Melt J. Brink (1842–1925) was ’n Nederlandse digter en dramaturg van die negentiende eeu, wat ruim van Kaaps-Hollands (vroeë Afrikaans) in sy geskrifte gebruik gemaak het. Sy taalgebruik word as ’n tussentaal beskryf, d.w.s. nie meer Nederlands nie, maar nog nie Afrikaans nie. As sulks was hy ’n belangrike oorgangsfiguur tussen die Eerste en Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Hy was ’n leidende figuur in die Kaaps-Hollandse teater en sekretaris van die destyds invloedryke Aurora-teatergroep. Sy geestige eenbedrywe word nog dan en wan opgevoer.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms Melt Jacobus Brink is op 16 Mei 1842 in Langstraat in Kaapstad gebore as die seun van Melt Jacobus Brink senior en Maria Alida Frederika Louw. Melt het nog twee halfbroers en ’n eie broer en drie susters. Sy vader is ’n sakeman wat sy hand sonder veel sukses aan vele werksaamhede waag en nadat hy borgstaan vir ’n vriend wat nie sy verpligtinge kon nakom nie, word sy huis en besittings uitverkoop. As gevolg hiervan trek die gesin baie rond. Van sy sewende jaar in 1849 woon die familie op die plaas Oostenwal, naby Saldanhabaai, waar sy vader met koring en vee boer en ook visser is. Hier ontvang Melt in 1851 vir ongeveer ’n jaar lank onderrig van ’n Hollandse stuurman, Jan Jansen, wie se skip vergaan en hom dwing om maar onderwyser te word. By hom leer hy lees, skryf en rekenkunde. Na ’n jaar neem Jansen ’n betrekking aan as onderwyser op die nuwe dorpie Hopefield en Melt is weer op homself aangewese om Nederlands te leer lees en skryf. Die gesin keer in 1855 terug na Kaapstad, waar sy vader herbergier is en Melt in 1856 weer kan skoolgaan by die Tot Nut van't Algemeen-skool, waar hy ook tekenlesse kry. Daarna help hy vanaf 1857 sy vader op hulle plaas naby Houtbaai tot en met 1863 met sy wynboerdery, terwyl hy gereeld in sy vrye tyd teken en skilder. Weens geldelike probleme verkoop hulle die plaas en hulle verhuis weer in 1864 na ’n huis in Buitengrachtstraat in Kaapstad, waar sy vader ’n bakkery en slaghuis open en hy weer sy vader behulpsaam is. Deur die tussenkoms van sy stiefbroer Andries, ’n landmeter, kry hy weer ’n geleentheid om in 1865 ’n jaar skool te gaan, hierdie keer by die South African College, waarna hy noodgedwonge formele skoolopleiding moes staak.

Selfopleiding In wese is hy dus ’n outodidak, wat nie die nodige geleenthede gehad het om te studeer nie en homself dus moes bekwaam met die beperkte middels tot sy beskikking. Ten spyte van sy gebrekkige skoolopleiding is die jong Melt leergierig en lees hy van jongs af werke van Nederlandse digters soos Cats, Bilderdijk, Tollens, Van Zeggelen en De Génestet, wat 'n groot invloed op sy eie digkuns uitoefen. Hy is wyd belese en sy boekery beslaan etlike duisende boeke oor verskillende onderwerpe soos teologie, spiritisme, Darwinisme, mitologie, filosofie, geskiedenis en selfs dier- en plantkunde. Op letterkundige gebied het hy werke van beroemde outeurs gelees, insluitende John Milton, Henry Fielding, Émile Zola en Shakespeare, tesame met vele ander in Nederlands vertaalde werke van middelmatige gehalte. Van jongs af is hy lief om te skilder en te teken en sy stiefbroer leer hom hoe om landkaarte te teken.

Loopbaan as tekenaar In 1867 kry hy dan ’n aanstelling in die kantoor van die Landmeter-generaal, waar hy tot met sy aftrede as tekenaar van kaarte werksaam is. Hy teken hoofsaaklik kaarte van Kaapse en omliggende munisipale gebiede en produseer eindelik sowat honderd belangrike kaarte en planne, wat ’n stewige fondament vir toekomstige amptenare en navorsers lê. Van die kaarte wat hy teken sluit in die munisipale gebiede Woodstock, Mowbray, Maitland, Claremont en Rondebosch, asook afdelingsplanne vir Kaapstad, Stellenbosch en die Paarl. Hierdie afdelings se grondbriewe is reeds in die sewentiende eeu uitgereik. Die Staatsdrukker publiseer die afdelingsplan vir Kaapstad as ’n muurkaart. Op 11 Februarie 1898, ná die dood van die hooftekenaar Willem Cornelis Kuys, word hy bevorder tot hooftekenaar.

Kaapse Rederykerskamer Aurora In ongeveer April 1867 sluit hy as lid aan by die Kaapse Rederykerskamer Aurora (wat daeraad of sonsopkoms beteken) wat op 4 Oktober 1866 deur vyf gebore Nederlanders gestig is met die leuse “Onvermoeide vlijt komt alles te boven”. Hy word in November 1867 tot sekretaris verkies en bly aan in hierdie pos tot 1886, behalwe vir sy tydperk as voorsitter in 1875 en 1876 en weer in 1887. Die doel van die organisasie is om openbare redery te beoefen en die kennis van die Nederlandse letterkunde te bevorder deur die voorlees van gedigte, die voordra van prosastukke en die opvoer van toneelstukke. Vir hierdie organisasie skryf hy in die jare 1868–1877 veertien Nederlandstalige toneelstukke. Die Rederykerskamer loop dood in 1887, maar hy is in 1908 weer instrumenteel in die heroprigting daarvan as onderafdeling van die Algemeen Nederlands Verbond en word ook aangewys as voorsitter. Hierdie pos beklee hy egter net vir ’n kort ruk, maar met sy uittrede word hy verkies as erevoorsitter. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 hou dit finaal op om te bestaan.

Hy is vanaf die stigting daarvan in 1867 lid van die Vrye Protestantse Kerk van eerwaarde D.P. Faure, wat die Unitariërbeweging in Suid-Afrika verteenwoordig het. Hierdie kerk ontken die leer van die Drie-eenheid en verwerp dus Jesus se godheid en alles wat daarmee saamhang. Brink is jare lank sekretaris en later tesourier van die Kaapse gemeente en tot met sy dood een van die getrouste kerkraadslede. In 1874 word hy ook die stigter en leier van die buitekerklike vereniging De Roode Ster, ’n soort vrymesselaarslosie wat as doel het die veredeling van die hele mensdom deur liefde, waarheid, deug, vrede en troue vriendskap. Hy behoort aan vele ander verenigings en organisasies, insluitende De Zuid-Afrikaansche Societeit, Het Algemeen Nederlandsch Verbond, De Zuid-Afrikaansche Taalbond, Vereniging Hollandia in Kaapstad en word ook erelid van die Maatschappij der Nederlandsche Letteren in Leiden in Nederland. In 1903 is hy saam met J.H. Hofmeyr en mevrou Marie Koopmans-de Wet mede-oprigter en ook gereelde medewerker van die tydskrif De Goede Hoop, wat onder die redakteurskap van J.H.H. de Waal gestaan het.

Persoonlike lewe Hy trou op 16 Junie 1870 met Hanette Susanna Combrink. Op 1 Junie 1908 tree hy op sestigjarige ouderdom met pensioen af en sy vrou ontval hom in 1916. Stil en eensaam (die huwelik was kinderloos) bly hy tot met sy dood in sy huis Pretoria-villa in Kloofstraat in Kaapstad. Hy is op 3 September 1925 in Kaapstad oorlede en word in die Woltemade-begraafplaas begrawe.

Skryfwerk

Eerste fase Sy eerste letterkundige poging is op veertienjarige ouderdom in 1856, in die vorm van ’n grappige versie Op de Snyder Kakatoe. Hierdie versie stuur hy op 30 September 1920 aan J.J. Smith vir plasing in Die Huisgenoot. In die sestigerjare van die negentiende eeu begin hy ook om versies te publiseer in The Knobkerrie. Hy lewer veral werk van belang in die poësie en die drama. Sy letterkundige werksaamheid kan rofweg in drie fases ingedeel word. Die eerste fase van sy aktiwiteit as skrywer is as lid van die Kaapse Rederykerskamer Aurora. Vir hierdie organisasie skryf hy in die jare 1868–1877 veertien Nederlandstalige toneelstukke. Hierdie toneelstukke is meestal eenbedrywe wat uitsluitlik daarop gemik is om te vermaak en geen letterkundige pretensies het nie. Meeste van hierdie toneelstukke is derhalwe klugte of komedies, soos die heel eerste een, Het origineele Testament wat in 1968 opgevoer is. Dit is ’n blyspel in drie bedrywe. Hierna word opeenvolgend van hom die volgende toneelstukke by Aurora opgevoer: Die blyspel in twee bedrywe Het Spook of De Bekering van Docter Peperhoofd in 1869; Naar de Diamantvelden in 1870, ’n blyspel in drie bedrywe wat in 1921 in Afrikaans uitgegee word as De diamantkoors of Einde goed, alles goed; De weddenschap in 1871, ’n blyspel in een bedryf wat gebaseer is op ’n gedig van P.J. Kikkert (in 1905 in Kaaps-Hollands uitgegee as De weddenschap en in 1915 in Afrikaans as Die weddenskap); De tovenaar, nog ’n eenbedryf blyspel wat in 1871 opgevoer is en wat gebaseer is op ’n gedig De Conscrit; Een reis met hindernissen of De Speler Bekeerd, ’n blyspel in drie bedrywe wat ook in 1871 opgevoer is; Die blyspel De drie verliefde schoolmeesters of Wie zal de bruid hebben” wat in 1872 opgevoer is; Een loterij, ’n blyspel in een bedryf wat in 1872 opgevoer is; De onaangename huishoudster, ’n blyspel in een bedryf wat in 1873 opgevoer word en in 1905 in Kaaps-Hollands uitgegee word as De kwaaije huishoudster; Trouw beloond of De zegepraat der onschuld, ’n drama in vier bedrywe en ook in 1873 opgevoer; De twee dooven, ’n blyspel in een bedryf wat in 1874 opgevoer word; De misdadigers of Loon naar werken, ’n drama in vier bedrywe en opgevoer in 1874; De tijdgeest van 1875, ’n blyspel in 3 bedrywe wat gebaseer is op ’n gedig van W.J. van Zeggelen en in 1877 die drama in ses bedrywe wat afspeel tydens die Tagtigjarige Oorlog, De Slagers van Ghent.

Sommige van hierdie blyspele word later bekend in Afrikaanse verwerking, soos De Weddenschap en De Onaangename Huishoudster. Brink lewer ook meer ernstige werk, waaronder De slagers van Ghent, wat in Julie 1877 opgevoer is. Hierdie drama speel af tydens die Tagtigjarige Oorlog, enkele dae nadat Gent deur Spaanse troepe oorval is en die Spaanse bevelhebber (Graaf D’Ulloa) laat sy troepe toe om al moordend en plunderend deur die stad te trek. Hulle breek in by ’n uitgeweke Spaanse edelman (Don Hernandez) se huis en word getref deur die skoonheid van sy dogter, Maria, vir wie hulle dan wil ontvoer. Don Hernandez dood een van die inbrekers en word weggevoer om gehang te word, terwyl die seun van Graaf D’Ulloa (Don Juan) ook daar aankom en verlief raak op die dogter. Hy belowe om haar pa te red, maar is onsuksesvol om sy pa, Graaf D’Ulloa, se oordeel en vonnis te verander. Burgers van die stad probeer om Don Hernandez te bevry, maar is onsuksesvol. Soldate van Graaf D’Ulloa probeer om Don Hernandez om die lewe te bring, maar Don Juan verdedig hom om sy lewe so te probeer red. Don Juan word egter oorval en Don Hernandez word tereggestel. Don Juan keer terug na Maria se huis om die slegte nuus oor te dra en sy ware identiteit bekend te maak. Hulle verstaan dat hulle liefde geen toekoms het in hierdie omstandighede nie. Nadat hy weg is, daag ander soldate weer op om die huis te plunder en hulle dood Maria. Don Juan en sy pa daag net betyds op om haar sterwenswoorde aan te hoor, wat ’n wens is dat vader en seun weer versoen sal raak. Hierdie is ’n tipiese melodrama, waar elke probleemsituasie onmiddellik deur ’n volgende opgevolg word, en is bevolk met karakters wat hoofsaaklik ten volle goed of ten volle boos is. Die oormag van die Spaanse magte veroorsaak ’n baie ongelyke en tragiese stryd. Die boodskap is dat opstand en opoffering van lewens vryheid tog nader bring. Deur die opset en tydsberekening van die stuk het dit egter in die breë ’n politieke impak gemaak daarin dat dit ook toegepas kon word op die ewe ongelyke stryd in Transvaal, waar die Engelse kort tevore hierdie republiek ingeneem het. Naar de Diamantvelden van 1870 is ’n uitbeelding van die impak wat die ontdekking van diamante en die daaropvolgende instroming van vreemde fortuinsoekers en die dwase diamantkoors van eie eenvoudige landsburgers op die maatskaplike toestande in die land het.

Tweede fase