N.A. Blanckenberg was ’n onderwyser en later vise-rektor aan die Graaff-Reinet Onderwyskollege. As klassikus was hy bekend vir sy vertalings van Vergilius se werke van Latyn na Afrikaans.

Lewe en werk Nicolaas Andries Blanckenberg is in 1904 in Malmesbury gebore. Hy word groot op die plaas Olifantskop naby Langebaan. Sy naskoolse studies is aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1925 ’n B.A.-graad, in 1927 ’n Hoër Onderwysdiploma en in 1940 ’n M.Ed.-graad verwerf, laasgenoemde met ’n verhandeling oor “Die psigologie van spelmoeilikhede: ’n literatuurstudie”. Na sy kwalifikasie as onderwyser wy hy hom tot met sy aftrede in 1969 in verskeie hoedanighede aan hierdie beroep. Eers is hy onderwyser op Beaufort-Wes en Noupoort en word dan vanaf 1929 tot 1945 hoof van die Middelbare Skool op Cookhouse. Hierna is hy hoof van die Oefenskool op Graaff-Reinet en daarna dosent en later vise-rektor van die Graaff-Reinet Onderwyskollege. As inspekteur bedien hy hierna tot met sy aftrede in 1969 veral die Kaapse Weskusstreek. Hy trou met Edna Paterson en op haar dood van kanker, trou hy met Ada Marianna Ferreira. Ada is op 25 Augustus 1973 oorlede. Hy het ’n seun, Angus, en 'n dogter, Sheena (1931 - 1940), uit sy eerste huwelik. Na aftrede vestig hy hom op die oewers van die strandmeer by Langebaan en wy hom aan sy groot liefde, die vertaling van Latynse poësie in Afrikaans. Sy laaste jare bring hy deur in ouetehuise in Somerset-Wes en die Strand. Hy is op Sondag 24 Julie 1988 in Huis Ametis in die Strand oorlede.

Skryfwerk Die werke wat hy uit Latyn van Vergilius vertaal voorsien in ’n groot behoefte om hierdie beroemde digter ook in Afrikaans toeganklik te maak. Vergilius is in 70 v.C. as seun van ’n vermoënde kleinboer naby Mantua in Noord-Italië gebore. Sy ouers laat hom goed opvoed en hy studeer in verskeie Italiaanse stede en later ook in Rome, maar die landelike lewe was altyd vir hom die werklike lewe. Sy eerste skryfwerk gaan dus oor die lewe op ’n boereplaas. Dit is hierdie werke wat Blanckenberg in versvorm onder die gesamentlike titel van “Landelike poësie”Blignault, Audrey “Die Huisvrou” November 1975 vertaal, naamlik die “Bucolica” (herdersliedere) en “Georgica” (’n lied van die landbou, ’n natuurgedig met die landbou en boerdery as primêre fokus en die wisselwerking tussen gode en boere as newetema).Brink, André P. “Rapport” 14 September 1975 In 1977 word die vertaling van “Bucolica en Georgica” bekroon met die Akademieprys vir Vertaalde Werk. In 1983 verower hy weer die Akademieprys vir Vertaalde Werk vir sy vertaling van die “Aeneïs” van Vergilius onder die titel “Van wapens en ’n man”. Ten tye van sy dood is hy besig met die vertaling van die “Belydenisse van die Kerkvader Augustinus”. Saam met Joan Forman skryf hy ook die boekie oor “Die Romeine”, waarin die geskiedenis van hierdie antieke samelewing bondig uiteengesit word.

Saam met sy tweede vrou skryf hy vroeg in die sestigerjare verskeie leesboekies vir gebruik op laerskool, insluitende “Die boot en die bal”, “Fluit-fluit vooruit”, “Land, lug en see”, “By die voor”, “Die wye wêreld”, “Klinkende dade”, “Speeltyd” en “Voel-voel vorentoe”.

Publikasies 1977 - Die Romeine (saam met Joan Forman)likasiesu

Vertalings 1975 - Landelike poësie: Bucolica en Georgica – Vergilius

1980 - Van wapens en ’n man – Vergilius

Kinderboeke (saam met A.M.F Blanckenberg) JaarPublikasies.j.Die boot en die bal1961Fluit-fluit vooruit1962Klinkende dadeLand, lug en seeSpeeltydDie wye wêreld1963By die voorVoel-voel vorentoe

Bronnelys

Boeke Grové, A.P. “Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans” Nasou Beperk Vyfde uitgawe Eerste druk 1988 Kannemeyer, J.C. “Die Afrikaanse literatuur 1652-2004” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe 2005

Tydskrifte en koerante Walters, M.M. “Die waardige ou witkop” “Die Burger” 2 Augustus 1988

Internet Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Blanckenberg,_Nicolaas_Andries OCLC Classify: http://classify.oclc.org/classify2/ClassifyDemo?search-author-txt=%22Blanckenberg%2C+N.+A.+%22&startRec=0&orderBy=hold+asc Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/blanckenberg.html

Resensies

Kategorie:Suid-Afrikaanse vertalers