Leuens deur C.M. van den Heever is ’n kortverhaal wat geskryf is teen die agtergrond van die depressiejare van die twintigste eeu. Waar Afrikaners voorheen hoofsaaklik op plase gebly het, was daar gedurende hierdie jare ’n toestroming na die stede. Die Johannesburg waar die verhaal afspeel, is ’n Johannesburg wat destyds nog as ’n dorp gesien is. Baie Afrikaners het geglo dat hulle ’n beter lewe in die stede sou hê, maar dit was nie altyd die geval nie.
Hierdie kortverhaal verskyn in 1934 in die publikasie Vuurvlieg en sterre waarin die hoofkarakters telkens in ’n krisis van een of ander aard betrokke is, waardeur hulle volle menslikheid openbaar word. Leuens word in talle versamelbundels opgeneem as voorbeeld van die vroeër Afrikaanse verhaalkuns.Lategan, F.V. in Nienaber, P.J. Gedenkboek C.M. van den Heever 1902–1957. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg, 1959.
Storielyn In Leuens is die hoofkarakter Naomi, 'n vrou wat met haar man en seuntjie ’n sukkelbestaan in Johannesburg voer. Haar man, wat vroeër ’n onderwyser was, het sy werk verloor “omdat hy te agterlosig was met sy werk”. Die nagevolg is dat hulle ’n sukkelbestaan in Vrededorp voer.
Wanneer Naomi haar destydse skoolvriendin Olga, wat nou welgesteld is, raakloop en dié daarop aandring dat hulle moet saamkuier, besef Naomi dat sy haar werklike lewe sal moet wegsteek. Want haar werklike lewe is dié as eggenoot van ’n werklose man in Vrededorp, terwyl Olga s’n dié is van ’n eggenoot van ’n welgestelde dokter. Die skrywer slaag skitterend daarin om hier deur ’n alomteenwoordige verteller die leser van Naomi se dilemma bewus te maak. “Daardie Woensdag-affêre! Dit sal haar weer bekommernis op bekommernis besorg.”
Tog besluit Naomi om die afspraak met Olga na te kom, “die sal dalk soek, tot sy haar kry”. Wanneer Naomi by Olga se huis opdaag, word die leser van Naomi se selfbewustheid bewus gemaak. “Dis of die meisie haar bejammerend aankyk.” Tog probeer Naomi om met selfvertroue daar uit te sien.
In hierdie deel van die verhaal word die leser bewus van al hoe meer leuens wat die hoofkarakter moet vertel om staande te probeer bly. “Maar ek het vergeet, waar woon julle?”
“In Westcliff.” Toe Olga verder vra of Naomi nie belangstel om klere aan die mense van Vrededorp te gaan uitdeel nie, besef die hoofkarakter finaal dat hulle verskillende onversoenbare lewens lei.
Laatmiddag bied Olga aan om haar vriendin by dié se huis te gaan aflaai. Naomi besef dat haar leuens ontmasker gaan word en probeer teëstribbel, maar sonder sukses. Olga vermoed onraad (nié asof sy nie reeds vroeër in die verhaal gehad het nie) toe haar vriendin wys na haar woning waar sy afgelaai wil word. “Die huis wat sy nou daar aanwys het, daar woon dr. Henley tog!”
Die leser word bewus gemaak van die innerlike emosionele stryd wat Naomi met haarself voer. “Sy verag haarself, haar vriendin ... sy haat die hele wêreld.” Tog word die leser deur die verteller onder die indruk gebring dat die hoofkarakter haar omstandighede aanvaar. “Sy sit haar voorskoot, meganies en met vinnig bewegende vingers.”
Die verhaal beklemtoon die feit dat mense se waardes en ook oordeel van ander dikwels gesetel is in materiële welvaart. Maar ook dat ons sukses en vooruitgang in die lewe dikwels van ons eggenote afhanklik is. Naomi sowel as Olga is produkte van hul eggenote se welvaart of dan in Naomi se geval eerder, tekort aan materiële welvaart.
Die verhaal is vandag meer as 80 jaar nadat dit verskyn het steeds gepas. Die skrywer lewer fyn kritiek op ’n samelewing wat verkies om sy medemens in terme van geld te sien. Dit werp ook die kollig op onsekerheid en aanvaarding onder mense en wat die mens nie alles sal doen om deur sy medemens aanvaar te word nie.Nienaber, P.J. Gedenkboek C.M. van den Heever 1902–1957. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg, 1959.
Verwysings
Kategorie:Afrikaanse boeke