De Waal Venter (7 Mei 1942 - 20 Maart 2022) was ’n Afrikaanse skrywer van jeugverhale, kortverhale, radiodramas en gedigte.

Lewe en werk

Herkoms en vroeë lewe Philippus Arnoldus de Waal Venter is op 7 Mei 1942 in Pretoria gebore. Sy ouers is Frans Venter en Lucy de Waal. Hy is die oudste van drie kinders en het twee jonger broers, Georg en Francois. Weens sy pa se beroep as polisie-offisier word hy gereeld verplaas en die gesin verhuis dus baie. As ’n resultaat woon hy ses verskillende laerskole aan die Witwatersrand by. Die eerste een is in Mayfair-Wes in Johannesburg en hy sluit sy laerskoolloopbaan af aan die Laerskool Theo Wassenaar in Robertsham in die suide van Johannesburg, waar hy bekroon word as die skool se mees verdienstelike leerling. In 1955 gaan hy na die Hoërskool Monument in Krugersdorp, waar hy van 1956 in die koshuis is. Hier presteer hy in die middelafstande in atletiek en is lid van die skool se leerlingraad. In 1959 matrikuleer hy.

Verdere studie Hierna studeer hy verder aan die Universiteit van Pretoria, waar hy hom aanvanklik inskryf as mediese student. Sy mediese studies is egter nie ’n sukses nie en na drie jaar studie verlaat hy in 1963 die universiteit en sluit hom as klerk by die Staatsdiens aan. Sy ouers het intussen na Pretoria verhuis en hy woon by hulle in. In hierdie tyd studeer hy deeltyds verder aan die Universiteit van Pretoria en ook aan die Universiteit van Suid-Afrika, waar hy vakke soos Frans, Duits, Afrikaans-Nederlands, Engels en Wysbegeerte neem. Sommige van hierdie vakke skryf hy af, maar hy behaal nie ’n graad nie.

Loopbaan In 1965 word hy aangestel as assistent-redakteur van SARP, die amptelike nuusblad van die Suid-Afrikaanse Polisie. Hy is in Junie 1966 een van die stigterslede van die tydskrif Wurm (saam met Jeanne Goosen en Menno Stenvert) en is ook redakteur van hierdie tydskrif. In 1968 aanvaar hy ’n betrekking in Johannesburg as reklameskrywer en in 1969 word hy aangestel as omroeper-regisseur by die Afrikaanse Diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Hy trou op 11 Januarie 1969 met Erla Louw, ’n arbeidsterapeut, en hulle het vier kinders: twee dogters en twee seuns. Hulle vestig hulle in Noordheuwel in Krugersdorp.

In 1970 verlaat hy die SAUK om weer terug te keer na die advertensiewese as kopieskrywer, waar hy die res van sy loopbaan deurbring, onder andere as skeppende direkteur by die reklame-agentskap BLGK. Hy is in 1994 stigterslid en eerste voorsitter van die Kopieskrywersforum en later is hy ook stigterslid en dien op die keurkomitee van die gesogte jaarlikse Pendoring reklametoekennings. Vir ’n aantal jare dien hy ook op die paneel van beoordelaars vir die jaarlikse Mondi-toekennings vir joernalistiese werk. Deur die jare bied hy ook verskeie radioprogramme aan, onder andere in 1999 op Punt Geselsradio. Nadat hy betrokke was by die tydskrif De Kat, word hy in 1997 aangestel as redakteur van Leeftyd, ’n tydskrif wat gemik is op die leser van ouer as vyf en dertig wat op soek is na geestelike en liggaamlike gesondheid. In 1990 ontvang hy die ATKV-reklameprys vir die beste Afrikaanse advertensie wat in 1989 verskyn het.

Aftrede Ná sy aftrede in 2000 word hy 'n professionele fotograaf en doen vryskutwerk as konsultant op die inhoud van webwerwe. Hy betree ook die politiek en word in 2011 verkies as 'n Demokratiese Alliansie-raadslid vir Krugersdorp.

Venter is op Sondag 20 Maart 2022 oorlede.https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/aktueel/afrikaanse-skrywer-sterf-op-79-20220321

Skryfwerk

Poësie Reeds op hoërskool wen hy ’n skryfwedstryd met sy wenopstel en as student word van sy gedigte reeds in September 1962 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Hy is in Junie 1966 een van die stigterslede van die tydskrif Wurm (saam met Jeanne Goosen en Menno Stenvert) en is ook redakteur van hierdie tydskrif. Skrywers soos D.P.M. Botes, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Marié Blomerus, Wilma Stockenström en Wopko Jensma was gereelde bydraers tot hierdie tydskrif. Van sy gedigte word in 1965 in Stiebeuel 2 opgeneem deur D.J. Opperman en F.J. le Roux en daarna verskyn in 1966 die bundel Klawer saam met Menno Stenvert en D.P.M. Botes. Later in 1966 gee hy sy eerste selfstandige bundel uit onder die titel Kiem.Antonissen, Rob. Standpunte. Nuwe reeks 66, Augustus 1966. Hierdie bundel staan nog in die teken van tegniese onafgerondheid en bevat weinig verse wat in hulle geheel geslaagd is. Die idee-inhoud van die groot aantal gedigte oor persoonlike en fisiese details is ook skraps, al probeer hy duidelik om modern aan te doen en die onsegbare of gewaagde onder woord te kry.Antonissen, Rob. Spitsberaad. Nasou Beperk. Elsiesrivier. Eerste uitgawe. Eerste druk, 1966. Dit is hoofsaaklik stemmingspoësie met liefde as basis, met Die maraboe as hoogtepunt. Hierdie bundel verower in 1963 in manuskripvorm die Staatsprys vir Poësie, ’n prys wat destyds uitgeloof is deur die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap.

Die opvolgbundel PolsBrink, André P. Rapport, 27 November 1977. is ’n groot vooruitgang met die deurlopende motief van lewe, ritme en passie wat in die titel gesuggereer word en die bundel tot ’n hegte eenheid saamsnoer.Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 17 no. 2, Mei 1979. Die bundel bevat drie afdelings, wat vanuit ’n sekere perspektief die progressie van die mens as paringsorganisme, sy verhouding met homself en veral die boosheid binne hom en die relativering hiervan in sy bestaan in die wye samelewing uitbeeld.De Vries, Abraham. Beeld, 19 Desember 1977. Die eerste afdeling bevat dan verse waarin klem gelê word op begin of geboorte, van die self, die liefde, ’n verhouding, ’n kind of vaderskap. In die tweede afdeling word die polsing van die lewe self die tema, in sy kreatiewe, bedreigende, heerlike of beskamende werklikheid.Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 18 no. 2, Junie 1978. Hierdie tema word verder gevoer in die werklikheids- en natuurgedigte van die derde afdeling, waar die ek as bedreigde telkens gestel word teen die bedreigings wat uit die bestaan voortspring, terwyl die ek ook onlosmaaklik deel is van hierdie bestaan. Hoogtepunte in die bundel is Oom Freud, oupa Pithecanthropus en Kartografies, my seun.

In 2017 verskyn sy digbundel, Oop sirkel, by Naledi Uitgewers.

In sy resensie van Oop sirkel skryf Bernard Odendaal in Versindaba (Oktober 2017) die volgende:  "Redelikheid, emosionaliteit en sintuiglikheid as fasette van, uiteindelik, dieselfde menslike belewing; wetenskap, filosofie en kunsbeoefening – dié instrumente of vermoëns word uitgebeeld as ewe openbarend van die wonderlike en dikwels onvoorspelbare bestaansdimensies wat vanuit die alledaagse te beleef is. Die belangrikste voorwaardes blyk ’n beskoulike en belewingsoopgesteldheid, en ’n wil tot (self-)ontdekking te wees."

Versamelbundels Van sy verse word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek en Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, asook Goudaar, S.A. in poësie, Groen, Poskaarte en Woordreise, terwyl die kindervers Net so min opgeneem word in Rymreise. Hy publiseer ook gedigte in verskeie tydskrifte, insluitende Wurm, Sestiger, Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde. In die sestigerjare skryf hy ook lirieke wat deur sy toekomstige vrou, Erla Louw, getoonset word en sy en haar vriendin Annemarie Dawson neem selfs ’n langspeelplaat met hierdie liedjies op onder die titel Die Doedies sing doemmelliedjies.

Engelse poësie In 2010 verskyn sy Engelse digbundel Entangling states of mind in beide ’n sagteband-uitgawe wat op aanvraag gedruk word en ’n elektroniese kopie. Die bundel word in drie afdelings verdeel, naamlik Hacking the human mind (gedigte oor die veelvuldige wyse waarop die menslike brein die werklikheid verwerk), Grasping my pencil with my toes (waarin die werklikheid met ’n goeie skeut humor ondersoek word), en Rhyming hunger with the right to live (gedigte oor die ekologie en faktore wat die omgewing bedreig). Hy skryf gereeld gedigte in Engels en Afrikaans en plaas dit op sy blog Poetry en poësie. Verder vertaal hy ook poësie uit verskillende Europese tale en is besig met ’n projek om die Nobelpryswenner Tomas Tranströmer se gedigte uit Sweeds in Afrikaans te vertaal, waarvan sommige reeds op LitNet gepubliseer is. Hy het ook gedigte van onder andere Pablo Neruda vertaal.

Drama Hy skryf ook verhoogdramas en radiodramas. P.J. du Toit neem sy eenbedryf In lewende lywe in die versamelbundel Drie… twee… een op en sy radiodrama Die werklike Buys Buys in die versamelbundel Fasette. Die werklike Buys Buys word vir die eerste keer op 5 Maart 1984 uitgesaai en in 1985 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon met ’n Erepenning vir Afrikaanse Radiohoorspele. Dit word ook met die Idem-prys bekroon as die beste radiodrama van die jaar. Hierdie is ’n toekomsdrama met die wêreld wat gevaarlik oorbevolk is. Die hoofkarakter, Buys Buys, is ’n werklikheidskepper wat met behulp van elektroniese middele ’n ander werklikheid vir mense skep sodat hulle in ’n virtuele wêreld die werklikheid kan ontvlug. Hierdie radiodrama word ook opgeneem in Die piekfyn Afrikaans leesboek. Wat dan? verower in 1988 ook die Idem-prys. Die radiodrama Stof word in 1975 uitgesaai en in 1976 deur die SAUK ingeskryf vir die Prix d’Italia-prys, waarna dit ook in België uitgesaai word en opgeneem word in die versamelbundel Hoorspelkeur. Die handeling vind tydens ’n treinreis plaas. Die ongetroude student Kotie is swanger en ’n passasier op die trein. Sy wou haar kêrel vermoor en die kondukteur Marais kry haar net voor sy wil selfmoord pleeg. Hy oortuig haar dat sy onskuldig is, omdat sy nog niks gedoen het nie. Sy was dan die stof, simbool van besoedeling, van haar hande af. Hierdie radiodrama is in Engels, Nederlands en Frans vertaal en word ook met die Idem-prys bekroon as beste radiodrama van die jaar.

Hy skryf ook die wetenskapsfiksie jeugdrama Yslik baie oeslak, wat opgeneem word in die versamelbundel Van die banke op die planke, saamgestel deur Elise van Wyk. Dit is ’n drama wat natuurbewaring as tema het en waarsku teen die gevare van oorbenutting van hulpbronne. Die tienderjarige stappers Nanine, Pieter, Adam en Nampti oornag in die veld, waar hulle vir Mongmoennet (afgekort as Mong), ’n wese van die planeet Skosju, ontmoet. Mong vertel hulle dat daar geen plante of diere meer op hulle planeet bestaan nie, omdat hulle die planeet verwoes het deur al hulle hulpbronne op te gebruik. Hy is op die aarde om te soek na oeslak, sodat hulle weer ’n ekologie aan die gang kan sit. Dit blyk dat oeslak water is, wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van ’n ekologie.

In November 1990 word die aktuele radiodrama Thipa (wat “mes” beteken”) in die program Radioteater uitgesaai. Dit was waarskynlik die eerste keer dat Radio Suid-Afrika ’n hoorspel opvoer en uitsaai waarin swart spelers Afrikaans praat. In die hoorspel word die konfrontasie uitgebeeld wat heers tussen swart en wit in Suid-Afrika en die houdinge, vooroordele en wanopvattings. Ook die empatie wat tussen rasse bestaan word ontgin. Soos die titel aandui word die mes ’n belangrike simbool in die stuk. Twee seuns, Etienne en Tanzi, het kontak verloor en ontmoet mekaar toevallig jare later weer in ’n hyser wat vassteek en hulle dwing om saam ’n plan te bedink om uit hul dilemma te kom. As jong seuns was die mes vir hulle ’n begeerlike speelding en hierdie simbool koppel dan hulle kinderwêreld met die grootmenswêreld. Die geweld, broedermoord, rassehaat, politieke omwentelinge en ouerliefde verwys alles terug na die mes-simbool, met die oupa ’n belangrike bindende figuur in die drama, wat die voorvaderlike gees word wat die twee seuns met sy wysheid lei.