Schalkie van Wyk (24 Oktober 1940, Bloemfontein - 15 Maart 2025https://www.citizen.co.za/rekord/news-headlines/2025/03/27/dogter-langs-sterfbed-van-skrywer-van-300-romans/) was ’n Afrikaanse skrywer van liefdesverhale en kinder- en jeugliteratuur. Sy het reeds meer as 100 boeke geskryf, waaronder 12 vervolgverhale en 'n aantal kinder- en jeugverhale. Sy skryf ook onder die skuilnaam Louié Heine.
Lewe en werk Louié Schalkie van Wyk is op 24 Oktober 1940 in Bloemfontein gebore. Haar pa was Engels en haar ma Duits, maar haar ma is oorlede toe sy slegs vyf jaar oud was.Nieuwoudt, Stephanie “Schalkie vergeet ná elke roman wat sy geskryf het” “Beeld” 2 Junie 1998 Daarna leer haar stiefma haar Afrikaans praat. Haar name kry sy van haar Duitse oupa, na wie sy vernoem is. Sy word groot op Daniëlskuil in die Noord-Kaap, waarna sy haar skoolloopbaan op Vredefort in die Vrystaat voltooi. Hierna studeer sy verder aan die Universiteit van Pretoria, waar sy ’n B.A.-graad in tale verwerf. Op 21-jarige ouderdom word sy redakteur van die jeugtydskrif Patrys, waar sy voltyds kortverhale en vervolgverhale vir kleuters en tieners moet skryf. Sy was getroud met die skrywer Mike Heine, wat sy leer ken wanneer albei verbonde is aan die redaksie van Patrys. Hulle het ’n seun, Charles George, en ’n dogter, Michelle-Philippe (Michelene).Kakkerlak Boekhandelaar: http://kakkerlak.co.za/skrywersprofiele/van-wyk-schalkie/ Na die geboorte van Michelene skryf sy heeltyds. Die egpaar bly in Aucklandpark in Johannesburg en het twee kinders, ’n dogter en ’n seun, maar skei later. Sy vestig haar daarna in Roodepoort.
Skryfwerk Reeds op agtjarige ouderdom begin sy skryf en op sestien word haar eerste kleuterverhaal in die jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Daarna volg verskeie tydskrifvervolgverhale, waaronder Die laksman wag wat in Keur gepubliseer word. Sy skryf ook radiovervolgverhale, insluitende Voetspore van gister wat oor die senders van Radio Suid-Afrika uitgesaai word. In 1997 is Arende vlieg alleen op die kortlys vir die toekenning van die Ela Spence-medalje vir Afrikaanse liefdesverhale. Onder die naam Louie Heine skryf sy ook ’n Engelse boek, Old soldiers never cry. Sy skryf meer as honderd boeke en twaalf vervolgverhale en is verantwoordelik vir vier kinderplate.
Liefdesromans Sy skryf hoofsaaklik liefdesromans, hoewel sy ook jeugverhale skryf. Die liefde oorwin (1977) het Ilse Brink as hoofkarakter. Sy kry dit reg om universiteit toe te gaan, maar besef dat sy hard sal moet werk sodat sy kan help om vir haar behoeftige ouers op die plaas te sorg. Sy besluit om met ’n ryk man te trou, sodat sy en haar ouers nooit weer aan hulle armoede hoef te dink nie. Gelukkig loop sy die ryk Bruce Reyneke raak, maar daar is baie stories oor hom. Ilse se boesemvriend, Henk Retief, weet dat Ilse se oë wel eendag sal oopgaan. Ilse laat toe dat die beroemde Tobias Meiring haar skilder. Tobias het ook baie geld en is aantreklik, al is hy oud genoeg om Ilse se vader te wees.
Letsels van liefde (1979) is Annelie Joubert se verhaal. Na haar pa se dood was sy en haar ma, Susan, finansieel goed versorg. Haar gewese verloofde, Bernard du Preez, was egter ontrou aan haar en die verwydering tussen haar ma en haar oupa, Casper van Vuuren, het haar ook gepla. Prokureur De Waal vertel haar dat hierdie einste skatryk oupa wil hê sy moet ’n jaar lank op die hoewe, Sonhoek, gaan woon en haar lewe uit die stukkie grond maak. Kry sy dit reg, wag die erflating op haar, anders is dit neusie verby. Op Sonhoek is ’n leeglêer wat haar oupa sommer net daar toelaat, oom Hein, wat darem so hier en daar bietjie sal help. Wat sy gekry het, strook egter nie met haar verwagtinge nie.
In Liefhê is geluk (1979) is Nicki, Deon en Cobus van kleins af ’n driemanskap. Deon is die oudste en toe hy weg is universiteit toe, vra hy die armoedige Cobus om vir Nicki mooi op te pas, want hy kom haar eendag haal. Na ses jaar is al drie weer terug op Barendshoogte en Nicki moet kies tussen Cobus, die skugter onderwyser en Deon, vennoot in sy pa se gevestigde prokureurspraktyk. Om sake te kompliseer, het Nicki pas skatryk geërf en daag haar onbekende voog, Francois Rosseau, op om te besluit of sy al volwasse genoeg is om haar erfgeld te ontvang.
’n Anker van liefde (1980) is Karla se lewensverhaal. Sy en Dewald sou trou, maar haar vriendin Linda rokkel hom af. Karla vlug weg Groeneweide toe en hier maak sy kennis met Gerhard Olivier en Arno Durandt.
In Winter van wanhoop (1980) lê Anneke se liefdesdroom aan skerwe, want die mannekyn Marelise het haar verloofde Johan van haar afgerokkel. Sy laat toe dat Wim haar ompraat om na sy en sy broer se erfplaas in die Boland te gaan, waar sy kan skilder. Haar rustige lewe op die plaas verander wanneer Wim se broer Paul terugkeer van oorsee af en die lewe vir haar so onmoontlik maak dat sy besluit om weg te gaan. Sy ontmoet ’n volgende liefde, maar dit word ook bedreig wanneer Marelise weer op die toneel verskyn.
Die joernalis Lize Erlank word in Gister se betowering (1981) deur haar redakteur afgedank en sy trek na haar plaas Le Havre in die Heidedal-distrik. Hier is sy egter nie ontslae van intrige nie, want daar is Guillaume du Prez, sy miljoenêrfamilie, die jaloerse Suzette en ook Frans, die vreemdeling op die perd.
In Die ontwykende droom (1982) bring die onskuldige kleuterskoolonderwyseres Corné van der Linde ’n naweek deur saam met Stefan Roos. Sy besef gou dat hy ’n aartsskelm is en probeer hierna ’n skans om haar hart bou, wat ook vir Dawid Bodenstein en Darius Geldenhuys uithou.
Waar purperwinde blom (1982) het suster Wanda Vosloo as hoofkarakter. Sy verpleeg juffrou Leonore Rosseau, een van die ryk Rosseau’s van Tweekoppen, en ontmoet so vir Leonore se neef Eugene. Wanda hoor dat sy baie lyk na ene Beatrice de Wet, ’n vorige meisie van Eugene, maar niemand wil haar meer oor Beatrice vertel nie. Dan is daar Dewald, Eugene se onpeilbare ouer broer, wat alles in sy vermoë doen om haar en Eugene se vriendskap te verongeluk.
Sanet Grové voel in Drome van liefde (1983) dat sy na die verbreking van haar verlowing met Nardus van den Berg nooit weer met enige man ’n ernstige verhouding sal aanknoop nie. Wanneer haar baas en beste vriend, Tertius Lindeque, begin ernstig voel oor haar, besluit sy om te vlug. Sy moet haar oorlede broer se twee weeskinders versorg en dit gee haar die ideale verskoning om Bothasrus toe te verhuis. Hier ontmoet sy die prokureur Jean-Pierre du Pont, maar tant Ellie van Duuren se bedorwe dogter, Elrina, het ’n ogie op Jean-Pierre. Tant Ellie se giftige tong probeer verhoed dat Sanet en Jean-Pierre ’n verhouding begin.
In Winter van heimwee (1983) is Jacques dood en almal beskuldig vir Hermien du Preez. Terwyl haar vader weg is op ’n sakebesoek betrap sy haar stiefma, Paula, in ’n rooiwarm omhelsing met ’n onbekende vreemdeling. Paula beskuldig haar dan dat sy Jacques vermoor het. Kort na Jacques se begrafnis gaan kuier sy ’n ruk lank by haar peetma, tant Verina Schoeman, op Bothasrus in die Vrystaat. Op Bothasrus ontdek Hermien egter dat die man wat sy in haar stiefma se arms betrap het, doktor Ferdinand Hoffman is wat haar tant Verina se buurman is. Sy maak ook kennis met Lydia de Jongh, Ferdinand se verloofde, en Adri, die sestienjarige skooldogter wat haarself reeds as ’n grootmens beskou. Beide haat haar. Teen haar sin besef sy egter dat sy haar stiefma se minnaar leer liefkry het, al is hy reeds aan Lydia verloof.
Vlakte van verlore drome (1984) speel af op die Springbokvlakte. Christa Venter leer hier wat verlange is, maar leer dan vir Mynhardt Landman ken, ’n man wat links en regs grond koop op die Springbokvlakte. Dan is daar ook nog Riaan Diedericks wat haar liefhet en ook nodig het.
In Toe kom die vreemdeling (1985) verander Adri se rustige, doodgewone bestaan in Johannesburg wanneer haar ma onverwags by haar woonstel opdaag. Sy verklaar dat sy Adri in die Kaap nodig het en dat sy sommer namens haar by die kleuterskool bedank het. Wilhelm daag ’n paar dae later ook by haar woonstel op en hy ken haar pragtige maar verlamde suster Yolanda. In die Kaap ontdek Adri dat Yolanda wel weer kan loop, maar dat sy dit geheim hou, want terwyl sy aan die rolstoel gekluister is, kry sy aandag en simpatie van Wilhelm. Adri is verward, want daar is so baie raaisels wat onopgelos bly.
In Die grondbaron (1986) koop Erika Marais en haar kunstenaarbroer Henno die praghuis Drie Eike op hul tuisdorp, met die doel om ’n losieshuis daarvan te maak. Hulle het egter skaars daar ingetrek of dit blyk dat die verkoper, Riaan van Vollenhoven, se broer, Wilhelm, eintlik die eerste opsie op die huis het. Riaan moet hulle geld terugbetaal, maar Erika moet noodgedwonge aanbly as ’n soort van ’n huishoudster tot dit gebeur. Riaan dink Erika gaan met hom trou en sy moet ook voortdurend sy tienersuster, Karin, beskerm teen die onwelkome attensies van Kallie Brink. Intussen lê ander nooiens agter Wilhelm.
Agter donker sluiers (1989) is Nanette du Preez se verhaal. Sy keer terug na die familieplaas, Nous Verrons, maar word nie op die stasie afgehaal nie en haar oupa en tant Ellie behandel haar kil en afsydig. Sy vind eindelik uit dat almal glo sy het ’n buite-egtelike kind, die jong Selmar, wat by haar oupa inwoon. Haar suster, Marie, het die kind se geboortesertifikaat waarop Nanette as moeder geregistreer is, daar aangebring. Marie het intussen verongeluk en Nanette delf in haar verlede om uit te vind waar Selmar vandaan kom en wie sy pa is.
In Alleen in die wind (1990) het Anneke van Jaarsveld ’n obsessie daarmee dat Brandt Froneman nie sy sin moet kry nie. Sy sien hom as ’n jonger weergawe van haar despotiese pa.
In Beminde vyand (1991) keer Sunette Landman ná haar studiejare terug na haar ouma Jakkie op Landmanshoogte om daar as leerling-prokureur te begin werk. Dadelik besef Sunette dat ouma Jakkie iets vir haar wegsteek wat met Marié-Louise, haar halfsuster, te doen het. Sy tuimel op haar eerste dag in haar vriendin Willemien se boekwinkel van ’n leer af en val ’n man onderstebo. Hy is ’n verloofde man en van daardie oomblik af word Sunette en Eduard beminde vyande.
Seisoen van verlange (1991) is Anina Kruger se verhaal. Haar geliefde groottante, Elma Kruger, sterf en sy beland sonder ’n sent op straat. Anina gaan bly noodgedwonge by haar jare lange vriendin in ’n woonstel. Hier voel Anina egter ontuis, want haar eens goeie vriendin het in ’n uitlokkende plesiersoeker verander. ’n Beplande naweek in die Drakensberge saam met ’n groep permissiewe jongmense span die kroon en Anina loop weg en beland op die trap van ’n bergchalet. Dis Bernard, ’n knap sakeman, se chalet en hy kom hiernatoe om van alles, veral vrouens, weg te kom.
In Weerklank van gister (1991) is Flaminkemeer ’n rustige dorpie waar saagmeulens werk verskaf aan die oorgrote meerderheid van die inwoners. Vir Elani Groeneveld, wat haar hele lewe lank in Pretoria gewoon het, is dié dorpie naby Kaapstad sprokiesmooi. Sy is ook opgewonde omdat sy hier haar ouma Renate gaan ontmoet. Die mense van Flaminkemeer is egter alles behalwe vriendelik en opreg. Elani se ouma glo sy is ’n fortuinsoekster wat net kom kuier het om geld te erf en het klaar vir Elani ’n huwelik gereël. Marcel du Bois neem sy intrek in die dorp en die liefde wat tussen hom en Elani ontstaan, word deur ouma Renate in die kiem gesmoor.