Die term Kathaar (ook gespel KataarWAT – Kataar of Kathar,Pharos – Kathar letterlik die "Reine", afgelei van Grieks katharos "rein") verwys na 'n aanhanger van die Christelike beweging, wat tussen die 11de en 14de eeu veral in Suid-Frankryk, Italië, Katalonië en Duitsland uitgebrei het. Dikwels word in plaas van Kathare ook die naam Albigense (of Albigensers) gebruik – 'n verwysing na die Suid-Franse stad Albi, 'n bolwerk van die Katharisme. Die Kathare is deur die Inkwisisie vervolg en in 'n bloedige kruistog uitgewis.

Die Kathare was naas die Orde van die Tempeliers een van twee religieuse bewegings wat deur die 13de eeuse Rooms-Katolieke Kerk en die Noord-Franse owerhede as 'n uitdaging beskou en uitgewis is.Barber, Malcolm: Die Katharer. Ketzer des Mittelalters. Düsseldorf: Albatros 2008, bl. 7 Maar terwyl die Tempelridders alle beskuldigings summier van die hand gewys het en ontsteld was oor die aanklagtes teen hulle, was die Kathare bereid om hul lewens te offer vir die leerstellings wat hulle as die ware Christelike geloof beskou het.

Die Noord-Franse kruistog teen die Kathare van Suid-Frankryk is uiteindelik eerder om politieke en ekonomiese as om religieuse redes gevoer en was 'n tipiese voorbeeld van Middeleeuse magsbeleid. Nogtans het die Kathare sentrale dogmas van die Rooms-Katolieke Kerk bevraagteken en verwerp; hulle het die stamgod Jehovah van die Bybelse Ou Testament as wraaksugtig en primitief beskou en sodoende 'n nuwe Christelike boodskap verkondig wat die gesag van die Rooms-Katolieke Kerk regstreeks bedreig het.

Leerstellings duimnael|links|170px|Die Kathaarse Kruis Die presiese leerstellings van die Kathaarse beweging bly nog steeds baie onduidelik; vermoedelik was daar in die laat periode 'n aantal splintergroepe.

'n Sterk invloed of tenminste ooreenkomste met bewegings soos Gnostisisme, Manigeïsme en die Balkanse Bogomiele asook die leerstellings van Marcion kan aangewys word. Die Kathaarse biskop Nazarius het die Interrogatio Johannis, 'n apokriewe geskrif van Bogomielse herkoms, na Suid-Frankryk gebring. Die dualisme het steeds 'n belangrike element in die Kathaarse teologie gebly – die wêreld is as boos beskou, terwyl God en die Hemel goed was. Die Kathare het naas die uiterlike simboliek van die Rooms-Katolieke Kerk ook sy sakramente en hiërargie verwerp.

Die Kathaarse teologie het beweer dat daar 'n dualistiese kosmos bestaan, waarin die God van die Nuwe Testament as die heerser van die spirituele wêreld sy teenstander in 'n bose god (Demiurg) of Satan sou hê, wat die stoflike wêreld oorheers. Materie en ook die menslike liggaam maak deel uit van die bose, donker skepping, waarin net klein fragmente van die oorspronklike lig verborge lê.

Hierdie sienswyse hou moontlik nou verband met die werklike en sware lewe van die Middeleeuse landelike bevolking, wat gebuk gegaan het onder die las van die feodale stelsel, en waaraan hulle net deur hulle dood kon ontsnap. Terwyl die Rooms-Katolieke Kerk na 'n goddelike orde verwys het wat die Middeleeuse maatskaplike stelsel sou legitimeer, is die Kathaarse leerstellings moontlik as die natuurlike antwoord op die menslike ellende beskou. Die Kathare het kos, seksualiteit en vreugde aan wêreldlike dinge min geag en dit as die gevolg van die skeiding tussen gees en materie beskou. Kathaarse Christene het daarna gestrewe om hierdie toestand te oorwin en 'n spirituele lewe met oorgawe as hulle ideaal beskou. duimnael|links|250px|Die Kathare word in die jaar 1209 uit die stad Carcassonne verdryf Aangesien spirituele reinheid vir hulle nie met liggaamlikheid versoenbaar was, het die Kathare nie geglo dat die werklike, spirituele Christus van 'n vrou gebore en aan die kruis oorlede was nie.

Die Kathare het hulle self as die "ware" Christelike kerk beskou, en Jesus Christus het 'n sentrale rol in hulle geloof gespeel. Vir hulle is Christus as die ware seun van God na die stoflike wêreld gestuur om sy spirituele verlossing te verkondig. Die God van die Ou Testament is as die skepper van 'n bose wêreld afgekeur. Die Kathare het op die Nuwe Testament gesteun, en hier veral op die Evangelie volgens Johannes.

Daar was baie Bybelse aanhalings in Kathaarse preke, tog is die uitleg van die Bybel taamlik vry gehandhaaf. Ook die Kathaarse Bybelvertalings blyk dikwels tendensieus te wees. Asketisisme of die oorgawe van die vlees aan die gees is as die pad na volmaaktheid beskou. Die Kathare het daarna gestrewe om die goeie in die mens – sy siel – vanuit die bose wêreld na die hemel te lei.

Die Kathare is in twee groepe verdeel, die gelowiges en die Perfecti. Met die aanvaarding van die Consolamentum, 'n soort sakrament wat deur handoplegging ontvang is, het gelowiges tot die status van Perfectus of Perfecta gevorder.

Dikwels word die Kathaarse leerstellings vanuit 'n manigeïese of gnostiese oogpunt beskou en as nou verwant aan die tradisie van hierdie filosofiese stromings beskryf, alhoewel die protokolle van die inkwisisie die enigste bronne is wat 'n soortgelyke gevolgtrekking steun en weens hulle partydigheid nie betroubaar is nie. Ook die bewering dat daar 'n nou samehang tussen die Orde van die Tempeliers, die Heilige Graal en die Kathare sou bestaan, is suiwer spekulasie.

Geskiedenis

Die Kathaarse leerstellings het hulle oorsprong in Oos-Europa en is langs die handelsroetes versprei. Weens die nou verwantskap met die Bogomielse geloof van Thrakië is die Kathare in die middeleeue dikwels ook Bougres ("Bulgare") genoem.

Baie min outentieke Kathaarse tekste het bewaar gebly (onder meer die Rituel Cathare de Lyon en die Nouveau Testament en Provençal), en hulle verskaf weinig inligting oor die presiese leerstellings, morele waardes en praktyke. duimnael|regs|250px|Peyrepertuse Die oorspronklike bronne bevestig dat die Kathare sterk gekant was teen die destydse Katolieke Kerk en sy priesters, wat as korrup afgemaak is. Die Kathaarse kerk moet dan ook as 'n soort godsdienstige protesbeweging beskou word. Daar was slegs 'n klein aantal Kathaarse teoloë wat na hulself as "goeie vroue" (bonnes femmes), "goeie mans" (bons hommes) of "goeie christene" (bons chrétiens) verwys het (die terme Cathari of Perfecti is slegs deur die Katolieke Kerk en die Inkwisisie gebruik). duimnael|links|280px|Montségur Die aanhangers van die Kathaarse geloof (Credentes) het in die algemeen weinig van die leerstellings af geweet. Hulle was van die spesifieke morele verbooie en godsdienstige verpligtings vrygestel – onder die voorwaarde dat hulle 'n belofte (convenenza) sou aflê om voor hulle dood die consolamentum te ontvang, die doop van die Gees.

Die eerste Franse Kathare het in die tydperk tussen 1012 en 1020 in die provinsie Limousin verskyn. Sommige van hulle is ontdek en in die jaar 1022 in Toulouse gedood. Die sinodes van Charroux (Vienne) in 1028 en Toulouse (1028) het die groeiende Kathaarse beweging veroordeel. Tydens die 11de eeu is predikers na die distrikte van Agenais en Toulousain beroep om die Kathaarse leerstellings regstreeks te beveg. Die Kathare kon desondanks hulle magsbasis in die suide van Frankryk versterk, veral danksy die optrede van hulle beskermheer Willem, hertog van Akwitanië en ander adellikes. Die bevolking was veral beïndruk deur die bons hommes en die antiklerikale predikasies van Pieter van Bruys en Hendrik van Lausanne in die provinsie van Périgord.

Die provinsie van Languedoc (Oksitanië, Suid-Frankryk) het in die 12de eeu die eerste bolwerk van die Kathaarse kerk geword. Volgens die historiese bronne was die Kathaarse geloof eers aan die howe baie gewild, om in die latere tydperk (omtrent die 14de eeu) ook tot 'n ondergrondse kerk van die gewone bevolking te ontwikkel.

Die Oksitaanse kultuur het – ook danksy die invloed van die Kathare – in hierdie periode 'n bloeitydperk beleef, tog het die koning van Frankryk met afguns na die welvarende suide gekyk, terwyl ook die pous in Rome nie onverskillig teenoor die magsverlies van die Katolieke kerk in Oksitanië gebly het nie. duimnael|regs|250px|Die Kathaarse kasteel Quéribus

'n Politieke koalisie van die koning, die Noord-Franse adel en die pous het in die jaar 1208 tot die eerste kruistog teen die Kathare onder die leiding van Simon de Montfort IV gelei. Die massaslagting van die inwoners van Béziers, waartydens meer as 20 000 mense op 22 Julie 1209 vermoor is, behoort tot die grootste gruweldade in die Europese geskiedenis. Die frase "Caedite eos. Novit enim Dominus qui sunt eius." is na bewering deur die bevelvoerder van die Albigensiese Kruistog geuiter, voor die bloedbad in Béziers. Slegs 'n klein minderheid van die stadbewoners was aanhangers van die Kathaarse kerk, tog het die bevolking geweier om hulle uit te lewer. Een jaar later het 'n tweede massaslagting in die stad Minerve plaasgevind. Die eerste kruistog teen die Kathare het in 1212 geëindig.

Die tweede kruistog het in 1226 onder die leiding van die Franse koning begin, wat egter reeds op pad na Suid-Frankryk oorlede is. Die derde en laaste kruistog in die jaar 1244 het met die beleg van die kastele van Montségur en Quéribus (1255) die laaste oorblyfsels van die Kathaarse kultuur vernietig.

Die Kathaarse gemeente van Montaillou en omgewing is in 1320 deur die inkwisisie uitgewis. Die laaste Kathaar, wat in 1321 verbrand is, was Guillaume Bélibaste.

Die meeste Kathaarse kastele soos Montségur, Minerve, Roquefixade, Montaillou, Peyrepertuse en Quéribus lê op rotse in afgeleë berggebiede en is nog steeds bekende bakens in die landskap noordoos van die Pireneëgebergte.

Diens en praktyk

Die Kathaarse priesters en priesteresse het in die volkstaal gepreek – in teenstelling met die Rooms-Katolieke Kerk, wat Latyn gebruik het – en het sodoende breë lae van die bevolking bereik. Armoede, beskeidenheid en matigheid – ook ten opsigte van seksuele behoeftes – is as ideale nagestreef en het grootliks bygedra tot die gewildheid van die beweging, terwyl die leefwyse van baie Rooms-Katolieke geestelikes deur die bevolking afgekeur is.

Die Kathaarse kultus volg in wese die Bogomielse tradisies, veral deurdat die toelating tot die Kerk van Sondeloses – die Kerk van die Kathare – die voorvereiste was vir die vergifnis van sondes en verlossing. Die Bogomielse leerstellings is egter ook vermeng met Westerse tradisies.

Die Consolamentum (Geesdoop deur handoplegging)

Die Consolamentum of Geesdoop volgens Paulus se Sendbrief aan die Romeine (1:12) en aan die Kolossense (2:2) was die beslissende stap wat gelowiges geneem het om 'n lid van die Kathaarse Kerk te word en is as die enigste Heilsweg beskou. Gelowiges, wat besluit het om die Consolamentum te ontvang, het hulle deur middel van 'n soort novisiaat op hulle lewe as Kathare voorberei. Ná die Geesdoop, wat hulle deur handoplegging ontvang het, moes 'n nuwe lid van die Kathaarse beweging sy of haar hele lewe as 'n Kathaar voer om sy heil te kan bereik. Mense wat die Consolamentum ontvang het kon hierdie sakrament vervolgens ook self bedien en die siele van mense red as hulle by die beweging aangesluit het.

Die Consolamentum is tydens 'n besonderse godsdienstige plegtigheid onder die leiding van 'n biskop of die oudste Kathaar van die gemeente of die omgewing toegedien en deur alle Kathare bygewoon, wat die sakrament reeds ontvang het. Kathare, wat by hierdie binneste sirkel van die Kathaarse Kerk aangesluit het, is Perfecti (manlik) of Perfectae (vroulik) genoem. Nadat die gelowige die vergewing van sy sondes en die "Onsevader"-gebed ontvang het, is die Consolamentum deur oplegging van die Evangelie volgens Johannes op die hoof van die kandidaat toegedien. Die Kathare, wat die seremonie bygewoon het, het nou om die beurt hul hande op die hoof van die kandidaat gelê om sodoende die gees van kennis aan hom of haar oor te dra. Sodra 'n Perfectus gesondig het, het hy of sy die Consolamentum verbeur – en daarnaas was ook alle Consolamenta, wat hy of sy self toegedien het, ongeldig.