteld Neue Beobachtungen über den Bau und die Entwicklung des Brustschulterapparates bei den Anuren, insbesonders bei Bombinator (die bou en ontwikkeling van die borsskouerapparaat by paddas). Gedurende universiteitsvakansies onderneem hy uitgebreide reise deur Switserland, Italië en Duitsland en leer ook die tale van hierdie lande aan.
Met sy terugkeer in Suid-Afrika word hy in 1922 tydelike dosent en vanaf 1923 professor en later hoogleraar in Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, ’n betrekking wat hy tot met sy aftrede in Desember 1959 beklee. Na sy aftrede neem hy by twee geleenthede weer deeltyds as dosent waar vir kollegas. Met die ervaring en agtergrond wat hy in Europa opgedoen het, bou hy die Departement Soölogie uit tot ’n sterk skool in die vergelykende anatomie en embriologie. In hierdie tyd publiseer hy meer as dertig wetenskaplike artikels in Afrikaans, Engels en Duits, die eerste reeds in 1924. By die Universiteit van Stellenbosch stig hy die later wêreldbekende Instituut vir Vergelykende Anatomie en Embriologie, wat in verskeie belangrike publikasies ’n verwysing kry. Onder sy leiding word ’n baie volledige departementele biblioteek oor hierdie studierigting opgebou en ’n groot aantal meestersgraadstudente en veertien doktorsgraadstudente kwalifiseer met hom as begeleier. Hy verwerf bekendheid vir sy navorsing oor die oorsprong en ontwikkeling van die werweldierskelet.
Tydens die jare van sy hoogleraarskap besoek hy verskeie Italiaanse, Duitse en Amerikaanse universiteite om voorlesings oor sy navorsingswerk te lewer. In 1934 en 1935 is hy byvoorbeeld vir agtien maande gasprofessor aan die Universiteit van Rome, in Italië onder die bewind van Benito Mussolini en aan die vooraand van ’n onkeerbare wêreldoorlog. De Villiers maak hier eerstehands kennis met Italiaanse musiek en musici en ook die Italiaanse kunstenaars en besoek gereeld ook die kunsgalerye en operas. Hiervandaan word hy deur die Carnegie Corporation for International Peace na die Verenigde State van Amerika genooi. In Amerika gee hy lesings aan die Universiteite van Nieu-Mexiko, Oregon, Kalifornië en Harvard. By sy terugkeer uit Amerika gaan hy weer na Italië en is daarna in 1935 gasprofessor in Duitsland aan die Universiteite van Göttingen, München, Leipzig en Breslau. Hy keer hierna vir etlike kort besoeke terug na Europa. In 1937 besoek hy Italië, ’n besoek wat hy in 1950 herhaal en vir die eerste keer ook Spanje aandoen. In 1955 spandeer hy weer agt maande in Rome. Sy navorsingswerk het veral gegaan oor die ontogenese van die werweldierskelet en artikels hieroor word veral in Anatomischer Anzeiger maar ook in ander Duitse, Engelse, Switserse, Sweedse, Amerikaanse en Suid-Afrikaanse vaktydskrifte gepubliseer, insluitende Acta Zoologica, Annals of the Transvaal Museum, South African Journal of Science, Die Huisgenoot, Quarterly Journal of Microscopical Science, Nature, Bulletin of the Museum of Comparative Zoology, Harvard, Vierteljahrschrift der Naturforschenden Gesellschaft in Zürich, Tydskrif vir Wetenskap en Kuns en Annals of the University of Stellenbosch.
In sy groot vriendekring is vele beroemdes op die gebied van musiek, drama, letterkunde en wetenskap, onder andere Knut Hamsun en Luigi Pirandello. Deur bemiddeling van ’n vriendin staan pous Pius ’n private oudiënsie aan hom toe. Hy is buitelandse lid van die Koninklijke Vlaamsche Akademie, erelid van die Academy of Ferrara in Italië en lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Vir twaalf jaar dien hy in die Raad van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie. In 1964 is hy een van die stigterslede van die Genealogiese Vereniging van Suid-Afrika en lewer dan ook ’n groot bydrae tot “Genealogies of old South African families”, wat in 1966 verskyn, terwyl hy ook Geslagsregister van die familie Swart in Suid-Afrika in 1977 die lig laat sien. Hy doen verder uitgebreide navorsing oor die De Villiers-familie.
Sy groot liefde is musiek, veral sang, en hy gee ook lesings in musiek en skryf talle artikels vir koerante soos Die Burger oor musiek in die algemeen en sang in die besonder. Saam met Gladys Hugo en Joan van Niekerk onderneem hy konserttoere na die Bolandse platteland en hy is medestigter in 1945 van die jaarlikse Stellenbosse Sangfees. Sy plateversameling is allerweë beskou as een van die mees uitgebreide ter wêreld. Hy is nooit getroud nie en is ses tale (Afrikaans, Engels, Duits, Frans, Noors en Italiaans) magtig, terwyl hy hom ook kan help in Spaans en Tsjeggies en volksliedere uit Hongaars en Russies kan vertaal. Van sy vertalings van liedere uit Tsjeggies, Italiaans, Duits en Frans word opgeneem in die FAK Volksangbundel. Hy vertaal verder enkele opera-kore in Afrikaans en met sy vertaling van Die Skepping van Haydn, Messias van Händel, Bach se Mattheuspassie en sy verwerkinge van Gesange 142 en 201 lewer hy ’n belangrike bydrae tot kerkmusiek. Vir opvoering deur die destydse Transvaalse en Kaapse Rade van Uitvoerende Kunste vertaal hy Bellini se opera Norma en Donizetti se opera Rita in Afrikaans. Met sy vertaling van die komponis Adolphe Adam se Kerslied, Met middernag keer feestelik weer die stonde, lewer hy ’n belangrike bydrae tot die skatkis van Afrikaanse Kersliedere. Hy bly feitlik sy hele lewe in sy woonstel in Soete Inval in Victoriastraat in Stellenbosch, maar verhuis kort voor sy dood na Langverwag, wat woonstelle vir bejaardes is. Hy is op 25 November 1978 weens ’n hartaanval op Ceres aan huis van sy neef Michiel de Villiers oorlede en hy word in Stellenbosch begrawe.
Skryfwerk Sy stories oor die Overberge, wat later in verskeie bundels versamel word, verskyn die eerste keer kort na sy aanstelling as professor in Stellenbosch in Die Huisgenoot. Vir langer as veertig jaar is hy medewerker aan hierdie tydskrif, terwyl sy sketse en artikels ook in ander Afrikaanse tydskrifte verskyn. Die Overberge is die naam van die gedeelte van die ou gemeente Stellenbosch wat anderkant die Hottentots-Hollandse berge geleë was, of “Over’t Berg”. Die landstreek beslaan dan rofweg die gedeeltes tussen en rondom Caledon, Hermanus, Bredasdorp en Swellendam. Op grond van sy sketse oor die Overberg word hy beskou as een van die belangrikste streekskunstenaars in ons letterkunde. Dit is veral die mense, sedes en gebruike van die Overbergse streek in die ou dae waarop hy fokus, met vertellings oor onder andere saai- en oestyd, hoe daar vakansie of Nuwejaarsfees gehou is, die smouse vanmelewe en die plaasvolk, familielede en oorgelewerde stories. Die sketse bevat spookstories, volksrympies, interessante sêgoed, voorbeelde van volksetimologie en interessante naamgewing van plekke en plante, wat deur die optekening hiervan ’n groot bydrae lewer tot die kultuur-historiese erfenis. Hy grond al sy sketse en vertellings op ware gebeurtenisse, wat hy dan weergee met besondere sukses in die skepping van stemming. Pogings om met literêre verwysings en romantiek “verdieping” aan die einde van sketse mee te bring, werk egter soms steurend mee.