City of New OrleansVille de La Nouvelle-Orléans 280px Kaart Seël 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter|raam Land  Deelstaat 20px Louisiana Parish (parogie) Orleans Koördinate  Gestig op 7 Mei 1718 Geïnkorporeer op 17 Februarie 1805 Oppervlakte:    - Totaal 907 vk km  Hoogte bo seevlak –2–6 m Bevolking:    - Totaal (Stad en county 2020) 390 128  - Bevolkingsdigtheid 430,1/vk km  - Metropolitaanse gebied (2013) 1 240 977 Tydsone UTC -6 (CST)  - Somertyd UTC -5 (CDT) Klimaat    - Tipe Subtropiese klimaat  - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 11 °C  - Gem. temp. Januarie/Julie 17 / 28 °C  - Gemiddelde jaarlikse neerslae 1629,7 mm Burgemeester LaToya Cantrell (D) Amptelike webwerf nola.gov

New Orleans (Engels: [ˈɔːrl(i)ənz], ; Frans: La Nouvelle-Orléans, [la nuvɛlɔʁleɑ̃], ; Louisiaanse kreools: Nouvèl Orleans; Spaans: Nueva Orleans) is die grootste stad in die Amerikaanse deelstaat Louisiana met 'n bevolking van 378 715 in die stadsgebied en meer as 1,2 miljoen in die metropolitaanse gebied. In Engels word na sy bewoners as New Orleanians verwys.

duimnael|links|Gietysterbalkonne in die Franse Kwartier duimnael|links|Historiese geboue in Chartres Street kontrasteer met moderne wolkekrabbers. Die kantoortoring in die agtergrond is Place St. Charles duimnael|links|'n Woonstelgebou in die Franse Kwartier is na New Orleans se befaamde Voodoo-koningin Marie Laveau vernoem duimnael|links|Rev. Zombies Voodoo-winkel in Bourbon Street, Franse Kwartier duimnael|links|Satellietfoto van New Orleans en Lake Pontchartrain in Januarie 2020 New Orleans het 'n ryk en kleurvolle geskiedenis wat onlosmaaklik verbind is met sy unieke en strategies belangrike ligging net sowat 100 myl van die Mississippirivier se monding in die Golf van Meksiko. Sy hawe is al drie eeue lank die besigste aan die Amerikaanse Golfkus en het die belangstelling van Wes-Europa se groot seevarende moondhede – Spanje, Frankryk en Groot-Brittanje – gewek wat almal hul spore in New Orleans se kultuur en leefwyse gelaat het. Vandag word New Orleans nie soseer as 'n smeltkroes beskou nie, maar eerder as 'n Amerikaanse stad wat sy eie unieke kultuur en samelewing ontwikkel het. Dikwels word na die stad vanweë sy ontspanne leefstyl as Big Easy of, vanweë sy ligging aan die oosoewer van die Mississippi se wye rivierdraai, as Crescent City verwys; vir ander roep dit beelde op van 'n "Parys van die Suide" of van die "mees noordelike stad van die Karibiese See".

Jean-Baptiste Le Moyne, die goewerneur van Frans-Louisiana, het aan die stad sy oorspronklike Franse naam Nouvelle Orléans of "Nieu-Orléans" gegee, ter ere van Filips II, hertog van Orléans, wat tussen 1715 en 1723 as Franse regent namens Lodewyk XV geregeer het. Alhoewel al vroeg 'n reeks ekspedisies na die binneland onderneem is, is die huidige stadsgebied voor die goewerneur se amptelike stadstigting in 1718 byna uitsluitlik deur inheemse Indiane bewoon. Ná enkele dekades van ononderbroke heerskappy oor die gebied het Frankryk die seehawe in 'n reeks ooreenkomste aan Spanje afgestaan. Veertig jaar van Spaanse bewind het van New Orleans 'n florerende seehawe en handelspos tussen Meksiko en Kuba gemaak waartydens ook vrye burgers van nie-Europese afkoms hulle in die stad kon vestig.

Nadat 'n reeks verwoestende brande in die gebied gewoed het, het Spanje sy besitting in 1803 aan die Franse stigters terugverkoop wat dit op hulle beurt slegs twintig dae later met die sogenaamde Louisiana-aankoop aan die jong Verenigde State oorhandig het.

Gedurende die eerste helfte van die 19de eeu was New Orleans die welvarendste stad in Amerika en die belangrikste uitvoerhawe vir Amerikaanse goedere wat hier na Europa, Suid-Amerika en die Karibiese Seegebied verskeep is. Selfs onder Amerikaanse administrasie was Frans nog tot in die 1830's die huistaal van die oorgrote meerderheid van die stadsbevolking. New Orleans se strategiese ligging en florerende ekonomie het in die vroeë 19de eeu Britse begeertes gewek en was die aanleiding vir die Brits-Amerikaanse Oorlog wat in 1812 uitgebreek het. Die Britse aanvallers is drie jaar later deur die Amerikaanse generaal Andrew Jackson verslaan.

In die volgende vier dekades het New Orleans tot Amerika se vernaamste uitvoerhawe vir katoen gegroei. Steeds meer stoombote het die plaaslike hawe aangedoen en reeds in 1835 'n jaarlikse omset van $35 miljoen verseker. Slegs vyf jaar later was New Orleans die vierde besigste seehawe ter wêreld. Die tweede helfte van die 19de eeu is deur ongekende tegnologiese en ekonomiese vooruitgang gekenmerk. 'n Moderne openbare vervoerstelsel met tremlyne het ontstaan, en danksy nuwe pomptegnologie kon uitgestrekte gebiede, wat benede seevlak geleë was, drooggelê en as woonbuurte vir die snel groeiende bevolking ontsluit word. Natuurrampe soos orkane was 'n konstante bedreiging vir die Golfmetropool, maar kon sy groei nie noemenswaardig belemmer nie.

Terwyl ander Amerikaanse metropole New Orleans gaandeweg as ekonomiese en finansiële spilpunte verbygesteek het, het die plaaslike kultuur 'n bloeitydperk beleef waarvan New Orleansse jazzmusiek een glanspunt geword het. Hierdie musiekstyl, wat in plaaslike kroeë en danssale gebore is, het sy oorsprong in die tradisionele musiek van slawe uit Afrika suid van die Sahara gehad. Hoe meer Europese klanke en Afrikaritmes met mekaar versmelt het, hoe makliker het jazzmusiek uit sy oorspronklike ghetto van slawevergaderings en swart kerkmusiek uitgebreek om eers die Amerikaanse en later die internasionale musieklewe te verower.

Vandag is New Orleans 'n belangrike kulturele en nywerheidsentrum en 'n gesogte toeristebestemming. Sy hawe, wat die Mississippirivier met die Golf van Meksiko verbind, is die belangrikste uitvoerhawe van die suidelike Amerikaanse deelstate. Die grootskaalse oorstromings, wat die stad as gevolg van die orkaan Katrina op 29 Augustus 2005 getref het, het 'n groot gedeelte van New Orleans verwoes en talle menselewens geëis.

Etimologie en byname Voor die aankoms van Europese koloniste het die inheemse Choctaw-Indiane na die gebied van die huidige New Orleans as Bulbancha verwys wat vertaal as "land van baie tonge". Dit blyk 'n verkorting van balbáha a̱shah te wees, wat "daar is buitelandse sprekers" beteken. In sy boek Histoire de la Louisiane skryf Antoine-Simon Le Page du Pratz dat die inheemse naam na die Mississippirivier verwys en dat die gebruik van dieselfde naam vir die nedersetting verband hou met inheemse Amerikaanse konsepte van die noue interaksie tussen riviere en die omliggende land.

Die naam New Orleans is afgelei van die Franse naam La Nouvelle-Orléans wat aan die stad gegee is ter ere van Filips II, wie onder Lodewyk XV as regent gedien het van 1715 tot 1723. Die Franse stad Orléans is op sy beurt genoem na die Romeinse keiser Aurelianus en het oorspronklik bekend gestaan as Aurelianum. Aangesien New Orleans ook na Aurelianus genoem is, sou die stadnaam in Latyn vertaal as Nova Aurelia.

Ná sy nederlaag in die Sewejarige Oorlog het Frankryk met die Verdrag van Parys in 1763 sy besit Louisiana aan die Spaanse Ryk oorhandig, met wie Frankryk 'n jaar vroeër die geheime Verdrag van Fontainebleau onderteken het. Die Spanjaarde het die stad in Nueva Orleans ([ˌnweβa oɾleˈans]) hernoem, wat tot in 1800 gebruik is. Die Verenigde State, wat in 1803 die besit van Frankryk oorgeneem het, het die Franse naam oorgeneem en dit verengels tot New Orleans.

New Orleans het verskeie byname, waaronder: Crescent City wat na die loop van die Laer Mississippi-rivier rondom en deur die stad verwys. The Big Easy, moontlik 'n verwysing deur musikante in die vroeë 20ste eeu na die relatiewe gemak om daar werk te vind. The City that Care Forgot, ten minste sedert 1938 gebruik, wat verwys na die uiterlik gemaklike, sorgelose aard van sy inwoners. NOLA, die akroniem vir New Orleans, Louisiana.

Geografie duimnael|New Orleans se ligging tussen die Pontchartrainmeer en die Mississippi Die stad lê in die rivierdelta van die Mississippi en het 'n oppervlak van 907,0 vierkante kilometer (waarvan 439,4 vierkante kilometer of 48,3 persent water). Die land van die delta is oor 'n tydperk van 2 500 jaar deur afsaksel van die Mississippi gevorm en bestaan hoofsaaklik uit 'n moeras, wat enkele honderd meter diep is. Die moeras verdig soveel dat dit deur sy eie neerdrukkende gewig benede die seevlak begin sink, tensy daar nie nuwe afsaksel bykom nie.

Tydens die stigting van New Orleans het die Franse setlaars die eerste geboue in 'n gebied opgerig wat effens hoër geleë was as die omgewing (die "French Quarter" of "Franse buurt"). In 1718 het New Orleans se seehawe ontstaan. Sowel die stadsgebied asook die hawe is deur middel van oewerwalle, sogenaamde levée's met 'n hoogte van sowat nege meter in die suide en vyf tot ses meter in die noorde, teen die watermassa's van die Mississippi en die Pontchartrainmeer beskerm.

Weens die gebrek aan nuwe afsaksel sink New Orleans en sy omgewing nou jaarliks ag millimeter en word steeds meer land deur die see verswelg. Tans lê sewentig persent van die stad sowat twee meter benede die seevlak. Toe orkaan Katrina die kusgebied van New Orleans getref het, is een oewerwal – dié van die Sewende Straat-kanaal – oorstroom. Groot hoeveelhede water het in die laagliggende stadsgebied ingestroom en vier vyfdes van New Orleans oorstroom.

A. Baldwin Wood het in 1910 'n stelsel van pompe opgerig wat New Orleans droog gelê en nuwe landwinning moontlik gemaak het. Die huidige stadsgebied het die vorm van 'n sekel sodat na New Orleans dikwels as die "Sekelstad" verwys word.

Klimaat duimnael|Orkane in die tydperk tussen 1852 en 2005 wat in kategorie 3 of hoër geval en binne 'n afstand van 100 myl van New Orleans landinwaarts beweeg het.Bron: Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA) duimnael|Die voortdurende stryd teen water: nuwe pompstasies in aanbou New Orleans het 'n vogtige subtropiese klimaat met kort en in die algemeen gematigde winters, en baie warm en bedompige somers. Die gemiddelde maandelikse dagtemperature wissel van 11,9 °C in Januarie tot 28,5 °C in Julie en Augustus. Die laagste temperatuur, wat ooit aangeteken is, was -14 °C op 13 Februarie 1899, die hoogste 40 °C op 24 Junie 2009. Opvallend is die relatief hoë doupunte in die somermaande wat tussen 21,7 °C en 23,0 °C beloop.

Die kwil styg op 'n gemiddeld van 77 dae per jaar bo 32 °C en styg op 8,1 winterdae nie hoër as 10 °C nie. Op 'n gemiddeld van agt dae daal die kwik snags benede vriespunt. In 'n tipiese jaar word in die koudste nag temperature van -1 °C gemeet. Maar oor die algemeen styg die kwik nouliks bo 38 °C of daal temperature benede -4 °C.

Nogtans val die somermaande vir die toerismebedryf weens die baie warm temperature en hoë vlakke van humiditeit buite die hoofseisoen. Daarnaas sak swaar donderbuie byna daagliks oor die stad uit.

Die gemiddelde jaarlikse reënval is 1 590 mm. Gewoonlik is die somermaande die natste maande van die jaar, terwyl Oktober die droogste maand is. In die winter sak reënbuie gewoonlik neer wanneer kouefronte suidwaarts beweeg.

New Orleans lê in die orkaansone van die Verenigde State. Orkane ontstaan gereeld in die maande tussen Mei en Oktober oor die Atlantiese Oseaan. Hierdie kragtige en dikwels vernietigende stormstelsels hou 'n besondere bedreiging vir New Orleans in vanweë sy laagliggende terrein en sy langsaam dalende kusgebied. Die stad word daarnaas in die noorde, ooste en suide deur waterliggame omring. So word New Orleans deur die Federale Rampbeheeragentskap (Federal Emergency Management Agency) as die Verenigde State se kwesbaarste stad vir orkaanskade geklassifiseer.